Vrugte van die boom van stilte

Disclaimer Iemand moet met welgevalle op ons neerkyk want Onse angeltjie is geseën met 'n hele klomp stewige bydraes uit die kreatiewe kader.

Ons voel veral goed oor die gedigte wat ons afgerokkel het van Johan Myburg, die geëerde Oos-Kaapse wenner van die Eugene Marais-prys.

Trudie Wegner is ook 'n bekende in Oos-Kaapse kringe en het die afgelope tyd die aandag getrek met voorlesings van haar poësie. Sy het ons toestemming gegee om 'n paar gedigte uit haar bundel, 50 verse. 'n Jubelbundel, te plaas.

Van Anlen Marais uit Despatch het ons 'n verhaal gekry (een van baie wat wag in haar laai). Anlen is ook 'n ou bekende in die Oos-Kaap. Sy het voorverlede jaar (1995) die eerste prys gewen vir die Afrika- en Nabye Ooste-streek in 'n kompetisie van die BBC se World Wide Service met 'n radiodrama, getitel Dear Mister Mandela. Dié drama is verwerk en laasjaar by die Klein Karoo Kunstefees opgevoer as Horieso Madiba.

Uit Cradock kom die hardgebakte prosa-stem van Clinton V. du Plessis, nadat hy lank net poësie gepubliseer het.

Aangesien daar navrae was oor die Hertogin van Kruisrivier, het haar persoonlike assistent, wat anoniem wil bly, ons twee bydraes oor hierdie legendariese Oos-Kaapse figuur gestuur.

Geniet.

Gedigte deur Johan Myburg

Camera obscura

Deur dun kabel, dunner draad -
uit die bloute - kry ek seine
van buite: per internet,
per faks, deur telefoonlyne.

'n Gaatjie teenaan die plafon
bied as perfekte poort
toegang tot informasie
via minuskule bondels koord.

Alles word gedekodeer tot
virtuele waarheid: woorde
wat meesterlik motiewe veins
vir menige moorde;

terugkrabbelry op gegewens,
byhaal van edel ideale
in die stryd om wet en orde;
regverdiging vir spesiale

kwytskelding; berigte
oor wapengeweld deur brutale
boewe. Voor my oë ontvou
beeld op beeld banale

brokke nuus. Ek skuif swaar
meubels voor deure en weer
harde lig deur ruite. Met fluweel
en gedempte gordyne veer

ek my kokon. Op papier
maak ek noukeurig in volsinne
notisies: wat buite gebeur
vind omgekeerd neerslag binne.


World of interiors

Dag in, dag uit stuit ek op die plat
proporsies van die vertrek. Vier mure,
lae plafon, bonkige deur, venster,
tam tapyt wat weier om van die vloer

af op te staan. Ek bly bewus van stoele
wat dieper die dag in meer verlep,
wanhopig gryp na die ondersteuning
van 'n koffietafel. In my gehuurde

kamer sit ek kreperend; droom
van orenter meublement wat eleganter
staan: sterker style en stiller lyne;
gebosseerde matte met syblink

diere en plante uit eksotiese oorde.
Skilderye en gedrapeerde gordyne
oor skraal vensterrame. Ek droom
van interieurs met deftige allure.

Ek voel hoe word ek boerser as die bure.


Visitasie

Laer af in die straat luier 'n motor
met onsigbare insittendes: gerookte ruite
weerkaats jakarandas soos pers juwele.
Telefoonlyne klik, boodskappe spring van paal

tot paal. Oorkant die straat skuil mans met wit
jasse agter kantgordyne. Manne in blou
met spesiale sagtesoolskoene is oorgehaal
vir ondersoeke, om inligting te bekom.

Hulle oë dien as mikrokameras, hulle ore
is geoefende bandopnemers wat gesprekke
later ontrafel. Op my drumpel is 'n konstante
geskuifel; die kopervuis aan die deur vibreer

by voorbaat. Ek hoor honde hyg.
Tussen my en die straat is 'n plankdun deur.

* * *

Johan Myburg het twee digbundels gepubliseer:

Vlugskrif (1984) uitgegee deur Perskor, en
Kontrafak (1994) uitgegee deur Human & Rousseau


Gedigte deur Trudie Wegner

suideinde 1976

stiefkind
verstoteling
jy wat eers die stad se hart was
sleep nou jou tenger liggaam
in komiteekamers en raadsale rond

trek uit jou hemp
jy ruik na riool
en die uitgediende skoorstene
van jou broekspype hang flardes
flenters stil

ek sien jou lag met oumenstande
tog verkoop iemand hier nog vis en chips

'n moskee staan eenkant tydloos trots
gaan in kind en bid

ek hoor jou lag: dor stem en koud

jou ou gesig word gesloop
om beloftes later 'n nuwe voorkop te doop


gelvandale

juffrou ek tussen winter
kil eksamenbanke

konsentreer
geskifte wit hempskrae
bruin arms hoendervleis
bakhand vir my moedertaal


bruidegom

en toe kom daar
vir my 'n ridder op 'n moped

en sy blouselblou jersey
parkeer op my hart se halte

en sy oë soek oeroue
natuurkragte en smelt my koue

en hy lei my in versoeking
met wynwoorde wat warmte bring

en ek vra op 'n skelrooi servet
dat hy hom aan my bind met die wet

* * *

Bostaande gedigte kom uit Trudie se bundel,
50 Verse. 'n Jubelbundel (1996) uitgegee deur haarself.


Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/gedig2.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]