Saartjie vannie Baai

Selwyn Milborrow

Die oggend van my troue is ek vroeg besig om aan te trek toe Pa die kamer binnestorm en begin kla oor sy beige suit wattie lekker ruik’ie.
"Saartjie, help my asseblief ommie skoene aan te trek want daai ma van jou sien’ie kans virrit’ie!"
"Ek’s ga lus vir nonsens op my troudag’ie," hou ek my kwaai. "Ag, asseblief, my Saartjie?" "En van vandag af is ek Sarah, nie Saartjie nie. Saartjie Baartman lê in Hankie begrawe!" "Luister net na jouself," skree hy, "moenie worry nie, relax kind!"
"Verwag Pa dat ek kalm moet bly terwyl alles rondom my aanie platval is? Aikôna, never ever. Ek worry oor daai stoutgatte wat John hardehout injaag met elke opportunity wat hulle kry, oor Ma se hoed wat sy ge-order het en nog’ie hier is’ie, Pa se suit wat’ie lekker ruik’ie en..." Ma kom opgewonde die kamer binne en maak haar make-up case oop asof sy niks hoor’ie. Miskien ignore sy ons.
"’n Goeie layer foundation en blusher gaan jou in 'n prinses verander," het sy belowe en in haar beroemde make-up case gekrap.
Sy is vanaf Kleinskool tot doer in Veeplaas bekend assie make-up antie.
Partykeer kom meisies van so ver as Rosedale in Uitenhage vir ‘n make-over.
Sy moes ‘n week tevore ‘n vrou in Walmer township gaan mooimaak en daar was even ‘n picture van haar innie newspaper!
Na allie preparations verby is, loer ek af innie straat en hol vinnig oor na boetie Enslin se kar. "Lekker skaam vir daai boeppens..." "Ag sies, boetie Enslin," keer ek kwaai.
"Moet’ie my troudag kom staan en spoil’ie!"
Sy dun lyfie ruk soos hy lag. My twee broers spring innie troukar en my oom jaag hulle terug.
"Skoert, daars’ie strooijonker se kar!" raas hy en wys na die agterste kar.
Hy skud sy kop en skiet sy dooie stompie innie straat. "Ek kom nou, Saartjie. Ek gaan gou ‘n bietjie tong natmaak," verskoon hy homself en verdwyn agter ons huis.
Daai broers van my het my eerste jôl met John bigtime gespoil. Ek onthou daai Vrydagaand innie bosse buite Kleinskool...
Ek en John het skaars lekker begin vry toe ons agterkom my broers loer ons af. Hulle het weg gehardloop en vir Pa gaan sê ek gaan Aids kry omdat John my druk.
Hulle het Pa gewys waar ons gevry het. Hy het ons tôl gevang. John het nog met my warmgevryfde pramme in sy hande gestaan. Pa wassie moer-in. "Joe aar toe ould vo maai tjaailt, sjies maain!" het hy geskree en John ampertjies aangerand.
"Joe kaant ryp maai tjaailt, aai hool kiel joe!" Ek moes inspring en keer dat hy nie John bykom’ie. My broers het hulle swak gelag agterrie bossies.
"Ai, Saartjie, waar het jy jouself ingedruk," sug ek hardop.
Ek is net bly dat ek John al lankal gewaarsku dat hy vir ewig met my en my familie opgeskeep gaan sit!"
For better and vir wors, het my oupa altyd gespot. John het net gesmile en my in sy warm arms vasgehou en saggies in my oor gefluister: "It is you that matter most to me, Sarah."
En hy sing net daar vir my: "I love you just the way you are …"
John kan die toughste criminal se trane uit sy oë lossing.
Just the way you are? dink ek, dit gaan hom baie lank vat om my uit te figure!
Een van my skool onnies het lank gelede gesê dat ons almal maskers dra, en dissie godse waarheid! Hy was nogal weird gewees; het altyd love songs vir ons gesing.
Vandag verstaan ek wat hy destyds bedoel het...
Vandag is Kleinskool weer deurmekaar, dink ek toe die mense innie straat beginte saamdrom.
Die boykies fluit en waai vir my terwyl die anties my seker staan en beskinner.
Tussen daarie klomp anties staan antie Poensie - die leier vannie bushtelegraph.
