REDAKSIONEEL:


Wat van menswees?
Nuwe impetus aan die debat oor identiteit

Jason Lloyd


Die gedagte om die elfde uitgawe van die Angeltjie aan Saartjie Baartman op te dra het in April begin. En dit met ‘n e-boodskap deur die uwe aan Helize van Vuuren. Nie dat die uwe van Saartjie melding gemaak het nie. Die rede? Om presies te wees: spasie vir die plasing van my kortverhale.
"As jou kortverhale lyk soos jou stuk oor Saartje (op LitNet) kan ek net sê: Alte graag sal ons jou kortverhale op Onse angeltjie publiseer," het die begin Disclaimer van die lang e-boodskap gelees. En toe lees ek iewers in dié e-boodskap : "...ons moet 'n boek maak met bydraes oor Saartje: kreatiewe bydraes..."
Dit was die geboorte-gedagte vir die elfde uitgawe van die Angeltjie. Om presies te wees: ‘n eer aan Saartjie.
En toe lees die uwe ook in Die Burger. Die opskrif was baie kort en kragtig: dit was iets soos: "Saartjie Baartman vandag tuis na 187 jaar in Europa."
Dit was die dag toe joernaliste, kabinetslede, Khoi-aktiviste en ander Suid-Afrikaners saamgetrek. Waar? by die Kaapstadse Internasionale Lughawe. Hoekom? om die skelet, brein en geslagsorgane van die Khoi-ikoon in ontvangs te neem. Dit was haar "tuiskoms" na amper 200 jaar in Europa. Nie net was dit ‘n tuiskoms nie. Dit het ook ‘n verandering gesimboliseer. En dit het my laat dink aan die gedig, "Times Change", geskryf in die donker dae van Apartheid deur die skrywer-kunstenaar, Peter Clarke:

His great-Voortrekker-grandfather
would, instead,
have raised his voorlaaier
higher
and shot me dead.

His grandfather and father
would rather
have kicked my black arse
out of the way
so that they could pass.

How nicely he says,
"Skuustog."

Times change.
How strange.

Ja, inderdaad. Die "tuiskoms" van Saartjie was dus meer net as ‘n "tuiskoms". Dit was ‘n voorsetting van die veranderings wat reeds in 1990 begin is met die vrylating van Nelson Mandela. In ‘n sekere sin was 9 Augustus (ook Nasionale Vrouedag), die dag van Saartjie se begrafnis by Hankey, die werklike geboorte van ‘n NUWE Suid-Afrikaanse NASIE.
Die groot Afrikaanse digter N.P. van Wyk Louw het geskryf:
O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit ‘n hoë blydskap kom
deur jou stil droefnis?...

Sal nooit ‘n magtige skoonheid kom
oor jou soos die haelwit somerswolk
wat uitbloei oor jou donker berge,
en nooit in jou ‘n daad geskied
wat opklink oor die aarde en
die jare in hul onmag terge;...

Versoening en die geboorte van ‘n nuwe Suid-Afrikaanse nasie - maar wat nou van die identiteitskwessie? So, "kô laat ons sing" (of sal ek dit sommer reguit praat noem), het Adam Small in een van sy gedigte opgemerk.
Die bekroonde joernalis, Waldo Müller, doen presies dit toe hy die jong lede van The Whole Shabang, ‘n Afrikaanse hip-hopgroep van Uitenhage se geskiedkundige bruin buurt, Rosedale, gaan besoek het. In sy storie (wat Die Burger te sensitief gevind het om te publiseer) berig Müller dat die ouens alte bewus is van die apartheidsoorsprong van die woord, "Hotnot", maar poog om deur hul musiek die gewraakte woord 'n nuwe positiewe betekenis te gee.
Laasgenoemde en Saartjie se geval gee ongetwyfeld nuwe impetus aan die debat oor identiteit in Suid-Afrika, en veral oor bruin identiteit.
Anders as vir The Whole Shabang het Saartjie se "tuiskoms" en hotnotagtigheid vir ‘n sekere groep bruin mense nie aangestaan nie. Hulle wou en wil nog steeds nie met haar identifiseer nie, soos "...die aanvanklike louwarm ontvangs van haar terugkeer deur die bruin gemeenskap..." wys, volgens prof. Jatti Bredekamp, Khoi-leier, in Die Burger.
As sy ‘n Afrikaner - of swart ikoon - was, was dit stellig anders. Terselfdertyd moet ek ook erken dat daar wel ‘n klein groepie bruin mense is wat Saartjie aangegryp het as ‘n simbool van die verguising van inheemse volke.
Een van die mense is die digter en Khoi-aktivis, Diana Ferrus, wat in ‘n liedjie "Ons is Khoisan ons is slaaf / ons is lig / ons is donker / ons is arm, ons is ryk / ons is vet, ons is maer / ons is alles wat ons kan wees ... en ons is Afrikaan" die vraag rondom identiteit probeer beantwoord.
En wat van die national issue; of sal ek dit liewer as ‘n vraag stel: is Saartjie dan nie ‘n nasionale simbool of ‘n bate nie? Ja, inderdaad.
‘n Mengelmoes van Suid-Afrikaners (insluitend president Thabo Mbeki) het by Hankey saamgetrek om haar vaarwel te roep. En waarlik kon ek sien: this is really a matter of national importance. Toe herinner dit my aan die gedig van die digter Fagan:
Ek kyk en sien die skare voor my staan,
Zoeloe en Xhosa, Sotho en Shangaan en ek, ‘n
Blanke,
vele volkere ja, almal verenigd om Gods seën te vra
op net een tuiste, net een vaderland,
want die Alwyse het ons saam geplant
en saam laat wortel in Suid- Afrika
Wat van menswees? Want kyk, Saartjie se mishandeling was alles behalwe menslik. Gepraat van menswees - dit herinner my aan ‘n e-boodskap wat die digter/skrywer, Clinton V. du Plessis, net nou die dag aan my gestuur het. Daarin bespreek hy kortliks die werk van Vincent Oliphant as digter.
Hy kom tot die volgende gevolgtrekking: "Hierdie is ‘n digter (Oliphant) met ‘n hart en ‘n siel. In Nelson Mandela sien hy verby al die ‘vertoon’ wat saamgaan met die amp as president, en dring deur tot die mens van bloed en vlees en pyn."
Hier dan die gedig, "die lang grys man", uit Oliphant se bundel Die sagte vlees:
dan weet ek
diep agter in jou oë
daar waar die vlees op sy sagste is
lê die letsels van jare se verlange
en die liefde se hoop wat beskaam het
om jou te laat met die droom
van ‘n nuutgebore land
wat kort-kort aan skerwe wil val
uit jou hand.
En as Suid-Afrikaners, soos Oliphant, die mens in elke mens kan sien/wil sien, sal ons land ongetwyfeld "‘n nuutgebore land" word.
Ek wil vir Philip John en Helize van Vuuren bedank vir die geleentheid wat hulle vir my gebied het om as gas-redakteur van hierdie internetjoernaal te dien. Dit was inderdaad ‘n eer. En aan alle medewerkers: baie dankie vir julle bydraes.


Uitenhage, 2002

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD






Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/redak11.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 15 November 2002
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]