Onse angeltjie moes in Oktober 1998 afskeid neem van een van ons mees gewaardeerde en geliefde lede. Ons plaas hier die in memoriam wat by 'n diens in Grahamstad gelewer is.

IN MEMORIAM: AGNES BARBARA BOSCH

Wetenskap en kennis, dit wat die bestaan van 'n universiteit
regverdig, bestaan in 'n hoë mate uit en in woorde en
woordstrukture. Maar, ironies, wanneer 'n mens gekonfronteer word
met die soort verlies wat ons vandag ervaar, dan droog jou woorde
letterlik op en stomme verslaendheid dreig om 'n mens te
oorweldig.

Ek herinner my egter aan die 14de eeuse Engelse non en skrywer
oor die mistiek, Dame Julian of Norwich, wat veral ook oor
menslike lyding en smart gepeins het. In een van haar geskrifte,
die sogenaamde Short Text (hoofstuk 22) skryf sy die volgende oor
een van haar visioene:

"These words: You will not be overcome, were said very
insistently and strongly [by Jesus], for certainty and strength
against every tribulation which may come. He did not say: You
will not be assailed, you will not be belaboured, you will not
be disquieted, but he said: You will not be overcome."

As we are mourning, we take courage from the fact that we know,
that our friend Barbara was indeed not overcome. Die vrede wat
sy voor haar heengaan ervaar het en die visioen wat sy van 'n
wonderlike hiernamaals gehad het, is vir ons wat rou, 'n bron van
vertroosting.

Wanneer 'n mens oor prof Agnes Barbara Bosch iets moet sê, is die
vraag: Wat kan jy uitlaat, want daar is so veel te sê:

*    'n Mens sou kon verwys na haar merkwaardige bestuursvermoë;
     haar departement, haar huis, haar private lewe, haar
     navorsing, haar deelname aan die openbare en
     verenigingslewe, was te alle tye voorbeelde van perfekte
     orkestrasie en bestuur -

*    'n Mens sou kon verwys na haar verstommende prolifieke
     wetenskaplike navorsing; meer as 60 akademiese publikasies
     in die afgelope 7 jaar -

*    'n Mens sou kon noem dat sy 'n gerespekteerde lid van die
     Afrikaanse en Suid-Afrikaanse akademiese gemeenskap was;
     die posisies wat sy in vakkundige en redaksionele komitees
     beklee het getuig hiervan -

*    'n Mens sou kon praat oor haar bydrae tot die komitees en
     funksies van die Universiteit en veral haar enorme bydrae
     tot die Departement Afrikaans en Nederlands aan Rhodes-
     universiteit soos bevestig deur die spesiale toekenning
     deur die Vise-kanselier in 1997 vir haar bydrae tot die
     Universiteit -

*    'n Mens sou kon verwys na haar internasionale statuur soos
     bevestig deur die feit dat die Dictionary of International
     Biography haar in die 1996 uitgawe vermeld of die feit dat
     die publikasie Who's Who in the World haar in 1996-97
     vermeld of the feit dat "The World's Who's Who of Women"
     haar in 1997 vermeld -

Maar eintlik lê ons verlies veral op die persoonlike vlak:

*    ons sal die sjarmante, elegante en altyd onkreukbaar
     korrekte Departementshoof verskriklik mis; as
     departementslede was ons altyd trots daarop om deur 'n mens
     van haar kaliber verteenwoordig te wees -

*    ons sal die sorgsame, sensitiewe en selflose Barbara mis
     wat altyd meer begaan was oor die welsyn van andere as oor
     haarself -

*    ons sal die bedagsame persoon mis wat altyd, ten spyte van
     enorme verpligtings, na die klein menslike dingetjies
     omgesien het (enkele dae gelede vertel 'n professor aan 'n
     ander universiteit my dat sy eenmaal vir 'n onderhoud
     alleen in die aand van Port Elizabeth na Grahamstad moes ry
     en by haar aankoms vind sy 'n pragtige ruikertjie blomme en
     'n vriendelike boodskap op die kleedtafel in haar hotel -
     eers jare daarna sou sy uitvind dat Barbara anoniem die
     blomme daar gelaat het) -

*    ons sal die aangename, vriendelike en lieflike kollega mis;
     waar 'n mens ook al by kongresse in Suid-Afrika sowel as in
     die buiteland kom, is dit duidelik dat Barbara nie net die
     respek van haar kollegas afgedwing het nie, maar dat mense
     vir haar lief was -

*    ons sal die mens mis wat in die middel van die skryf aan 'n
     akademiese artikel of referaat, kon tyd maak om met 'n kind
     wat in haar kantoor kom kuier te gesels en lekkers uit te
     deel. She walked with kings but never lost the common
     touch.

In haar kort lewe het Barbara verstommend veel vermag. Onvoldane
sake, glo ek, het sy nie gehad nie. En daarom kan ons ten opsigte
van haar, saam met die spreker in N.P. van Wyk Louw se gedig sê:
"mooi is die lewe en die dood is mooi".

Aan Tommie, Christoff, Matthys, aan Mev De Wet, Barbara se
moeder, aan Mev Hager haar tante en aan die hele familie wil ons
wat bevoorreg was om haar as kollega en vriendin met hulle te
gedeel het, sê, ons is saam met julle verskriklik hartseer. Ons
glo egter dat die mooi en lekker herinneringe vir ons en vir
julle sal onderskraag.

Die Afrikaanse digteres Elizabeth Eybers het 'n gedig geskryf
waarvan, dink ek, so baie op Barbara van toepassing is. Laat my
toe om met drie strofes van die gedig "Die vrou" af te sluit:

          "Somer en herfs en winter trek in wye
          onafgebroke wisseling deur die land,
          maar sy bly draer van die lente want
          liefde het haar verhef bo die getye.

          Die uitgeteerde ruiter neig sy sens
          en aarselend voor die klaarheid van haar blik
          erken selfs hy sy heerskappy se grens:

          in haar, wat die onsterflikheid bewaak,
          ontkiem die toekoms in die flou getik
          van lewe wat voorwêreldlik ontwaak."

Terug na dieinhoudsopgawe