DEEL 2 - Resensies

RESENSIES: Kliek op die foto's

Monica
Peters - EKM Dido Taxi Tussentydse verslag - Clinton V. du Plessis

Disa disa - Peet Venter

Koëel
deur die kerk

Kort van draad - Clinton V. du Plessis

Binnebouddans - N. Tredoux


'N STORIE VAN NOG 'N "STIL" VROU

lyn

Die storie van Monica Peters deur E K M Dido (1996)

Die verhaal vertel die storie van Monica Peters - 'n vrou wat baie name genoem is: Meidjie,Ma, Madam, Mevrou, Mona Richie, die vyand van die regering. Die naam waaraan sy die meeste waarde geheg het, was Ndlovukazi , die vrou van Ndlovu, die Olifant. Ndlovu is die naam wat haar blanke man verdien het as vegter teen apartheid.

Die storie van Monica Peters begin op 'n piepklein Transkeise dorpie in die vyftigerjare wat in bykans ongeloofwaardige terme verromantiseer word. "Kom, laat ek julle deur die straat van my herinneringe lei", begin die storie (p. 15). Inderdaad word die leser uitgelewer aan die aard van 'n herinneringstog: daar word gefokus op 'n karakter se persoonlike sentimente, skerp hoeke van 'n verlede word soms afgestomp, soms

Buiteblad - Die storie van Monica
Peters
oorbeklemtoon, en tyd - en ruimtelike belewinge - strek en krimp vanuit die interne perspektief. Die hoofkarakter het te vertel dat sy oortuig is daarvan dat "God die inwoners as 'n voorbeeld vir die wêreld daar gesit het sodat almal kon sien hoe mense van verskillende rassegroepe, kulture, gewoontes en geloofsoortuigings saam in liefde en vrede kan leef; hoe wedersydse respek vir 'n persoon se naam en besittings alles behels wat Sy Seun ons leer: Bemin jou naaste soos jouself" (p. 15). So word die verbrokkeling van hierdie idille toegeskryf daaraan dat God die dorpie aan 'n "slaperige engel" (p. 15) toevertrou het wat onbewus was van die duiwel wat los begin rondloop het. Die duiwel het in die gestaltes van die nuwe magistraat en sy vrou kom skuil wat aangespreek wou word as "Baas Richmond" en "Miesies". En soos tragiek dit bestem, raak Monica, die slim, bruin tienermeisie, verlief op die Richmonds se enigste seun, Eric, wat Xhosa, Zulu, Tswana, Tsonga, Sotho en natuurlik Engels en Afrikaans vlot kon praat (p. 40).

Die koms van die magistraat kondig ook al die implikasies en komplikasies van apartheid aan - die skoolkinders word verdeel in swart, bruin en blanke groepe, Antie Mieta, die medisynevrou van die dorp se vrye beweging onder die inwoners word ingeperk, die polisie, "wat nooit enige probleme gegee het nie" (p. 17), word wrede vervolgers, Swartes, Kleurlinge en Asiate word uit hulle groot huise en uit die dorpsgebied gestoot en oral verskyn "Slegs vir Blankes"-kennisgewings.

Eric kan hom geensins met die onderdrukking versoen nie en openbaar sy lojaliteit deur die tradisionele besnydingseremonie saam met sy ander Xhosa-vriende deur te maak en verdien as't ware die naam, Ndlovu. Ondanks die ongelukkige politieke omstandighede groei Monica en Eric se liefde en moet hulle kragtens die Ontugwetgewing in Swaziland gaan trou en daarna apart leef. Eric raak aktief betrokke by die ondergrondse stryd teen apartheid en betrek Monica se pa by die versteking en verspreiding van propagandistiese pamflette. Monica raak swanger en word saam met haar man deur die politieke werklikheid van die vyftigerjare gesleur. Hulle gee pad uit die dorp, skuil vir vier jaar in Johannesburg en vlug later deur Mosambiek en Swaziland na Brittanje waar hulle vir vyf en twintig jaar as uitgewekenes in Londen bly waartydens Eric vir die ANC werk. Terwyl sy lewe opgeneem word deur die bevrydingstryd, bly Monica meer gerig op die huislike: sy skenk geboorte aan vier kinders, studeer verder en leef as't ware uit haar diepe liefde vir haar man.

