DEEL 3

Artikels

1. Waar is die "alternatiewe Afrikaners" 'n dekade na Boereblues en Voëlvry?

Gedagtes oor Koos Kombuis in die Baai
.............................................................. ...deur Mariana Kriel

2. Streek en teks in die Oos-Kaap

Aflewering twee van 'n oorsig oor Oos-Kaapse literatuur
- Thomas Pringle en die boesmans
.............................................................. .......deur Helize van Vuuren

3. Digters en skurke

'n Onderhoud met Johan Myburg
.................................................... ......................deur Philip John

4. Die Kammanasie verewig in roman

Klawervier deur Annelie Botes
....................................................deur Louise Liebenberg
5. Die Xhosa mondelinge digter as sosiale en politieke kommentator

Poësie in 'n Afrika-toonaard
.............................................................. .......deur Russell Kaschula


Waar is
die "alternatiewe Afrikaners"
'n dekade na Boereblues en Voëlvry?

Mariana Kriel
Port Elizabeth

In die Mail & Guardian van 17-23 Oktober 1997 vra Dror Eyal en Greg Bowes die vraag in 'n kontroversiële cover story (kontroversieel juis vanweë die cover: 'n full-frontal naakfoto van The Mud Ensemble se Juliana Venter): "What has happened to South Africa's 'alternative Afrikaners'?" 'n Dekade na Boereblues en Voëlvry is dit miskien 'n tydige vraag.

Waar Ąs die "alternatiewe Afrikaners" vandag? For starters, het hulle homepages. By http://www.lia.net/agrobler/bomskok.htm. kry jy Koos Kombuis s'n vanwaar jy kan ingaan op onder andere Valiant Swart (vir wie se musiek Koos erken hy baie respek het). Daar is inligting oor optredes en dié word gereeld opgedateer, maar wat opdatering dalk die nodigste het, is die Ou-Suid-Afrika-titel van dié "on-offisiële Koos Kombuis homepage": BOMSKOK BABBELAAS.

Ter agtergrond, waarskynlik onnodig: Boereblues was die kabaretreeks wat Koos Kombuis (toe nog André Letoit) en Johannes Kerkorrel gedurende 1987 aangebied het in plekke soos die Black Sun en Club 58 in Johannesburg. Daarmee het die sogenaamde alternatiewe Afrikaanse musiekbeweging momentum gekry om op 25 Maart 1988 in die Pool Club (ook in Johannesburg) 'n hoogtepunt te bereik met die Eerste Alternatiewe Afrikaanse Rockfees/-konsert wat deur nagenoeg 900 mense bygewoon is en destyds in The Cape Times (1 Julie 1988:8) beskryf is as "a (sic) unprecedented orgy of Afrikaner anarchy". By die fees het opgetree Letoit en Kerkorrel se Gereformeerde Blues Band, Bernoldus Niemand en sy groep, Die Swart Gevaar, asook groepe soos Koos, The Genuines, Die Kêrels en Wat is die nuus? Dié Afrikaanse bands se alternatiwiteit was in die eerste plek daarin geleë dat anti-apartheids- en anti-establishmentprotes die basis van hulle lirieke gevorm het.

Lees verder


STREEK EN TEKS

'n Oorsig oor Oos-Kaap literatuur

Deel II: VROEË OOS-KAAP TEKSTE

Thomas Pringle (1789-1834)
en die Boesmans

Helize van Vuuren
Port Elizabeth

In 1820 het Pringle as leier met 'n groep van sy familie as setlaars na die Oos-Kaap gekom. Die ekonomiese depressie in Groot-Brittanje en die gloeiende advertensie aldaar vir die landbou-potensiaal van die Oos-Kaap was die sterkste dryfvere vir die groep se koms. By hul aankoms in Algoabaai beskryf Pringle die toneel:

Around us in the west corner of the spacious bay, were anchored ten or twelve large vessels, which had recently arrived with emigrants (...) Directly in front, on a rising ground a few hundred yards from the beach, stood the little fortified barrack or blockhouse, called Fort Frederick (...) At the foot of those heights, nearer the beach, stood three thatched cottages, and one or two wooden houses (...)

Party after party were conveyed safely and rapidly through the breakers by the surf boats (...) and then borne ashore (...)The beach was all alive with bustle and confusion, and the boisterous hilarity of people who felt their feet on firm ground for the first time after a wearisome voyage (...) Bargemen and soldiers were shouting to each other across the surf. Tall Dutch-African boors, with broad-brimmed white hats, and huge tobacco pipes in their mouths, were bawling in Colonial-Dutch. Whips were smacking, bullocks bellowing, wagons creaking; and the half-naked Hottentots, who led the long teams of draught oxen, were running, and hallooing, and waving their long lank swarthy arms in front of their horned followers (...)

(Narrative of a Residence in South Africa, 1835: 8- 10)


Aankoms van 1820 Setlaars
Detail van "The landing of the British Settlers in Algoa Bay in the year 1820" deur Thomas Baines (1852).
(Met vriendelike vergunning van die King George VI Kunsgalery, Port Elizabeth)

Aan die Baviaansrivier in die Tarka, waar die Slagtersnek- rebellie kort te vore plaasgevind het, is die Skotse setlaars uiteindelik (na 'n twee weke lange reis per ossewaens oor olifantpaaie) gevestig op grond wat hul herdoop het as Glen Lynden. Die regering had as doel met hierdie vestiging aan die oosgrens die vorming van 'n buffersone tussen die Xhosa en die Kaapkolonie.

In Suid-Afrikaanse konteks is Pringle veral bekend as die vader van Suid-Afrikaanse Engelse poësie. Sy literêre roem is te danke aan African Sketches (1834), in 1989 gepubliseer as African Poems of Thomas Pringle. Ook die outobiografiese Narrative of a Residence in South Africa (1835), waarin hy sy wedervaringe tydens sewe jaar in die land (1820-1826) beskryf, bied vandag nog insig in die era van dié digter-boer en filantropiese joernalis. Na oprigting van die eerste drukpers in Kaapstad, het Thomas Pringle daar betrokke geraak in die redigering en uitgawe van die South African Journal en later saam met Greig die uitgawe van The South African Commercial Advertiser. Hy het hom beywer vir die vryheid van die pers, en die beëindiging van slawerny (wetlik bekragtig in 1834, net maande voor Pringle se vroeë dood aan tuberkulose in Londen, waarheen hy terug is in 1826).

LEES VERDER


DIE SKURK-DIGTER VAN OOS-LONDEN?

