Oorlog en vrede

Stef Delport

Ek het toe ook die Klein Karoo Kunstefees te Oudtshoorn bygewoon. My familie kom eintlik daarvandaan na die val van die volstruisveer-mark Disclaimer in 1914 en op pad terug huis toe het ek vir die eerste maal die ou familiegronde by Middelplaas besoek.
Ook die begraafplaas ontdek waar my oupagrootjie en oor-oupagrootjie en hul vrouens al meer as 100 jaar onder die grond rus. Mense uit ‘n ou Suid-Afrika wat tog ook in hul leeftyd baie van die probleme van die nuwe Suid-Afrika aan hul eie bas ervaar het: lewe onder ‘n vreemde regering; misdaad oral in die land; verengelsing in die skole en staatsdiens; armoede en swaarkry sonder werksgeleenthede; brute geweld as mense op afgeleë plase deur rondlopers en bendes aangeval is en om in tye van oorloë of depressies alles wat hulle besit het, behalwe hul geloof en hul sin vir waardes, te verloor. Soos die koerantberig in die Oudtshoorn Courant van 29 April 1902 waarin die blye nuus van my Oupa Koos en Ouma Nonnie se troue soos volg aangekondig word: "Nieteegenstaande de kwellingen van lichaam en geest in deze dagen van druk en zorg gaat het jonge volkje van Oudtshoorn maar voort, als altoos, met trouwen." Die Anglo-Boereoorlog was toe natuurlik nog in swang en sou eers ‘n maand later op 31 Mei 1902 eindig.
Op Oudtshoorn het ek en my gesin onder andere ‘n opvoering van Coenie De Villiers en Lucas Maree se produksie Die houtgeweer bygewoon. Hierin het hulle die geweld en wreedhede van oorlog besing. Vanaf die Anglo-Boereoorlog deur die Eerste en Tweede Wêreldoorloë tot hul eie deelnames aan ons eie Grens-oorlog van die vorige dekade. Ek het diep nagedink en skielik tot my skok besef dat ek in die volle vyftig jaar van my teenwoordigheid hier op die ondermaanse nog nooit êrens direk by geweld betrokke was nie. Ek het 25 jaar lank in my plaaslike Kommando gedien en was opgelei om enige vorm van geweld te help hanteer. Ek het opleidingskampe bygewoon op plekke soos Kimberley, Heidelberg en Fontana saam met Coenie, maar nooit het ek nog enige geweld eerstehands gesien of ervaar dat ‘n mens voor my sterf nie. My voortande is ‘n slag op die rugbyveld uitgeslaan en op televisie leer ‘n mens alles van geweld, maar self iets beleef - aikona! Deur twee geweldgevulde dekades van Suid-Afrika se gewelddadigste tydperk, was ek maar bloot iemand wat op die kantlyn gestaan het en my besig gehou het met opheffings-aksies vir my minderbevoorregte landgenote deur middel van die Weermag se Kommunikasie-Operasies. Selfs nie eers misdaad was my beskore nie. Nou wonder ek soms, was ek baie bevoorreg of moet ek effens jaloers wees op dié wat die geskiedenis op tasbaarder maniere as ek aan eie lyf beleef het?
Een van my ou kennisse, kom ons noem hom maar Rassie, het baie meer as sy deel van oorlog ervaar. Ek het hom as ‘n stil, beskaafde jongman geken wat vinnige opgang in die Veiligheidspolisie gemaak het. Later het hy by die weermag se Verkennerskorps aangesluit en sy deel van operasies agter die lyne in Angola gehad. Ek het met hom gesels kort voor sy verskyning voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie waar hy amnestie sou vra oor sy betrokkenheid by die uithaal van verskeie prominente "struggle"-figure.
