Ontwortelde en wildkenner: Arthur Nortje se "Dead Roots" en Douglas Livingstone se "Gentling a Wildcat"

Natasha Vos

Arthur Nortje en Douglas Livingstone se poësie suggereer verskillende perspektiewe op Suid-Afrika. Disclaimer Dié verskille spreek uit die keuse van en benadering tot onderwerpe, hul taalgebruik en uit elkeen se distinktiewe styl. Die verskille weerspieël ook verskillende sosiale kontekste.
'n Toonaangewende kritikus, Michael Chapman, groepeer hulle egter saam en kontrasteer hulle met 'politieke' digters wie se onderwerpe met die 'struggle' verband hou en wat met die stem van die 'people' praat, eerder as met 'n persoonlike stem (Chapman 1996: 340). Beide Nortje en Livingstone lewer egter wel kommentaar op sosio-politieke kwessies. Baie van Nortje se poësie kom voort uit sy politieke bannelingskap en gedigte van Livingstone, soos "Dust" en "Sjambok" verwys na kru sosiale ongeregtigheid. Tóg is dit so dat albei digters hierdie onderwerpe vanuit persoonlike invalshoeke benader waarin tekens van 'n kollektiewe stem en gemeenskapsideale karakteriserend van die sogenaamde Soweto Poetry afwesig is. Die afstand van die kollektiewe stem manifesteer op verskillende maniere in die werk van Livingstone en Nortje en lei tot die vormgewing van unieke perspektiewe.

Nortje staan in die eerste plek fisies op 'n afstand as gevolg van sy bannelingskap, wat ook 'n oorheersende motief in sy poësie is (Klopper 1998: 166). Dit is egter nie slegs hierdie fisiese afstand wat Nortje van die stryd van die massa verwyder nie, maar veral die intens persoonlike en subjektiewe aard van sy poësie. Die afstand in Livingstone se poësie, daarenteen, kom voort uit 'n emosionele afgetrokkenheid en 'n bepaalde soort subjektiwiteit. Sy keuse van onderwerpe bevat ook meer as die politieke en sluit diere en ander aspekte van die Afrika-werklikheid in.

Deur Nortje se "Waiting" en Livingstone se "Gentling a Wildcat" van naderby te bekyk en te vergelyk, wil ek die verskille tussen hierdie twee digters verder verken om aan te dui wat hulle uniek maak.

Arthur Nortje: verlossing deur poësie

Waiting

The isolation of exile is a gutted
warehouse at the back of pleasure streets:
the waterfront of limbo stretches panoramically -
night the beautifier lets the lights
dance across the wharf.
I peer through the skull's black windows
wondering what can credibly save me.
The poem trails across the ruined wall
a solitary snail, or phosphorescently
swims into vision like a fish
through a hole in the mind's foundation, acute
as a glittering nerve.

Origins trouble the voyager much, those roots
that have sipped the waters of another continent.
Africa is gigantic, one cannot begin
To know even the strange behaviour furthest
south in my xenophobic department.
Come back, come back mayibuye
cried the breakers of stone and cried the crowds
cried Mr Kumalo before the withering fire
mayibuye Africa

Now there is the loneliness of lost
beauties at Cabo de Esperancia, Table Mountain:
all the dead poets who sang of spring's
miraculous recrudescence in the sandscapes of Karoo
sang thoughts that pierced like arrows, spoke
through the strangled throat of multi-humanity
bruised like a python in the maggot-fattening sun.

You with your face of pain, your touch of gaiety
with eyes that could distil me any instant
have passed into some diary, some dead journal
now that the computer, the mechanical notion
obliterates sincerities.
The amplitude of sentiment has brought me no nearer
to anything affectionate,
new magnitude of thought has but betrayed
the luster of your eyes.

You yourself have vacated the violent arena
for a northern life of semi-snow
under the Distant Early Warning System:
I suffer the radiation burns of silence.
It is not cosmic immensity or catastrophe
that terrifies me:
it is solitude that mutilates,
the night bulb that reveals ash on my sleeve.