'n Onderhoud met Johan Myburg


I am large. I contain multitudes.
(W. Whitman)

Philip John
Umtata

Ek kom vroeg in Oos-Londen aan en gaan soek tee by die Wimpy. Dié word gerestoureer en ek sit maar langs die see om die tyd om te kry. Wanneer ek opstaan, begin die wind opsteek. Daar is 'n on-Oktoberse byt in die lug. In die straat voor Johan Myburg se huis staan die Jakaranda-bloeisels helder pers teen die verdonkerende lug. Ek wonder hoe die pad Umtata toe lyk. Op die sypaadjies lê matte pers bloeisels, drup nog aanhoudend van die bome af. Verwese, verflenterde mense drentel voor my oor die straat, breed soos dit net in Oos-Londen kan wees.

Op pad het ek probeer dink wat ek hom nou eintlik gaan vra. Sy bundels het ek 'n paar keer deurgelees: Vlugskrif van 1984 met meesal kort, strak-intense moment-gedigte in en Kontrafak van 1994 waarvoor hy die Eugené Marais- prys gekry het. Hier het ek gedink, ja, dié poësie verskyn in 'n verskeidenheid gedaantes: dit funksioneer as beswering teen die Bose, maar wortel ook in die Bose (soos by Salman Rushdie se Satanic Verses); die ekstatiese, visionêre word in die

alledaagse gevind en die profane relativeer omgekeerd die ekstatiese, sakrale; daar word vrae gevra oor die digkuns. Miskien is hier 'n paar vrae.

Bo die voordeur is die beroemde woorde uit die Middeleeue in groot letters gegraveer:

Johan Myburg
Johan Myburg
olla vogala hebban nestas.... Hy maak die deur oop, lank en skraal, en lei my oor warm oregon-den houtvloere na sy studeerkamer. Ek sê maar dat hy verras en geamuseerd geklink het toe ek oor die foon met hom gepraat het. Hy lag verontskuldigend.

Later ontspan die tee wat hy aanbied my en kom ons aan die gesels tussen die boeke wat tot teen die plafon staan: sielkunde, musiek, Afrikaanse letterkunde, Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde, filosofie (daar moet sekerlik ook teologie wees, dink ek).

Ons praat oor wat ons miskien deel - die geïsoleerdheid van die oostelike deel van die Oos-Kaap.

JM: Ek dink regtig, as jy jouself wil isoleer, is hierdie absoluut die ideale plek.
PJ: Ja, Breytenbach op die televisie gistraand sê, in Frankryk, hy sê daar het hy gevoel die taal behoort aan hom, asof hy die enigste een is wat die taal praat....

JM: En ek dink dit is wonderlik tot op 'n sekere stadium, maar ek dink daar is ook 'n prys aan. Ek dink enersyds persoonlik, .... in die Oos-Kaap geval, ek dink as mens nie doelbewus iets doen nie, bemark is nie 'n goeie woord nie, uhm, is dit doodgewoon net verby. Dis asof hier geen motors of treine verby ry nie. Dis van die lyn af. Ek dink dis hoe ek Oos-Londen verstaan het.

LEES VERDER


Kammanassie verewig in prosa

Louise Liebenberg
Port Elizabeth

Die Oos-Kaapse skrywer Annelie Botes het haar nuwe roman, Klawervier, op besonderse wyse aan die voet van die Kamanassieberge naby die plattelandse dorp Uniondale bekendgestel in die laaste week van Oktober.

Dié buitelug bekendstelling, wat plaasgevind het in die einste wattelbos waarin 'n groot gedeelte van die roman afspeel, is deur sowat 70 gaste bygewoon. Die boek se bekendstelling het nie net die hele Uniondale distrik aan die gons nie, maar ook die uitgewers daarvan.

'n Verteenwoordiger van Tafelberg het tydens die naweek gesê dat hulle "nog nooit so 'n bekendstelling bygewoon het nie" en dat daar ook "nog nooit so 'n boek in die Afrikaanse taal geskryf is nie."

Klawervier is 'n boek waaroor 'n mens opgewonde kán raak. Dis immers die heel eerste roman wat in die pragtige, ruwe Kamanassie-wêreld waarmee so min mense bekend is, afspeel. 'n Boeiende familiesage wat oor drie generasies se lief en leed in die Kamanassie handel, vorm die kern van die verhaal, maar die bewaringsboodskap kom ook duidelik deur.

Die prag van die Kamanassie word met roerende verwysings na die fynbos, asook die bergkwaggas en luiperds wat vandag nog daar voorkom, vernuftig by die verhaal ingeweef. Die gedurige bewaringstryd teen die verwoesting en uitbuiting van die streek kry ook aandag.

Nog 'n kwaliteit wat die boek so uitsonderlik maak,is die ongewone magies-realistiese dimensie daaraan. Klawervier bevat ou Khoi verhale en legendes wat mondeling deur die plaasvolk oorgedra word, iets wat maar selde in die Afrikaanse literatuur voorkom.

Die uitgewers sê ook oor Klawervier dat dit literêre meriete het,sonder om in ingewikkelde taal geskryf te wees, wat bewys dat 'n boek wat maklik lees vir beide die gewone leser en die akademici van waarde kan wees.

Dit is duidelik dat Annelie Botes se liefde en gebondenheid aan die streek die hoofmotivering agter die skryf van dir roman was. In haar eie woorde, is sy "gebore, geskool, getroud en ge-als" in die Uniondale distrik, en het sy tot 1982 nog daar gewoon. Die hoofkarakters in die boek, Daniël en Schoonraad, is gebaseer op onderskeidelik haar pa, Daniël Basson, wat lank in die kontrei geboer het, en haar oudste broer Coen, wat sowat tien jaar gelede die plaaslewe vir die sakewêreld verruil het.

Selfs die plase waarna verwys word in die boek, bestaan werklik, alhoewel hulle in die realiteit ander name het. Van die karakters is ook gebaseer op werklike mense wat destyds in die Kamanassie woonagtig was. Dis g'n wonder die inwoners van Uniondale en die omliggende streek staan omtrent tou om die boek aangeskaf te kry nie.

"Dis ons wêreld hierdie," sê Annelie self. "Op hierdie plaas (Waterberg, wat in die boek bekendstaan as Sewesterfontein), het ek grootgeword, en vir my lê die verlede nooit agter nie. Ek het eenkeer 'n boek gelees waarin Con de Villiers sê jou vaderland is daardie klein deeltjie van die wêreld waar jy grootgeword het. Hierdie plek is deel van my; dis my vaderland.
"Die Kamanassie het my doodgespook - weet mense van dié vaderland? Sal iemand eendag nog onthou? Ek wou so graag oor hierdie dinge skryf."

