gedigte 6

Disclaimer

Christian Morgenstern
vertaal deur Helene de Villiers
Vis en wind
Sag op ligte voete kom dit nader

Danie Venter
Naby die voorlaaste stasie
In 'n raam van Salvador Dali
Van die Federasie van Skuldige Gewetes

RvL
Gesig
Drie insekte: 'n Afrika drieluik
Mtan 'ezulu
Semper reformanda: Narratiewe teologie
Lynette Weideman
Volmaan

Kelvin Knowles
oomblik
versoek
hinderlaag
slegte gewoonte
nuwe wêreld
oos wes - woord bes



Vis en wind

Hoe die Wind
oor die water dans
dit weet die Vis
en maak hom dit in honderd skubbe na . . .
en wys dit weer
aan wie hom vang,
wys hom skitterblink -
hoe sy geliefde Danser-van-ver, die Wind,
in son- en maneskyn
die stroom se blanke spieël daarbo
in honderd skulpies
skub . . .

Christian Morgenstern
vertaal deur Helene de Villiers

OP


****

Sag op ligte voete kom dit nader
voor die inslaap, tere windvlaag:
Luister, siel, na my berading,
laat geluk jou troostend toelag.

Wie in liefde jou omring het,
dié sal altyd om jou bly,
dié sal groot en kleiner kringe
trou verenig saamdans in die rei.

Steeds sal hulle aan jou bou
nes jy vir hulle ook versterk -
en, ontwaak tot één aanskouing,
ding jul mee in dien en werk.

Christian Morgenstern
vertaal deur Helene de Villiers

OP


Volmaan

Gisteraand was 'n aand.
En ek was daar in die groep
saam in die kring
deur sipresse omring
besig om dooies tot lewe te roep.

Gisteraand was 'n aand
en ek was daar in die groep
saam in die kring
geroer ontraak gering
waar dooies om lewe roep.

Gisteraand was ek daar
en die stemme was 'n raam
van vlamme om die maan
toe hy seil van sipres tot sipres.

Gisteraand was ek daar
en die stemme was 'n raam
vir niks met 'n naam
terwyl ek op die loskom wag.

Gisteraand se skyn het verglim
saam met gister en die naam
net die naglans as die raam
toe die maan sy sirkel volmaak.

En ek was daar in die loskom saam.

Lynette Weideman

OP


Gesig

Goed,
jy hét dit gesien,
op die oog af
visioen miskien?

Dit lag weer
meer en meer:
Ja, piekenien -
maar wat op aarde
en die waters onder die aarde
beteken SIEN?

Die uiterlike lig
se skyn - sein -
kaats in na die brein:
wat daar vibreer,
word tot sien geïnterpreteer -
persep / konsep
ontmoet in die skeppende Ek...

Efatha! - Gaan oop!
Vir 'n nuwe oog
straal alles boodskappend
onder die hemelboog.

Uit lig / donker
rys die teëbeeld
donker / lig. Die Son en die Maan
is twee oë in 'n Egiptiese gesig.

RvL

OP


Drie Insekte : 'n Afrika-drieluik

Scarabeus rol die son.
Uit miskruier se afvalbal
EGIPTE
waarin sy haar eier gelê het,
sal siklies altyd
nuwe lewe kom.

Anansi skelmstreek-spinnekop
spin uit slimmigheid,
GHANA
uit eie buik se wysheid
die hele sigbare heelal,
die blink draad van die tyd.

Mantis bidsprinkaan
maak groen metamorfose,
SUID-AFRIKA
speel sy transformasies,
omvorm asof in 'n grap
tot goed die bose.

RvL

OP


Mtan' ezulu

Eendag het hulle die water afgesny.
Ons het vooraf potte vol water gestoor;
die bad gevul. En in die aand
lê daar in die stagnante water
'n mantis dood.

Toe ek vee in 'n donker hoek
waar die huishulp selde kyk,
vind ek weer 'n mantis dood,
stokstyf, klein groen lyk.