Na vyf en twintig jaar van ballingskap keer hulle terug na die Nuwe Suid-Afrika waar Eric in 'n sluipmoordaanval sterf.Monica keer terug na die dorpie waar sy grootgeword het en trek in die huis in wat 'n blanke weldoener uit haar kinderjare aan haar bemaak het. Sy probeer haar verlies verwerk deur gemeenskapsdiens te lewer aan die inwoners wat ontredderd gelaat is nadat werksgeleenthede in die dorpie verdwyn het.

Die storie word aangebied as 'n vertelling wat Monica se dogter, Elizabeth, op band geneem het tydens president Mandela se eerste openbare optrede op die Kaapse Parade in 1994. Die roman begin en eindig met verwysing na hierdie historiese insident. Tussen hierdie twee teksgedeeltes, wat nie deel vorm van die hoofstukverdeling nie, lê Monica Peters se eerstepersoonsvertelling oor haar lewe tydens fel apartheidsjare in Suid-Afrika. As gevolg van die gemoedelikheid wat die vertelling kenmerk, boet die roman in wat tegniese aspekte soos die opbou van 'n stewige spanningslyn en karakterontwikkeling aanbetref.

Uit haar vertelling blyk dit dat die hoofkarakter nie integraal deel van die versetstryd was nie, maar voortvlugtende geraak het vanweë haar sodanige ongeoorloofde liefde vir haar blanke man. Sy ontsnap nie die tradisionele rolle van vrou, geliefde en moeder nie, en die oordrewe fokus op haar persoonlike werklikheidsbelewing verskraal die potensiaal dat hierdie karakter kon groei tot nog 'n beduidende vrouekarakter in die Afrikaanse literatuurwêreld. Dit is onwaarskynlik dat die roman gewoon 'n liefdesverhaal wil wees as die swaarwigtige agtergrond van politieke konflik in ag geneem word. Die ander karakters ontsnap ook nie die stereotipering wat hulle toegesê is nie en die leser wonder met reg wie ooit skuldig aan onskuld kan wees. Die teksgedeeltes wat tref, is juis die gedeeltes waarin die kleindorpse en kleinburgerlike herinnerings van die hoofkarakter gedeel word. Aan hierdie gegewens word dan ook die meeste verteltyd toegestaan. Wanneer die omvang en impak van die versetstryd wat die bepalende invloed op die karakters se lewe was, ter sprake kom, verslap die vertelling tot oorsigtelikheid.

Die skrywer het 'n groot speelveld uitgelê vir haar debuutwerk: die vrou en die Suid-Afrikaanse politieke werklikheid van die afgelope veertig jaar. Sy het vir haarself geleentheid geskep om die vrou, spesifiek die bruinvrou in Suid-Afrika, as slagoffer of oorwinnaar van 'n politieke- en geslagsbestel te teken. Maar die hoofkarakter groei nie suksesvol uit haar gelatenheid nie. Die karakters word as uitsluitlik goed of sleg uitgebeeld en verloor menslikheid - die allerbelangrikste eienskap vir 'n karakter om te bly lewe in die denke en gemoed van die leser. Die storie van Monica Peters is 'n noemenswaardige gebeurtenis vir die Afrikaanse literatuur : dis die eerste keer dat 'n swart vrou 'n roman in Afrikaans publiseer. Soveel meer kon deur hierdie aangrypende verhaal tot stand gebring word.

Die storie van Monica Peters word uitgegee deur Kwela Boeke. 223 bladsye. R39,95.

Resensie deur Christelle Feyt,
Departement Afrikaans, Vista,
Port Elizabeth

Terug na buiteblaaie


Eg menslik vasgevang in wellus en onbeantwoorde liefde

Disa disa - Peet Venter (1996)

Na die lees van hierdie roman voel ek myself gedwing om weer opnuut die Afrikaanse boekrak in boekwinkels te besoek.

