The Whole Shabang
en die gewraakte WOORD

Waldo Müller................

"Hotnot" is 'n woord wat by baie mense 'n intens negatiewe reaksie ontlok weens sy geskiedenis as rassistiese skeldnaam. Maar die jong lede van The Whole Shabang ('n Afrikaanse hip-hopgroep van Uitenhage se geskiedkundig bruin buurt Rosedale) Disclaimer staar hulle nie blind teen die woord se uitgediende apartheidskonnotasies nie. Deur rap-musiek wat op selfbemagtigende wyse ‘n bruin bewussyn artikuleer en bevestig, gee The Whole Shabang die gewraakte raswoord ‘n nuwe, positiewe waarde.
Die groep is nie die enigste waarin jong bruines hip-hop op hierdie wyse inspan nie. Dit gebeur reg oor die land. Maar die musiek (en gepaardgaande lirieke) bly onuitgereik, ondergronds.
In Amerika het die woord "nigger" ook ‘n betekenismetamorfose ondergaan onder jong Afro-Amerikaners wat dit die afgelope jare deur hip-hop verhef het tot 'n begrip wat identiteit konsolideer. Hierdie verskynsel is gebore op die snykant van straatvlak swartbewussyn-filosofie.
In sogenaamde blaxploitation-rolprente en die rap-kultuur is "nigger" sedert die jare sewentig toenemend herfdefinieer, rewolusionêr teruggegryp van die wit rassis, om op eie tong iets te word wat swart self- en groepsidentiteit positief versterk.
In The Whole Shabang se eie woorde: "Ons noem ons musiek hotnot-style om 'n identiteit daaraan te gee. Dit is nie om iemand af te druk of af te kraak nie. In hotnot-style deal ons met issues in die coloured gemeenskap, hulle struggles. "Die kleurlinggemeenskap is confused oor die algemeen. Al die negatiewe dinge omtrent ons word op TV ge-expose: gangsters en drugs. Jy sien nie positiewe dinge van die coloureds op TV nie.
"As jy 'n coloured is in Suid-Afrika moet jy draai - na wit toe of na swart toe om net in te wees. Dis asof jy moet side by iemand. Jy kan nie trots op jou eie staan as 'n groep met sy eie identiteit nie." Deur onomwonde na hul Afrikaanse hip-hop as "hotnot-style" te verwys, wil The Whole Shabang as jong Suid-Afrikaners van gemengde ras self hul post-apartheid identiteit bepaal. Of dit nou politiek korrek is of nie.
Deur die mees beledigende term denkbaar vir ‘n bruin Suid-Afrikaner te kaap en die negitiwiteit daarvan te neutraliseer in die nuwe, jeugdige, Afrikaanse hip- hoptaal van ‘n positiewe bruin bewusssyn, word die woord verlos van die stank van wit onderdrukking wat so lank daaraan gekleef het en gestroop van die seermaakvermoë wat dit vir soveel dekades gehad het.
The Whole Shabang praat 'n gemengde Afrikaans wat taalpuriste se hare sal laat rys. Die groep gebruik bruin sleng waarvan dieselfde puriste nog nooit sou gehoor het nie - woorde soos "gwai" en frases soos "hy het my gedis". Hul deninieer rap as street poetry. "Dis 'n way om jou te express, 'n way waarmee ons comfortable voel."
Sommige van die groeplede het "agter in die yard by die huis" begin rap toe hulle skaars twaalf jaar oud was. Mettertyd het hulle besef watter ekspressiewe waarde rap het: "As jy op skool na rap begin luister, dink jy, jislaaik, check nou daai way wat hulle hulself express - dinge wat jy al lank voel, maar nie geweet het hoe om te sê nie. Rap is vir ons die perfekte medium van self- expression."
Hul liedjies soos "Ander dag, dieselfde storie" bevat 'n mengsel van humor, sarkasme en politieke verwysings vol ontgogeling. Die snit kom sommer almal by van Winnie Mandela tot P.W. Botha en bekla die lot van jong werkloses wat hul tot drank en dwelms wend. Dit lui onder meer: "Skink 'n dop daar en light die ganja. Dis 'n ander dag, maar dieselfde storie. Ek is fed-up vir die situasie waarin ek my bevind."