"Geen mens met ‘n gewete kan ooit weer maklik slaap na jy ‘n menselewe moes neem nie. Vir ons was dit egter ‘n oorlog, en in ‘n oorlog verdwyn gewone reëls en moraliteit - veral as dit op die vlak van ‘n terrorisme-oorlog geveg word. Die grootste probleem is egter om dit vandag aan jou eie kinders te verduidelik. In die relatiewe normaliteit van vandag se lewe is dit moeilik vir jou kinders om te ervaar dat jy maar ‘n gewone mens is wat onder abnormale omstandighede sekere afskuwelike dinge moes doen, en nie ‘n boosaardige monster soos wat dit in koerantberigte klink nie."
Die ergste van alles was egter die slag toe hy en ‘n aantal makkers ‘n installasie moes gaan uithaal diep agter die vyandelike lyne in Angola. Hulle was swart gesmeer omdat dit moes lyk soos swart Unita-troepe wat die operasie uitgevoer het. Die laat middag voor die aanval ontspan hulle toe in ‘n bivak enkele kilometer van die teiken af. Skielik beland ‘n jong beeswagtertjie van so 10 of 11 jaar tussen hulle - dieselfde ouderdom as Rassie se kinders. Hy sien dadelik dis witmense dié - iets wat niemand ooit mog weet nie. Rassie sê dis die een ding wat hom vandag nog snags laat wakker lê. Hulle kon hom nie eers skiet nie, want dan word hulle gehoor. Hulle moes hom soos ‘n dier keelaf sny voor hulle kon vertrek.
Die Duitse tydskrif Der Spiegel het op ‘n stadium ‘n insiggewende ontleding gedoen oor die wyse waarop die Nederlanders - ten spyte van hul roem op hul eie hoë etiek - deesdae met hul eie geskiedenis gekonfronteer word. Hulle haal aan uit ‘n brief van ‘n jong luitenant tydens ‘n militêre veldtog in Indonesië in 1894: "Ek het nege vroue en drie kinders wat om genade gesmeek het, op ‘n hoop laat jaag en doodskiet. Die soldate het hulle met genoeë met hul bajonette deurboor. Dit was ‘n onaangename taak, maar dit kon nie anders nie." Daarna het die luitenant die toneel die rug toegekeer en ‘n sigaar aangesteek.
Die naam van die jong offisier was Hendrikus Colijn, wat in die jare dertig Nederlandse premier en versinnebeelding van Christelike regskapenheid en teologiese ortodoksie sou word.
My pa se geslag het oorlog egter op ‘n ander manier ervaar. Die herdenking van die Groot Trek in 1938 en die uitbreek van die Tweede Wêreld-oorlog het hulle geïnspireer om sterk Ossewa-Brandwag manne te word. Jan Smuts en sy Engels-gesinde regering moes omver gewerp en ‘n eie onafhanklike Suid-Afrikaanse republiek tot stand gebring word. Hiervoor was hulle bereid om te veg. Met die jong advokaat van Port Elizabeth, John Vorster, as hul generaal en Oom Andries Bellinghan as hul bevelvoerder op Kirkwood, het hulle gereeld saans op afgeleë plase gaan dril en oefen vir die komende revolusie. Dr. Otto Du Plessis, redakteur van Die Oosterlig in Port Elizabeth het gehelp om die ideologiese onderbou aan hulle te verskaf. Hy het in 1940 ‘n boekie geskryf, Die nuwe Suid-Afrika. Die revolusie van die 20ste eeu, waarin hy die Britse jingoïsme en die rol van die geldmag in S.A. skerp aangeval het en aangedring het op die nasionalisering van die Bank- en Mynwese as enigste manier om die volksvreemde kapitalisme hok te slaan - ‘n sosialistiese manifes wat net sowel 50 jaar later deur die A.N.C. uitgegee kon gewees het. Daarin bepleit hy dan ‘n revolusie om die ou orde omvèr te gooi. Hy beskryf die nuwe orde as "‘n sosiale revolusie wat diep sal moet ingryp in die politieke, ekonomiese en maatskaplike stelsels van die staat om die uitbuiting van die volksmassa te stuit".
