Skryfkursus in die Waai

Marlene van Niekerk
Marlene van Niekerk aan
die woord tydens een van
Die Burger se lesersoggende,
hierdie keer by die Thatchwood-
restaurant.

Vir ses weke gedurende April en Mei het daar groot opgewondenheid in die Baai geheers. Dié wat die Oudtshoorn-fees misgeloop het, het 'n tweede kans gekry. Die Afrikaanse Departement by UPE het 'n kreatiewe skryfkursus gereël en dit reggekry om drie bekende Afrikaanse skrywers in die Baai se vriendelike ou windjie in te lok.

Aspirant-skrywers (en nie so aspirant - wag maar en sien!) het twee keer 'n week op die kampus bymekaar gekom en hul koppe gekraak oor die geheimenisse van DIE SKRIF, DIE PEN en DIE PAPIER. Verwarring, ekstase, depressie, en ander minder opwindende emosies het dik gelê op die tapyte in UPE-lokale. En nou sal ons maar moet sien... (En ons sien al klaar - 'n verhaal van een van die kursusgangers, Des Fourie, is aanvaar vir insluiting in 'n bundel kontreiverhale wat deur Abraham H. de Vries saamgestel word).

Die entoesiasme van die altesaam dertig kursusgangers het gesorg dat die kursus uiteindelik as 'n sukses beskryf kan word. Dié kursusgangers moet mense met ware moed wees, want hulle het van so ver as Oudtshoorn, Patensie, Jeffreysbaai en Oos-Londen gekom. Om jou in hierdie dae op onse paaie te begewe is nie kinderspeletjies nie...

Die skrywers wat die kursus gelei het, was Marlene van Niekerk, Lettie Viljoen en Anlen Marais. Marlene het klas gegee oor poësie, die kortverhaal, Pessoa, tarragon-hoender en opera. Lettie Viljoen het vertel oor hoe mens romans skryf en kelners in restaurante tot raserny dryf (omdat sy so baie weet van binnenshuise versiering). Anlen het die kursus afgerond met klasse oor die drama, hoe om slange mak te maak en Kreepy Krawly's op hul plek te hou.

Elkeen van die skrywers het ook deelgeneem aan 'n oggendtee, georganiseer deur Die Burger, ons ou staatmaker skandpaal en nuusblad.

Anlen Marais
Anlen Marais oorhandig 'n sertifikaat aan Clive Theodore van Oudtshoorn
aan die einde van die kursus.
Lettie Viljoen
'n Gesellige Lettie Viljoen saam met lede van UPE se Afrikaanse Departement, Prof. Ernst Kotzé links en regs Prof. Helize van Vuuren

Met die skrywe van dié artikel het 'n groep geesdriftiges besluit om die momentum verder te neem en 'n stigtersvergadering vir 'n "Skryfkring" in Port Elizabeth op die 1ste Augustus te hou. Die organiseerders nooi alle geesgenote om aan te sluit - almal wat in kreatiewe skryf belangstel, 'n klankbord soek, of informasie oor die kreatiewe skryfproses wil uitruil en deel. Die Skryfkring beoog om maandeliks te vergader. Belangstellendes kan Lynette Gerber kontak by telefoonnommer 041 5835081.

Wat die skryfkursus as sodanig betref, is daar 'n sterk moontlikheid dat die kursus weer volgende jaar aangebied kan word, aangesien al die deelnemers voel hulle baie by die kursus gebaat het.

Persone om te kontak indien u meer inligting oor die skryfkursus verlang:

Prof. Helize van Vuuren
e-pos: afahjv@upe.ac.za
tel.: 041 504 2223

OF:

Belinda du Plooy

Departement Afrikaans
Universiteit van Port Elizabeth
Posbus 1600
PORT ELIZABETH
6000

tel.: 041 504 2871

Onse angeltjie is trots om van die kursusgangers se skryfsels hier te plaas, saam met ander kreatiewe uitings.

Die menu lyk soos volg:

Poësie:

"Keer my" - Des Fourie

"Pa" - Des Fourie

N'Awlins Louisiana Desember 1997 - Elzabé Kritzinger

Prosa:

Desnieteenstaande - Kobus du Toit

Spreuke en psalms en Arnoldus - Elzabé Kritzinger

Die rooi lêer - Kobus du Toit

En as afskeid, 'n laaste glimlag:

Deelnemers by afsluiting
By die afsluiting van die kursus is
daar groot geglimlag: v.l.n.r. Des Fourie,
Helize van Vuuren en Elzabé Kritzinger.

Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/kursus.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]