Waar is
die "alternatiewe Afrikaners"
'n dekade na Boereblues en Voëlvry?

Mariana Kriel
Port Elizabeth

Disclaimer In die Mail & Guardian van 17-23 Oktober 1997 vra Dror Eyal en Greg Bowes die vraag in 'n kontroversiële cover story (kontroversieel juis vanweë die cover: 'n full-frontal naakfoto van The Mud Ensemble se Juliana Venter): "What has happened to South Africa's 'alternative Afrikaners'?" 'n Dekade na Boereblues en Voëlvry is dit miskien 'n tydige vraag.

Waar s die "alternatiewe Afrikaners" vandag? For starters, het hulle homepages. By http://www.lia.net/agrobler/bomskok.htm. kry jy Koos Kombuis s'n vanwaar jy kan ingaan op onder andere Valiant Swart (vir wie se musiek Koos erken hy baie respek het). Daar is inligting oor optredes en dié word gereeld opgedateer, maar wat opdatering dalk die nodigste het, is die Ou-Suid-Afrika-titel van dié "on-offisiële Koos Kombuis homepage": BOMSKOK BABBELAAS.

Ter agtergrond, waarskynlik onnodig: Boereblues was die kabaretreeks wat Koos Kombuis (toe nog André Letoit) en Johannes Kerkorrel gedurende 1987 aangebied het in plekke soos die Black Sun en Club 58 in Johannesburg. Daarmee het die sogenaamde alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging momentum gekry om op 25 Maart 1988 in die Pool Club (ook in Johannesburg) 'n hoogtepunt te bereik met die Eerste Alternatiewe Afrikaanse Rockfees/-konsert wat deur nagenoeg 900 mense bygewoon is en destyds in The Cape Times (1 Julie 1988:8) beskryf is as "a (sic) unprecedented orgy of Afrikaner anarchy". By die fees het opgetree Letoit en Kerkorrel se Gereformeerde Blues Band, Bernoldus Niemand en sy groep, Die Swart Gevaar, asook groepe soos Koos, The Genuines, Die Kêrels en Wat is die nuus? Dié Afrikaanse bands se alternatiwiteit was in die eerste plek daarin geleë dat anti-apartheids- en anti-establishmentprotes die basis van hulle lirieke gevorm het.

Die jaar na die Eerste Alternatiewe Afrikaanse Rockfees volg die landwye Voëlvry-toer. Op die omslag van die CD Voëlvry wat in 1996 deur Shifty Records uitgegee is, word die toer van sewe jaar gelede soos volg onthou (hier onveranderd aangehaal):

OF JY TOE DAAI TYD DAAR WAS OF NIE HET VOELVRY (sic) 'N HELSE STORM OOR ONS LAND VEROORSAAK!
ANYWAY, DAAR WAS NET DRIE BANDS WAT DIE TOER AANGEPAK HET. HULLE WAS NAMELY: ANDRE (sic) LE TOIT (NOU KOOS KOMBUIS), DIE GEREFORMEERDE BLUES BAND (NOU JOHANNES KERKORREL) EN BERNOLDUS NIEMAND EN DIE SWART GEVAAR (JAMES PHILLIPS) WIE (sic) SADLY ONLANGS OORLEDE IS!
NATUURLIK, (AS YOU CAN SEE) WAS DAAR MEER BANDS WAT ACTUALLY DEEL VAN DIE BEWEGING WAS...
DAAR WORD GESÊ DAT DIE CD 'N DOKUMENT IS VAN DIE EERSTE KEER DAT JONG AFRIKANERS MET ALTERNATIVE WAPENS OPGESTAAN HET OM TE SE (sic): "NEE, GENOEG, ONS IS DIE MOER IN" WAPENS SOOS: ROCK EN ROLL, KAROO SOUL, REGGAE, TECHNO-POP, BLUES INDUSTRIAL MUSIEK, MUURMUSIEK (NEE, NIE KAMERMUSIEK NIE) ASOOK POTJIEKOS-POP...

Die skerp politieke kommentaar in die lirieke was een van die redes waarom Voëlvry-optredes in 1989 op baie Afrikaanse universiteitskampusse verbied is. "Onderwysers sê vir die skoolkinders alternatief is dieselfde as Kommunisme", het Kerkorrel gespot (Kalender, bylae tot Beeld, 23 Mei 1989:6). Ook uit Afrikanerkerkkringe is skerp aanvalle op die nuwe Afrikaanse musiekmakers geloods. Onder die opskrif "Misleidende 'New Age Movement' ook in SA bedrywig" skryf dr. Jannie Malan, destyds moderator van die Suid-Transvaalse Sinode, byvoorbeeld in Die Kerkbode van 7 Julie 1989:

Die sogenaamde 'back masking', wat in die jongste jare 'n instrument geword het om die onderbewuste aan te spreek, het met die plaat Voëlvry ook in Afrikaans kop uitgesteek. Groepe wat 'n sogenaamde 'alternatiewe' Afrikaanse musiek wil aanbied, val die godsdiens en die grondliggende waardes wat God se Woord vooropstel, onbeskaamd aan... 'n Ander vraag is hoekom die musiek so neerhalend moet wees? Dis 'n aanval op die establishment en die aanvaarde norme van die samelewing, en ook op die godsdiens. Op die liedjie Boer in beton sing André Letoit hy gaan nie kerk toe nie, want dit is vervelig... Dis 'n aanslag op dit wat eerbaar en ordentlik vir die Christen is (kursief oorspronklik).

