BRIEWE UIT DIE SNEEU

Disclaimer Edna Deudney, voorheen dosent aan die Universiteit Van Port Elizabeth het besluit om braaf te wees en 'n uitdaging te aanvaar - en Afrikaans in Tsjeggië te gaan doseer. Sy is 'n boorling van die Oos-Kaap, het die eerste daglig in die omgewing van Balotwa aanskou. Dis in die Queenstown distrik. Later het sy aan die voet van die Drakensberge op 'n plaas naby Elliot gewoon. Sy het die storie hieronder, oor 'n woonstel-ekspedisie in Olomouc, aan ons gestuur. As bykomende informasie verduidelik sy: "Alle vroue, getroud of ongetroud kry die agtervoegsel "-ova" tot hul naam gevoeg. Die Tsjegge is beslis nie voorstanders van die feminisme nie! Die jonge dogter is in die eerste plek -ova (Lat.:eier) vir die vaderlike stam, daarna weer vir haar eggenoot."

Noo(r)d-bestaan
(die jag van die -ová's)

Noo(r)dbestaan met as tydige tydelike basis 'n stad in Oos-Europa. Nee, ek is nie 'n landsverlater, 'n doomsday-kraaier nie. Ek het net gears gechange, soos ek so dikwels in die verlede reeds moes doen, telkens bloot om den brode Én op prinsen niet vertrouend, behalwe soms... maar dit was jare gelede. Sonder erf- of ergernis van man of muis, is ek eindelik finansieel onafhanklik van baas se klaas te wees. Tyd om rustig handjies te vou? Nog nooit, daar vloei mos Oos-grensbloed in my are en van watter verbroedsel ookal, dié het my geseën en vervloek met 'n rustelose halstarrigheid, 'n redelike helder brein en kanniedood gene. Selfs die prinse bly aantreklik!

Nogtans Afrikaans aan die Univezita Palackeho te Olomouc? Liewe lesers van Onse Angeltjie, ek neem julle nie die ongeloof kwalik nie. Ek het aanvanklik ook getwyfel oor die lewensvatbaarheid en die nut van dié voorgestelde projek van drs Wilken Engelbrecht, hoof van die afdeling Nederlandistiek alhier. Dink maar aan die reëls van Opperman:

Oor die hele affêre het in die hoek
'n Broeis bantam agterdogtig gekloek.

Vandag val ek sommer uit Januarie se sneeuvelde, soos Franticek (Frantitsjek) Kazan, daardie dag, met die deur in die huis. Ons het hom nie verwag nie. Wel by 'n Britse kollega wat in is met esoteriese ekologies-filosofiese grond-en-groen-groupies, verneem van die boere, twee vrygeselle, 'n kind en hulle ou moeder wat in Teplice net buite Olomouc 'n woonstel te huur het. Die universiteit voorsien vreemdelingdosente van woonplek in 'n pragtige ou drieverdiepinggebou, Jugendstil, soos meeste ander hier in die middestad; buitemure effens pokdalig en verweer, maar binne kraakskoon opgeknap. Slegs die dakruimte is vir die dosentewonings, die res is kantore en laboratoria, so verneem ons. Wie daar werk en waaraan, daaroor word geen sprook gesprak nie. Nietemin, ons woon waarlik knus en gerieflik. Maar, en dis 'n baie groot MAAR... op 15 Julie tot en met 15 Augustus elke jaar moet ons met sak en pak na êrens elders trek. Dis 'n onveranderlike vasstaande reël want dan gaan rus paní (mev/mej) Feitová, paní Skorová, paní Zatloutkalová, en pan (mnr) Lahoda wat om die beurt die hoeders van die huis is. Dis hulle wat die lakens uitdeel, die 'televizní sál' oop- en toesluit en soms per toeval na heelwat geknutsel, enkele prosíms en nog ander vriendelike maar onverstaanbare Tsjeggiese gezuizel, oproepe van buite reg of verkeerd deurskakel.