Wat skort om 'n mantis te laat sterf,
wat beteken verdriet van lewensbederf?
Eendag vind ek in die tuin -
toe ek uit my kar klim
in 'n klimopbegroeide hoek -
voel ek hoe op my arm 'n nuwe
jong mantissie kom staanplek soek.
RvL

OP


Semper reformanda: Narratiewe teologie

Die ou formuleringe
bars uit hulle nate.

Nuwe sinkroniese wetenskappe
vloei saam -
rank kruis en dwars
in die hemele op
in die aarde af,
hier waar ek in die middel staan.

Omdat naamgewing by ons so gebrekkig is,
kies jy nou en sê:
Is dit Mantis religiosa
vir die Bidsprinkaan, klapklank /Kaggen,
of Hottentotsgot, Outatjie Jesus?

Selfs in sy naam dra die Trickster-Engel
'n hele spektrum met hom saam.

Hermes die vormverskuiwer dans
deur ons dierestories...
Hy wat biddend lag
en laggend - op sy ou ramkietjie - bid,
flits verby met gevleuelde voetslag...
kom sit op my hande
en sê mantisgroen
reformanda reformanda

****

Dis nie dat ek ontwortel nie,
want sonder wortel waar's die vrug?
Ek word 'n xerofiet
gewortel in die lug.

RvL

OP


In 'n raam van Salvador Dali

die dag sukkel eers hinke-pink
op onpaar krom krukke later
gaan dit gaandeweg beter
veral vinniger en vinniger
hoe later hoe kwater
nogtans bly dit komieklik
vir die trop jillende horlosies
in die haarlose bome
sommiges hou hul mae
met dun armpies vas
tussen twintig-voor-vier
en kwart-voor-drie
ander kraai en wil handjies klap
almal lag hulle natuurlik slap

in die agtergrond 'n bedeesde
spieëlkas met voete
van 'n leeu en die bene
en heupe van 'n vrou
in 'n enkele laai
met 'n klein en silwerige knop
tussen twee velle papier
droë angeliere en die geur van salie
voorop: IN 'N RAAM VAN SALVADOR DALI

in die voorgrond hang 'n elsie
aan wapperende beentjies
onderstebo in die water
of ewe klam lugspieëling
en pik-pik reëlmatig
langbek aan die ewe lang bek
van sy vaster weerkaatsing
in die verdeelde werklikheid
sy stert wip-wip en krap
aan die egalige
gepoleerde geel lug
tussen amorfe wit gate
waarin wolke dalk was
of later sal pas

die gate se some:
die soliede silhoeët
van dit wat iemand
wat gedog het hy snap
koorsagtig geskribbel het
soos in indiese ink
'n desperate dronk brommer:
sommer sommer sommer sommer

Danie Venter

OP


Van die Federasie van Skuldige Gewetes

na 'n gedig van Seamus Heaney

I

die dokke was bedrywig maar doodstil
toe my posboot in Tafelbaai vasmeer
net die sagte slurp en suig geluide
van buiteband buffers teen die romp

die klerk by immigrasie was blind
maar het my deurgewuif omdat hy kon sien
dat in my dokumente geen melding gemaak word
van permanensie of uitsondering op die reël nie

die vrou by doeane wou luister na rede
maar kon nie want Schubert se onvoltooide
simfonie het geblêr uit 'n gekonfiskeerde
radio maar my Bybel kon ek darem behou

daar was portiere maar hulle was besig
met hul daaglikse toi-toi passies
en taxis in oorvloed maar in elke venster
BLACKS ONLY in swart op wit bordjies

ek het ' n barmhartige Zoeloe se aanbod aanvaar
van 'n gratis riksjarit na die middestad
heelpad het hy vertel van sy kinders
wat in Switserland medisyne studeer

daar was meer woonstelle en tv-torings
langs Hillbrow se kronkelstrate
en die verkopers op die sypaadjies
het rande en sente goedgunstiglik aanvaar