Maar tye verander, en vinnig ook. Die sedebewakers waarsku lankal nie meer teen die "alternatiewe Afrikaners" nie - deesdae word hulle uitgenooi vir optredes by skole as deel van fondsinsamelingsprojekte. Ook in Port Elizabeth: hier het Koos Kombuis in Oktober by die Hoërskool Andrew Rabie opgetree. So 'n geleentheid mis 'n mens nie. Die Baai is nie so sleg as wat Koos se uitspraak dat wetenskaplikes lewe in PE ontdek het, suggereer nie, maar 'n Mekka van Afrikaanse(rige) happenings is dit nou ook nie.

Dit was, terloops, hoe die Vrydagaand-show (17 Oktober) begin het: met "daar-is-toe-afterall-lewe-op-PE" vanaf Elke Boemelaar se Droom (uit 1994). Heel toepaslik. Maar die "helder gesuis van Radio Kombuis" wat gevolg het, en veral die aankondiging van vrouerugbyspan was... wel, uit die 1994- (of ouer) doos.

Terwyl Koos in die Baai is, word daar op Tjailatyd 'n onderhoud met hom gevoer. Dit sukkel. Die onderhoudvoerder vra uit na die liedjie 'Bicycle sonder 'n klok (sic, 'n groot sic)' wat volgens haar in gewildheid ver bo al die ander Koos Kombuis-liedjies uitstaan. (Maar omtrent al die ander Koos Kombuis-liedjies, hoor ek, dra op die SAUK se CD-boksies steeds "avoid"-stickertjies; dalk het die tye nie sóveel verander nie.)

"Ag," sê Koos, "dis geskryf vir die meisie op wie ek verlief was in st. 7."
"Kan jy onthou wat was haar naam?" vra die onderhoudvoerder.
"Karen," sê Koos.
Om hom só oor die lug te hoor, is om hom weer op die Ver in die ou Kalahari-kasset te hoor: 'n implisiete vra om die genade waarvoor Breytenbach eksplisiet gesmeek het: Kyk, hy is skadeloos. Hoe kan 'n mens dan anders as mild wees in jou oordeel?
"Wat hou jou nederig?" gaan die onderhoud voort. Hy het nooit Kerkorrel (wie 'n mens dit terloops vergewe) se arrogansie gehad nie.
"Die feit dat, as ek 'n show doen, dan's dit altyd my domste liedjies wat die mense die meeste wil hoor. Dan begin ek nou wonder oor myself."
Wat ons gehoor het, was nie dom nie, dit was net te bekend. Maar dan kla kunstenaars juis dat dit is wat gehore wíl hê. Om die gehoor wat Vrydagaand stywerig om tafeltjies in die skoolsaal ingeprop gesit het se voorkeure te peil, moes in elk geval moeilik gewees het. (Wat is 'n Koos-show as mens nie kan dans nie, of as daar nie ten minste ander mense is wat dans nie?) Vir my was dit onmoontlik om selfs 'n gemiddelde ouderdom te skat.

Te oordeel aan die frekwensie van CD-uitreikings en konserte (weliswaar nie in Port Elizabeth nie) lyk dit of die voorspelling wat Kerkorrel in 1989 gemaak het, naamlik dat alternatiewe Afrikaanse musiek toekomsmusiek is en dat "(d)ie groot oplewing en golf... die land eers in die jare negentig (gaan) tref" waar geword het (De Kat, Junie 1989:71). Die nuwe orde van die laat-negentigerjare het ook die toets vir kunstenaarskap gebring: Goeie rebelle en anargiste, nodig soos hulle is, is nie noodwendig goeie kunstenaars nie. Kerkorrel het reeds in 1991 met Bloudruk bewys dat hy méér as 'n rebel is. Valiant Swart het dit met die (vir my) meesterlike Dorpstraat Revisited gedoen. Battery 9 (die fokus van Greg Bowes se bydrae in die Mail & Guardian) is in 'n klas van hul eie. (Of hulle nog in 'n Afrikaanse(rige) klas is, is 'n ander vraag.) Voor 'n mens sal kan sê in watter klas die "Trekswael van Tagtig" (soos Koos Kombuis deur Hennie Aucamp gedoop is) in die negentigs val, sal jy na sy onlangse CD-uitreikings Madiba Bay en Blame dit op apartheid moet luister; op die show in die skoolsaal is te min daarvan gehoor.

Dit is 'n onregverdige "resensie" dié. Die enigste rede waarom die Koos Kombuis-show van 1997 vir my 'n teleurstelling was, is omdat 1996 s'n (in Augustus in die UPE-studenterestaurant) onherhaalbaar lekker was. Koos is altyd welkom in die Baai.


Copyright:   1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/koos.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]