Ewentwel ons voordeurklokkie lui vroeg voormiddag in die laaste week van Januarie. Die besoeker stel hom oor die interkom voor as Franticek, besitter van die woonstel te huur. Theo beduie hoe hy by woonstel 3 moet uitkom: op met die vtah, dié stop buitendien net onder op die grond en dan weer bo onderkant die dak. Soos reeds gesê, alles tussenin is vir ons geheimsinnig afgeslote gebied - dan links met die lang gang tot by die glas afsluitdeur. Daar sal Theo hom gaan inwag want die deur kan net van die inwoners se kant af oopgemaak word sonder 'n sleutel. Ek wag nuuskierig. 'n Ligte kloppie. Ek maak vir Theo en ons besoeker oop. En daar staan hy, 'n beeld van 'n man! Lank en lenig, donker hare en baard, gloeiende donker oë, netjies gekleed,'n mens kan hom deur 'n ring trek. Soos 'n skokgolf tref dit my, die magnetisme van 'n sater. Ek voel hoe my knietjies water word, staan lammerig opsy vir Theo en die golf om verby te beweeg die woonvertrek in.

Later sluit ek by hulle aan, sit maar stil eenkant want in die vreemde geanimeerde gesprek, deels Tsjeggies, deels Engels, kan en wil ek op die oomblik nie deel nie. Ek sit so dat ek slegs sig het op die man se linkerprofiel, geniet nog steeds van sy vreemde aantrekkingskrag, begryp dat hy eintlik 'n argitek is en ook dat hy ons nooi om nog dieselfde week die woonstel te besigtig. Toe hy aanstaltes maak om te vertrek, kry ek my tong terug en herinner Theo aan die gasvrye Tsjeggiese gewoonte om iets te drinke aan te bied. Dus, svtlé Buduvár vir die manne en vir my erné Velkopopkovick Kozel, dis die een met die sater op die etiket. Ja, ek drink bier al is dit heeltemal teen my gewoonte in.

Gemaklik ontspanne wil Franticek nou weet van Suid-Afrikaanse argitektuur en musiek. Ek sit Randall en Koba se "Rooirok" in die speler. Franticek nie links nie, raap my op vir die wals. Dolle draaie en sierlike swaaie en ek merk vir die eerste keer dat die man se regterneusvleuel 'n hap uit het. Intussen sit Theo duidelik uit die veld geslaan en toekyk. Sy woorde toe Frantiek wel kort hierna met 'n laaste gulle bevestiging van die afspraak by die deur uit is: "Wat hiervan gaan word, weet ek nie. Ek sal daardie man nie van jou lyf kan afhou nie..."

Maar toe gaan ek tog nie saam na die woonstel kyk nie. Ek was die vorige week by vriende in Londen waar almal aan 't snotterbel en snuiwe was. Ek verbeel my nog ek is immuun, toe tref die virus my. Theo is so half teësinnig hier weg, dog met onverwagte entoesiasme uiteindelik terug. Alles waarlik die moeite werd, so rapporteer hy. Die moeder oud en eenvoudig, die ander broer, blykbaar die vader van die vierjarige seuntjie, is die eintlike boer. Die mense is aards en gasvry en duidelik lief vir hulle diere, die pes, die prase, die ku - dis nou die hond, die varke en die perd - eintlik twee perde en 'n jong vul. Ja, ons kan perdry ook... en na die effense aarseling die mededeling dat dit die perd is wat Franticek se neusvleuel hap gebyt het!

Hoofsaak is egter die woonstel. Dis ruim met 'n kaggel en 'n bad- kamer. Wel 'n bietjie stowwerig maar dit sal spesiaal vir ons geverf word. Natuurlik moet ek dit self ook eers sien. Die afspraak is vir die volgende Maandag.

Maandagoggend wikkel ons ons warm toe. Met die bus twintig minute tot in Teplice, 'n rit al met die loop van die Morawa langs. Plek-plek breek die yslaag reeds op die rivier maar so ver as die oog kan sien lê Tsjeggië nog dik toegerol in sneeu.

