Gedigte 11 ...........

................................................................... Selwyn Milborrow - Brief aan Saartjie
Kirby van der Merwe - Saartjie Baartman in Parys
Stef Delport - Saartjie Baartman
Kupido Baron - Sara, Saartjie, Sarah?...
Hennie Aucamp - Die Groot Slang - 'n herinnering aan Boesmankuns
Vincent Oliphant - Googlesara

brief aan saartjie
(27 april 2002)

in skadus van eeue-lange nagte
moes jy wag, suster baartman
vir die vloek om weg te gaan
soms het verlange jou hart beset
en het jy die gamtoos besoek
met jou kaalvoet-gebed
noudat jy weer vry kan loop
wag die afrika-son met opgehoue asem
om jou weereens te omvou
kyk, na tweehonderd jaar
ken elke klip en krans jou naam
en die kaapse vlaktes elke traan
want poësie bring jou oorskot
na die vallei van god

Selwyn Milborrow

OP

Saartjie Baartman in Parys

(Saartjie het nie huis toe gekom nie. Ek weet wel dat sy nooit deel van die vleispotte geword het nie.)

Wat het dan van jou geword, my suster?
Jy het jou laat loop staan
en ompraat en sagpraat sonder veel
dubbelsinnige woorde ... sonder broekieslace
jou venuslyf

met gebolde agterlyf staan
ontbloot die groot gat
voor hulle stringe op stringe bolwit oë
wat kwylbek victoriaans met hardebolkeile en kieries
oor jou lewe loop tot tussen die bene
veral na daai

vlesige knypers soos 'n bruinskoenlapper
oopgespalk in die museumkis:
skugter dele onbeskaamd
ingelê in alkohol

Saartjie Baartman was 'n Kwena-vrou wat in die 19de eeu in sirkusse in Brittanje en Frankryk tentoongestel is. George Cuvier, Napoleon Bonaparte se snydokter, het 'n gipsafgietsel van haar liggaam gemaak en haar skaamdele in 'n bottel in sy laboratorium gebêre. Die bottel is vandag die eiendom van die Musée de l'Homme in Parys. Akademici in Suid-Afrika probeer nou al jare lank om dié dele van die oorskot terug te bring na Saartjie se geboorteland sodat sy met eerbied begrawe kan word.

Kirby van der Merwe

(Die gedig hierbo - en die byskrifte - kom uit Nuwe stemme 1. Gedigte saamgestel deur Anastasia de Vries en George Weideman (1997), gepubliseer deur Tafelberg-Uitgewers. Onse angeltjie bedank Tafelberg en Kirby van der Merwe vir toestemming om die gedig hier te publiseer).

OP

Saartjie Baartman

Saartjie Baartman, Saartjie Baartman,
Khoisanvrou uit die verre Kaap;
freak uit Afrika, Hottentot-venus,
wanneer gaan jy eendag slaap?

Jy wou maar nes die kinders vandag
jou fortuin oorsee gaan soek.
Saam met ander die gepeupel fassineer
al was jy soos ‘n slaaf ingeboek.

Uitgestal soos die sirkus se diere,
tussen die harige baardvrou,
die reus en die potsierlike dwergie;
het almal net oë vir jou!

Moes jy jou fynste skaamheid
aan die honger menigtes wys;
jou ongewone voorskootjie
en boude wat agteruit rys.

Al word jy as christen gedoop,
in die besige Manchester stad,
wou hul vreemde gierigheid
jou nooit weer huistoe vat.

Verlang jy na die suidland
en die reuk van die son;
na die walle van die Gamtoos,
waar alles so anders kon.

Swerf jy deur Londen en Parys,
hoereerend deur die strate.
gepiekeld van die alkohol
alleen-verstote en verlate.

Om eensaam dan te sterf,
in armoed en in koue.
Net brein, skelet en voorskoot
in hul museum se kas behoue.

Kom jy twee eeue later terug,
Soos ‘n ongestorwe Raka;
Na jou voorvaders se rusplek
In die hart van Moeder Afrika.

Sarah Bartman, sou jy ooit kon droom
van ‘n verlore volk se hartseer gesange.
Dat jy hier ikoon sou word -
simbool van Khoisan verlange.

Stef Delport

OP

Sara, Saartjie, Sarah?...

Eeue verberg 'n glimlag -
grafstil gewit tot beendere,
op Hankey se bult
met R2,2 miljoen getroon
Sara, Saartjie, Sarah?...

En die sterre waak wyd:
die rusplek van ons suster
voor voetspore roekeloos raak;
vlaktes
raak
nou
...weereens tot naaktheid
in 'n glaskas gedoem
Bartman, Baardman, Bartmann?

Weer versplinter skepe volstruiseierdoppe
as hulle kom -
die fladderende voete
so skuins na twaalf

Hier sal ek rys
oor kilometers padpredikante...
feniks -
betonwonder, hoeder
'n sieraad?

Kupido Baron

OP

Die Groot Slang
'n herinnering aan Boesmankuns

Die Hol Krans
op die plaas Leeuwkraal
was my eerste galery.
Dit het my geleer
wat palimpses beteken
en polichromeer en superponeer.

Onder oorhange geskilder
frenetiese mensies wat jag en dans
en ook veg
teen lang swart figure
met puntore
en bebloede asgaaie.

Daarnaas
en soms daaronder
die groot stil diere
die seekoei die eland die leeu
baksteenrooi pruimpers-en-wit okergeel

Eenkant
weggesteek en nog skaars verken
in wynrooi
op 'n swart oppervlakte
die kluis van die mitiese Slang.

Wat was dit nou weer met dié oortjie-slang?
Soos 'n vlam die oor
geplak teen sy stomp stoets kop
en die staan regop gelig
om beter te kan sien
sy domein te oorskou.

'n Kruis op sy stert
om sy mag te bevestig
aan bok en mens
gekrom in aanbidding.

Maar algar
mens bok Slang
luister bevange
na die veraf geruis
van 'n ster
van die maan
van die oudste planeet.

In die Hol Krans
van my jeug
tril luider die stilte
soos om my versamel
die Eindelike Kilte.

OP


Googlesara

waar was die drome waarin jy gewoon het
toe jy gelaat is met dié bitter loon?
waar was die weelde waarheen jy gelok is
toe jy as drogbeeld ingehok is?

kaal in die koue lande van beskaafdes
met donker luste soos slagtande
agter ligte lagtende tonge

jonge dogter
hulle het jou niks gespaar nie
net jou oë altyd ontwyk
om in hul eie harte nie te kyk nie

ag kon jy tóé maar weet
dat die moederland nie sou vergeet nie
dat jy eendag aan huis
as heldin sou herrys!

Vincent Oliphant

OP





INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD






Copyright:  © 2002 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/gedig11.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 15 November 2002
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]