Die Belofte
in die
Skilpaddop:

(Die verhaal van Sarah Bartmann in die vreemde)

‘n Radiodrama geskryf deur Willem Fransman (Junior)

Dramatis Personae:
(Persone wat in die Radiodrama sal optree)

Sarah Bartmann

Regter

Hendric Cezar

Jabu, Swart seun

Souka, Sarah se verloofde

Agtergrond: Die drama speel in Britanje af in die begin van die 9de eeu. Byklanke ensovoorts sal dan uit Disclaimer daardie tydperk kom.

Woorde van dank:

Die skrywer wil die volgende persone van harte bedank:

Mnr Sandile Dikeni, wat my die geleentheid gebied het om hierdie epiese verhaal vir die radio te skryf. Dankie vir jou waardevolle insette en leiding gedurende die werkswinkel;
Me Fatima (Fats) Dike Vir die interessante agtergrondskennis wat jy in jou ronddra en wat jy met ons gedeel het.
Me Diana Ferrus vir die toestemming om jou epogmakende gedig, wat instumenteel was in die terugbring van ons suster, te kon gebruik.
En dan natuurlik my gesin, wat weer eens vir ‘n tydperk sonder my sêgoed moes klaarkom.

Die belofte in die skilpaddop deur Willem Fransman (Junior)

DOOF IN MET DIE GELUID VAN ‘n KOETS SE METAALWIELE WAT OOR KEISTENE OP STRAAT KNARS. GELUID VAN VERSKEIE MENSE WAT OP STRAAT GESELS ENSOVOORTS. OOR DIT WORD DIE GEKAP VAN ‘N REGTERSHAMER HOORBAAR. DIE ATMOSFEER IN ‘N HOFSITTING. DIE HAMERSLAE WORD ‘N PAAR KEER HERHAAL.

Regter: Dames en Here, hierdie hof is deur die menseregtegroep, Afrika Unie, versoek om uitspraak te lewer in die saak tussen ‘n Franse burger, meneer Hendric Cezar en juffrou Sara Baartman. Dit is die uitdruklike opdrag aan hierdie hof om vas te stel of juffrou Baartman teen haar wil haarself vir betaling toonstel in die Picadilly sirkus, en of meneer Cezar haar onder dwang laat optree.

Cezar: Edelagbare, ek wil dit onweerlegbaar stel dat juffrou Baartman ‘n vrywillige deelnemer aan hierdie parades is. Ek wil dit verder aan die hof stel dat sy nie gedwing word om enigiets teen haar sin te doen nie.

Sara: (DINK) Dit is nie waar nie, Edelagbare, dit is nie waar nie!

Cezar: Edelagbare, ek kan die here van die Afrika Unie verseker dat ek ‘n behoorlike mondelinge ooreenkoms gemaak het, toe ons juffrou Baartman van Suid- Afrika na London gebring het.

Regter: (SARKASTIES) En sal u omgee om ook hiérdie hof in te lig rakende u mondelinge ooreenkoms.

Cezar: Edelagbare, as dit die hof behaag sal ek graag wil hê dat juffrou Baartman self daardie inligting aan hierdie hof noem. (EFFENS SAGTER) Kom Sara, praat met die regter.

Sara: Edel ... ag ...bare, e ... ek en ... ons het ooreengekom dat ek vir ses jaar in die land sal bly. meneer Cezar het belowe om my op eie onkoste na die tyd na my land van geboorte te neem. Edele heer, ek verkies om hier agter te bly. (SAGTER)Ek wil nie huis toe gaan nie. (GESUG TREK DEUR HOFSAAL: BLY?, BLY NA AL DIE GESPOT?)

Sara: GEKAP VAN HAMER (DINK BY HAARSELF: Nou is jou kans om die waarheid te praat, Sara. sê vir die man hoe wreed Cezar met jou is. Jou gaan slaan as jy by die huis kom as jy hom nie na die mond sal praat nie) (HARD) Agbare heer, ek wil graag hier in England bly, want dis vir my lekker in die land. Meneer Cezar sorg goed vir my. Ek kry die helfte van die geld wat hy by die sirkus maak.Van die mense wat na my kom kyk.