Die roman het genot verskaf in die opsig dat dit 'n afwisseling bied van die meeste hedendaagse werke wat primêr om die politieke situasie verweef word. Daar is tog wel van ons wat nie noodwendig elke keer wil lees wat ons leef nie !

Die roman skop af met 'n aanhaling uit Raka (N.P. van Wyk Louw) wat vooruit wys na die oeroue tema wat hier vergestalt word, naamlik die stryd tussen goed en kwaad. Ook in hierdie stryd speel liefde 'n belangrike rol in die poging wat aangewend word om die bose te oorwin.

Buiteblad - Disa disa
Die karakters is almal pionne soos in die legende van die enkeltweeling met die tweelingsiel waar 'n tweeling geskei word by geboorte. Een van die tweeling word as menslike offer gebring . Die oorlewende lid word dan binnegedring deur die siel van die geofferde - vandaar die term : die enkeltweeling met die tweelingsiel. Die legende word in die voorwoord vertel en verskaf daardeur die nodige agtergrond vir die leser.

Naamgewing is 'n verdere bevestiging van die legende se invloed op die karakters en intrige wat vergestalting vind in 'n sirkelgang wat telkens terugkeer na die Grot van Stemme waar voorspellings en waarskuwings aan karakters gegee word: "Al het jy die skerpioen se kop verbrysel, het jy hom nog nie oorwin nie. Moet nooit van die angel in sy stert vergeet nie." (p. 11)

Al die karakters is op een of ander wyse eg menslik vasgevang in sekere beperkings soos talent, onbeantwoorde liefde, wellus en moordgenot.

In die epiloog bind die skrywer alle loshangende drade tot eenheid en skep boonop ook die moontlikheid van 'n opvolg-roman.

Disa disa word uitgegee J.P. van der Walt.

Resensie deur Francika Vorster
Departement Afrikaans
Transkei Onderwys Kollege
Umtata

Terug na buiteblaaie


Poësie wat mens voel

Tussentydse verslag - Clinton V. du Plessis (1996)

Aan die einde van Twee sinne, 'n vergete 'boekie' deur Dan Roodt, sê die 'verteller,' as implisiete kommentaar op die teks waarin hy verskyn: "...en hulle sal 'n manier bedink om hierdie tekens te vermy" (p. 50).

Dié woorde kan netso van toepassing gemaak word op Clinton V. du Plessis se poësie, beide wat betref die betekenis opgesluit in die woordjie 'tekens' en

die vermyding daarvan deur die literêr-kritiese establishment. Du Plessis se werk is 'tekens' in die konvensionele sin van die woord - letters, woorde, sinne, digvorms. Sy werk 'beteken' duidelik ook intertekstueel - vir die wat wil soek is daar verwysings na en/of eggo's van Cloete, Van Wyk Louw, Opperman, Ingrid Jonker, Wopko Jensma, Johan van Wyk.

Gedig
Ook meer byderwets na Kurt Cobain, Charles Manson, en so aan. Daar is verder baie humor in die verse: wisselend van die satiriese, sardoniese, skatologiese, en die sommer plein snaakse. Terselfdertyd is sy poësie ook 'tekens' in 'n meer eskatologiese (en selfs apokaliptiese) sin van die woord, duidende op iets 'buite' die literêre. Die betekenis wat dit bring, waarop dit dui, is nie uitsluitlik literêr nie en kan nie met die gebruik van die term 'literêr' gestabiliseer word nie.

Een betekenis wat 'buite' hier het, is as verwysing na die 'liggaamlike,' wat in 'n verskeidenheid vorme in Du Plessis se tekste voorkom. Sy gedigte appelleer op 'n verskeidenheid vlakke 'liggaamlik' tot die leser - deur die tipografiese eksperimente, die verwysings na die seksuele, kru taalgebruik, ensovoorts. Mens voel Du Plessis se gedigte.