(Nortje 1973)

Arthur Nortje het "Waiting" geskryf terwyl hy in ballingskap was. Sentraal in sy poeuml;sie is die motief van "in limbo wees". Die titel kan verwys na 'n gewag om terug te keer en suggereer so uitgestelde aksie en huiwering. Dit kan ook verwys na tyd wat besig is om verby te gaan, maar verwys meer waarskynlik na 'n toestand van stolling van die tyd, 'n staat van limbo. Tog impliseer dit ook afwagting en daarom ook hoop.
Die metafoor waarmee die gedig begin, konkretiseer die gevoelens van 'n banneling. Deur die gebruik van die beeld van 'n gesloopte pakhuis word isolasie geassosieer met leegheid, verwoesting van innerlike synsbewussyn, degradasie en verval. 'n Gevoel van verwydering van dit wat natuurlik is, word deur die gebruik van die stedelike ruimte ondersteun. "At the back of pleasure streets" (r. 2) suggereer ongure dele van die stad, gekorrupteerde sedes, losbandigheid en eensaamheid.
Die metafoor word verder uitgebou sodat abstrakte nosies rondom die begrip, "wag", 'n ruimtelike aansig kry. "Limbo" word gekonkretiseer as 'n plek wat hom deur water van sy tuiste skei: die nuwe land waar hy hom bevind, naamlik Engeland. Limbo impliseer verder 'n toestand van verwaarlosing of vergetelheid, die niemandsland tussen hemel en hel. Dit verwys ook na gevoelloosheid, na 'n verlore band met die eie self en sy emosies.
Nortje se verwysing na "night the beautifier" (r. 4) en die dansende ligte dui daarop dat die spreker se gevoel van isolasie nie sigbaar is vir die buitewêreld nie. Dit sou ook biografies gelees kon word as 'n verwysening na Nortje se oënskynlike geluk dat hy die benouende situasie in Suid-Afrika kon ontsnap om aan 'n elite universiteit, Oxford, te studeer. Die suggestie dat die spreker se pyn onsigbaar is, intensifeer die vervreemding waarop gedui word.
Die "skull's black windows" (r.6) komplementeer die beeld van die afgebrande pakhuis.