Haar geskinnery gee my die horries! Gelukkig weet sy ek is nessie Baaise se weer en ek koop’ie gevreet’ie!
"Eva, daai meisietjint van jou is blêrrie omgeskik; haar mond staan vir niks stil’ie.
Sê nou die dag vir my ek moet ophou om van haar ennie Ingelsman te skinner.
Ek praat nie oor my vrinne se kinners’ie, Eva. En dis dan toe ôk wat ek vir haar sê, maar nee, daai Saartjie sê in my gesig dat ek haar staan en beskinner!" Ma het net haar kop geskud.
Ek kan my net indink waaroor hulle nou so lustig oorkant die pad staan en skinner: "Ja, Saartjie is toe ôk nie so onskuldig soos ons gedink hettie.
Sy’s mos innie annertyd! Uiteindelik is sy ontmasker wannie lus het haar ôk mos beetgekry!" Ek kyk op my watch en roep deur die kar se venster na boetie Enslin wat stadig aangestroll kom. "Ja, kan 'n man nie eens ietsie virrie nerves vattie?"
"Al weer gaan drink, né! " "Dit was net ‘n bietjie, dis maar al. Saartjie, lees ‘n bietjie die Burger en sien wat in hierie land aanie gang is. Die security gates word al hoe dikker ennie slotte al hoe sterker. Check allie koerante en sien vir jouself."
"So, what!" vra ek die moer-in.
"So, my dear Sarah, I drink to forget all the problems in this world of ours,” en hy sing Jim Reeves se "Make the world go away." Hy klim sing-sing innie kar.
"Hierie land is gecurse, sê ek jou. Ek word glad’ie eens meer in Afrikaans by ‘n bank of winkel gehelp’ie. My moedertaal gaan nessie dinosaurs vannie aardbol af verdwyn!
Maar nou ja, die drinks hou my happy, baie happy," gaan hy voort. "Jy klink nessie boere wat’ie wil ophou kla oorie Afrikaanse taal’ie," kap ek terug.
"Boetie Enslin moet net onthou dat John 'n ordentlike Ingelsman is. Hy is’ie hierie dinge gewoond’ie. Vandag gaan julle my nie innie skanne steek’ie!"
"Aag, hou op skwiel, jy hou jou maar net haaitie taaitie omdat jy met 'n Ingelsman gaan trou. Jy en daai lord passie eens bymekaar’ie," kap hy terug.
Ek bars onmiddellik in trane uit.
"Ek wonner wat hy agter daai Ingelsman-mask van hom wegsteek," smeer hy sout innie wonne en ek tjank al hoe harder.
"The blêrrie foreigners are trying to benefit from our new country. Eintlik is daar niks om te benefit nie want die government het alles opgevreet!"
Gelukkig het Pa alles gehoor en gee hom 'n taai klap.
"Wie de hel dink jy is daai?" vra my pa kwaad. Die force vannie klap het my oom se hare soos Mac Lottering s’n laat opstaan.
"Sy’s 'n Baartjies netsoos ek," gaan Pa voort en knyp sy zol tussen sy lang vingers dood en gooi dit langsie kar neer.
"Mors met haar en jy mors met my. So hou net daai bek van jou!" waarsku hy my geskokte oom.
Ek kon nie help om ‘n smile tussenie getjankery in te kry nie. Boetie Enslin was nog dizzy toe hy die kar start.
"Is jy ôrraait, my kind?" vra Ma toe sy innie kar klim. Sy lyk ongemaklik in haar navy blue outfit en high-heels terwyl Pa elke tien sekondes aan sy beige suit vroetel.
"Ek’s orraait, sê net vir Pa om’ie sy speech te vergeet’ie. Hy moenie ice maak’ie,” snuif ek. Almal innie straat raas en gaan tekere toe die strooimeisies uiteindelik uitkom en na die karre toe march.
Ek gryp ‘n twinsaver en vee my trane vinnig af. “Al my harde werk,” kla Ma en gryp na haar travelling make-up case. “Lossit, Ma, gee die lipstick aan, ek sal regkom.”
‘n Doodse stilte heers innie kar. Almal is tjoepstil, behalwe vir boetie Enslin se Chevair wat soos ‘n skorokoro raas. Ons elkeen is op 'n memorytrip van sy eie.
