Medewerkers: Nommer 11

Hennie Aucamp is ‘n skrywer van kortverhale, essays, kabarette, dagboeke en skryfhandelings. Hy is ook ‘n afgetrede professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch.

Kupido Baron is gebore op 23 April 1977 en het in 1995 gematrikuleer aan die Skurweberg Sekondêre Skool in die Koue Bokkeveld. Hy is ‘n joernalis by Die Burger (Oos-Kaap). Hy het ‘n Nasionale Diploma in joernalistiek aan die Skiereilandse Technikon in Kaapstad verwerf. Hy skryf reeds sedert 1993 poësie en kortverhale. Hy was ook al twee keer ‘n finalis in die Sanlam/RSG hoorspel-kompetisie.

Edward Burke woon in Dublin, Ierland en werk daar as vertaler. Hy het BA graad in Germaanse tale behaal (Nederlands, Duits en Sweeds) by die Trinity College. Hy het ook later ‘n MA-graad in internasionale betrekkinge behaal. Hy is tans besig met ‘n MA -verhandeling oor die werk van Karel Schoeman onder prof. Helize van Vuuren van die Universiteit van Port Elizabeth.

Stef Delport is in 1947 gebore en het op Kirkwood in die pragtige Sondagsriviervallei grootgeword. Daarna is hy na U.P.E. as stigterstudent in 1965, waar hy op die studenteraad gedien en vir die eerstespan rugby en skaak gespeel het. Hierna het hy onderwys gegee, by U.P.E. vier jaar as beplannings-sekretaris gehelp met die beplanning en oprigting van die Somerstrand-kampus en daarna tot vandag met sitrus op Kirkwood gaan boer. Hy is getroud met Meredith en hulle het 4 seuns waarvan almal al uit die huis en 3 uit die land is. Hy is tans voorsitter van die Skryfkring van die O.P. (S.K.O.P.) en het 'n passie vir Afrikaans, sowel as eietydse en kontrei-geskiedenis. Daarom het Saartjie Baartman se storie hom nog al die jare gefassineer.

Willem Fransman is in die somer van 1957 in die hartjie van die Olifantsbergdistrik, Worcester gebore as die vierde oudste kind van Willem en Saartjie Fransman. Martikuleer aan Hoërskool Elswood, Elsiesrivier en studeer aan beide die Kaapse Technikon en Technikon Suid-Afrika. Ek is 'n gekwalifiseerde Mediese sowel as Laboratorium Proefdiertegnoloog. Is 'n Grafiese Kunstenaar, gepubliseerde digter (SA en Oorsee in die Laer Lande), Gepubliseerde skrywer, bekroonde Radiodramaturg, radio- en verhoogakteur, en 'n ywerige posseël versamelaar.

Philip John was voorheen verbonde aan die Universiteit van die Transkei, waar Onse angeltjie gebore is. Hy is tans in Port Elizabeth waar hy hengel en soms klasgee by die Universiteit van Port Elizabeth.

Jason Lloyd het aan die Sekondêre Skool Gamble Straat op Uitenhage gematrikuleer, waar hy die hoofseun was. In 1999 het hy die eerste keer die binnekant van ‘n nuuskantoor gesien, toe hy by die Die Burger (Oos-Kaap) in Port Elizabeth begin vryskut het. Sedert 2000 skryf hy ook gereeld vir die UD News, ‘n gemeenskapblad vir Uitenhage, Despatch en Kirkwood. Gedurende 2001 was hy ‘n vryskutkunsskrywer van Kaap-Rapport in die Oos-Kaap. Van sy artikels het al in Insig en Tydskrif-Rapport verskyn. Hy is ook ‘n gereelde medewerker van die internetjoernaal, LitNet Hy skryf kortverhale as ‘n vorm van ontspanning. Van sy verhale kan gelees word op LitNet en eBoeke. Jason is tans ‘n vryskutjoernalis en ‘n senior student in joernalistiek aan die Port Elizabethse Technikon.

Selwyn Milborrow is in 1967 in Port Elizabeth gebore en woon tans in Overbaakens in die Baai. Hy is getroud met Margaret, en het drie seuns, Hughan, Keanu en Ethan. Selwyn skryf sedert sy hoërskooljare en sy eerste kortverhaal is in 1998 deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging gepubliseer. In 2001 is een van sy gedigte in Weaving the fabric", opgeneem. ('n Resensie deur Jason Lloyd het onlangs in Die Burger verskyn.)

Waldo Müller is 'n bekroonde vryskut-joernalis wat veral konsentreer op inheemse kulturele verskynsels, meestal op musiekgebied, van hoofstroom tot ondergronds. Hy is die mede-bestuurder van Phithizela, 'n opkomende kwaitogroep uit die Baaise townships. As platejoggie spesialiseer hy in swart en tropiese musiek uit die era tussen die 1950's en 1980's. Hy het onder meer al gespeel by Lucky Strike se Wages of Sin filmfees en die Mother City Queer Project. Tussendeur werk hy aan sy debuutroman, wat hopelik binne die volgende jaar of twee voltooi sal wees.

Vincent Oliphant werk tans as Vakadviseur (Wiskunde) in die Port Elizabeth Distrik van die Oos Kaapse Onderwys Departement. Sy laaste bundel, Die sagte vlees, het in 1998 by Tafelberg verskyn.

Kirby van der Merwe is beeldende kunstenaar, skrywer en resensent. Hy debuteer as digter in Nuwe stemme 1 (Tafelberg). Sedertdien is sy werk opgeneem in die Komrij-bloemlesing, Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte (1999). Kortverhale in 'n aantal bloemlesings en tydskrifte. 'n Roman, Klapperhaar slaap nie stil nie, verskyn in 1999. Ontvang die M-Net-beurs vir skeppende skryfwerk in 2000. Sy tweede roman verskyn eersdaags. Hy is tans assistent-boekredakteur by Insig.

Helize van Vuuren doseer Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth. Outeur van Tristia in perspektief (1989) oor die laaste bundel van N.P. van Wyk Louw, en mede-redakteur saam met Willie Burger van Sluiswagter by die dam van stemme: beskouings oor die werk van Karel Schoeman (ter perse: Desember 2002). Huidige navorsingsfokus is op die verwerking en neerslag van Boesman orale tradisie en kultuur in die (Suid-)Afrikaanse letterkunde.

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD






Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/werker11.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 15 November 2002
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]

 

U is besoeker nr.: Hit Counter (vanaf 18 Julie 2000)