Ons plaas is dadelik herdoop tot "Rebelsvlei" en die gewere en ammunisie van die omgewing wat nie deur die regering opgekommandeer kon word nie, is langs die vlei begrawe. Ook verskeie dromme petrol is in die geheim bekom en tussen die miedens langs die vlei weggesteek. Die opgaar van petrol was net so ‘n groot oortreding as die onwettige besit van wapens en ammunisie, en spesiale koepons is aan mense met motors uitgereik waarvolgens hulle ‘n sekere aantal liter petrol (toe nog gellings) kon aankoop - skaars genoeg vir ‘n paar kort plaaslike ritte per maand.
Een namiddag kom toe die slegte tyding. Een van hul manne op Kirkwood het alles aan die Polisie gaan verraai en John Vorster is reeds in P.E. ge-arresteer - blykbaar op grond van hierdie inligting. Plaaslike Ossewa-Brandwag manne moes hulle dus reghou om enige tyd gevang te word. My pa en sy broers het gesweer hulle gaan hulle nie laat vang nie en die nag met hul.303-gewere reggesit en wag vir die polisie - ten spyte van Ouma Nonnie se hartstogtelike pleidooie om die gewere te bêre.
Teen drie-uur die nag het hulle besef die polisie kom nie meer nie en het hulle ander planne begin maak. Die veiligste sou wees om die petrol-dromme maar oop te maak om die getuienis te laat uitloop. So gesê en so gedaan. Doodvaak kruip hulle toe in die bed, terwyl ‘n swaar reënstorm oor die Vallei uitsak. Half-ses die oggend klop ou Jacob Platjies bekommerd aan die venster. "Julle moet kom kyk, hier’s fout by die vlei". Broer Eben staan op en stap die paar honderd meter saam vlei toe in die skemerdonker. Die nag se stortreën het die vlei laat oorstoot tot waar die petrol uitgeloop het en ‘n lagie petrol blink bo-op die water van die vlei. Eben trek ‘n vuurhoutjie om sy lantern aan te steek om beter te kan sien en skielik is daar net ‘n geweldige slag soos die petroldamp vlamvat. Dit was net genade dat hy en ou Jacob daar lewendig uitgekom het. Seer geskroei en verbrand is hulle terug huis toe, maar die getuienis was darem uitgewis.
John Vorster sou baie maande in die interneringskamp deurbring, waarna hy toe uiteindelik die "struggle"-opsie vir die politieke opsie verruil het. Hoewel my mense nog lank die Ossewa-Brandwag ondersteun het, moes hulle ook maar later liewer die politieke pad loop.
Die laaste werklike oorlog wat die Sondagsrivier-vallei beleef het, was toe Genl. Smuts se kommando teen die begin van Oktober 1901 hier verbygetrek het.
'n Gedeelte van die Zuurberg waaroor Generaal Smuts getrek het en waar 'n veldslag plaasgevind het tydens die Anglo Boereoorlog.
Uitgehonger na hul episodes met die broodbome in die Zuurberge en gebrek aan kosvoorrade in die wildernis het hulle uiteindelik voorraad kon aanvul by Bayville se winkel. Hulle het die aand by Oom Manie du Preez op die ou plaas Korhaansdrif (seker so 10 km vanaf Kirkwood) oorgestaan waar hulle die eerste maal in ‘n lang tyd weer lekker kon eet. Hy het hulle die volgende oggend gelei na die plaas Vaalhoedskraal waarvandaan hulle die Moot kon binnetrek. Hiervoor, nl. "aiding and abetting the enemy" is Oom Manie gevang en kaalvoet voor ‘n patrollie aangejaag na Grahamstad waar hy verhoor en ses maande lank in die tronk gestop is.