In 1996 was Annelie uiteindelik gereed om die verhaal van haar verlede op papier vas te lê. Voor in Klawervier staan geskryf: "Dié boek is opgedra aan die Kamanassie, waar my vaderland lê." En in die woorde van die skrywer Riana Scheepers, wat ook die bekendstelling bygewoon het: "Hierdie is 'n besonderse boek geskryf deur 'n uitsonderlike, sterk, skaars dier - 'n luiperdskrywer - Annelie Botes."

Annelie woon die afgelope 15 jaar al met haar man, Chris, en haar kinders Rudolph en Nasti op Bedford. Haar ander romans, Ribbokvoete en Trippel Sewe , het albei in 1995 verskyn.

(Bostaande artikel het oorspronklik verskyn in die PE Express, 29 Oktober 1997, met die titel, "'Luiperdskrywer' stel boek bekend in Kamanassie.")


Kyk weer terug

Die jaar na  die Eerste Alternatiewe Afrikaanse Rockfees volg die landwye Voëlvry-toer. Op die omslag van die CD Voëlvry wat in 1996 deur Shifty Records uitgegee is, word die toer van sewe jaar gelede soos volg onthou (hier onveranderd aangehaal):

OF JY TOE DAAI TYD DAAR WAS OF NIE HET VOELVRY (sic) 'N HELSE STORM OOR ONS LAND VEROORSAAK!
ANYWAY, DAAR WAS NET DRIE BANDS WAT DIE TOER AANGEPAK HET. HULLE WAS NAMELY: ANDRE (sic) LE TOIT (NOU KOOS KOMBUIS), DIE GEREFORMEERDE BLUES BAND (NOU JOHANNES KERKORREL) EN BERNOLDUS NIEMAND EN DIE SWART GEVAAR (JAMES PHILLIPS) WIE (sic) SADLY ONLANGS OORLEDE IS!
NATUURLIK, (AS YOU CAN SEE) WAS DAAR MEER BANDS WAT ACTUALLY DEEL VAN DIE BEWEGING WAS...
DAAR WORD GESÊ DAT DIE CD 'N DOKUMENT IS VAN DIE EERSTE KEER DAT JONG AFRIKANERS MET ALTERNATIVE WAPENS OPGESTAAN HET OM TE SE (sic): "NEE, GENOEG, ONS IS DIE MOER IN" WAPENS SOOS: ROCK EN ROLL, KAROO SOUL, REGGAE, TECHNO-POP, BLUES INDUSTRIAL MUSIEK, MUURMUSIEK (NEE, NIE KAMERMUSIEK NIE) ASOOK POTJIEKOS-POP...

Die skerp politieke kommentaar in die lirieke was een van die redes waarom Voëlvry-optredes in 1989 op baie Afrikaanse universiteitskampusse verbied is. "Onderwysers sê vir die skoolkinders alternatief is dieselfde as Kommunisme", het Kerkorrel gespot (Kalender, bylae tot Beeld, 23 Mei 1989:6). Ook uit Afrikanerkerkkringe is skerp aanvalle op die nuwe Afrikaanse musiekmakers geloods. Onder die opskrif "Misleidende 'New Age Movement' ook in SA bedrywig" skryf dr. Jannie Malan, destyds moderator van die Suid-Transvaalse Sinode, byvoorbeeld in Die Kerkbode van 7 Julie 1989:

Die sogenaamde 'back masking', wat in die jongste jare 'n instrument geword het om die onderbewuste aan te spreek, het met die plaat Voëlvry ook in Afrikaans kop uitgesteek. Groepe wat 'n sogenaamde 'alternatiewe' Afrikaanse musiek wil aanbied, val die godsdiens en die grondliggende waardes wat God se Woord vooropstel, onbeskaamd aan... 'n Ander vraag is hoekom die musiek so neerhalend moet wees? Dis 'n aanval op die establishment en die aanvaarde norme van die samelewing, en ook op die godsdiens. Op die liedjie Boer in beton sing André Letoit hy gaan nie kerk toe nie, want dit is vervelig... Dis 'n aanslag op dit wat eerbaar en ordentlik vir die Christen is (kursief oorspronklik).

Maar tye verander, en vinnig ook. Die sedebewakers waarsku lankal nie meer teen die "alternatiewe Afrikaners" nie - deesdae word hulle uitgenooi vir optredes by skole as deel van fondsinsamelingsprojekte. Ook in Port Elizabeth: hier het Koos Kombuis in Oktober by die Hoërskool Andrew Rabie opgetree. So 'n geleentheid mis 'n mens nie. Die Baai is nie so sleg as wat Koos se uitspraak dat wetenskaplikes lewe in PE ontdek het, suggereer nie, maar 'n Mekka van Afrikaanse(rige) happenings is dit nou ook nie.

Dit was, terloops, hoe die Vrydagaand-show (17 Oktober) begin het: met "daar-is-toe-afterall-lewe-op-PE" vanaf Elke Boemelaar se Droom (uit 1994). Heel toepaslik. Maar die "helder gesuis van Radio Kombuis" wat gevolg het, en veral die aankondiging van vrouerugbyspan was... wel, uit die 1994- (of ouer) doos.

Terwyl Koos in die Baai is, word daar op Tjailatyd 'n onderhoud met hom gevoer. Dit sukkel. Die onderhoudvoerder vra uit na die liedjie 'Bicycle sonder 'n klok (sic, 'n groot sic)' wat volgens haar in gewildheid ver bo al die ander Koos Kombuis-liedjies uitstaan. (Maar omtrent al die ander Koos Kombuis-liedjies, hoor ek, dra op die SAUK se CD-boksies steeds "avoid"-stickertjies; dalk het die tye nie sóveel verander nie.)