Nog 'n tema van Nortje se poësie kom hierdeur na vore, naamlik vervreemding van sy liggaam, 'n simboliek wat uitdrukking gee aan die spreker se afsondering van sy gemeenskap, aan 'n sin van ontuisheid en 'n nog intenser vervreemding van die self. Klopper (1998: 168) sê dat Nortje dikwels die beeld van die venster gebruik as "a metaphor of the division between himself an society". In hierdie beeld maskeer die "black windows" sy uitsig. Deur te verwys na "peering" impliseer Nortje dat hy met moeite en angs kyk. Daar is ook 'n sin dat hy gevange is en deur tralies na buite probeer tuur. Deur te wonder "what credibly could save me" (r. 7) word die implikasie van hoop in die titel ondergrawe deur die ongeloof en vertwyfeling wat in die woorde tot uitdrukking kom en word daar gesuggereer dat die gewag in die titel verwys na 'n gewag vir die dood of vir 'n finale apokalips.
Nortje personifieer die gedig as 'n slak (r. 9) en 'n vis (r. 10), albei klein, laer vorme van lewe, maar soos Bunn (1996: 41) opmerk, is dit "the minimized, invertebrate life of the poem that saves the self". Te midde van die beelde van dood en verval is die gedig 'n lewende krag. Met "ruined wall" (r. 8) en "hole in the mind's foundation" (r. 11) word ons weer teruggebring by die beelde van verval en word onstabiliteit gesuggereer, veral geestelike onstabiliteit (dit word algemeen aanvaar dat isolasie - soos in eensame opsluiting - tot waansin kan lei). Die verwysing na die slak en die vis wat deur die muur swem waardeur die spreker van die gewone lewe geskei is, suggereer dat poësie hom teen waansin beskerm deurdat dit deel van sy bewussyn word. Deur te skryf oor dit waarvan hy deur sy ballingskap geskei is, behou hy kontak met die dinge waarvan hy geskei is. Die gevoelloosheid wat vroeër in die gedig gesuggereer word, kontrasteer nou met die "acute ... glittering nerve" (r. 12). Alhoewel daardeur gedui word op die herstel van gevoel, en van lewe, roep dit ook 'n beeld op van skerp en snydende pyn wat die beelde van verwonding en lyding later in die gedig komplementeer. Hierdie personifiëring van die gedig beklemtoon die persoonlike aard van Nortje se poësie. Poësie word uitgebeeld as 'n klein, stemlose diertjie, slegs geskik vir persoonlike uitdrukking, eerder as dat dit 'n medium bied vir verandering en politieke protes.
Die afwesigheid van 'n polities aktiewe stem word in die tweede strofe beklemtoon wanneer die spreker slegs na die apartheidsbeleid verwys as "xenophobic" (r. 17) en "strange behaviour" (r. 16). Die toon is oorwegend peinsend en objektief. Die fokus val grootliks op die spreker se verwydering van sy vaderland. Die metafoor wat rondom die woord "roots" (r. 13) geskep word, dui op hierdie gewaarwording van ontworteling, en van 'n gebrek aan ondersteuning en stabiliteit. Dit eggo ook die titel van die bundel, Dead Roots, waarin die gedig voorkom.
Verlange word uitgedruk in die die kreet, "Come back, come back" (r. 18). Die "breakers of stone" (r. 19) verwys na gevangenes, waarskynlik dié wat Robbeneiland toe gestuur is, of húlle wat besig was om die rigiede stelsel van onderdrukking te probeer breek. Dit kan ook verwys na arbeiders, die werkersklas en die onderdruktes. "(T)he crowds" (r. 19) verwys na die massa, miskien die ondersteuners van die PAC met hul slagspreuk, "mayibuye Africa" ("come back Africa"). Die beeld van die gevangenes is in die verlede tyd, asof dit 'n herinnering aan verbyggane gebeurtenisse uitdruk. Dit lyk asof die afstand in tyd en ruimte Nortje se moontlike betrokkenheid uitsluit en sy rol beperk tot dié van 'n waarnemer.
David Bunn het aangetoon dat Nortje onseker was oor sy rol in die "bannelingspolitiek". As gekleurde het hy oënskynlik geïdentifiseer met die Afrikane, maar sy "contradictory class affiliation seems to have prevented him from direct membership in political groups" (Bunn 1996: 41). Dit kon sy gevoel van isolasie en ontworteldheid verder versterk het.
Die verhouding tussen digter en land word verder verken in die derde strofe. Onder die "dead poets" (r. 24) van Suid-Afrika sluit hy wit digters in wat geskryf het oor "spring" en die "sandscapes" (rr. 24-25) van die Karoo. Dit sou digters wees soos Thomas Pringle, Guy Butler en Ruth Miller wat volgens Bunn (1996: 35) op "earlier versions of the colonial topographical poem" voortborduur het en in die styl van die Engelse Romantiese digters oor die Afrika-landskap geskryf het. Hierdie digters word geplaas langs dié wat "sang of thoughts that pierced like arrows, spoke/ through the strangled throat of multi-humanity" (rr. 26-27). Hierdeur word 'n nuwe tradisie gesuggereer waar die stemme van die digters gesmoor is as gevolg van pogings om hulle stil te maak, maar wat steeds praat namens die massa, die kinders van Afrika. Die beeld van die luislang bedek deur wit maaiers verbeeld die jukstaposisie van swart en wit digters. Die luislang is "bruised" (r. 28) en "rotting in the African sun" (Bunn 1996: 35) terwyl die maaiers vet word, met as konnotasie die gierigheid en weelde van die witmense, hul lewensvryheid en vryheid van uitdrukking.
Hierna gaan die gedig oor in 'n persoonlike aanspreking van sy verlore geliefde, heelwaarskynlik Joan Cornelius, wat hom verlaat het om Kanada toe te gaan (Bunn 1996: 35), 'n interpretasie wat ondersteun word deur die verwysing na "a northern life of semi-snow" (r. 38). Die eensaamheid en isolasie waaraan hy uitdrukking gee as gevolg van die verwydering van sy vaderland, versmelt nou met die ontnugtering en verlies geassosieer met sy gewese geliefde. In Nortje se poësie kom hierdie versmelting van emosionele en fisieke verlies dikwels voor (Klopper 1998). Woorde soos "pain" (r, 29), "dead" (r. 31) en "betrayed" (r. 36) eggo gevoelens wat geassosieer word met ballingskap. 'n Soortgelyke gevoel van verlore geworteldheid word uitgedruk in die koue, meganiese beelde van die moderne, wetenskaplike wêreld soos uitgedruk in "mechanical motion" en "computer" (r. 32).
Nortje gebruik dikwels die motief van fisieke vernietiging en fragmentasie om die situasie van bannelingskap te beskryf. In die laaste strofe bou hy die metafoor van kernoorlog uit om die pyn en lyding van isolasie uit te druk. Deur jukstaponering van woorde soos "violent", "radiation burns" en "mutilation" onderskeidelik met "vacated", "silence" en "solitude" (rr. 38-44) word dit duidelik dat dit isolasie is waarteen hy stry. Die leser word gelaat met die gevoel dat dit 'n baie persoonlike stryd is, moontlik verskerp deur bannelingskap en deur die vertrek van sy geliefde, maar uiteindelik 'n stryd met homself. Dit is stilte wat hom verskrik, eensaamheid wat hom verskeur en van die lewe weg hou.

Douglas Livingstone: die "White African"

Douglas Livingstone gebruik in teenstelling met Nortje 'n eenvoudige styl wat aanvaarding suggereer. Hy verset hom teen betrokkenheid en behou 'n morele afstand wat min innerlike konflik suggereer.