Die dorpie is doodgewoon, eenkant die kerkie met kenmerkende uietoring ('Zwiebeldach'), regs loop die straat wat ons soek met 'n slap boog al langs die ry vermolmde tweeverdieping huise. Ons trap moddersneeu oor die glibberige keie maar die boer wat ons reeds verwelkomend inwag, beduie nee, hulle trek nie volgens die algemene gewoonte skoene by die voordeur uit nie. Ek kyk na sy voete. Daardie ou paar skoene kleef sekerlik al weke lank aan vuil kouse. Sy naam, (Svatopluk, of Svatko), 'Swartjie', so klink dit minstens vir my, het hy beslis nie gesteel nie. Dis volkome beskrywend van hom en sy verslete stowwerige klere. Gelukkig stink hy nie, of dan minstens slegs na jare en jare se tabak. Die ene vriendelikheid gesels hy een stryk deur. 'n Tsjeggiese dialek waarvan ek niks, en Theo slegs hier en daar, 'n woord uitmaak.

Hy voer ons die moddergetrapte gang af en by die agterdeur uit. Met die verbygaan kry ek wel 'n glimp van die ou moeder, kopdoek en tjalie voor 'n haardvuur in 'n vertrekkie regs. Buite aangeland in 'n agterplaas vol boerderyrommel onder sneeu en modder, begroet die pes, 'n jong duitse herder ons uitbundig. Modderpote teen my koningsblou mantel maar ag, ek hou soveel van honde.

Swartjie glip weer terug huis in. Vlugtig wil ek by Theo weet of hy kan uitmaak van wat gesê word. Mmm... ja, iets van 'n koei wat kleintjies kry. Swartjie verskyn weer, nou met 'n platterige mandjie, daarin langerige geel koekerige goed wat hy vlugtig met 'n verbleikte ou handdoek bedek. Die pes soek êrens tussen houte na 'n stuk bas wat sy baas vir hom gegooi het. Ons volg Swartjie tot by 'n vreemde houtbousel regs. Heelwat verder na agter is nog houtbousels en onder 'n afdak daar, sien ek twee ou knolle voor 'n regte boerewa ingespan.

Die eerste houtbousel blyk 'n trein van oordekte varkhokke te wees. Deur 'n gleuf kyk ons die eerste hok in. Daar is 'n sog aan't bont varkies vootbring. Enetjie strompel reeds in die strooi. Ons mag net vluggies loer, dan weer uit. Die sog mag nie versteur word nie.

Swartjie koers perde toe. Ons agterna. Waar sou die woonstel dan wees? Maar ek kry nie kans om te vra nie. Die mandjie agter op die wa geplaas, begin ons gasheer ou komberse oor die bankie voor drapeer. Hy beduie ons moet klim. Ek deins terug, versigtig om uit die pad van perdebekke te bly. Theo moet maar in die middel sit, ek aan die linkerkant, so op 'n puntjie van die bank. Aan die regterkant Swartjie, leisels in hande met bruinswart groewe en naels. Net nog gou die vul wat aangehol kom met 'n houtstomp verwilder en: Hup... Juno! Ha... Apollonius! Weg is ons met 'n skielike krink die Tsjeggiese sneeuvelde in.

Dis 'n glibberige yspaadjie met moddergate en talle hobbels. Telkens as die perde sukkel om vas te trap, swenk Swartjie veld in. In die sneeu gaan dit makliker vir die perde. Maar ai, die wa kantel elke keer so gevaarlik na my kant toe. Ek klou vir wat ek werd is, mantel en bankie,ook Theo se arm om nie af te val nie. Dankie tog dat ek nie heeltemal die gewigtige een is nie. So nie, sou die wa sweerlik heeltemal omslaan en met my aan die onderkant voortsleep want nou is daardie twee viervoetiges haastig op dreef, selfs 'n amperse galoppie.