"Ag," sê Koos, "dis geskryf vir die meisie op wie ek verlief was in st. 7."
"Kan jy onthou wat was haar naam?" vra die onderhoudvoerder.
"Karen," sê Koos.
Om hom só oor die lug te hoor, is om hom weer op die Ver in die ou Kalahari-kasset te hoor: 'n implisiete vra om die genade waarvoor Breytenbach eksplisiet gesmeek het: Kyk, hy is skadeloos. Hoe kan 'n mens dan anders as mild wees in jou oordeel?
"Wat hou jou nederig?" gaan die onderhoud voort. Hy het nooit Kerkorrel (wie 'n mens dit terloops vergewe) se arrogansie gehad nie.
"Die feit dat, as ek 'n show doen, dan's dit altyd my domste liedjies wat die mense die meeste wil hoor. Dan begin ek nou wonder oor myself."
Wat ons gehoor het, was nie dom nie, dit was net te bekend. Maar dan kla kunstenaars juis dat dit is wat gehore wíl hê. Om die gehoor wat Vrydagaand stywerig om tafeltjies in die skoolsaal ingeprop gesit het se voorkeure te peil, moes in elk geval moeilik gewees het. (Wat is 'n Koos-show as mens nie kan dans nie, of as daar nie ten minste ander mense is wat dans nie?) Vir my was dit onmoontlik om selfs 'n gemiddelde ouderdom te skat.

Te oordeel aan die frekwensie van CD-uitreikings en konserte (weliswaar nie in Port Elizabeth nie) lyk dit of die voorspelling wat Kerkorrel in 1989 gemaak het, naamlik dat alternatiewe Afrikaanse musiek toekomsmusiek is en dat "(d)ie groot oplewing en golf... die land eers in die jare negentig (gaan) tref" waar geword het (De Kat, Junie 1989:71). Die nuwe orde van die laat-negentigerjare het ook die toets vir kunstenaarskap gebring: Goeie rebelle en anargiste, nodig soos hulle is, is nie noodwendig goeie kunstenaars nie. Kerkorrel het reeds in 1991 met Bloudruk bewys dat hy méér as 'n rebel is. Valiant Swart het dit met die (vir my) meesterlike Dorpstraat Revisited gedoen. Battery 9 (die fokus van Greg Bowes se bydrae in die Mail & Guardian) is in 'n klas van hul eie. (Of hulle nog in 'n Afrikaanse(rige) klas is, is 'n ander vraag.) Voor 'n mens sal kan sê in watter klas die "Trekswael van Tagtig" (soos Koos Kombuis deur Hennie Aucamp gedoop is) in die negentigs val, sal jy na sy onlangse CD-uitreikings Madiba Bay en Blame dit op apartheid moet luister; op die show in die skoolsaal is te min daarvan gehoor.

Dit is 'n onregverdige "resensie" dié. Die enigste rede waarom die Koos Kombuis-show van 1997 vir my 'n teleurstelling was, is omdat 1996 s'n (in Augustus in die UPE-studenterestaurant) onherhaalbaar lekker was. Koos is altyd welkom in die Baai.


Streek en teks - Thomas Pringle

Kyk terug

Begeesterd met die idees van die Verligting, en reeds 'n gepubliseerde digter in Skotland, is Pringle se Suid-Afrikaanse gedigte veral boeiend om die geleidelike bemeestering in sy oeuvre van plaaslike naamgewing vir flora en fauna, sowel as kennis van inheemse mense, hul kulture en taalgebruik. In "Afar in the Desert" ry die spreker met 'n "silent Bush-boy alone by my side" deur die Karoo. Die figuur van

Thomas Pringle
Thomas Pringle as 'n jong man. 'n Gravure gepubliseer in 1839. (Met vriendelike vergunning van NELM (National English Literary Museum), Grahamstad)
die stemlose "Bush-boy" (boesman? jong seun? of raspejoratief?) word opgevolg in 'n reeks gedigte waarin boesmansprekers(1) wel deeglik stemhebbend is, en kommentaar lewer op hul steeds verswakkende lewensomstandighede onder kolonialisme. In "Song of the Wild Bushmen" verklaar 'n uitdagende spreker:

Thus I am lord of the Desert Land,
and I will not leave my bounds,
To crouch beneath the Christian's hand,
And kennel with his hound:
To be a hound, and watch the flocks,
For the cruel White Man's gain -
No! the brown Serpent of the Rocks
His den doth yet retain;
And none who there his sting provokes,
Shall find its poison vain!

(1989: 11-12)

Dié gedig suggereer reeds die verlies van die prekoloniale lewenstyl waar die boesman "lord of the Desert Land" was, maar behou tog 'n uitdagende toon, ten spyte van verwysings na verknegting "beneath the Christian's hand". Die sonnet, "The Bushman", beskryf die doodsoomblikke van 'n boesman wat met sy gesin beleër is deur 'n kommando:

...........................His secret lair,
Surrounded, echoes to the thundering gun,
And the wild shriek of anguish and despair!
He dies - yet, ere life's ebbing sands are run,
Leaves to his sons a curse, should they be friends
With the proud 'Christian-Men' - for they are fiends!

Hierdie empatie wat die nuut-gearriveerde Skotse digter-boer met die bedreigde boesman verwoord, is treffend veral in die tyd waarin dit geskryf is. Eers in 1896 sou M.H. Neser in Afrikaans "Di klaagliid fan di laaste Boesman" in "Ons Klyjntje" publiseer, wat begrip toon van Afrikaanse kant vir die lot van hierdie groep gekolonialiseerdes.

In "The emigrant's cabin" (1989: 25-33) voer die digterspreker 'n gesprek-in-rym met sy gefantaseerde gas, Fairbairn. Hy gee 'lokale kleur' aan sy vers deur die invoer van frases en woorde in Afrikaans, en tipiese Afrikaans-Hollandse name vir diere en gebruiksartikels. Die Khoi-meisie, "Vytjè Vaal" word in boeretaal geroep: "Meid, roep de Juffrouwen naar't middagmaal", en op tafel word 'n reuse-fees speels aangebied:

(...) roasted springbok, spiced and larded well;
A haunch of hartèbeest from Hyndhope Fell;
A paauw, which beats your Norfolk turkey hollew;
Korhaan, and Guinea-fowl, and pheasant follow;
Kid carbonadjes, à-la-Hottentot (...)

Die skaapwagter Flink bring 'n boodskap van 'n besoekende Xhosa- hoof: "Powána wagh'/Tot dat de Baas hem binnenshuis zal vraagh". Die speelse elemente waaruit "The emigrant's cabin" opgebou is, suggereer 'n intense bewussyn by die digter van die multitalige en multikulturele grensgemeenskap waarin hy hom bevind, en gee vandag

nog in die postkoloniale Suid-Afrika 'n beeld van die aard van grenslewe in die vroeg neëntiende-eeuse Oos-Kaap.