Cezar: (ONDERLANGS) Sê vir die regter van die seuns!

Regter: Meneer Cezar, wil jy dalk graag nog iets vir die hof sê?

Cezar: O ja, Edelagbare, ek wil ook hê dat die hof moet weet van die twee swart seuns, ook uit Afrika, wat na haar behoeftes omsien. Hulle help by die vertonings.

Regter: Juffrou Baartman, is daar nog iets wat jy die hof wil meedeel?

Sara: Nee, Edele Heer. Ek is bly u kon na my saak luister.

Regter: Nadat ek al die feite voor my in behandeling geneem het bevind die hof dat daar nie onbillike optrede is nie. Ek lui ook uit haar eie woorde af dat sy ‘n gewillige deelnemer aan hierdie aktiwiteite is. Maar, meneer Cezar, hierdie hof is maar al te bewus van weerlose mense uit Afrika en elders, wat deur ander uitgebuit word vir eie gewin. As hierdie hof net die geringste vermoede het dat u hierdie skepsel uit Afrika vir eie gewin uitbuit sal u met die volle mag van die wet te doen kry. (Tussenwerpsels: HY SAL BESLIS NIE WEGKOM NIE. ONS SAL HOMSELF AANKEER!) GEKAP VAN HAMER

Regter: Stilte asseblief. Ek is nog nie klaar met my uitspraak nie. Ek wil ook ‘n woord van dank spreek teenoor die here van die Afrika Unie wat hierdie saak onder die hof se aandag gebring het. Hierdie hof is nou verdaag.

SLAAN MET HAMER (INHEEMSE MUSIEK VIR ONGEVEER 5-20 SEKONDES)

Sara: Hendric, ek verstaan nie wat deesdae met jou aangaan nie. Eers laat jy my in Manchester in die kerk doop. En nou moet ons haastig ons goed pak. Waarnatoe gaan ons die keer?

Cezar: Ons gaan op reis.

Sara: ‘n Reis, bedoel jy ‘n bootreis, soos terug huis toe?

Cezar: Hou op vrae vra, Sara, pak en maak gou. Ek wil wegkom uit London. Die plek maak my benoud.

Sara: (SARKASTIES) Jy bedoel seker die menseregte groepe hou nie van die manier waarop jy ‘n weerlose mens soos ek uitbuit nie, of hoe, Hendric?

Cezar: KLAP HAAR DEUR GESIG. (VERERG) Jy praat nie so met my nie, nie na alles wat ek al vir jou gedoen het nie.

Sara: Soos wat, Hendric. Wat het jy vir my gedoen, behalwe ‘n klomp halwe en leë beloftes. Jy het my met ‘n skelmstreek uit my land geneem. Jy het my laat kaal paradeer saam met perde en ander snaakse dinge

Cezar: Stil, vroumens, stil. Ek waarsku jou. Ek ... ek sal jou ...

Sara: (SARKASTIES) Wat sal jy maak Hendrik? Ek is die één wat vir jou die rykdom inbring. Jy sal my nie leed aandoen nie, Of hoe?

Cezar: Sara, ek waarsku jou

Sara: Nee, Hendrik, ek waarsku jóu. Ek is moég van die soort lewe. Ek wil huis toe gaan. Na my mense toe. Verdomp, Hendric, ek mis my mense. Hulle taal, hulle gewoontes. Jy laat my hier kaal rondloop sodat ander mense, veral mans na my liggaam moet kyk. Ek behoort nie aan jou nie, Hendric. Nog minder aan die mans wat met sulke leepoë na my kyk! Het jy al die afkeur in die vroue se oë gesien?

Cezar: Hou op Sara, hou op ...

Sara: Nee, Hendric. jy moet nóg hoor. In my mense se tradisie mag net jou man jou skaamdele sien. En jy wil hê ek moet dit vir die hele wêreld wys. Ek kan nie. Ek behoort aan Souka. Net hy mag my so sien.