Swartjie dreun gesellig voort, wys ons blykbaar daarop hoe gelukkig sy twee edel diere is, hoe bly om buite op draf te gaan. Om ons 'n vlakke sneeulandskap wat tot aan die horison strek. Net so hier en daar 'n effense heuwel met aan die voet daarvan iets soos 'n bevrore waterlopie en enkele kaalbas wintergeboomtes. Goeiste, waarheen sou ons op pad wees? Ons kollega het wel gesê, " ... and they have a cabin in the woods". Maar 'n halfuur lank, krink en swaai en hop ons nou reeds op die plaaspaadjie en nêrens niks! Tog is dit mooi. Ek waag dit om met my linkerhand so oor die velde heen te wys: "Je hesk". Maar ons gasheer verskil, Vroeër was dit mooi, toe dit nog alles aan sy familie behoort het. Toe was daar bosse en riviertjies, vroeêr voor die kommuniste alles onteien en omgeploeg het.

Tot by 'n volgende dorpie ry ons swygsaam voort. Ons bestemming? Nee, nog nie. Versigtig hou Swartjie die perde in voor 'n bedrywige hoofweg wat die dorpie in die middel kloof, dan skielik vinnig óór en anderkant uit, weer veld in. Uiteindelik draai hy regs af na so'n soort holte, enkele bome en 'n klein vierkantige platdak houthut. Hookaai! Juno en Apollonius gaan staan, neig dadelik die koppe om met geel tande hongerig die bas van afgesaagde boomtakke af te knabbel. Swartjie voer ons die houthut in. Slegs een klein vertrekkie, amper ondraaglik warm vanweë die koolstofie in die hoek regs. In die middel 'n tafeltjie met twee vuil borde daarop en in die linkerhoek teen die muur vasgebout, 'n smal houtbed of bankie in die vorm van 'n L.

Ek skuif op die kort beentjie in, Theo langs my, Swartjie raap die vuil borde op, foeter dié in 'n skottel langs die stoof, kry 'n keteltjie beet en uit is hy by die deur. Oomblikke later terug met water vir koffie. Seker sommer sneeu in die ketel geprop. Ook die mandjie met koeke ingebring. Keteltjie op die stoof geplaas, reik hy op na 'n rak, so'n enkele houtplank teen die muur bo, en haal 'n bottel rum af, ook drie groot glase wat hy behoorlik halfvol skink. Vir die koue, meen ek, is wat hy beduie. Sulke gasvryheid mag nie afgewys word nie maar toe hy sy rug draai om weer by die stoof te vroetel, vul ek Theo se glas met die grootste deel van myne aan. Hy is beter bestand teen alkohol as ek. Ons is albei taamlik verward en verwonderd. Wat of wie verwag Swartjie dat hy telkens so soekend deur een van die dubbelruitvenstertjies kyk?

Die eerste bietjie koffiewater kook reeds, dog slegs genoeg vir een koppie. Dames eerste. Myne dié donkerdik turkse brousel wat ek wantrouig bekyk terwyl Swartjie weer water gaan haal. Stemme buite en nou weet ons. Swartjie het op Franticek en die kind gewag. Die hut is skielik baie vol. Die seuntjie klouter oor ons voete om by die lang been van die bankie te kom. Hy stroop sy verbleikte baadjie en voosgewaste truitjie af en hang die versigtig en netjies aan 'n tou wat bokant die bankie gespan is. Dadelik eis hy my aandag vir so'n tydskrifprenteboekie wat hy onder die matras uithaal. Ek kry skaars geleentheid om behoorlik na Franticek op te let, merk nietemin so uit die hoek van my oog dat ook hy sy ou plaasklere dra. Die een sak van sy baadjie is winkelhaak geskeur.