Soortgelyke insig in die maatskaplike toestande aan die Kaap van die vroeg-neëntiende eeu bied Pringle se brief oor slawerny

Teks - Brief aan suster
Gedeelte van brief aan suster waarin Pringle haar kwalik neem dat sy nie aan hom skryf nie. (Met vriendelike vergunning van NELM (National English Literary Museum), Grahamstad).
("Letters from South Africa 1", in Peirera en Chapman 1989: 140- 148), met uittreksels uit destydse hofsake van slawe teen base, en base teen slawe. (Hierdie brief bied nuttige agtergrondskennis vir 'n beter begrip van André P. Brink se roman Houd-den-bek, 1986, oor die slawe-opstand van 1826 in die Roggeveld.)

Maar dis veral Pringle se kortverhaal, "Pangola - An African Tale" wat boeiende leesstof bied wanneer kulturele wisselwerking tussen die vroeë setlaarboere van die Oos-Kaap en die boesmans in die fokus staan.

Pangola - An African Tale (1831)

Die vroegste Suid-Afrikaanse verhaal van 'n wit outeur waarin 'n swart hooffiguur optree, is nie soos Siegfried Huigen (1996: 140) onlangs beweer het Jacob Lub se "Het zwarte gevaar" uit 1913 nie, maar Thomas Pringle se "Pangola - An African Tale" uit 1831. Die hoofkarakter, Pangola, is 'n boesman wat na mishandeling in diens van 'n boer die berge in vlug en saam met ander vlugtelinge 'n bandiete-groep vorm wat terreur saai onder die boere. In konfrontasie met sy gewese baas, Diederik Kruger, wat wil hê dat hy oorgee en 'huis toe' kom waar alles vergewe sal wees, verklaar Pangola homself onwrikbaar teen versoening en formuleer sy eie swaargevonde 'waarheid' as volg:

"Nay, myn baas!" replied the Bushman, "the past can never be forgotten. That day, when I lay prostrate under the agter-os-sjambok, - you and your kinsman Bronkhorst may forget it, but I, never. Never more shall I cringe under the white man's lash; never more eat the bread he offers, embittered by his contempt. Hunger, thirst, nakedness, I can bear as my fathers have borne. I can live like the wild hound of the desert; but not like the household dog of your kraals, to be fed, and scorned, and fetttered, and beaten at your pleasure. Your commandos have indeed dispersed my tribe and destroyed my kindred; but the wilderness and its wild freedom are still my heritage, and I will never yield them again but with my life"

(1989(1831): 161; my kursivering).

Veral teen die agtergrond van die doelstellings van die huidige Waarheids- en Versoeningskommissie (in 1995 in die lewe geroep) is die verhaal besonder insiggewend. Die Afrikaanse boer, Kruger, bied onvoorwaardelike vergifnis aan. Pangola weier dit, omdat hy die wrede fisiese marteling wat hy moes ondergaan nooit kan vergeet nie ("the past can never be forgotten"), en by implikasie ook nooit kan vergewe nie. Hy verkies die lewe as 'n gedoemde uitgeworpene in die wildernis ("the wild hound of the desert") eerder as dié van 'n minderwaardige skepsel in die boer se diens ("the household dog of your kraals").

Uit Pringle se Narrative of a Residence in South Africa (1835) blyk dat dié verhaal gebaseer is op die wedervaringe van 'n boesman genaamd Dragoener:

A band of native banditti had for some time past established themselves among the rocks and woods of the Neutral Ground [HvV: die buffersone], composed partly of wild Bushmen from the north-east, partly of tame Bushmen (as they are termed), who had absconded from the service of the boors (...) This band of desperadoes were reported to be under the command of a Bushman named Dragoener, who had formerly been in the service of our neighbour Diederik Muller, but who, on being flogged on some occassion by a kinsman of his master's, [HvV: Van Bronkhorst] with an agter-os-sjambok (a tremendous whip of rhinoceros hide), had fled to the desert, and sworn eternal enmity to the colonists. He had at length become the captain of this band of freebooters, and under his enterprising guidance their depredations became every day more extensive and formidable.

(1966 (1835): 222; my kursivering)

Die fiksionaliseringsproses wat uiteindelik resulteer in "Pangola - An African Tale" het onder andere dus met naamgewing te make: Dragoener word Pangola, Diederik Muller word Diederik Kruger. Hoewel die boer se gefiksionaliseerde naam dieselfde gevoelswaarde dra ('n algemene van wat sy Afrikaanse identiteit aandui), is die fiktiewe naam Pangola, 'n minder gelukkige keuse, omdat dit, anders as "Dragoener" (waarskynlik 'n vervorming van Draghoender, sien Peires 1984: 99-104) 'n Nguni-klank suggereer, en daarmee 'n swart identiteit. Hoe ookal, Pringle beskryf as grensboer verontwaardig hoe dié Dragoener-groep onder andere drie van sy broer se perde gesteel het, en dit toe opgeëet het ("devoured by these robbers").

Hierdie houding van die verontwaardigde grensboer wat self gesorg het dat daar 'n kommando agter die boesmangroep aan gestuur is om hul uit te delg (Wahl, 1970: XXI), is teenstrydig met Pringle se houding as filantropiese idealis:

As a philanthropic idealist he believed in a frontier policy based upon the civilising influence of education and Christianity, rather than upon garrisons and commandos

(Wahl, 1970: XXXI).

Dié onversoenbare teenstrydighede waarmee Pringle worstel (enersyds as bedreigde grensboer en andersyds as filantroop), vorm een van die boeiendste elemente in sy geskrewe tekste. In die passasie oor die geskiedenis van Dragoener (in die Narrative) onderbreek hy sy verhaal, weliswaar effens halfhartig, om die boesmans te verdedig:

These freebooters might have been able, perhaps to make out a good case against the colony, had they been heard in their own defence. The country which we now occupied had belonged very probably to their ancestors

(1966: 223, my kursivering).

Maar indertyd is daar nie sprake van 'n geleentheid waar gereg uitgeoefen kan word nie. Die wet van die grensgebiede is die wet van die oerwoud - geweld, opgevolg met bloedige wraak en weerwraak:

"Commandoes of boors were then sent out after the usual mode (...) Dragoener and most of his boldest comrades being slain, the rest were taken prisoners, and the band effectually broken up" (1966: 223).

