DIE SKURK-DIGTER VAN OOS-LONDEN?

'n Onderhoud met Johan Myburg


I am large. I contain multitudes.
(W. Whitman)

Philip John
Umtata

Disclaimer Ek kom vroeg in Oos-Londen aan en gaan soek tee by die Wimpy. Dié word gerestoureer en ek sit maar langs die see om die tyd om te kry. Wanneer ek opstaan, begin die wind opsteek. Daar is 'n on-Oktoberse byt in die lug. In die straat voor Johan Myburg se huis staan die Jakaranda-bloeisels helder pers teen die verdonkerende lug. Ek wonder hoe die pad Umtata toe lyk. Op die sypaadjies lê matte pers bloeisels, drup nog aanhoudend van die bome af. Verwese, verflenterde mense drentel voor my oor die straat, breed soos dit net in Oos-Londen kan wees.

Op pad het ek probeer dink wat ek hom nou eintlik gaan vra. Sy bundels het ek 'n paar keer deurgelees: Vlugskrif van 1984 met meesal kort, strak-intense moment-gedigte in en Kontrafak van 1994 waarvoor hy die Eugené Marais- prys gekry het. Hier het ek gedink, ja, dié poësie verskyn in 'n verskeidenheid gedaantes: dit funksioneer as beswering teen die Bose, maar wortel ook in die Bose (soos by Salman Rushdie se Satanic Verses); die ekstatiese, visionêre word in die alledaagse gevind en die profane relativeer omgekeerd die ekstatiese, sakrale; daar word vrae gevra oor die digkuns. Miskien is hier 'n paar vrae.

Bo die voordeur is die beroemde woorde uit die Middeleeue in groot letters gegraveer:
Johan Myburg
Johan Myburg
olla vogala hebban nestas.... Hy maak die deur oop, lank en skraal, en lei my oor warm oregon-den houtvloere na sy studeerkamer. Ek sê maar dat hy verras en geamuseerd geklink het toe ek oor die foon met hom gepraat het. Hy lag verontskuldigend.

Later ontspan die tee wat hy aanbied my en kom ons aan die gesels tussen die boeke wat tot teen die plafon staan: sielkunde, musiek, Afrikaanse letterkunde, Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde, filosofie (daar moet sekerlik ook teologie wees, dink ek).

Ons praat oor wat ons miskien deel - die geïsoleerdheid van die oostelike deel van die Oos-Kaap.

JM: Ek dink regtig, as jy jouself wil isoleer, is hierdie absoluut die ideale plek.
PJ: Ja, Breytenbach op die televisie gistraand sê, in Frankryk, hy sê daar het hy gevoel die taal behoort aan hom, asof hy die enigste een is wat die taal praat....

JM: En ek dink dit is wonderlik tot op 'n sekere stadium, maar ek dink daar is ook 'n prys aan. Ek dink enersyds persoonlik, .... in die Oos-Kaap geval, ek dink as mens nie doelbewus iets doen nie, bemark is nie 'n goeie woord nie, uhm, is dit doodgewoon net verby. Dis asof hier geen motors of treine verby ry nie. Dis van die lyn af. Ek dink dis hoe ek Oos-Londen verstaan het.

Almal dink aan Oos-Londen as daardie best-kept secret, en almal, vermoed ek, wil dit so hou. So jy kan baie maklik hier, dink ek, deel word van die best-kept secret, en, en net heeltemal gerangeer word, nie, nee, eerder verdwyn...

PJ: in die groot stilte

JM: Ja, jy kan heeltemal opgeslurp raak deur die groot stilte. Ek het 'n vriendin gehad wat gesê het sy dink Oos-Londen is baie belangrik vir die kreatiewe proses, uhm, hier is so verskriklik min, jy word genoop om iets te doen, uhm, ek het lank daaroor gedink, maar ek dink ook daar is ander mense wat baie beter presteer. Gelukkig het ek kontak met iemand soos Susan Smith, sy het nou net gepubliseer in 'n versamelbundel by Tafelberg. Ons interaksie het regtig vir my nogal stukrag gegee, en jy kan baie maklik vir jouself sê, dit is jou lewe dié...
PJ: miskien 'n dorpservaring...miskien bly dit maar 'n dorp. Ek het grootgeword in Johannesburg, dit was wonderlik, maar ek wil dit nie weer sien nie.

JM: Jy sien, ek het altyd gedink mens kan 'n verskil maak, deur iets te doen, en ek kom op die punt dat ek dink, ek doen dit presies soos mense voor my dit gedoen het.

PJ: ...rêrig?

JM: Ja, ek het altyd probeer vlug vir suburbia, dit voel vir my ek het my verbeel ek het gevlug, dis alles hier. Buite suburbia is 'n moeitevolle lewe, want jy moet die hele tyd.... ek bedoel nie daarmee dat mens reaktief moet wees nie... want dan sal jy suburbia tot norm verhef. Wat ek bedoel is net doodgewoon om half onaangetas deur suburbia te lewe.