Op die kind se bo-armpie is 'n afslytbare tatoeëerdraak aangebring, die ma se werk, toe sy onlangs op besoek was, verneem Theo by Franticek. Vervul met jammerte probeer ek hulpvaardig in die boekie blaai en uitvra. Die kind druk besitlik my hande weg. Dié boekie is syne, net syne maar ek móét kyk en die Engels vir die Tsjeggiese dierename sê. Kyk ek 'n oomblik weg, neem hy my hele kinnebak saggies in sy handjie en draai my gesig terug boekie toe. Intussen verskyn verdere koppies turkse koffie op die tafel en ook die mandjie suikerkoeke, Swartjie se eie gebak, prys Franticek sy broer. Weer 'n vlugtige blik na daardie hande en naels, maar gits ek is honger - moes sonder ontbyt vertrek. Koffie en koek en rum en nog is 't het einde niet. Wat ek as dankbare erkenning van sy broer se aanprysinge interpreteer, blyk Swartjie se afskeidsgroet te wees. Die houtdeur klap agter hom toe en ons hoor hoe vertrek hy met wa en perde en al.

Nou reik ook Franticek op na die plankrak aan die muur. Hy haal sy pronkstuk daar af: 'n fynafgewerkte kartonmodel van wat? 'n Boot- met-huis of huis-met-boot of albei gelyktydig? Versigtig verwyder hy die dakronding om die dubbelverdieping binnehuis te toon. Net wat, volgens hom, 'n gesin van vier of vyf sal nodig hê: drie slaapkamers, twee badkamers, kombuis, ontvangkamer en les bes, biljartkamer en bar, alle ruimtes deeglik beplan en met wenteltrappies verbind. Ja inderdaad, 'n woning in die vorm van 'n boot en nog die wonderlikste van alles, goedkoop maar duursaam kan dit gebou word van kleigrond en buigbare latte!

Ons knik en glimlag verleë. Ek dink aan Transkei se daghastrooise met misvloere, raak al hoe kriewelriger en haastiger. Dis al laat Maandagmiddag, nog net Dinsdag om te pak vir die reis na S.A., Woensdag 'n volle halfdag op die trein na Praag om Donderdag die vlug te haal. En nog geen woonstel nie! Eindelik kry Theo dit Franticek aan die verstand dat ek dié nog nie gesien het nie, dus weer val ons in die pad, nou te voet naaste dorpie toe. Seker om daar 'n bus te haal terug na Teplice, sodat ek uiteindelik met my eie oë kan kyk en goedkeur.

Moenie glo nie. Geen busse van hier af terug nie, net deur Olomouc toe. Ons moet maar by my terugkeer en verkieslik in die lente ons eintlike missie voltooi. En nou moet ons wag vir die volgende bus. Franticek is min gepla. Op sy program is 'n besoek aan minstens een pivnice (kroeg) in die hoofstraat. Sy eerste keuse is gesluit. By die volgende is 'n vriendin uit sy skooldae eienares en bedienster. Sy's gebou om te hou en die minirok met lae hals pronk daarmee. Haardvuur verwarm die gesellige vertrek met jagtrofeë teen die mure. Of ons gasheer belangstel in jag? Dis Theo wat die praatjie aanknoop. Die antwoord is ontkennend, diere skiet hy nie maar hy jag wel: "Girls!" Hy sal nog vir Theo wys, hulle is in Olomouc ook te vinde...

Die biere, my en die kind se vrugtesap, betaal Theo gou, voordat daar nog rondtes gemaak kan word. Dog, verniet ons haas. Vriendelik verplig tot die gulle afskeidsglasies slivovice, eie tuisgemaakte witblits van pruime, drink ons staande en maatserig joviaal. Die seuntjie het besluit hy wil met my saamgaan Suid- Afrika toe en hang om my nek. Toe die bus stilhou, strek hy gelukkig weer sy handjies na sy oom toe uit.

Deur die agterruit van die vertrekkende bus sien ons hom nog staan, die kind liefderyk gekoester in sy arms. 'n Deerniswekkende figuur, die Franticek Kazan, redelik jonk nog maar te arm en sonder vooruitsigte om ooit 'n eie paní Kazanová en gesin te onderhou. Dog die Tsjeggiese taal kap met wrange woordspeling teë: Nee, nie deerniswekkend nie, bloot 'n jammerlike geval, 'n Casanova gedoem tot die jag op beskikbare Casanova-ová's.

Edna Deudney
Univezita Palackeho


Copyright:  © 1997; 2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/sneeu.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]