Gentling a Wildcat

Not much Wildlife, roared Mine leonine Host
from the fringe of a forest of crackles
round an old dome-headed steam radio,
between hotel and river- a mile of bush -
except for the wildcats and jackals.

And he of these parts for years, was right.
That evening I ventured with no trepidations
and a torch, towed by a faculty
I cannot understand, that has got me
into too many situations.

Under a tree, in filtered moonlight,
a ragged heap of dusty leaves stopped moving.
A cat lay there, open from chin to loins;
lower viscera missing; truncated tubes
and bitten-off things protruding.

Little blood there was, but a mess of
damaged lungs; straining to hold its breath
for quiet; claws fixed curved and jutting,
jammed open in a stench of jackal meat;
it tried to raise its head hating the mystery, death.

The big spade-skull with its lynx-fat cheeks
aggressive still, ragging eyes hooked in me, game;
nostrils pulling at a tight mask of anger
and fear; then I remembered hearing
they are quite impossible to tame.

Closely, in a bowl of unmoving roots,
an untouched carcass, unlicked, swaddled and wrapped
in trappings of birth, the first of a litter stretched.
Rooted out in mid-confinement: a time
when jackals have courage enough for a wildcat.

In some things too, I am a coward,
and could not here punch down with braced thumb,
lift the nullifying stone or stiff-edged hand
to axe with mercy the nape of her spine.
Besides, I convinced myself, she was numb.

And oppressively, something felt wrong:
not her approaching melting with the earth,
but in lifetimes of claws, kaleidoscopes:
moon-claws, sun-claws, teeth after death,
certainly both at mating and birth.

So I sat and gentled her with my hand,
not moving much but saying things, using my voice;
and she became gentle; affording herself
the influent luxury of breathing -
untrammelled, bubbly, safe in its noise.

Later, calmed, despite her tides of pain,
she let me ease her claws, the ends of the battle,
pulling the trapped and rancid flesh.
Her miniature limbs of iron relaxed.
She died with hardly a rattle.

I placed her peaceful ungrinning corpse
and that of her firstborn in the topgallants
of a tree, out of ground reach, to grow: restart
a cycle of maybe something pastoral
commencing with beetles, then maggots, then ants.

Livingstone, in Chapman 1981)

