AFSLUITING

Disclaimer Aankondigings

Soveel om te doen, so min tyd (Die Joker, in Superman).

Die dertigste kwadrant van die redakteur se (klein) spinnekopbrein het stadigaan begin registreer dat alles nie pluis is met van die formattering van Onse angeltjie 1(1) nie. Hy het die lêer deurgegaan, hopelik is dié probleem nou uit die weg.

Hy het ook agtergekom dat nie almal rekenaars het met 60 miljoen kleure nie. Hopelik word die 16-kleur probleem mettertyd aangespreek. Bid maar in die tussentyd vir hom.

Inskrywings

Hier het niks nuuts ontwikkel nie. Ons lys groei teen 'n redelike tempo. Inskrywings gee ons 'n idee van hoeveel ernstige lesers ons het.

So, wys jy bestaan en stuur 'n kort e-pos-boodskap aan die sesde agterpoot en kry Onse angeltjie gratis per e-pos (sodat jy dit op jou tyd met jou webleser kan lees).

Nuus

Noudat Diana nie meer met ons is nie, lyk die vooruitsig op opwindende nuus maar redelik skraal. Miskien sal AMOK tot ons redding kom?

'n Ander gebeurtenis wat die nuus vir 'n tydjie oorheers het, was die moontlike sluiting van die Afrikaanse Departement aan die Universiteit van Natal. AMOK het na konsultering met lede 'n protesbrief aan die universiteitsowerhede gestuur. Prof. Ernst Kotzé het ook in sy private hoedanigheid 'n brief van besorgheid aan die Universiteit van Natal gestuur.

Wat de hel is dit met al die Oos-Kaapse goed?Al wat die Oos-Kaap ooit opgelewer het is die 1820 setlaars - wat moes gebly het waar hulle was, en Steve Biko - wat ook moes gebly het waar hy was, dan het hy dalk nog gelewe. Verder is die site ok
phillip@cyberjack.co.za

AMOK se (informele) dagbestuur het die 31ste Oktober in Oos- Londen vergader en 'n hele aantal sake afgehandel. In dié opsig lyk dit asof AMOK wel ernstig is oor die toekoms.

By die vergadering het die volgende, onder andere, ter sprake gekom:

  • Die deelname van AMOK aan die PANSAT-proses in die Oos-Kaap. Lede is van mening dat AMOK 'n rigtinggewende rol kan speel met betrekking tot die Raad vir Afrikaans.

  • Met betrekking tot die opleiding van vertalers en tolke word daar eerdaags 'n bekendstellingsbrosjure verwag van Prof. Annette Combrink van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Die moontlikheid bestaan dat Theo du Plessis 'n Tolkkursus in die Oos-Kaap kan kom aanbied.

  • Die formalisering van AMOK is besig om aandag te kry.

Bedankings

Onse angeltjie het hierdie keer baie mense om te bedank vir hulle vriendelikheid, hulpvaardigheid en entoesiasme. (Bedankings aan die pretbederwers volg in 'n volgende uitgawe.)

Sonder die volgende mense en instansies sou hierdie uitgawe van Onse angeltjie veel valer en oninteressanter gewees het om aanmekaar te sit:

Ann Torlesse, argivaris by NELM (National English Literary Museum), Grahamstad,
Dr. Melanie Hillebrand, Direkteur van die King George VI Kunsmuseum, Port Elizabeth,
Mandla Matyumza, Navorser by BARD (Bureau for African Research and Development), Universiteit van Transkei, Umtata,
Glen Francis, mediadeskundige by BASS (Bureau for Academic Support Services), Universiteit van Transkei, Umtata,
Luyanda Flatela, stelseladminastrateur, Computing Services, Universiteit van Transkei, Umtata.

Die medewerkers, wel, wat kan mens sê? Dit is wonderlik dat mense nog bereid is om iets verniet te doen. Baie dankie.

Onse angeltjie word uitgegee deur Philip John.

Departement Afrikaans
Universiteit van Transkei
Privaatsak x 1
UNITRA
Umtata

5117

Opinies wat in die blad uitgespreek word, reflekteer nie noodwendig die beleid van die universiteit nie.

Kopiereg: Kopiereg word streng voorbehou en berus by die outeurs.
Enige gebruik van die materiaal in die tydskrif vir kommersiële doeleindes sonder die toestemming van die outeur(s) of die redakteur, word nie toegelaat nie.

Tot volgende keer.

KOMPETISIE

Daar is twee literêre kompetisievrae ('n prys word vir elkeen toegeken):

1. Letterkundig:

Dié vraag gaan oor 'n bekende digter, Clinton V. du Plessis, wie se nuutste bundel hierbo geresenseer word.

