KREASIË

Disclaimer Eintlik die belangrikste deel van hierdie digitale nes. Ongelukkig het ons slegs twee bydraes in hierdie uitgawe.

Ben Dekker het sy hand probeer aan vertalings van Dylan Thomas. Hier is een van twintig:

Ilustrasie deur Ben Dekker

Illustrasie deur Ben Dekker
En die dood sal nooit hier heers nie

En die dood sal nooit hier heers nie
Dooies, naaktes sal weer een wees
Met die man in die wind en die maan;
Met beendere skoon gepik en die skoon bene heen
Sal daar sterre wees aan elmboog en voet;
Besete sal hul verstand nooit kwyn,
Na ondergang in see sal hulle weer verskyn;
Gaan minnaars verlore, die liefde duur voort;
En die dood sal nooit hier heers nie.

En die dood sal nooit hier heers nie
Onder die optollings van die see
Sal wagtende lyke nie sterf sonder troosliedere;
Op pynbanke verdraai as senings skeur,
Gerek op die wiel tog breek hulle nie;
Geloof in hul hande knak in twee
En die heidense horings deurboor hulle;
Geheel en al gesplete, kraak hulle nie;
En die dood sal nooit hier heers nie.

En die dood sal nooit hier heers nie
Geen seemeeu-rumoer mag hul ore bereik
Of die golf se geklets op die seekus;
Waar eens 'n blom was mag 'n blom nooit weer
Sy gesig wend na die slag van die reë;
Al is hul besete en dood, ja dood,
Sak karakterkoppe nog breek deur vygies;
Breek die son in tot die son afbreek,
En die dood sal nooit hier heers nie.

Indien jy belangstel in nog vertalings van Dylan Thomas deur Ben Dekker, asook illustrasies van die gedigte, besoek Bitkop Publikasies.

"n Goeie plek om meer oor Dylan Thomas uit te vind is hier .

Ook het ons die volgende ontvang:

'n Kraai in eensame vlug

Kraai, Kraai in eensame vlug
kan jy my sê waarna soek jy?
Soek jy jou prooi
jou eerste prooi
of is jy vandag in
jou vlug verlaat?

Dan lyk jy soos my
wat hier moet skuil:
sodat ek nie my
geliefde verraai.

Sprei dan jou vlerke wyd
en vlieg saam met my
nie as jou prooi
maar as jou metgesel.
Al hoe breed die lug is
kan dit onmoontlik
my gevoelens verberg.

Noncedo Gabada

Cuisine in die Oos-Kaap

En laastens, iets vir die fundament.

Likkewaan Gestoofde likkewaanledemaat

Benodigdhede:

likkewaanvlees
(verkieslik van 'n dooie likkewaan)
4 - 5 uie
4 tamaties
2 ertappels
'n vet groenpeper
wortels
vars gemaalde swartpeper
koljander
basilikum
origanum
wit wyn

Hoe gemaak?

braai gekapte uie in botter tot deurskynend saam met
vars gemaalde swart peper en heel koljander, vergruis;
voeg gekapte tamaties by met lekker baie
origanum, basilikum en sout;
ook nog fyngesnyde ertappel (vir die sous);
plaas linkervoorarm en regteragterboud in kastrol (...van die likkewaan);
wanneer sous begin vorm aanneem
laat rustig kook net bokant prut;
na die eerste glas wyn, voeg die volgende glas in pot; (wit wyn, hoor)
voeg wortels op strategiese oomblik by
(sampioene mag ook werk)
bedien saam met rys wanneer die hongerte begin knaag
(uur tot uur-en-'n half);

'n Paar opmerkings:

Die lekkerste van likkewaaneet is om te sien hoe ander mense gril by die blote gedagte. (Dit is natuurlik omdat daar nie likkewaanboudjies op die rakke van Pick & Pay is nie.) Hulle is ook nie links om te vertel van hondsdolheid, meningitis, lupus, miltsiekte en verskeie ander soorte peste wat saam met dié soort dis gaan nie. MMhhmmm.

Ek het my likkewaan ontmoet op die pad tussen Komga en King Williamstown. Iemand net voor my het mooi netjies oor sy (later het ek agtergekom hy is 'n sy) kop gery. Toe ek by haar kom en haar optel aan die stert, tril die liggaam nog. Die voertuig het duidelik presies net oor die kop gery, die res van die liggaam heeltemal ongeskonde.

Leipoldt skryf likkewaanvlees is 'n uitsonderlike lekkerny, mens kan enige regskape Chinees maar vra. Leipoldt stel voor: wit vlees, dun gesny en gebraai in 'n pan saam met peper en rissies. Nee, besluit ek, die weg van die hoender is beter - soos hier bo. (Leipoldt skryf nie van die moeite wat dit kos om 'n likkewaan af te slag nie).

Na die maal, hou maar die pad dop vir die volgende verrassing.



Copyright:  © 1997; 2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/gedig1.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]