Hierdie 'liggaamlike' ingesteldheid kom die duidelikste na vore in sy latere werk, veral vanaf In God's Country - No 2- 21 - vandat hy 'bevry' is (of so lyk dit) van gevestigde uitgewers. In sy nuutste bundel Tussentydse verslag, gepubliseer in 1996, is dié 'liggaamlikheid' weer eens teenwoordig in 'n verskeidenheid vorme. Tussentydse verslag voer die faset van Du Plessis se poësie egter tot 'n nuwe hoogtepunt, wat veral deur die omvang van die bundel - tien bladsye, tien gedigte - in die hand gewerk word.

'n Duidelike 'teken' - dié omvang van die bundel. Dit sluit aan by 'n sentrale tema van Du Plessis se werk, te wete die sinloosheid van die bestaan - daar is nie veel om oor verslag te lewer nie (en wat daar is, is oor die algemeen ontstellend). Tegelykertyd wek die beperkte omvang van die bundel iets anders - 'n intense verlange. Die radikale beperking van die omvang van die bundel gee konkreet vorm aan 'n besef dat daar 'n gemis is, dat iets afwesig is. Om dit paradoksaal te stel, wat afwesig is, is poësie, die liriese.

Die belangrikste manier waarop Du Plessis dit regkry om die poëtiese te aktiveer en terselfdertyd op te hef, is deur die gebruikmaking (of 'herbenutting') en hersirkulering van 'vondse' uit die moderne samelewing: frases, aanhalings, kleinadvertensies, finansiële state, poplirieke, slagspreuke, graffiti. Die detritus - baiekeer banaal - van die moderne wêreld verskaf van die belangrikste boustowwe vir Du Plessis. Dié hersikulering van die uitskot van die moderne wêreld blyk 'n uiters effektiewe manier te wees om die malaise waarin ons leef grafies te konkretiseer (en die leser - soms- tegelykertyd te laat wanhoop, lag en grinnik).

Du Plessis se poësie laat mens baie duidelik voel en sien dat die enigste 'respektabele' manier om poësie in die moderne samelewing te 'beoefen', sou wees om op te hou dig. Sy poësie is dus 'n skreiende aanklag teen die dik volumes gemoedelike, gemaakte, huishoudelike poësie wat in Afrikaans gepubliseer word. Dit is ook 'n aanklag teen die reïfisering en kommodifisering waaraan ons in die moderne samelewing blootgestel is, teen die rasionalisering van die gees en die vlees. As jy weer wil VOEL, hier is poësie vir jou.

Tussentydse verslag word uitgegee deur Gatsak-gedigte en kos R6.00, alles ingesluit.

Resensie deur:
Philip John
Universiteit van Transkei

  • Om 'n gedig uit Tussentydse verslag te lees, kyk hier.

  • Die kompetisievraag vir hierdie uitgawe van Onse angeltjie gaan oor Clinton V. du Plessis. Kliek hier vir meer besonderhede.


Terug na buiteblaaie


Dolliewood se toorgoed

Die binnebouddans en ander spulshede ,
deur Nic Tredoux (1996)

Die titel van Nic Tredoux se eerste kortverhaalbundel, Die binnebouddans en ander spulshede, beloof ritmiese lekkerleesgeite, op die maat van eeu-oue musiek. 'n Kortverhaalbundel, soos die flapteks aandui, kan dit seker genoem word. Tog is die karakter van Septimus Hoogenboezem, oftewel Onse Seppie, 'n deurlopende gegewe wat die kortverhale meer soos hoofstukke by mekaar laat aansluit.

Onse Seppie is 'n Meneer Doodgewoon, 'n Jan Rap wat juis vir sy gewoonheid deur 'n advertensiemaatskappy genaamd Dolliewood uitgesoek word om 'n potente seksopkikker aan die wêreld se minder talentvolles bekend te stel. In die reklamewêreld kry hy ook met ander karikatuuragtige persoonlikhede te doen, waaronder Dollie en Blondie.

