Die dagboek en die flâneur

Hennie Aucamp

Die woord flâneur het eers maar in onlangse tye deel van my aktiewe woordeskat geword. Disclaimer Ek het dit wel in die Nederlandse letterkunde teëgekom, by Louis Couperus en Jacob Israel de Haan, en dit op 'n vae manier met boulevardier en dandy verbind; assosiasies wat, by nader beskouing, nie onjuis is nie. In my Harrap's woordeboek staan byvoorbeeld teenoor boulevardier: "Frequenter of the boulevards; man about town", en in 'n resensie in The Times Literary Supplement van 4 April 1997 word "dandy" en "flâneur" as sinoniem beskou, na aanleiding van die skilder George Grosz wat die onstuimige straatlewe van Berlyn in die jare twintig en dertig verewig het.

Danie van Niekerk het my jare gelede in die middestad van Kaapstad raakgeloop en met 'n tikkie ironie 'n "boulevardier" genoem, seker omdat ek gedrentel en 'n roomkleurige pak van Vlaamse linne aangehad het; 'n gekreukelde pak, let wel, lank voordat kreukels amptelik mode geword het. Of dalk het ek maar net die vorige nag in my Vlaamse pakkie geslaap.

Die woord "boulevard", terloops, is glad nie so Frans as wat hy voorgee om te wees nie. "Boulevard" is 'n verbastering van die Nederlandse woord "bolwerk". Ons bekendste bolwerk sal wel die Kasteel wees, met "paaie" bo-op die bolwerk wat van een sterpunt na die ander lei. Breë strate, meesal omsoom met twee rye bome "beset" met bome, sê die WAT - dié het ons eintlik nie; die soort breë weg wat jy op Impressionistiese skilderye sien. Ons het wel Die Laan in Kaapstad, maar die Laan is smal en net tot beskikking van munisipale voertuie en 'n kebbie vir toeriste.

Maar laat ek nou nie letterlik en verbeeldingloos wees nie: jy kan 'n boulevardier wees ook sonder breë strate aan weerskante "beset" deur bome. 'n Boulevardier is 'n bepaalde soort mens met 'n bepaalde soort temperament. Hy is urbaan; 'n outsider uit eie keuse; 'n waarnemer eerder as 'n deelnemer.

Tog verkies ek om myself 'n flâneur te noem, en nie 'n boulevardier nie, om redes wat algaande duidelik sal word.

Ook is ek nie die eerste skrywer in Afrikaans wat homself 'n flâneur noem nie. E. Serfontein het, naas ander skryfwerk, in 1935 'n speurverhaal gepubliseer onder die skuilnaam Flaneur. (Let wel, "Flâneur" sonder die kappie.) 'n Foto van E. Serfontein in Ons skrywers en hul werke toon 'n skraal, elegante jong man, effens melancholies, met dubbelbors-pak en vlinderdassie. Sy C.V. meld dat hy die skrywe van kortverhale bestudeer het aan die Columbia Universiteit, V.S.A.

Ek vra my af of hy nie van die Kroonstadse Serfonteins is nie. My oom Jannie het met 'n nooie Serfontein getrou en van haar familie wat kom kuier het, was interessante mense, maar vir Stormbergse smaak ietwat eksentriek. Oom Hendrik was byvoorbeeld te alle tye keurig aangetrek. Pa het hom geterg en gesê: Hendrik, jy's 'n regte dandy - jou skoene is dan nooit nerf-af nie. En oom Hendrik se seun Basie wat later in Nederland gedoktoreer het, het homself Frans geleer in die veld, al stommelend oor klippe, met dassies en akkedisse en meerkaaie as ietwat oorblufte toehoorders.

Maar dis tyd dat ek uit die ligsinnige modus kom en die begrip flâneur met literêre erns bejeën. Dis altans hoe die groot kultuurfilosoof Hannah Arendt die saak benader in haar inleiding tot die essays en refleksies van Walter Benjamin.

Die flâneur is in wese 'n neëntiende-eeuse verskynsel. Die term self is neëntiende eeus, gemunt deur Baudelaire, na aanleiding van die kuns van Constantin Guys (1802 - 1892) wat hy uit respek bloot M.G. (Monsieur Guys) noem. Constantin Guys was 'n grafiese verslaggewer, onder meer vir die Illustrated London News, en sy reisillustrasies, maar bowenal sy daaglikse verslae van die Krimoorloë, het Baudelaire se bewondering en respek afgedwing.

