Werner Eiselen 1970

DOCTOR OF PHILOSOPHY (HONORIS CAUSA)

Werner Willi Max Eiselen is op 3 Junie 1899 te Bothsabelo, distrik Middelburg, Transvaal, gebore. Hy het in 1916 aan die Hoer Volkskool, Heidelberg, gematrikuleer en in 1919 die B.A.-graad in klassieke tale aan die Transvaalse Universiteitskollege, Pretoria, behaal. In 1920 het hy die M.A.-graad in klassieke tale aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, waarna hy besluit het om hom toe te lê op die studie van Bantoetale en -volke. Na 'n jaar van diens as onderwyser, het hy sy studies voortgesit aan die Universiteit van Berlyn en die Universiteit van Hamburg. Die graad Philosophiae Doctor het hy in 1924 aan die Universiteit van Hamburg behaal.

By sy terugkeer na Suid-Afrika het dr. Eiselen weer vir 'n tydperk onderwys gegee en toe, in 1926, aangesluit by die Universiteit van Stellenbosch, eers as Senior Lektor met die opdrag om 'n Departement vir die studie van Bantoetale en -leefwyse op te bou en, vanaf 1933, as daardie Universiteit se eerste Professor in die Volkekunde.

Vanaf 1936 het hy die betrekking van Hoofinspekteur van Naturelle-onderwys in Transvaal beklee. In 1947 het hy die benoeming van Professor in Volkekunde aan die Universiteit van Pretoria aanvaar.

Twee jaar later is dr. Eiselen aangestel as Sekretaris van die toenmalige Departement van Naturellesake (later bekend as die Departement van Bantoe-administrasie en -ontwikkeling), 'n betrekking wat hy beklee het tot met sy aftrede in 1960. In die jaar is hy benoem tot Kommissaris-Generaal van die Noord-Sothovolkseenheid, 'n amp wat hy tans nog beklee.

Dr. Eiselen het hom op velerlei gebiede onderskei. As student van die Volkekunde en kenner van die Suid-Afrikaanse Bantoe het hy wyd gepubliseer oor die Bantoe en aspekte van sy taal, kultuur en godsdiens. Hy het horn van die begin van sy loopbaan vereenselwig met die beskouing dat 'n intieme kennis van die tradisionele lewenswyse van die verskillende Bantoevolke die grondslag behoort te wees van 'n gebalanseerde program van ontwikkeling tot hoer vlakke van beskawing.

Hy het in 1945 gedien op die Royal Education Commission for Basutoland, en vanaf 1949 tot 1951 as Voorsitter van die Bantoe-onderwyskommissie, in welke hoedanigheid hy 'n aantal state in Oos-Afrika besoek het om eersterangse inligting oor onderwysbeleid in daardie state te verkry. As Sekretaris van Naturelle-sake was dr. Eiselen verantwoordelik vir verskeie verreikende hervormings met betrekking tot Bantoe-onderwys en -administrasie. Ook het hy in 1965 as eerste getuie verskyn in die Suidwes-Afrika-saak in die Wereldhof, Den Haag.

Dr. Eiselen is volle lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, lewenslange ere-lid van die Instituut van Administrateurs van Nie-Blanke-Sake, lewens­lange lid van die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede en lewenslange lid van die Afrika-Instituut.

Die Raad, Senaat en Konvokasie van die Universiteit van Port Elizabeth is dankbaar vir die voorreg om hierdie eerbewys aan dr. Eiselen te kan betoon.