Cezar: (AGGRESSIEF) Souka? wie’s hy? Het jy hom hier in London ontmoet

Sara: Eina, Hendric, los my arm.Souka, is my verloofde. Die een aan wie ek my hart beloof het. Baie volmane gelede.

Cezar: Genoeg van jou geklets, Sara. Ons moet by die hawe kom. Die boot sal nie heeldag vir ons wag nie.

Sara: (VERRAS) Boot? (EFFENS SAGTER) het jy gesê boot, Hendric? So ek gaan tóg huis toe. Na my mense toe. Uiteindelik gaan ek weer Hoeri- Kwaggo sien!

Cezar: Hoerie ... Hoerie wat?

Sara: Hoeri- Kwaggo. Die berg in my land wat jy eerste sal sien as die skip naby die hawe kom. My mense noem hom Hoeri-Kwaggo: die berg wat plat is.

Cezar: KOFFER WORD TOEGESLAAN, KNIPPE WAT SLUIT, ENS Kom, Sara, maak nou klaar. Die koetsier is seker al onrustig daar onder in die straat. Ek het gevra dat Jabu, een van die swart jongens, ook saam met ons moet gaan.

Sara: Jabu? ja, ek hou van Jabu. Hy is ‘n goeie mens. (OORGANG) Afrika, Gamtoos Boegoe en kruisement, hier kom ons! MUSIEKBRUG KOETSWIELE WAT OOR KEISTENE KNARS. WATER WAT KLOTS TEEN SKEEPSROMP GEKRAAK VAN SKEEPSTOUE, KLAP VAN SEILE.

Sara: (HOES, HOES) GOOI WATER IN GLAS

Jabu: Sara, Sara, hier is ‘n bietjie water, miskien sal dit help.

Sara: Dankie, Jabu. (DRINK / SLUK) Jy is so goed vir my.

Jabu: Jy is al vriend wat ek hier het, Sara. Hoe voel jy?

Sara: Siek, jong, baie siek. (HOES, HOES) Die pyn in my keel wil net nie weggaan nie. En dan (KREUN) pyn my longe en brand my bors so dat ek bang word. (HOES, KUG)

Jabu: Jy sal by ‘n dokter moet kom, Sara. Jy sal doodgaan sonder help.

Sara: Ek wil nie hier doodgaan nie, Jabu, Ek wil by my mense wees. Daar begrawe word. Daar waar my naelstring begrawe is. (HOES) Ek het buitendien ‘n belofte aan Souka gemaak wat ek moet nakom.

Jabu: Wie is Souka? En watter belofte praat jy tog van?

Sara: Souka is my verloofde. Ek het belowe om oor nege volmane met hom te trou. (OORGANG) Onder my mense was daar baie jongmanne wat my wou hê.

Jabu: Jy is ‘n mooi vrou, Sara, ‘n mooi vrou.

Sara: Ek voel nie meer mooi nie, Jabu, nie meer vrou nie. Maar Souka, Souka ja, sy woorde het my hart aangeraak.

Jabu: Hoekom het julle dan nie getrou nie?

Sara: Ons was amper getroud. Dit was die aand van die negende volmaan. Alles was gereël. My ma het altyd al ons feeste gereël, (HOES, KUG) Ook ons troue. TRADISIONELE SANG IN AGTERGROND Toe die seremonie begin het Souka vir my ‘n skilpaddop gegee. Volgestop met boegoe en kruisement. (HOES, ERGER HOES)

Jabu: ‘n Skilpaddop? Het jy dit nog, Sara?

Sara: Nog net ‘n stukkie. Ek het die skilpaddop saamgebring England toe. (HOES) Cezar het dit eendag gesien en stukkend getrap. Gesê dat ek hom wil toor. (HOES) Ek het ‘n stukkie daarvan tot vandag toe by my. Gee vir my daardie sakkie op die bed aan, asseblief. Dit is daarin.

Jabu: Hier Sara. Maar dis dan net ‘n stukkie skilpaddop.

Sara: Nee, Jabu, Daar is ‘n belofte in die skilpaddop. Daarin is die gees van my mense vasgevang . Hierdie stukkie dop praat met my oor my mense se kultuur. Ons gewoontes. As ek na hierdie dop kyk, dan onthou ek selfs van die stories wat die jagters om die vuur vertel het!