Die vraag: Wat is die titel en verskyningsdatum van Clinton V. du Plessis se debuutbundel?

2. Histories-semanties

Die redakteur kan nie meer onthou hoe daar op die titel vir die tydskrif afgekom is nie. Hy is egter oortuig dat hy tussen Onse angeltjie se honderdeduisende lesers iemand sal kry wat hom weer by die oorspronklike betekenis kan uitbring. (Onse angeltjie se besigheidspan is tans besig om 'n kontrak met CNN te finaliseer. Indien dié transaksie suksesvol beklink word, sal ons die wenantwoord tydens 'n spesiale gleuf uitsaai en sal daar 'n dokumentêre rolprent oor die wenner gemaak word.)

Die vraag is dus: Wat beteken die titel van die tydskrif, Onse angeltjie? Waaraan herinner dit u? Waaraan dink u as u die titel lees?

Soos met die vorige uitgawe kan jy ook van jou kreatiewe werk inskryf (gedigte, kortverhale, foto's, spotprente, comix, resepte - verkieslik in digitale vorm). Dit sal beoordeel word deur Dr. Phfff wat gebruik maak van 'n metode ontwikkel deur Tibetaanse monnikke om die uitings van leerlingheiliges te beoordeel.

'n Vierde prys kan gewen word met raad of 'n resep oor die voorbereiding van die mitiese blou forel. Vir meer besonderhede, kyk HIERONDER.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 30 April 1998 (jammer jy sal so lank moet wag).

Antwoorde moet gestuur word aan: john@getafix.utr.ac.za

Sterkte!

KOOK EN SPEKSKIET

Die ontwykende blou forel

Na die eerste uitgawe is die redaksie van Onse angeltjie met 'n redelik netelige probleem gekonfronteer - hoe om die kulinêre kragtoer in die eerste uitgawe te ewenaar. Ons inwonende deskundige, Dr. Phfff, het toe 'n aantal van sy geheime kontakte uit die keuken-onderwêreld byeengekry vir 'n kosberaad by 'n onbekende plek. (Onse angeltjie het later vertroulik verneem dat dié byeenkoms plaasgevind het op 'n afgeleë strand iewers op die Wilde Kus waar die delegasie, so is ons vertel, onder andere 'n dolfynkalfie verorber het.) Dr. Phfff het teruggekeer van dié samekoms met die idee dat Onse angeltjie moet probeer om 'n blou forel aan die lesers te bied.

Ek het nie gedink dat dit 'n probleem sou wees nie. Dis 'n projek wat ek maklik in my (redelik strawwe) forelprogram kon inpas. Daar was egter een klein probleempie - Dr. Phfff wou nie sê hoe 'n blou forel voorberei word nie. Ek het 'n boek oor forelhengel, Tom Sutcliffe se My Way With a Trout , asook twee kookboeke, een Frans en een Duits, geraadpleeg. Die aanwysings was vaag en teenstrydig. Duidelik het dit iets te make met asyn en die slymlagie op die vel van 'n forel.
Forelete
Brekfis (met die KwaMatiwana in die agtergrond)

Bewapen op die gewone manier is ek om vyfuur die eerste Saterdagoggend weg na Mabelenidam, veertig kilometer buite Umtata. Met 6 AFTMA en DT6S sou ek hulle in die pot kry, d.w.s. met 'n nommer 6 stok en 'n dubbelafgespitste (double-taper) lyn van ses grein wat sink (S). Vir die punt van die voorslag gebruik ek 'n gevaarlike dun 4 pond lyn.

Na ses ure, niks. So ook die volgende naweek. Eers die volgende Woensdagmiddag slaan die lyn vas en haal ek 'n mooi reënboog uit die water. Later sit ek onder die denne en wag dat die pot water kook. Benewens die water is daar ook peper, uie, lourierblare en 'n halwe liter asyn in die pot. Toe die water begin kook, plaas ek die forel versigtig daarin. Na omtrent vyftien minute (ek het nie 'n horlosie by my nie), haal ek die forel uit en plaas dit op die bord wat ek saamgebring het.

Die forel het egter nie juis blou vir my gelyk nie. (Dit was wel smaaklik).

Onse angeltjie wend hulself dus nou tot ons lesers, met die volgende vraag (kyk ook Hierbo:

Hoe kry mens 'n forel blou?

Die leser wat die beste (of interessantste raad/resep gee, wen 'n boekprys).

Philip John
Umtata


Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/admin2.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]