Wat opvallend is omtrent Livingstone se gedig, in vergelyking met Nortje s'n, is die eenvoudige direkte narratiewe styl. Daar is geen geïmpliseerde, versteekte betekenis nie, geen uitgebreide metafore, geen personifiërings en geen politieke konnotasies nie. Die onderwerp, die Afrika-wildlewe, weerspieël die totaal anderse konteks waaruit Livingstone skryf. Hy is 'n wit manlike koloniale subjek, 'n eks-Rhodesiër wat vertroud is met die Afrika-natuur en met die jagkultuur (Chapman 1996: 342). As mariene bioloog het hy 'n intense wetenskaplike belangstelling in die natuur. Sy insig in die natuur spreek duidelik uit sy poësie. Anders as Nortje, wat soms na die sentimentele neig, druk Livingstone nie wanhoop uit nie en weerspieël sy benadering 'n wetenskaplik-objektiewe, waarnemende perspektief.
Nortje se gebruik van vrye vers stel hom in staat om die verlies van 'n vaste struktuur in sy lewe op 'n baie effektiewe manier tot uitdrukking te bring. Livingstone gebruik 'n vaste vorm in sy gedig. Die gedig is opgedeel in strofes van gelyke lengte met 'n vaste rymskema. Hierdie gestruktureerde vorm strook met sy narratiewe styl.
Die intieme kennis wat hy van sy onderwerp het, spreek uit beskrywings soos die "nostrils pulling at a tight mask of anger" (r. 23) van die wilde kat wat instinktief reg is om aan te val en te beskerm "both at mating and birth" (r. 40). Hierteenoor het die jakkals "courage enough for a wildcat" (r. 30) slegs wanneer dit besig is om geboorte te skenk. Dit is duidelik dat Livingstone die siklusse van die lewe aanvaar. Sy toon is nugter wanneer hy onthou dat "they are quite impossible to tame" (r. 35) en hy raak nie emosioneel betrokke by die dier of haar pyn nie. Dit is interessant om die dierbeelding in "Gentling a Wildcat" te vergelyk met dié in "Waiting" waar 'n vis en 'n slak gebruik word as metafore vir die gedig self. In "Waiting" word die maaiers gebruik om verval uit te beeld, en as gevolg van hul kleur, waarskynlik om die witmense te suggereer. In "Gentling a Wildcat" word die diere nie gepersonifieer of tot simbole verhef nie, maar is bloot diere. Die maaiers is maaiers.
Livingstone se self-kommentaar in reëls soos "towed by a faculty/ I cannot understand, that has got me/ into too many situations" (rr. 8-10) en "In some things too, I am a coward" (r. 31) dui op 'n helder selfkennis en selfaanvaarding wat verskil van Nortje se oënskynlike verlies van self.
Nortje se kreatiewe gebruik van uitgebreide metafore en terugkerende beelde kontrasteer met Livingstone se gebruik van wetenskaplike taal. Woorde soos "lower viscera" (r. 14), "truncated tubes" (r. 14) en "mid-confinement" (r. 29) word gebruik om te verwys na die wilde kat wat aangeval midde-in die geboorteproses. Die beskrywing is opgebou uit kort frases soos "Little blood there was, but a mess/ of damaged lungs; straining to hold its breath/ for quiet; claws fixed curved and jutting" (rr. 16-18). Hierdie kort staccato frases, saam met die objektiewe toon, versterk die effektiwiteit van die wetenskaplike taal. Die insluiting van 'n frase, "and bitten-off things protruding" (r. 15), wat nie-mediese taal is, naas die wetenskaplike taal, verhoog die indruk van die uitgebreide beskadiging van die dier. Ten spyte van die afwesigheid van komplekse metafore is Livingstone se woordkeuses uiters effektief en skep dit skerp beelde, soos in "limbs of iron relaxed" (r. 49) en "melting with the earth" (r. 37). Sonder die gebruik van sentimentele of emosiebelaaide woorde dra hy tog 'n duidelike gevoel van deernis oor, soos in die reël, "affording herself/ the influent luxury of breathing" (r. 44).
Dit is ook insiggewend om die beelde van dood en lyding in die twee gedigte te vergelyk. Nortje gebruik sy metafore om abstraksies te konkretiseer en te personifieer. By hom is dit die "solitude that mutilates" (r. 44). Woorde soos "bruised" (r. 28), "burns" (r. 41), "pierced"(r. 26) en "strangled" (r. 27), saam met die opeengestapelde beelde van vernietiging spreek van emosionele pyn en roep in die leser 'n emosionele reaksie op. Die verminking van die wilde kat is egter nie 'n projeksie van Livingstone se eie lyding nie. Die beskrywing, "A cat lay there, open from chin to loins" (r. 13), is 'n onemosionele beskrywing van 'n waargenome 'werklikheid'. Livingstone spekuleer nie oor die dier se denke en gevoelens nie en oortuig homself selfs dat die dier niks voel nie, om so afstand van die pyn te handhaaf. Waar Livingstone dood en die siklusse van die natuur aanvaar as 'n normale deel van die fisiese, is die dood vir Nortje 'n simbool vir geestelike wanhoop.

Slot

Albei hierdie digters het hulle met die Afrika-werklikheid geïdentifiseer: Nortje as 'n "nie- blanke" man in 'n deur-ras-verdeelde Suid-Afrika en Livingstone deurdat hy homself as "white African" beskou het (Chapman 1996: 343). Tog staan hulle as gevolg van die goeie opvoeding wat hulle ontvang het, 'n Westerse fokus op 'individualisme' en die invloed van Europese literêre konvensies wat hulle deel, apart van die "New Black Poets of the seventies". Dié swart gemeenskapsdigters het die aanvaarde literêre en kulturele kontinuïteite verwerp en hul werk weerspieël die beperkings van swart onderwys, die gehate Bantu Education. Ten spyte van die ooreenkomste wat hulle deel, het Nortje se poësie egter tog 'n duideliker politieke fokus, terwyl Livingstone poëtiese temas verken, verby dit wat hy oënskynlik veragtend afgemaak het as "polit lit" (Chapman 1996: 341). Hul benaderings tot styl en taal resulteer verder ook in poësie wat duidelik uniek is.

Verwysings

Bunn, D. 1996. "Some Alien Native Land": Arthur Nortje, Literary History, and the Body in Exile. World Literature Today

Chapman, M. (red.). 1981. A Century of South African Poetry. Johannesburg: AD Donker.

Chapman, M. 1984. South African English Poetry: A Modern Perspective. Johannesburg: AD Donker.

Chapman, M. 1996. Southern African Literatures. London: Longman.

Klopper, D. 1998. Arthur Nortje and the Unhomely. Alternation 5(2): 166-176.

Nortje, Arthur. 1973. Dead Roots. Poems. London: Heinemann.

uit Engels vertaal deur Philip John

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD




Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/natasha.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]