Met behulp van my vriend J.D. Stemmet, 'n Frans-dosent, kan ek die wesenskenmerke van die flâneur benoem soos geformuleer deur Baudelaire. Guys is nie vir Baudelaire 'n artiste nie; ook Guys self het afwysend teenoor die term gestaan. Die artiste is kleindorps; hy sien te min; hy weet weinig van die wereld van politiek en moraliteit. Guys, volgens Baudelaire, is iets groters - hy is 'n l'homme du monde; 'n man van die wêreld; 'n intellektuele wêreldburger.

3

Die sleutel tot Guys is sy curiosité, sê Baudelaire; daarin steek sy genialiteit. (Skielik dink ek aan nog 'n wêreldburger, dié keer op eie bodem: dr. Con de Villiers. Dr. Con het altyd van homself gesê dat hy "ongeneeslik" nuuskierig is. En ek dink ook aan ander geniale nuuskieriges binne Suid-Afrikaanse verband en alles wat 'n kultuur aan hul nuuskierigheid te danke het: J.C. Smuts, Eugène Marais, C. Louis Leipoldt, Karel Schoeman.)

Edgar Allan Poe, vertaal deur Baudelaire, het 'n sinsnede geskep wat klassiek geword het, onder meer omdat dit die titel van 'n Baudelaire-gedig geword het, en dis die sinsnede: l'Homme des foules (oftewel: The Man of the Crowd.) In hierdie verhaal vertel Poe van 'n man wat besig is om te herstel na 'n siekte. Hy loer gretig na die skare, na die lewe buite; soek gefassineerd; soek met sinnelike genot.

Ook vergelyk Baudelaire Constantin Guys met 'n kind. Soos 'n kind sien Guys alles nuut; hy is pal lighoofdig. En dan volg die glansende formulering: "Talent is bewustelik weergevonde kinderskap".

Dit alles kan die flâneur dan wees: die kind-in-die-man; 'n man wat as't ware wedergebore na die lewe kyk ná 'n siekbed.

Daar is iets teenstrydigs omtrent die wereld van die flâneur. Hy het die skare nodig; dis sy passie, sy beroep om vertroud te wees met die skare. Vir die perfekte flâneur, vir die observateur passioné, is sy incognito-skap egter lewensbelangrik: hy móét hom in homself kan terugtrek. Alleen op dié wyse bou hy in homself 'n allemintige réservoir d'electricité. Die flâneur is 'n kaleidoskoop met 'n bewussyn; 'n moi onversadig aan die non-moi.

As dit aand word, sê Baudelaire, gaan soek die flâneur plekke waar daar lig is en waar poësie opklink, waar die lewe krioel, waar musiek vibreer: oral waar lig flits op die kortstondige vreugde van die animal depravé.

Uiteindelik gaan sit die flâneur by sy tafel met papier, pen, kryt, kwas. Sy opgegaarde waarnemings en ervarings word georden, gerangeer, geharmoniseer.

Tot dusver Baudelaire, via J.D. Stemmet, oor die flâneur.

En nou kan ons kyk na Hannah Arendt se toepassing van die begrip flâneur op die lewe en werk van Walter Benjamin:

2

Hannah Arendt lê 'n verband tussen die flâneur en sy eintlike periode, naamlik die neëntiende-eeu.

Die hoofvoorwaarde vir effektiewe flâneurskap is ekonomiese onafhanklikheid. Net die man met middele tot sy beskikking kan die tyd uitkoop. Agter elke vonds van die flâneur lê baie ledige ure. En die vondste moet toevallig wees, want 'n alte bewustelike soeke na prikkels kan teenkreatief wees. Hierin, sê Hannah Arendt, lê die flanerie in Walter Benjamin se denke: dat hy hom op sy swerftogte deur 'n stad, Berlyn, Parys, aan die toeval toevertrou.

Wat bring die flâneur terug huis toe na 'n swerftog deur 'n stad waar hy op pleine, in kafees en in tweedehandse boekwinkels vertoef? Indrukke, sketse, insigte; ook tasbare dinge, soos 'n bibiofiele uitgawe by 'n boekstalletjie op 'n kaai raakgeloop, of simpel dinge soos beduimelde en beskrewe poskaarte, of 'n stukkende waaier van sandelhout.