Jabu: Wil jy vir my sê dat mens baie met ‘n skilpaddop kan doen?

Sara: Ja. ‘n Skilpaddop is gebruik om water te skep en mee te drink. Dit was gebruik in ons godsdiens. Selfs as versiering. Soos wat Souka vir my gegee het. So volgestop met die verskillende kruie . Nee Jabu, dit is nie maar net ‘n skilppaddop nie. Dit is ‘n simbool van wie ek is. Van my mense.

Jabu: Dis interessant, Sara. Vertel my meer.

Sara: (BITTER) Die fees was aan die gang. Die dansers het om die vure gedans. Na ‘n rukkie het ons vure teen die duine gesien.

Jabu: Watse vure was dit, Sara?

Sara: Dit was vreemde vure. Skielik het hulle oor die duine gehardloop gekom. Gesiglose Wit mense met vuurstokke. GEKLAP VAN GEWEERSKOTE, AANEEN Die mans is voor die voet doodgeskiet. Die vroue en kinders is weggevoer Kaap toe as slawe. Ek was een van hulle.

Jabu: En swakkes en siekes?

Sara: Hulle is ook van naby geskiet. (HOES WEER ERG) Jabu en Souka?

Sara: (HOES NOG ERGER)

Jabu: Sara, wil jy nie maar ‘n bietjie rus nie?

Sara: (DRINGEND) Nee, Jabu, jy móét na my luister. Niemand wou nog na my luister nie. (HOES WEER) Souka, Wat sê jy Souka.

Jabu: Dis ek, Sara. Wil jy water hê?

Sara: Ja, Souga, ja. Bring vir my ‘n stukkie van daardie tsamma wat jy saamgebring het. (HOES) Souka, jy het mos gekom om my te kom haal né, Souka.

Jabu: Nee, Sara, dis ek Jabu. Onthou my. Ek, Jabu, jou helper! Onthou jy, Sara. Ons is nou in Frankryk. Ons het met die boot tot hier gekom. Cezar het ons verkoop. Ons werk nou vir ‘n dieretemmer, Sara.

Sara: Die boot wat my huis toe moes neem. (HOES, HYG NA ASEM) (LAGGIE) Die boot het vir Souka gaan haal om vir my te kom haal. Souka, kom hou my vas, my liefling.

Jabu: Sara, (SOOS WANNEER JY IEMAND SKUD WAT SLAAP), Sara, dis ek Jabu.

Sara: Souka, ek is bly dat jy gekom het. (HOES SOMMER ERG, HYG, SNAK NA ASEM) Souka, dis so koud hier. So koud... ! Hou my vas asseblief, Souka. Moenie weggaan nie. Souka... Souka

Jabu: (BANG) Sara, moenie doodgaan nie. Sara, ek sal ‘n dokter gaan roep.

Souka: Sara, my beminde, ek het gekom, want jy het my geroep.

Sara: Souka (HOES ERG)

Souka: Toemaar Sara, Ek is nou hier by jou.

Sara: Onthou jy Souka, hoe ons soms daar langs die Gamtoos se walle gespeel het? Hoe ons aan mekaar raaisels gevra het?

Souka: Ja, Sara. Ons was uitgelate soos twee kinders.

Sara: Souka, kom ons speel weer soos toe. Vra my weer ‘n raaisel, my lief.

Souka: Nou maar goed: Sara, wat sal jy maak as ‘n parra jou wil vang...

Sara: Hang af hoe groot die parra is.

Souka: Van die grond af tot by jou heupe. So groot. So wat gaan jy maak?

Sara: Ek gaan na jou toe spring, Souka (LAG SAAM)

Jabu: Sara, wat gaan aan met jou. Jy praat en lag deurmekaar. Wat is dit, Sara. (DRINGEND) Sara, jy hallusineer!

Sara: Souka, het jy regtig gekom om my huistoe te bring?