PJ: Voel jy aangetas, geraak?

JM: Deur suburbia? O ja, ek dink so. Ek dink... ek dink, jy sien saam met suburbia in my kop loop stereotipering en... is dit Rick Turner wat gesê het ... "I spent my life defying stereotypes" ... of sy vrou het so gesê by sy begrafnis..... En uhm, en uhm, en daai hele ding van stereotipes en suburbia wat saam gaan, om net, ja, nie so geweldig prooi te wees van stereotipes nie. Net om... net om, net die moontlikheid om vars te dink...

PJ: Jy laat my dink aan die analise van die Odusseia deur Adorno en Horkheimer waar hulle betoog die held moet skelm wees, moet verneuk as hy vernuwing wil bring.

JM: Dis daai verskriklike ding van, dis daai dilemma van steeds, van steeds in voeling bly met jou gemeenskap, met die gemeenskap, maar om steeds bevraagtekenend teenwoordig te bly in jou gemeenskap.... Jy gebruik die woord skelm, geslepe, want... ek kan nie sê dat ek nie skelm voel nie, dat ek myself betrap as skurk nie, dit gebeur wel. Op die ou einde is dit nie WSIWYG nie, daar's agendas en, ja, dit maak dit moeilik, dit maak dit moeisaam, en ek dink uitputtend. En die grootste gevaar is uitputting, om te besluit dit was nou genoeg gewees.

PJ: ... ja, op te gee...

JM: Ja, en dis daai opgee wat ek sien as die dilemma van "deel word van." Jy't, daai brawe poging het jy gestaak en dis miskien wat ek sê suburbia vang op, nie dat ek dink ek was altyd so 'n brawe skurk nie, maar daar was tye wat ek brawer gevoel het as wat ek tans voel.
....
Skryf jy?

PJ: Ja, maar daar is maar min.

JM: Het jy al gedink aan publiseer?

PJ: Nie rêrig nie.

JM: Hoekom nie?

PJ: Wel, ek voel nie seker daaroor nie.

JM: Voel mens ooit seker? Ek weet nie of mens ooit seker voel nie...

PJ: Op die oomblik sien ek orals om my mense wat self uitgee, wat digters is, en ek het 'n eindelose bewondering vir sulkes. By sekeres skrywers kry mens die gevoel hulle staan op die rand van stilbly.

JM: Dis ook 'n opsie.

PJ: Ja, maar dan moet jy die leser in gedagte hou. Jy ontneem dan dinge...

JM: Dit laat my nogal bekommerd... dit maak my nogal bekommerd hoe min mense werklik poësie lees. Ek sien dit by die mense met wie ek te doen kry, nou doodgewoon in die alledaagse lewe - hulle sal nog 'n roman lees, maar nie poësie nie. Laat mens nogal wonder...

PJ: Ek weet nie so mooi nie. Ek sien dit orals. Ek het nou die dag met Trudie Wegner gepraat - sy het 'n gedig deur haar seun vir my oor die foon voorgelees, wonderlik. Nou net in Stellenbosch kry ek Jean Jordaan, wat goed publiseer op A-4 bladsye, goed afgewerk ... daar's duidelik 'n passie, 'n liefde... Wat vir hom belangrik is, is om te kommunikeer. Skryf jy nog?

JM: Ja, ek het 'n paar goed, maar ek weet nie of ek 'n uitgewer gaan kry nie.

PJ: Kan nie sien hoe dit 'n probleem kan wees nie.

JM: Wel...ek het al meer begin dink, die meeste mense met wie ek hier te doen kry, wat ook my gedigte sou kon lees, is Engels, en ek sou dit graag ook met hulle wil deel, en ek glo net nie 'n vertaling is genoegsaam nie - dis tog 'n ander tyd, 'n ander plek, jy is 'n ander mens wanneer die vertaling gemaak word.

PJ: Nou, skrýf in Engels - al klink dit soos heiligskennis...

JM: Maar dis juis dit, ek weet nie of ek dan 'n uitgewer sal kry nie.

PJ: Ek kan nie sien hoekom nie, 'n digbundel met Afrikaanse en Engelse gedigte gemeng - as die kwaliteit werk goed is, kan dit 'n baie goeie idee wees, iets interessants. Dit gaan tog om kommunikasie.

JM: Ja, dis hoe ek ook voel - daar is tog sekerlik dinge wat taal oorstyg (dis nou binne perke) - as ek behendig is met waterverf, beteken dit tog nie dat ek nie behendig kan wees met olie nie, of hoe? Dit bring my terug by die stereotipering waarvan ons vroeër gepraat het - jy weet , kyk Walt Whitman het iewers gesê "Do I contradict myself? Very well then I contradict myself, (I am large, I contain multitudes): waarom moet ek gelykgestel word aan een kategorie, waarom kan ek op een oomblik nie dit wees, en op die volgende iets anders nie?


Copyright:   1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/myburg.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]