Die inventaris van so pas is van myself, en nie van Hannah Arendt nie, wat maar net bewys hoe ernstig ek my met die flâneur vereenselwig. Maar ek stuur ook op iets anders af: die verband tussen die ouwêreldse versamelaar en die flâneur, soos wel uiteengesit deur Hannah Arendt. Die versamelaar - Arendt beroep haar op 'n uitspraak van Benjamin self - verset hom teen klassifikasie; teen die tipiese. Die item wat hy op sy swerftogte teenkom, word uit sy normale konteks gehaal en word a-tipies; en dis wat die versamelaar koester: die a-tipiese. En dan kom Arendt met die volgende formulering wat Benjamin ferm binne sy tyd, die twintigste eeu, plaas:

The figure of the collector, as old-fashioned as that of the flâneur, could assume such eminently modern features in Benjamin because history itself, that is, the break in tradition which took place at the beginning of this century - had already relieved him of this task of destruction and he only needed to bend down, as it were, to select his precious fragments from the pile of debris.
Walter Benjamin het later al hoe minder boeke huis toe gebring na sy stadsomswerwinge, maar in stede daarvan aanhalings wat hy in klein notaboekies neergeskryf het. Liefs sou hy net aforismes wou aanteken, sê Arendt, maar Benjamin moes sy brood verdien en sy eie aforismes uitbrei tot essays. (Dis wat die meeste essays in die wêreldliteratuur uiteindelik is: 'n uitgebreide aforisme of metafoor.) 'n Mens is dankbaar dat Walter Benjamin aan gelddruk onderworpe was, want nou het ons sy insigryke essays oor temas soos 'n eie biblioteek; die taak van die vertaler; die storieverteller; Epiese Teater; Kafka; Baudelaire.

3

Waarin lê my eie flâneurskap?

Ek is nie meer 'n dandy nie. Ek het nóg die lyf, nóg die neiging daartoe. Ek het 'n omgekeerde dandy geword; een wat met uitgewaste klere en tekkies deur Kaapstad wandel; hier inloer; daar gaan sit en lees; dan weer verder om tee of iets sterkers te soek.

Maar ek is volledig flâneur in die opsig dat ek my nuuskierigheid van dag tot dag kan laat botvier. Dit is vir my die groot genade van uittrede: dat ek die tyd, die gesondheid en die middele het om te doen wat ek die allergraagste wil doen: die lewe te betrag en te betrap. En ek voel hoegenaamd nie skuldig nie, want die Chinese het my geleer dat 'n man se geseëndste jare dié tussen 60 en 65 is. Na jare van diens aan die maatskappy, sê die Chinese, het 'n mens die reg om skaamteloos selfsugtig te wees en jou volledig aan jou stokperdjie te wy - in my geval: nuuskierigheid, en wat daaruit voortvloei.

Wat ek langs die pad optel en verower, vind dikwels hu1 pad na my dagboeke. Van hierdie dagboekinskrywings gaan soms later deur die filters van die verbeelding en word essays, stories, liedtekste. Optelgoed het 'n nuwe konteks gevind.

6

Ook konkrete optelgoed is aan 'n "sea change" onderworpe.

In my kinderdae het ek en my suster en ons speelmaats graag op ashope gespeel en ons ontdekkings huis toe geneem: skerwe porselein, 'n verwronge vurk, die klein pampoentjies van die kissieblaar wat so graag op mis- en ashope groei. Tuis het ons optelgoed nuwe lewe aangeneem, want hulle het fragmente buite konteks geword. En in hul nuwe gedaante onverklaarbaar kosbaar geword.

Die flâneur versamel nie vir ander nie. Hy versamel vir homself. Soos 'n vrek, of soos 'n neëntiende-eeuse versamelaar - versteek hy sy skatte en kyk liefs agter geslote deure daarna.

Wanneer 'n flâneur sy dagboeke begin publiseer, pleeg hy eintlik verraad. Wat verborge moes gebly het, word nou aan die meedoënlose daglig blootgestel. As 'n kritikus op "onbenullighede" in my dagboek wys, krimp ek ineen: ja, van buite bekyk, is my optelgoed seker dikwels ontdaan van enige sin en betekenis.

Nóg 'n "straf' vloei voort uit die publikasie van dagboeke: halfwas-essays stol maar alte dikwels in die tyd; gaan nooit vollengte-betoë word nie.

Ja, dit het tyd geword om die publikasie van my dagboeke te staak. Nog 'n laaste dagboek - Skuinslig - bloot om te voltooi wat ek in die vooruitsig gestel het, naamlik 'n drieluik: Gekaapte tyd - Allersiele - Skuinslig; en hiermee sal my taak as selfaangestelde scriba van 'n bepaalde stad en 'n bepaalde tyd afgehandel wees. Ek gaan voortaan dagboeke byhou net vir myself en my oorgee aan wat dr. Con so mooi genoem het "die onbandige ek".

'n Geleentheidstoespraak gelewer tydens die Clanwilliam-fees, 4 - 7 Junie 1998

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD




Copyright:   1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/aucamp.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]