Souka: Ja, Sara, Ek is hier om jou huis toe te neem. Huis toe ...
Onthou jy die vlaktes,
die welige groen gras onder die groot eikeboom,
Die lawende koeltes en die son wat nie steek?
Ek het jou bed berei teen die voet van die berg,
jou karos uitgedos met boegoe en kruisement.
Daar waar die proteas pronk in geel en wit
daar sing die rivier jou verwelkomingslied!

Ek is hier, Sara, om jou weg te skeur
van die snydende oë van die rassistiese monster
wat wegkruip in die donker met sy kloue van haat
wat jou liggaam versnipper, stukkie vir stukkie,
jou siel vergelyk met die van Satan
en syne vergelyk met die van God!

Ek is hier om jou te troos,
jou moeë hart teen my bors vas te hou
die palms van my hande oor jou wange te vou
die lyne in jou nek met my lippe te streel
en jou ewige skoonheid in my oë te onthou.
Ek is hier om vir jou te sing, Sara
want ek het vir jou vrede gebring.

Ek is hier, Sara om jou huis toe te neem,
Daar waar die oeroue berge jou naam uitroep
Ek het jou rusplek berei teen die voet van die berg,
jou karos uitgedos met boegoe en kruisement.
Ek is hier om jou huis toe te neem
waar ek vir jou sal sing
want jy het ook vrede
vir my gebring.

Sara: Souka, dis mooi woorde. Jy weet net hoe om woorde te gebruik. (HOES ERG, HYG NA ASEM) Jy het altyd die woorde wat my hart aanraak. (HOES) Kry jy ook so koud, Souka, Dis baie koud hier, né, Souka.

Souka: Toemaar Sara, Ek is by jou ...

Sara: Souka, bring die karos van die gemsbok wat Tata geskiet het, vir my daar by my voete. Gooi dit oor my skouers. (HOES, HYG) Dis baie koud Souka, baie koud.

Souka: Ek maak so Sara. Ek maak so,

Jabu: Sara, Sara, word wakker, Sara, jy kan nie dood gaan nie. Sara?

Sara: (ONSAMEHANGEND) Dood? Ek gaan nie dood nie. Ek gaan saam met Souka. (SWAK) Hy het gekom om my huis toe te neem. Souka. Gooi die karos oor my skouers? Dankie (HOES ERG, HYG WEER STERK NA ASEM.) Souka, dis skielik nie meer so koud nie. Nie hier onder die koeltebome van die Gamtoosvallei, nie. Dis eintlik lekker warm hier né, Souka. (SAGGIES EN SOOS EEN WAT BAIE TEVREDE IS) Souka, die een wat my hart met sy mooi woorde aanraak het en warm maak. (HOES, STERWENSOOMBLIK)

MUSIEKBRUG.

Skutbladsy vir Uitsending:

Voor uitsending van opgeneemde teks:

Die Departement van Kuns en Kultuur bied met trots aan:
Die belofte in ‘n skilpaddop (Die verhaal van Sarah Bartmann in die vreemde)
‘n Geleentheidsdrama geskryf deur Willem Fransman (Junior)

(Speel in met tema-musiek.)

Vooraf opname van radiodrama volg dan;

Na die uitsending van voorafopgeneemde teks:

U het geluister na:

Die belofte in ‘n skilpaddop (Die verhaal van Sarah Bartmann in die vreemde), geskryf deur Willem Fransman (Junior)

Die Rolverdeling was soos volg:

Sara Bartmann: Diana Ferrus
Die Regter: Siraj Jamal
Hendric Cezar: Rasool Hendricks
Jabu: Sandile Dikeni
Souka: Willem Fransman (Junior)

Dié drama is ‘n werkswinkel produksie.
Baie dank aan Fatima Dike en Mthetho Dikeni vir deelmane.

Die drama is opgevoer onder die regie van Willem Fransman (Junior)
Victor Jantjies het die drama tegnies en akoesties versorg.

(Speel uit tema-musiek)

* * * *
Datum van Opname: 6 Augustus 2002 om 09: 00 by Bush Radio se ateljee
Datum van Uitsending: 9 Augustus 2002 om 5:30 oor Bush Radio se ateljee

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD







Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/fmandram.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 15 November 2002
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]