My oom het’ie meer ‘n memory nie.
Ons travel na dae toe ek nog ‘n onskuldige meisietjie was, toe my secondhand barbie doll my enigste tjommie was.
Dit was lekker dae sonner worries oor boyfriends, tampons of puisies.
Net poppehuisie speel, Ma help mettie skollegoed en partykeer wasgoed was of komberse trap. Ek sweer Ma het ‘n traan of twee innie kar gestort.
Sy en Pa is mense wat binnetoe huil. John sê dis nessie Ingelse in Ingeland.
Prim en proper mense wat tussen poepreuke sal bly sit sonder om te kla. Hulle kla net wanneer dit by geld kom...
Na wat soos 'n ewigheid voel, kom ons uiteindelik by die kerk aan.
Dit het intussen liggies beginte reën in Bethelsdorp. "My hare moet net’ie shrink’ie," het Ma gemoan.
Daar’s reeds baie karre buite ennie instant cameras click aanmekaar toe ons uitklim.
"Die bruid is hier!" hoor ek iemand skree en almal kom nader gehardloop. Hulle steur hulle glad’ie aanie reën wat op hulle neersak’ie.
Pa en ek is altwee stil toe ons innie kerk se foyer gaan wag.
Ma het met haar make-up case en ‘n paar anties kort agter haar hakke innie kerk se toilet verdwyn.
"Ek wonder net of John orraait is na gistraand se stag party," verbreek ekkie stilte. "Sjuut … moenie worry nie, Saartjie, alles gaan oukei wees," sê hy toe ek my hand onder sy arm insteek.
Ons loop stadig innie gang af terwyl antie Annelie die weddingmarch oppie orrel speel. Die reëndruppels dans intussen lekker ritmies oppie kerk se dak.
Ek sien 'n paar bekende maskers innie banke en kry hartkloppings toe ek John reg voor innie kerk sien sit. Ek kry altyd hartkloppings wanneer ek John lanklaas gesien het. Langs hom staan ons predikant met sy bybel onder sy arm.
Uit die bloute begin ek naar te word. Alles voor my swem. Even antie Annelie se weddingmarch beginte vals klink.
My kop duisel en my lippe voel skielik droog en opgeswel. Die hele kerk is stil en ek klou koorsagtig aan my pa se arm.
Ek voel hoe almal se oë op my neerbrand. Almal kyk my vraend aan, so asof ekkie veronderstel is ommie bruid te wees’ie.
Of miskien wassit oor my imported trourok en boeppens.
Dokter van Staaden het gesê daar’s nog vyf weke oor virrie baby om te bore.
Ek wou nie so gou trou nie, maar Ma-hulle het geforce.
"Skanne of te not, ons bruinmense like troues," het ‘n antie vannie kerk vir my ma oorie phone gesê toe sy vannie trouplanne hoor.
"Dis 'n skanne om ‘n kind sonder 'n pa groot te maak," het Ma geskel.
"Ten minste trou Saartjie mettie kind se pa!" het sy my met trots gedefend.
Sy het al klaar 'n naam virrie baby gekies. "Charles," het sy gesê, "ons eie prins."
Na 'n rukkie voel ek beter ennie weddingmarch klink weer mooi. Ek sien hoe die trane in Pa se oë swem toe hy my aan John afgee.
Almal beginte hanne klap en hy beduie vir hulle om op te hou.
"Die show is noggie klaar’ie," skree ‘n besige antie.
Ek let virrie eerste keer op dat John se oë bloedrooi is. Ek gaan daai twee broers van my verwurg, dink ek.
My John is mossie hierie dinge gewoond’ie. Wel, hy't dit darem oorleef, besef ek al te dankbaar.
Ek loer deur my veil en hy smile ooptanne toe ons oppie rhythm vannie weddingmarch tot voor innie kerk sweef.
Die predikant smile, maak keelskoon en kondig met trots aan: "Vandag, hou ons 'n groot troue hier. Today, we have a big wedding!"
Ons kyk na mekaar en smile virrie laaste keer ooptanne deur ons ou maskers.


INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD









Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/verhaal11a.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 15 November 2002
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]