vir toeriste se onthalwe het leeus die strate
oorgesteek sonder om hulle aan robotte te steur
net lui na lastige meeue gehap wat tussen
hul tande wou pik maar nooit raakgehap nie

op die sypaadjie tussen miljoenêr smouse
het bedelaars onder oranje blanje blou sambrele
blinkmond gesmul aan kreef met 'n pikante
sous van simpatie by gebrek aan berou

teen die plat berg se hange was die Japannese tuine
verwaarloos maar herkenbaar en karretjies aan kabels
het met gereelde tussenposes op en af gery
met 'n uitsig oor dolfyne wat duik deur 'n ring

daar was nog vir my 'n kamer in die grondbruin gebou
met die gat in die dak wat niemand wil regmaak
waardeur die son jaarliks stiptelik op 16 Desember
met trompetgeskal op 'n tiekie val

II

die eerste nag in die hotel was die swaarste
om weer te moet slaap sonder muskietnette
die muskiete se wysies nog net-net bekend

in jou drome verloor jy jou malariapille
en die muskiete se grynslaggende gesigte
is kombinasies van Verwoerd Vorster en Botha

die koffie in die oggend is bitter en swart
want suiker is 'n edel mineraal en debatte
in die parlement word besleg met melktertgevegte

by distrik ses breek die busbestuurder
'n onwaarskynlike baan tussen linies
casspirs en grommende stootskrapers

jan van riebeeck en sy vrou lyk onthuts
blink opgepoets met krale om die nek
en jan smuts spook onvergenoegd in die tuine

tussen blomme op die grasperk voor die Uniegeboue
sit vrouens en kinders onder kappies en mans
in rooi baadjies bedien tee en komkommertoebroodjies

Kimberley se groot gat gaap gemaak verveeld
sluk al die diamante in van toeriste wat glo
dat hul drome bewaarheid sal word

maar by Gold Reef City kan hulle steeds nie 'n goudstaaf
kaalhand lig nie en moet volstaan deur foto's
van hul kinders teen myntorings te hys

seremoniële spiese en stokke klap op skilde
kaalvoete op hardgetrapte grond en jong meisies
dans rondborstig 'n kronkelende onversadigbare slang

die proteas en heide verdring kakiebos en brandnetel
en versluier die laaste olifante en die dapperes
wat van Van Stadensrivierbrug afgespring het

die Vrouemonument deel haar rate met pelgrims
wat in Time gelees het van die wonderbaarlike
genesing van die meisie wat nie kon slaap nie

al die riviere is in vloed en Kruger se miljoene
lê ongestoord en wag geduldig op herverdeling
onder hulle wie lekkerste laaste sal lag

agter Tafelberg die tande van die Drakensberge
wat die son insluk selfvoldaan in die wete
dat hulle alles kan vreet wat hulle gevoer word

III

ná verstryking van my tydelike verblyfpermit
weer terug hawe toe waar die boot reeds vertrek het

die barmhartige Zoeloe het skielik tandpyn
verklaar drie keer plegtig: "Ek ken jou nie"

'n kafferwaatlemoenventer glo water
is dikker as bloed en leen my sy karretjie

donkies trek deesdae net Mercedes Benze
en die sebras steur hulle nie aan my leisels nie

die kruis en dwars rit verloop klopdisselboorm
maar bring my niks nader aan enige hawe