Pringle se erkenning, as Skotse setlaar in die buffersone aan die oosgrens, dat die land wat hy en sy mense bewoon waarskynlik aan die boesmans se voorouers behoort het, en dus wederregtelik in beslag geneem is, is veral in die post-1994 periode besonder frappant. Een van die mees omstrede wetgewings vandag is die reg op restitusie van onteiende grond. Maar dit gaan slegs terug tot 1913, sodat die nasate van die boesmans as mees periferale groep in die samelewing steeds enige kans op reparasie verbeur.

Uit 'n vergelyking tussen "Pangola - An African Tale" en die relevante passasie in Narrative of a residence in South Africa (1966: 222-223) blyk dat die gefiksionaliseerde weergawe (in "Pangola") veral 'n besonder simpatieke uitbeelding van die boesmanfiguur bied, terwyl die feitelike passasie (in die Narrative) hoofsaaklik te make het met die troebelasies van die grensboere. Deur direkte of indirekte weergawe van Pangola se gedagtes en emosies in die verhaal word die leser se simpatie by wyse van groter begrip gewek. Ná veldkornet Van Bronkhorst op Pangola geskel en gevloek het, staan die boesmanwerker op vir sy regte as mens:

...he told the furious Van Bronkhorst to his beard that he was a man as well as he; that God had made them equal; and though the white man had seized the land, and enforced the labour of his countrymen, yet no law either of God or man had condemned them to submit to indignities which even the slaves of the Christians would not tamely endure

(1989: 160; my kursivering).

In hierdie uitdrukking van die idees van die Verligting ("vryheid, gelykheid en broederskap") in die mond van die boesman, is Pringle die filantroop duidelik aanwesig. Alhoewel die karakterisering in dié opsig altemit nie heeltemal oortuigend is nie, toon Pringle in die detail-inkleding van die verhaal 'n besondere kennis van die oosgrens-maatskappy, asook boesmankultuur en gewoontes, wat hierdie vroeë Afrika-verhaal vandag nog boeiend maak. So word Pangola se herkoms beskryf: "He had been made captive in early boyhood, with other children of a Bushman Kraal, in one of the frequent incursions or commandos (...) undertaken by die Christian Colonists against the native tribes" (1989: 159). In die Narrative word meer eksplisiet vertel van die "legalised butcheries of the Bushman race" (1966: 229). Wat in die verhaal verswyg word, is dat mans gewoonlik voor die voet afgeslag is, soos dikwels ook vrouens (1966: 226), en dat hierdie kinders wat as bediendes weggevoer is, dus die getraumatiseerde oorlewendes was van wreedaardige slagtings op hul ouers, en die totale vernietiging van hul tradisionele lewenswyse. Ook die manier waarop Pangola se vrou hom na gewelddadige afstraffing met die sambok ("his back and limbs were miserably mangled and streaming with blood") daagliks dokter met gekneusde blare van die boegoe-plant, tot die wonde genees (1989: 160), getuig van Pringle se kennisname van inheemse kure.

Wat taalgebruik betref, is 'n stilistiese analise van "Pangola - An African Tale" boeiend. Die boesmanfiguur word "the African" genoem, wat uit streng-etnografiese oogpunt nie korrek nie, maar by implikasie suggereer dit Pringle se siening van homself as Skot of buitelander teenoor inheemse inwoners van Suid-Afrika as Afrikane ("Africans"). Aansluitend hierby is dit opvallend hoe dikwels in die verhaal boesmanfigure met diere vergelyk word. Na hy geslaan is, lê Pangola soos 'n slang in die stof: "the African was left like a skotched snake writhing in the dust" (1989: 160). In sy latere gesprek met Diederik Kruger, wat hom wil oorreed om terug te keer na die beskawing, sê Pangola dat hy liewer soos 'n wilde hond in die woestyn wil lewe, as om soos 'n huishond oorgelewer te wees aan sy baas (1989: 161). Die hondbeelde word voortgesit op die volgende bladsy wanneer die kommando-leiers geskok is "to see white men submit tamely to 'Bushmen dogs'" (1989: 162). Aan die slot van die verhaal is daar 'n bloedige konfrontasie tussen die kommando en die omsingelde boesmans in 'n grot. 'n 'Mak' boesman- spioen word gestuur om die opstandiges in die grot te beveel om oor te gee. As hy terugkom by die boere, gillend soos "a wild beast" steek daar twee pyle deur sy wange in sy tong in:

Two arrows of polished reed, thrust through the flesh of the wretch's cheeks, projected like the tusks of the African wild hog, while their barbed points, embued in deadly poison, were infixed in the tongue that had betrayed his kinsmen to their pursuers

(1989: 163; my kursivering)

Uiteindelik sterf Pangola in die skermutseling soos 'n gekwetste luiperd: "mortally wounded, (he) flung himself like a hunted leopard upon his ancient foe the veld-cornet" (1989: 164; my kursivering).

Die boesmanfigure in hierdie verhaal word dus beurtelings vergelyk met 'n slang, 'n wildehond, 'n mak hond, 'n wildevark, 'n gekwetse luiperd. Dié vergelykings suggereer kennis van die gedrag van hierdie diere by die skrywer wat op die manier sy verhaal 'lokale kleur' gee. Maar verder impliseer dit ook iets van die opvatting in die neëntiende eeu dat die boesmans nader aan die instinktiewe natuur en wildedier staan as aan die mens (vergelyk Von Wielligh, 1921: en die NG Kerksinode-debat in 1903: "Is die Boesman 'n dier of 'n mens?")

Die verhaalstruktuur is siklies: dit begin met die verknegte Pangola, wat hom by die boer bevind as gevolg van geweld teen sy mense: "made captive in early boyhood, with other children of a Bushman Kraal, in one of the frequent incursions or commandos" (1989: 157). Dit eindig met Pangola wat sterf in 'n soortgelyke ongelyke geveg tussen berede boere en omsingelde boesmans - gewere teen pyl-en-boë: "I die in arms against the Christians - the murderous Christians who destroyed my race."