Illustrasie - Andries Maritz

Die transformasie van
Septimus Hoogenboezem
(Illustrasie deur Andries Maritz)

Die reklamewêreld is natuurlik by uitstek 'n bedryf wat op die vestiging van hiperwerklikhede gedy. Hier geld die beginsel van simulasie stellig sterker as in meeste ander dissiplines en word die eens onhaalbare objek van begeerte binne die gewone mens se bereik geplaas. Hiervoor is Onse Seppie, 'n nabootsing van Woody Allen, en Blondie, die ewebeeld van Marilyn Monroe, uiteraard 'n gedugte kombinasie.

Dié tweetjies laat die volk na sy asem hyg, al is dit dan ook net tydelik tot die wondermiddel se potensie uitgewerk het. Maar wanneer dit werk, werk dit soos 'n droom. Die binnebouddans en ander spulshede is daarom 'n soort ontsnappings-

Illustrasie - Andries Maritz
Illustrasie deur Andries Maritz

vlug, 'n verbeeldingswêreld waar alles moontlik raak. Die aanslag is deurgaans tong in die kies, humoristies en sonder enige voorwendsel om hogere literatuur te wil wees.

Dis leesstof vir almal wat wíl, almal wat kán en almal wat wil weet hoé. Dis nou te sê as jy glo in Dollywood en die toorgoed wat sy adverteer.

Die binnebouddans en ander spulshede word uitgegee J.P. van der Walt Uitgewers. (ISBN: 0 7993 2390 X) en kos R39.95.

Resensie deur P.C van der Westhuizen
Department of Media Studies
Universiteit van die Noorde
Pietersburg

Terug na buiteblaaie


Bundel bied toeganklike kaleidoskoop

Taxi. Staanplek-stories .
byeengebring deur G.A. Jooste (1996)

Taxi: Staanplek-stories is 'n bundel kortverhale wat primêr vir die tersiêre student saamgestel is, met as eerste prioriteit die aanspreek van gapings en probleme wat kenmerkend van die onderrig van kortprosa is.

Hierdie versameling is ook 'n poging om 'n keuse te maak uit die kortverhale van Suid-Afrikaanse skrywers met as teikenmerk daardie groot groep Suid-Afrikaanse studente wie se huistaal nie Afrikaans is nie. Dit verklaar miskien die insluiting van 'maklike' verhale wat blote beskrywings is. Net soos Suid-Afrika 'n verskeidenheid van taalregisters en kleure vertoon, is hierdie bundel 'n kaleidoskoop van Afrikaanse kortverhale. Die bundel is ook bedoel om die

Buiteblad van Taxi. Staanplek-stories
genieting van Afrikaans aan te help, onder meer deur alle leergierige storieliefhebbers genot te verskaf.

Die leser word deur middel van stories wat by die taxi- staanplekke gehoor is, deur verskeie dele van ons kontrei vervoer. Dus word ons deur die lengte en breedte van ons varierende landskap vervoer: vanaf die armsalige "blou en bruin en kleurlose gehuggies" by die Ngoye-heuwels; "verby moeë, hygende honde, brandmaer katte, swart kinders en paaie vol gruis en klippe"; die Transkei waar dit "volgens die radioberigte [...] ysig koud in die Oostelike Provinsie en omstreke (was)"; die droë rooi stof van Njoli square tot binne in die townshp sjebiens. Soms staan die mense in harmonie met hulle omgewings, soms word hulle daardeur uitgedaag of bedreig.

Die verhale is toeganklik en verteenwoordig 'n groot aantal temas wat die student se visie en werêld sal verryk en verruim. Van die temas is o.a. rassisme; die geboorte van die Nuwe Suid-Afrika en die veranderinge wat daarmee gepaardgaan: taalvariëteite; die armoede van die plattelanders en township bewoners; die lot van die weerlose rykes teen die genadelose en gewetelose misdadigers; kolonialisme en liefde vir musiek word verken.

Eenvoudige verhale wat aan min van die konvensies van kortprosa voldoen, sowel as meer verwikkelde verhale van goeie literêre waarde is hierso opgeneem, wat gesoute 'ou' en 'n paar belowende 'nuwe' skrywers se werke insluit: hieruit het 'n praktiese, omvangryke bundel ontstaan.