'n verkeerskonstabel met 'n wit handskoen
stop my en sê ek moet links hou of so nie

ek klim eerder af en kry koers na die naaste
kroeg waar hulle net suikerwater en sjampanje bedien

die kroegman ken niemand wat paspoorte vervals nie
maar gee die adres van 'n goeie prokureur

die huis het 'n gewel met engeltjies en druiwe
en 'n polisiekonstabel wat my summier arresteer

sy kaptein krap aan sy tande en stel my gerus
die boete is selde lewenslank of langer

die regter aanvaar my pleit van tydelike verlies
van gewete en verban my na êrens

sonder bagasie het ek niks om te verklaar
aan die vrou by doeane behalwe ongeloof en hoop

die man hy immigrasie ken regte dokumente
as hy dit sien en sê ek is nogtans welkom

want volgens hom het ek 'n eerlike gesig
ten spyte van my winskopie masker van hout

hy stel my dus aan as wandelende ambassadeur
met 'n ambassade oral waar my hart ooit gaan staan

die afskeid is somber met vrolike liedjies
oor die Alibama en 'n kat wat altyd terugkeer

kaapse klopse vang die punt van die laaste papierlint
wat ek met 'n witgewaste hand oor die reling gooi

wanneer die naelstring onvermydelik breek is die knal
harder as 'n AK-47 seekoeisambok sweepslag

Danie Venter

OP

oomblik

deur die koue suising van die wind
sien ek jou gesig
en waai die poinsettias soos jou soene
teen my vas

en skryf ek hierdie stukkende gedig

Somerstrand: 1993
Kelvin Knowles

OP

versoek

jy
'n huis
en jillende kaalvoet spruite
veral jy
slegs dit was my gebed

en nou?
nou sit ek met psigiese analise
en 'n handvol seretonien
en hoop op beter dae
as dié
dié grysheid wat dit wat eens kleurryk
was
oorspoel het tot 'n lagwekkende
inkrimpende
ek

en steeds hoop ek op beter dae
as dié
steeds

Kelvin Knowles

OP

hinderlaag

lief
jy't te slim geraak vir my
liefkosings
te uitgeslape vir die trillings van my
vat
immuun teen my gistende passie

(en verder het jou hart gemaklik begin klop)

lief
jy't te bevry geword vir my
vry
te broos vir my dwalende siel
drentelend tussen hoop en wanhoop

lief
uiteindelik moes ek my losmaak
ek't te bang geword vir ons
liefkosings
te broos vir ons
saamwees
en nou?

nou teer ek op verwronge beelde
van eendag lank gelede

Kelvin Knowles

OP

slegte gewoonte
"I've just got one bad habit...
and it's you
- Michael Franks
dis soos die interaksie van mond en sigaret
'n slegte gewoonte
jy
wat ek weet my doodmaak
jy
waarsonder ek weet
ek nie klaar kom nie
jy
wat my keer op keer
papiere aan die brand laat
skryf
Kelvin Knowles

OP

nuwe wêreld

op 'n somer voordag
het ek my half-lam duif
uit my palms bevry

soekend na die belofte van olyfgroen

en my geveerde hoop
het klokslag voor dagbreek
dwarrelend bo my kom sirkel
en in sy bek die krul van
'n haarpunt
sy koorsagtige vlerkklap
sy's oppad:

die een met die son in haar kies
en in haar palms
die belofte van 'n vasmeerplek...

03/04/98
Kelvin Knowles

OP

oos wes - woord bes
(voor die vertrek)

voor dié bruising
lank voor poëte
(jammerlike apologete)
metafories en skriftuurlik korrek
hul opeenhoping van klinkerende frustrasies
orgasmies op velle stort
het mense dié pad geloop

selfs ek
met 'n duisend en een verse
as demper vir 'n skietende poësie pyn
as gekarteerde rigting vir verdwaling
loop êrens langs 'n yskoue see
en bid dat iets meer as net
'n koue sout wind
my moet pluk
straks 'n meesterlike vers
'n gebundelde stukkie ek
êrens op 'n rak
bladskuddend met surrealistiese boeddhiste
struggle poëte
ladies en gentlemen van woorde
êrens die ontmoeting van
hart mond en siel
smaak
soos mense voor my
onwillige reisigers
met bagasie oorbodig
op 'n ongekarteerde woord
landskap

Kelvin Knowles

OP

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD




Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/gedig6.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]