Met Smuts se aankoms op die plaas Bothaskraal (waar vandag die bekende Intaba Lodge geleë is) trek sy kommando toe vyandelike vuur uit die woonhuis. Die Boere het die vuur beantwoord en kort voor lank het die Engelse die witvlag opgesteek, nadat een van hul manne doodgeskiet is. Dit blyk toe ‘n patrollie van die Uitenhage Defence Force te wees - die plaaslike militia. Die koeëlgate kon tot onlangs nog in die huis gesien word. Terwyl Smuts en sy Offisiere krygsraad in die kombuis hou, ruik hulle meteens ‘n vreeslike stank. Na ‘n ondersoek vind hulle die stank kom uit die skoorsteen uit. Verdere ondersoek haal toe ‘n Engelse troep uit die skoorsteen waar hy weggekruip het, maar uit vrees later sy broek bevuil het. Na ‘n ernstige skrobbering is hy maar laat gaan - sy skande was straf genoeg. Hierna is die kommmando oor na Cecil John Rhodes se plaas, Brakkefontein. Twee Lange-broers het hier ‘n myn gegrawe, dit met goudmonsters uit die Transvaal gesout en dit toe in 1884 aan Cecil John Rhodes verkoop as ‘n goudmyn met baie potensiaal. Nadat hy sy fout agtergekom het, het Rhodes sy broer Arthur Rhodes hier laat boer. Arthur is uiteindelik in 1924 hier oorlede.
Ewenwel, hier op Brakkefontein, besluit Smuts toe om ‘n verkennersgroep vooruit te stuur om ‘n pad uit die berge te vind. Denys Reitz, latere adjunk eerste minister in Smuts se oorlogs-kabinet tydens die Tweede Wêreld-oorlog, Ben Coetzee, Arrie van Onselen, Henri Rittenberg en Cornelius Vermaas word hiervoor aangetree. Arrie van Onselen het juis hier oorkant die berg by Glenconnor by ‘n Fourie egpaar grootgeword en aangesien dit sy verjaarsdag was, sou hy hulle graag wou gaan besoek. Aan die voet van die Kaalberg op Brakkefontein veroorsaak die swak toestand van Denys Reitz se perd dat hy en Ben Coetzee liewer omdraai. Rittenberg, van Onselen en Vermaas is verder vort en toe hulle bo-op die berg kom, loop hulle hulle in ‘n Engelse patrollie vas. Omdat hulle in Britse uniformstukke geklee was, is al drie onmiddelik doodgeskiet.
Smuts se burgers was op hierdie stadium nog onbewus van Lord Kitchener se dekreet dat enige Boer wat in Britse uniformstukke gevang word, met die dood gestraf sal word en het uit nood maar die uniforms van gevange Britte gedra. Dit word in ons omgewing vertel dat een van die drie burgers nie dadelik dood is nie en toe ‘n lid van die plaaslike Defence Force naderstaan met sy oorgehaalde rewolwer het hy gepleit, "Have mercy on me". Die kolonialer het egter bars geantwoord, "Mercy be damned", en hom deur die kop geskiet.
So sterf die drie burgers wat die verste suid in die Anglo-Boere Oorlog gesneuwel het, dan ironies genoeg op die plaas van Cecil John Rhodes, een van die katalisators wat die stryd aan die gang gesit het. Vermaas is later in Transvaal herbegrawe, maar Henri Rittenberg en Arrie van Onselen se grafte lê vandag nog in die Kariega begraafplasie, direk langs die teerpad tussen Port Elizabeth en Graaff-Reinet.
Die nuwe Suid-Afrika met sy Waarheids- en Versoeningskommissie en al is ‘n voorbeeld daarvan dat vrede van twee kante af moet kom. Maar nou lyk dit mos vir my of oorlog en geweld, asook genade ook twee kante moet hê. Maar uiteindelik bly dit tog waar wat Nietzsche gesê het: "Wie ookal teen monsters veg, moet toesien dat hyself nie in die proses ook ‘n monster word nie. En as ‘n mens lank genoeg in die afgrond afkyk, kyk die afgrond later in jou in".

Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/oorlog10.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 30 Junie 2001
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]