Oor die vloek- en taboe woorde wat in hul musiek opduik, meen die groep: "Daai is maar net wanneer ons bietjie frustrated is. Die vloekery is nie die boodskap nie. Mense moet luister na onse woorde en dan sal hulle uitvind. Sommige kere word die boodskap nie eintlik kop toe gevat as jy nie vloek nie." Benewens "nigger" en "hotnot" is daar nog groepbenamings waarvan die tradisionele beledigende betekenis die afgelope jare weggestroop is deur dieselfde mense wat eens daarmee verkleineer is.
Daar het byvoorbeeld in die redelik onlangse verlede ‘n soortgelyke betekenisverskuiwing plaasgevind in die gay gemeenskap ten opsigte van die woord "queer". Vandag is dit glad nie meer die skelwoord wat dit 20 jaar gelede was nie. Gays het die woord uit die mond van homofobiese straights geneem en dit hul eie gemaak. ‘n Positiewe, bemagtigende gevoelswaarde is daaraan gegee en die ou, beledigende aura van "queer" is geneutraliseer. Die woord maak nou nie meer seer nie; dit maak sterk. ‘n Goeie illustrasie hiervan is Kaapstad se jaarlikse "Mother City Queer Project", daardie reusagtige viering van gay identiteit wat duisende partytjiegangers van reg oor die wêreld lok. ‘n Mens kan aanvoer dat ons hier met ‘n breer kulturele verskynsel te doen het; een waarin woorde wat in die verlede instrumente van diskriminasie en onderdrukking was, teruggegryp word deur die onderdrukte - wat dit dan op radikale wyse sy/haar eie maak en dit gebruik om identiteit te bou pleks van af te breek. Maar dit is ‘n snykant-verskynsel, ‘n cutting-edge phenomenon, want hierdie tradisionele skelwoorde wat deesdae deur sommige as boustene van ‘n positiewe identiteit benut word, is in die hoofstroom steeds taboe en geensins politiek korrek nie.
The Whole Shabang se rewolusionêre hip-hoplirieke en die bruin bewussyn wat dit verwoord, word ongelukkig steeds net in die omgewing van hul tuisdorp Uitenhage gehoor. Optreegeleenthede is skaars in die ekonomies gekelde Oos-Kaap en ‘n platekontrak lyk onwaarskynlik terwyl die Suid-Afrikaanse musiekbedryf ‘n worsmasjien is wat hoofsaaklik drie geure bied: kwaito, Amerikaanse R&B en house compilations.
Die groep het reeds sowat 15 liedjies geskryf, meestal in Afrikaans. Die musiek se hip-hop ritmes en die "hardcore rap"-aanslag maak The Whole Shabang ook genietbaar vir mense wat Engels- of Xhosasprekend is - ouens wat nie normaalweg na Afrikaanse musiek sou geluister het nie.
Vir diegene wat Afrikaans verstaan, is die musiek vol reguit en flymskerp verwoordings van die lewe en frustrasies van die land se bruin jeug, hier en nou. Geen doekies word omgedraai nie.
"Die wit mense sê vir ons jy is nie wit nie, jy is swart. Die swart mense sê jy is nie swart nie, jy is wit. So baie van ons mense weet nie waar staan hulle nie. Ons mense wil nie in hulself glo nie. The Whole Shabang se musiek wil hulle confidence gee, hulle laat glo dat hulle iemand is met ‘n eie identiteit."

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD







Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/waldo.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 15 November 2002
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]

 

U is besoeker nr.: Hit Counter (vanaf 18 Julie 2000)