As kontak, kommunikasie en konflik as verskillende moontlikhede van kulturele wisselwerking gesien word, bestryk Pringle se verhaal al hierdie stadia. Ná  konflik teen sy kraal, word die 'wilde' Pangola 'mak' gemaak, en leer by implikasie die taal van sy meester (Afrikaans of gebroke Nederlands) soos wat hy sy eie taal verleer. Na veldkornet Van Bronkhorst se geweldorgie teen Pangola (d.i. konflik) ontketen dit opnuut 'n ketting van geweld. Diederik Kruger probeer as kommando-lid wat die boesmans jag, om te kommunikeer met Pangola (waarskynlik word hierdie gesprek in Afrikaans gevoer, soos wat die woorde "myn jong" op bladsy 161 suggereer). Dit is egter te laat vir kommunikasie. Na die vlugtige moment van kontak en toenadering, intensiveer die konflik. Die spioen wat gestuur word om die groep mondelings te oortuig om oor te gee (deur kommunikasie in hul eie taal), se verraderlike tong (medium van kommunikasie) word met gifpyle deurboor - 'n simboliese gebaar van die finale beëindiging deur Pangola se mense van enige verdere kommunikasie. Na die fatale slotgeveg kommunikeer Pangola nog eenmaal met die kommandolede, nadat hy noodhulp geweier het:

You cannot save my life, if you would (...) and, if you could, I should receive it back only to be doomed, by laws which I disclaim, to a more ignominious death. I die in arms against the Christians - the murderous Christians who destroyed my race.

(1989: 164; my kursivering)

Sy sterwenswoorde wys op strak kulturele verskille. Die boere het 'n ander regstelsel met wette wat hy ontken, en hulle is 'moorddadige Christene' - het 'n geloof wat vir die boesmans net doodslag inhou. (Dit is 'n algemene verskynsel uit die tekste in die agtiende en neëntiende eeu dat die wit boere as 'Christene' gesien word deur die eerste inheemse inwoners van die land, waaronder merendeels negatiewe assosiasies verstaan word. Hoe dit die sendingaksies beïnvloed het, is 'n interessante vraag. Die verskillende sendingstasies onder die boesmans, o.a. by Torenberg onder Erasmus Smit in 1815, was in ieder geval geeneen besonder suksesvol nie, en geeneen van lange duur nie. Hiervoor is die redes waarskynlik onder andere te vind in die kultureel-onsensitiewe aanpak: geen noemenswaardige pogings om die boesmantale of -kultuur te leer nie, die enorme kultuur- en klasse-verskille tussen die sendelinge en hul gemeentes, asook die reeds ver gevorde verbrokkeling van die boesmans se kommunale gemeenskapstrukture.)

Pringle se verhaal kan dus gelees word as 'n verhaal van kontak, kommunikasie en konflik, met 'n sekere mate van kulturele wisselwerking wat plaasvind - genoeg om die ander groep se taal aan te leer, en sy lewenswyse te leer ken, maar nie genoeg om fatale konflik te vermy nie.

Die uitbeelding van Pangola as karakter is nie dwarsdeur volkome oortuigend nie. In 'n woordewisseling met Van Bronkhorst, voor laasgenoemde hom afransel, uiter die boesmanwerker die frase "God had made them equal" met verwysing na Afrikanerboer en boesman. Hierdie frase eggo die Verligtingsretorika ("gelykheid, vryheid en broederskap") in die mond van 'n karakter wat veronderstel is om kort gelede nog 'n "wilde" boesman te gewees het, sonder westerse opvoeding of kennis van die westerse beskawing. Dit lyk my duidelik dat Pringle die filantroop hier deur Pangola aan't buikspreek is.

Wat hierdie momentele "slippage" of lapsus in die register egter besonder veelseggend maak, is dat Pringle in die intertekstuele passasie in die Narrative (1966: 222-223) die feitelike gebeure rondom Dragoener hoofsaaklik vanuit die bedreigde en beroofde setlaarboere se perspektief vertel. Hy noem slegs in 'n terloopse onderbreking van twee sinne die 'moontlikheid' ("perhaps...a case against the colony") en 'waarskynlikheid'("the country...belonged very probably to their ancestors") dat sy verhaal van onreg wat die boere aangedoen is, altemit op verkeerde aannames gebaseer kan wees. Sy hoofbetoog is egter een van uitbuiting van die boere. Die Narrative was in 1826 gereed vir publikasie (sien voorwoord, Struik-publikasie 1966). "Pangola", waarin die hoofperspektief op die gefiksionaliseerde verhaal van Dragoener uit-en-uit dié van die uitgebuite en berooide boesmans is, verskyn in 1831 in druk. Dit kan aangeneem word dat die verhaal veel later geskryf is, tien teen een toe Pringle al terug was in Engeland. Die nooddurf van praktiese omstandighede van die setlaarboer wat bedreig word deur die boesmans is lankal agtergelaat. Pringle skryf nou vanuit 'n teoretiese kyk op die koloniale verhoudinge en vanuit die intensiverende stryd vir die afskaffing van slawe. Hy kan homself nou die luukse van die teoretiese idees van die Verligting gun in sy uitbeelding van koloniale verhoudinge. Dit is waarskynlik hierdie teoretiese standpuntinname van Pringle, ver verwyder van die nypende daaglikse lewe én die diskoers van geweld in die grensgebied, wat in Pongola se dialoog neerslag vind wanneer hy beweer "God had made them (us) equal".

Hoewel die karakterisering van Pongola dus nie konsekwent oortuigend is nie, is "Pangola - An African Tale" nietemin 'n memorabele verhaal as gevolg van die streng volgehoue spanningslyn, geskakeerde dialoog en 'lokale kleur' in die uitbeelding van kulturele wisselwerking tussen grensboere en boesmans. Gelees saam met die nie-fiktiewe interteks in Narrative of a Residence in South Africa bied dit besondere insig in die vroegneëntiende eeuse groepsverhoudinge soos weergegee in die konflikterende diskoers van grensboer-filantroop Pringle.

* * *

Notas

1. Ek gebruik deurlopend die benaming 'boesman' met 'n klein lettertjie in navolging van resente praktyk, sien Gordon, 1997)

Bibliografie

Gordon, Robert J. 1997. Picturing Bushmen. The Denver African Expedition of 1925. Cape Town: David Philip.

Huigen, Siegfried. 1996. De weg naar Monomotapa. Amsterdam: Amsterdam University Press.

Peires, J.B. 1984. Piet Draghoender's Lament. South African Outlook. Julie:99-104.

Pereira, Ernest & Chapman, Michael. (eds.). 1989. African Poems of Thomas Pringle. Pietermaritzburg: University of Natal.

Pringle, Thomas. 1966 (1835). Narrative of a Residence in South Africa. Cape Town: Struik.

Wahl, John Robert (ed.). 1970. Poems Illustrative of South Africa. African Sketches: Part One. Cape Town: Struik.



Johan Myburg-Onderhoud

KYK WEER TERUG

Almal dink aan Oos-Londen as daardie best-kept secret, en almal, vermoed ek, wil dit so hou. So jy kan baie maklik hier, dink ek, deel word van die best-kept secret, en, en net heeltemal gerangeer word, nie, nee, eerder verdwyn...

