Die skons

Elizabeth de Vos

Disclaimer

Die klein Karoodorpie het gegons oor die nuwe dokter en sy aantreklike vrou. Met groot oë is gekyk na die aflaai van duur meubels, Persiese tapyte, ... 'n pottebakkerswiel en 'n esel om op te skilder! Wie is die kunstenaar? So interessant! 'n Sterk rimpeling spoel oor die dorp wat nou alles wat gebeur, fyn dophou.
Die dokter is seker sowat tien jaar ouer as sy, bespiegel die dorp, want kyk, sy slape is dan grys. Maar hy is só elegant en het sulke oulike blougrys oë - ouderdom maak nie saak nie! Mooi bly mooi. Gou waai 'n epidemie van siektes oor die ou tannies en móét hul hom in sy spreekkamer besoek om nader kennis te maak. Toe dit blyk dat hy, hoewel so aantreklik, tog baie professioneel is, verskuif die aandag na haar.
En dit blyk 'n vrugbare teelaarde te wees want is sy dan nou nie onkonvensioneel nie! As sy straat-af ry of loop, gaan al die kantgordyntjies in die vensters op skrefies oop en loer word lekker. Sy doen inkopies (veral by die dorpie se enigste boetiek) met sulke snaakse Boheemse klere aan. En die kleure! Waar het jy gehoor 'n mens dra pers en oranje saam! Sulke nousluitende broeke met los jurke en flertse wat waai. Kan sy dalk in die andertyd wees? Of is dit nou maar net die ku...ns wat na buite uitslaan? En haar voete! .. kaalvoet of met herdersandale of Oosterse blink gedoentes.. !
Sy kom die aandag agter, maar maak of sy die fluistering agter die hande nie sien nie en gaan rustig met haar lewe aan.
Wanneer hulle Sondae in die kerk inkom en verby loop, volg al die manne se oë die blonde kop met die bruingebrande bene. Soms moet die vrouens iesegrimmig aan hul mans stamp voordat hul ophou kyk en wonder oor verborge heerlikhede.
Stadigaan taan die belangstelling en begin dinge hul gewone gang gaan. Nat kleikruike staan by die dokter se huis in die venster van die ateljee, en soms kan 'n kleurvolle woeste skildery deur die dun gordyn van die studio gesien word. Maar dinge sif stadigaan neer en die lewe word weer normaal.
Tot eendag.... die dag toe sy skons gebak het. Toe gons dit weer met geur en kleur.
Die Minister van Landbou sou besoek bring aan die dorp en die Burgemeester moet hom onthaal op gasvrye Karoo-manier. Daar word 'n oggendtee en middagete gereël en almal kry werk. Hare is om skons te maak.
Sy staan die oggend vroeg op, maak 'n draai in haar ateljee en verlustig haar in haar nuutste doek - heerlike goudgeel sonneblomme wat baldadig lag en rondlê op 'n donker greinhouttafel. Sy besef dit word laat. Liewer eers gaan skons bak. Sy trek die geel kombuisgordyntjies toe want die son bak deur die venster en dis klaar al so 'n warm Karoodag. Vinnig meng sy haar beproefde resep (want bak is nie een van haar talente nie!), steek dit in die oond en stel die oondklok.
Sy gaan kamer toe, trek haar groen satyn-pyjamas uit en gaan staan in die stort. Die lang blonde hare word gewas. Wellustig spoel die louwarm water oor die aantreklike kurwes.
Toe sy die 'ting' van die oondklok hoor, maak sy vinnig die krane toe, draai 'n handdoek om haar (sommer die kleintjie want dis die naaste) en hardloop kombuis toe.
Sy skakel die oond af en net toe sy die oonddeur wil oop maak, hoor sy haar tuinhekkie oopgaan. AFLEWERING !! In hierdie dorp word vleis en brood en kruideniersware by jou huis afgelewer. Elke more. En sy het brood bestel.
Vinnig en redelik vervaard, haal sy die skons uit, sit dit op die tafel neer en draai om. Sy hoor die agterdeur oopgaan. Gelukkig is dit 'n L-vorm kombuis en is sy nie dadelik sigbaar nie. Haar handdoek val af, maar dis die minste. Die besemkas onder die trap is die redding!
Sy staan in die skemerdonker kamertjie en hoor hoe die voetstappe nader kom. Stadig - doelgerig.
Maar hulle stop nie by die tafel om 'n pakkie neer te sit nie!
Nader en nader. Skielik vlieg die deurtjie voor haar oop en staan sy poedelnakend voor die meterman. Sy oë staan stokstyf in sy kop. Hy kan nie glo wat hy sien nie. Sy probeer met twee hande drie strategiese plekke toehou slaag nie en sê dan:

"Ag ekskuus, meneer de Wet. Ek het die bakker verwag!"


Copyright:  © 1997;2001 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/skons.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 14 April 2001
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]