Die bundel word uitgegee deur J.L. van Schaik Uitgewers

Resensie deur G.G. Naicker
Departement Afrikaans
Universiteit van Transkei
Umtata


Geduld beloon

Kort van draad deur Clinton V. du Plessis (1997)

Jy weet, daar is darem allerhande soorte op hierdie wêreld. Kyk nou, hier kom my vriend Philip met dié boekie hier aan en vra my om dit te lees. Ek is 'n besige vrou en kan skaars deur die Keur kom. En daarby wil hy hê dat ek iets moet skryf. Nou ja, wie het nou weer gesê, skryf is soos seks: eers doen jy dit vir jouself en die plesier, dan vir jou vriende, en uiteindelik, wanneer jy 'n reputasie begin kry,

Buiteblad - Kort van draad vir die geld. Vra my, ek weet.

In elk geval, dit was nie tyd mors nie. Die tien 'verhale' in die bundel lees baie maklik, ook omdat dit so eerlik geskryf is. Van die woorde en situasies wat beskryf word, sal seker vir party lesers ontstel, maar nou ja, dis hulle saak. (Hulle kan altyd na my toe kom om getroos te word - Philip het gesê hy sal die nommer vir belangstellendes gee.) Die boek het my nogal laat dink aan nog so 'n kort boekie van San Francisco se Manic-D Press wat ek lank terug gelees het, naamlik Bana Witt se Moebius Stripper. Dieselfde neutrale, objektiewe toon word gebruik om onaardige situasies wat te make het met seks, te beskryf.

En jong, dis waar ek nou nie so mooi weet van daardie stuk agterin die bundel wat geskryf is deur 'n akademikus nie. Hy klink so érnstig. Hy is reg as hy skryf oor die "volslae nihlisme," "sinloosheid," "seks wat niks met liefde te doen

het nie" in Du Plessis se werk. Maar ek dink hy kyk iets mis. In sy nuutste digbundel skryf Du Plessis van parlementslede wat "soos ou hoere [stoot] net vir die geld." In die verhale is daar oomblikke waar mense nie net "stoot vir geld" nie. Kyk dié akademikus dalk nie oomblikke van 'liefde' en teerheid in die verhale mis nie? Soos die woorde van 'n liedjie van The Jesus en Mary Chain sê: "there is a little warmth in everything..."

En jy weet, ek dink hierdie soort boekie kan baie goed doen. Op die oppervlakte lyk dit lig in die broek, maar soos alles in die lewe, beloon dit geduld en aandag. Daar is patrone, gesprekke wat tussen die verhale aan die gang kom, as mens dit net genoeg tyd en aandag gee. Dit is miskien júís een van die voordele van die kortheid van die verhale - dit help om jou aandag te konsentreer. 'n Te haastige en simplistiese lesing van die verhale is net so erg soos die vinnige chauvinistiese verkleinering van ons meisies wat mens (en hiervan kan ek uit ervaring getuig) by baie mans - en vrouens - kry.

Dit gáán nie altyd net om geld nie - daar is ook 'mooi' oomblikke in die verhale - die soene (6, 9, 13), die kyk na 'n naakte, slapende vrou (13), 'n tjek wat nie gewissel word nie (9).

Kyk so daarna: in die een storie, ek dink dit is "Boeretroos," sê die meisie sy verkies ouer of gekleurde mans, want jong mans weet nie hoe om met 'n vrou te werk nie - "....hulle performance is al waaroor dit gaan. Dis net in uit, op af, klaar genaai en koebaai" (12). Nou dink ek hierdie stories kan dalk op die manier 'n opvoedende funksie vervul - miskien moet alle haastige en onsensitiewe mans/mense eers gedwing word om lank met hierdie stories te sit, totdat hulle begin sien hoe 'n stadige, geduldige aanslag op die ou end baie meer beloon.

