Kammanassie verewig in prosa

Louise Liebenberg
Port Elizabeth

Disclaimer Die Oos-Kaapse skrywer Annelie Botes het haar nuwe roman, Klawervier, op besonderse wyse aan die voet van die Kamanassieberge naby die plattelandse dorp Uniondale bekendgestel in die laaste week van Oktober.

Dié buitelug bekendstelling, wat plaasgevind het in die einste wattelbos waarin 'n groot gedeelte van die roman afspeel, is deur sowat 70 gaste bygewoon. Die boek se bekendstelling het nie net die hele Uniondale distrik aan die gons nie, maar ook die uitgewers daarvan.

'n Verteenwoordiger van Tafelberg het tydens die naweek gesê dat hulle "nog nooit so 'n bekendstelling bygewoon het nie" en dat daar ook "nog nooit so 'n boek in die Afrikaanse taal geskryf is nie."

Klawervier is 'n boek waaroor 'n mens opgewonde kán raak. Dis immers die heel eerste roman wat in die pragtige, ruwe Kamanassie-wêreld waarmee so min mense bekend is, afspeel. 'n Boeiende familiesage wat oor drie generasies se lief en leed in die Kamanassie handel, vorm die kern van die verhaal, maar die bewaringsboodskap kom ook duidelik deur.

Die prag van die Kamanassie word met roerende verwysings na die fynbos, asook die bergkwaggas en luiperds wat vandag nog daar voorkom, vernuftig by die verhaal ingeweef. Die gedurige bewaringstryd teen die verwoesting en uitbuiting van die streek kry ook aandag.

Nog 'n kwaliteit wat die boek so uitsonderlik maak,is die ongewone magies-realistiese dimensie daaraan. Klawervier bevat ou Khoi verhale en legendes wat mondeling deur die plaasvolk oorgedra word, iets wat maar selde in die Afrikaanse literatuur voorkom.

Die uitgewers sê ook oor Klawervier dat dit literêre meriete het,sonder om in ingewikkelde taal geskryf te wees, wat bewys dat 'n boek wat maklik lees vir beide die gewone leser en die akademici van waarde kan wees.

Dit is duidelik dat Annelie Botes se liefde en gebondenheid aan die streek die hoofmotivering agter die skryf van dir roman was. In haar eie woorde, is sy "gebore, geskool, getroud en ge-als" in die Uniondale distrik, en het sy tot 1982 nog daar gewoon. Die hoofkarakters in die boek, Daniël en Schoonraad, is gebaseer op onderskeidelik haar pa, Daniël Basson, wat lank in die kontrei geboer het, en haar oudste broer Coen, wat sowat tien jaar gelede die plaaslewe vir die sakewêreld verruil het.

Selfs die plase waarna verwys word in die boek, bestaan werklik, alhoewel hulle in die realiteit ander name het. Van die karakters is ook gebaseer op werklike mense wat destyds in die Kamanassie woonagtig was. Dis g'n wonder die inwoners van Uniondale en die omliggende streek staan omtrent tou om die boek aangeskaf te kry nie.

"Dis ons wêreld hierdie," sê Annelie self. "Op hierdie plaas (Waterberg, wat in die boek bekendstaan as Sewesterfontein), het ek grootgeword, en vir my lê die verlede nooit agter nie. Ek het eenkeer 'n boek gelees waarin Con de Villiers sê jou vaderland is daardie klein deeltjie van die wêreld waar jy grootgeword het. Hierdie plek is deel van my; dis my vaderland.
"Die Kamanassie het my doodgespook - weet mense van dié vaderland? Sal iemand eendag nog onthou? Ek wou so graag oor hierdie dinge skryf."

In 1996 was Annelie uiteindelik gereed om die verhaal van haar verlede op papier vas te lê. Voor in Klawervier staan geskryf: "Dié boek is opgedra aan die Kamanassie, waar my vaderland lê." En in die woorde van die skrywer Riana Scheepers, wat ook die bekendstelling bygewoon het: "Hierdie is 'n besonderse boek geskryf deur 'n uitsonderlike, sterk, skaars dier - 'n luiperdskrywer - Annelie Botes."

Annelie woon die afgelope 15 jaar al met haar man, Chris, en haar kinders Rudolph en Nasti op Bedford. Haar ander romans, Ribbokvoete en Trippel Sewe , het albei in 1995 verskyn.

(Bostaande artikel het oorspronklik verskyn in die PE Express, 29 Oktober 1997, met die titel, "'Luiperdskrywer' stel boek bekend in Kamanassie.")


Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/botes.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]