PJ: in die groot stilte

JM: Ja, jy kan heeltemal opgeslurp raak deur die groot stilte. Ek het 'n vriendin gehad wat gesê het sy dink Oos-Londen is baie belangrik vir die kreatiewe proses, uhm, hier is so verskriklik min, jy word genoop om iets te doen, uhm, ek het lank daaroor gedink, maar ek dink ook daar is ander mense wat baie beter presteer. Gelukkig het ek kontak met iemand soos Susan Smith, sy het nou net gepubliseer in 'n versamelbundel by Tafelberg. Ons interaksie het regtig vir my nogal stukrag gegee, en jy kan baie maklik vir jouself sê, dit is jou lewe dié...
PJ: miskien 'n dorpservaring...miskien bly dit maar 'n dorp. Ek het grootgeword in Johannesburg, dit was wonderlik, maar ek wil dit nie weer sien nie.

JM: Jy sien, ek het altyd gedink mens kan 'n verskil maak, deur iets te doen, en ek kom op die punt dat ek dink, ek doen dit presies soos mense voor my dit gedoen het.

PJ: ...rêrig?

JM: Ja, ek het altyd probeer vlug vir suburbia, dit voel vir my ek het my verbeel ek het gevlug, dis alles hier. Buite suburbia is 'n moeitevolle lewe, want jy moet die hele tyd.... ek bedoel nie daarmee dat mens reaktief moet wees nie... want dan sal jy suburbia tot norm verhef. Wat ek bedoel is net doodgewoon om half onaangetas deur suburbia te lewe.

PJ: Voel jy aangetas, geraak?

JM: Deur suburbia? O ja, ek dink so. Ek dink... ek dink, jy sien saam met suburbia in my kop loop stereotipering en... is dit Rick Turner wat gesê het ... "I spent my life defying stereotypes" ... of sy vrou het so gesê by sy begrafnis..... En uhm, en uhm, en daai hele ding van stereotipes en suburbia wat saam gaan, om net, ja, nie so geweldig prooi te wees van stereotipes nie. Net om... net om, net die moontlikheid om vars te dink...

PJ: Jy laat my dink aan die analise van die Odusseia deur Adorno en Horkheimer waar hulle betoog die held moet skelm wees, moet verneuk as hy vernuwing wil bring.

JM: Dis daai verskriklike ding van, dis daai dilemma van steeds, van steeds in voeling bly met jou gemeenskap, met die gemeenskap, maar om steeds bevraagtekenend teenwoordig te bly in jou gemeenskap.... Jy gebruik die woord skelm, geslepe, want... ek kan nie sê dat ek nie skelm voel nie, dat ek myself betrap as skurk nie, dit gebeur wel. Op die ou einde is dit nie WSIWYG nie, daar's agendas en, ja, dit maak dit moeilik, dit maak dit moeisaam, en ek dink uitputtend. En die grootste gevaar is uitputting, om te besluit dit was nou genoeg gewees.

PJ: ... ja, op te gee...

JM: Ja, en dis daai opgee wat ek sien as die dilemma van "deel word van." Jy't, daai brawe poging het jy gestaak en dis miskien wat ek sê suburbia vang op, nie dat ek dink ek was altyd so 'n brawe skurk nie, maar daar was tye wat ek brawer gevoel het as wat ek tans voel.
....
Skryf jy?

PJ: Ja, maar daar is maar min.

JM: Het jy al gedink aan publiseer?

PJ: Nie rêrig nie.

JM: Hoekom nie?

PJ: Wel, ek voel nie seker daaroor nie.

JM: Voel mens ooit seker? Ek weet nie of mens ooit seker voel nie...

PJ: Op die oomblik sien ek orals om my mense wat self uitgee, wat digters is, en ek het 'n eindelose bewondering vir sulkes. By sekeres skrywers kry mens die gevoel hulle staan op die rand van stilbly.

JM: Dis ook 'n opsie.

PJ: Ja, maar dan moet jy die leser in gedagte hou. Jy ontneem dan dinge...

JM: Dit laat my nogal bekommerd... dit maak my nogal bekommerd hoe min mense werklik poësie lees. Ek sien dit by die mense met wie ek te doen kry, nou doodgewoon in die alledaagse lewe - hulle sal nog 'n roman lees, maar nie poësie nie. Laat mens nogal wonder...

PJ: Ek weet nie so mooi nie. Ek sien dit orals. Ek het nou die dag met Trudie Wegner gepraat - sy het 'n gedig deur haar seun vir my oor die foon voorgelees, wonderlik. Nou net in Stellenbosch kry ek Jean Jordaan, wat goed publiseer op A-4 bladsye, goed afgewerk ... daar's duidelik 'n passie, 'n liefde... Wat vir hom belangrik is, is om te kommunikeer. Skryf jy nog?

JM: Ja, ek het 'n paar goed, maar ek weet nie of ek 'n uitgewer gaan kry nie.

PJ: Kan nie sien hoe dit 'n probleem kan wees nie.

JM: Wel...ek het al meer begin dink, die meeste mense met wie ek hier te doen kry, wat ook my gedigte sou kon lees, is Engels, en ek sou dit graag ook met hulle wil deel, en ek glo net nie 'n vertaling is genoegsaam nie - dis tog 'n ander tyd, 'n ander plek, jy is 'n ander mens wanneer die vertaling gemaak word.

PJ: Nou, skrýf in Engels - al klink dit soos heiligskennis...

JM: Maar dis juis dit, ek weet nie of ek dan 'n uitgewer sal kry nie.

PJ: Ek kan nie sien hoekom nie, 'n digbundel met Afrikaanse en Engelse gedigte gemeng - as die kwaliteit werk goed is, kan dit 'n baie goeie idee wees, iets interessants. Dit gaan tog om kommunikasie.

JM: Ja, dis hoe ek ook voel - daar is tog sekerlik dinge wat taal oorstyg (dis nou binne perke) - as ek behendig is met waterverf, beteken dit tog nie dat ek nie behendig kan wees met olie nie, of hoe? Dit bring my terug by die stereotipering waarvan ons vroeër gepraat het - jy weet , kyk Walt Whitman het iewers gesê "Do I contradict myself? Very well then I contradict myself, (I am large, I contain multitudes): waarom moet ek gelykgestel word aan een kategorie, waarom kan ek op een oomblik nie dit wees, en op die volgende iets anders nie?