Dié verhale vertel ons verskriklik baie van ons moderne samelewing, van die vervreemding, die eensaamheid, die behoefte aan 'veilige' opwinding wat ons soek, maar ook die wonderlik paradoksale jukstaposisies wat daarin voorkom, soos in die volgende uittreksel:

Sy begin liggies kreun en stoot haar heupe teen my aan. Ek probeer hard om te konsentreer, ek dink aan die goudprys, aan die geweld, aan die land se toekoms sonder Mandela, die rasende verkeer buite (13).

Ek kan dié boekie heelhartig aanbeveel vir almal wat van ernstige en betekenisvolle 'obseniteit' hou, vir wie moraliteit nie gelyk te stel is aan eenvoudige formules nie.

Kort van draad kos word uitgegee deur Gatsak-gedigte en kos R20.00 (alles ingesluit)
ISBN: 0-620-21622-0
16 bladsye

Resensie deur
Nina van Charlie's Escorts,
Madeira Straat
Umtata

Terug na buiteblaaie

Maklik om te geniet of te haat

Die koëel is deur die kerk deur Peet Venter (1997)

Daar was 'n tyd in die letterkunde, en ek praat veral van die Engelse letterkunde, toe daar na mense verwys is as, byvoorbeeld, "Mrs T... from the town of L." So kon mev. Temple van Londen nie 'n eis instel weens naamskending nie. Maar ander dinge is ook verdoesel - soms heeltemal en soms op so 'n manier dat mens goed geweet het wat die skrywer regtig wou skryf, omtrent op die manier wat sommige koerante dit deesdae doen.

Peet Venter wend hierdie laaste metode aan op 'n besondere manier in sy bundel sketse, met die gedagte dat dit grappig moet wees: "Al's 'n m'ns ver v'nnie hysh 'f, g'dra m'ns jou nie s' 'n f'kk'n v'rk nie, D'm'nie!" getuig ene Daan. Dit is soos om Hebreeus te lees - sonder die hulp van die vokale tekens! Daan, verneem ons, is 'n man wat dit moeilik vind op die strand aangesien "klein-Daan" in opstand kom as Daan hom verkyk aan die mooi, byna kaal meisies om hom en hy in die verleentheid is omdat die teken van sy opwinding duidelik sigbaar is. Om die waarheid te sê, sy handdoek sal aan hierdie semiotiese teken kan hang.

Die toon van die publikasie word vroeg reeds gestel. Die verteller beskryf dit so: "watter gewig sou dit dra as ek na [sy] anus verwys het, en vir Boet versoek het om te gaan ekskreteer of sy endderm te evakueer, of selfs om sy opelyf te gaan hê? Liewe land, dis mos nie Afrikaans nie!" Inderdaad. Wat wel problematies is, is die feit dat daar aanvaar word dat die Afrikaner maklik lag as daar 'n "moer" hier Illustrasie deur Andries Maritz
Illustrasie deur Andries Maritz
gebruik word, 'n "uitgekak" daar, ensomeer. Komiese skrywerk is nie so eenvoudig nie, en die nasionale psige van 'n volk ook nie. Of is dit?

Dit is nie moeilik om hierdie kort sketse te geniet nie - maar die omgekeerde is ook waar.

J P van der Walt. 1997. 111 p. ISBN: 0 7993 2349 7. R29.95

Resensie deur Jo Nel
Universiteit van die Noorde
Pietersburg


UITGEWERS

Die boeke wat hierbo geresenseer is, kan by die volgende adresse bekom word:

Gatsak-gedigte
Posbus 547
Cradock
5880

e-pos: gatsak@eastcapenet.co.z a (skryf sommer nou)

telefoon: 083 2596793

J.P. van der Walt en Seun
Posbus 123
Pretoria
0001

e-pos: jpvdwalt@iafrica.com

telefoon: +27 (0)12 325 2100

Kwela Boeke
Posbus 6525
Roggebaai
8012

e-pos: kwela@nbh.naspers.co.za

telefoon: +27 (0)21 4063191

J.L. van Schaik Uitgewers
Posbus 12681
Hatfield
Pretoria
0028

telefoon: +27 (0)12 342 2765