Die huis van die swart hings

Edna Deudney

Die verduiwelde hings kry die geur van die mooie merrie in sy neus, hou hom eers heel rustig, runnik nie en laat ook alle ander liefdesverklaringe wat by perde gebruiklik is, agterweë. Maar hy lê op loer (Honoré De Balzac).
Disclaimer
Daantjie, erg nuuskierig om meer van Olomouc te sien, dog versigtig bedag daarop om steeds vaste en relatief droë grond onder sy voete te voel, was op stap in die oudste gedeelte van die stad. Daar waar die paleise, onder andere dié van die biskop en die imposante huise van eertydse edelliede veilig bokant die waters troon, kom hy af op ‘n uiters vreemde verskynsel. Hoog bo uit ‘n klein koepelvenstertjie in die derde verdieping van die oudste der oue huise peul waaragtig ’n lewensgrote swart perd, bek runnikend gesper en oë wat wit in hulle kaste rol; maar die runnik het blykbaar verstil, die perd is versteen. Lank het hy glo na die skouspel staan en kyk, later uit nuuskierigheid gaan aanklop. Die keer was taal nie soos hy verwag het, ‘n versperring nie. Die baas des huises, ingestel op nuuskierige toeriste, het op Engels met ‘n swaar Duitse aksent, ‘n som van sestig krone (plus minus tien rand) gevra, die geld in sy sak gestop en Daantjie met die styl wenteltrap opgevoer na ‘n klein vertrekkie op die derde verdieping van die huis. So klein is die kamertjie, het Daantjie daardie aand met ‘n vonkel in sy oog aan die tapkas van pani Boccaciová vertel, dat die agterstewe van die hings feitlik die helfte van die ruimte vul. Orent op sy agterpote met sy adellike kop, voorpote en bors reeds deur die venster gepers, staan hy daar asof skielik in beweging gestol, elke spier nog saamgetrek vir die uiteindelike sprong, die manjefieke geslag bronstig gestrek, gereed vir paring. Eenkant in die hoek, so skuins agter die hings is ‘n enkele meubelstuk sigbaar, ‘n hemelbed, die geborduurde behangsels daarvan, geel van die ouderdom.
Weer af met die trap en buite het Daantjie nogmaals verwonderd na die versteende perd in die raam gekyk. Toe het ‘n datum teen die sykant van die venster hom opgeval. Hy het die huisbaas daarna gevra.
Teen die betaling van ‘n verdere 60 krone het hy toe glo die ware en en onvervalste geskiedenis van die erbarmlike swart hings en die huis wat na hom vernoem is, agterhaal. So het hy dit daardie aand woordeliks herhaal:

"Ja, die pragtige hings se wonderlike geskiedenis dateer uit die jaar van Onse Liewe Heer 1478 toe die Vrede van Olomouc tussen Ladislas Jagellon, koning van Pole en Mathais Corvin, koning van Hongarye daar in die ou stadshuis op Horni Namnjesti onderteken is; dit na sewe lange jare van oorlog wat op aandrang van die Tsjeggiese partisane ontketen is. Hulle het mos na die dood van hulle verkose koning, die Hussietiese edelman, Jirzji van Podiébrady, daarvoor gestem dat Boheme onder Koning Ladislas val en dat hy hulle moet lei in ‘n oorlog teen die vege vlegel van ‘n Corvin. Dié was immers toe al jare lank gedienstige pion van Paus Paul die Tweede in sy kruistog teen die Hussiete wat sy weg versper het by die inpalming van die hele Sentraal-Europa vir sy Heilige Roomse Ryk, daardie magsblok waarvan Voltaire tong in die kies gesê het dat die naam so besonder gepas was: dit was immers nie Rooms nie en allermins heilig."

Dis alles min of meer so in geskiedenisboekies opgeteken, maar wie steur hulle vandag nog aan wat in boeke staan? Oor en oor deur skrywers vervals; papier is mos geduldig. Maar die geskiedenis van die stomme dier daar in die raam, dié kry jy vandag as’t ware uit die perd se bek.
Met dié het die huisbaas hom voorgestel as pan Tsjerny Konjits, meneer Swart Perd dus, en verre familielid van die vroegste bewoners van die huis.
"Maar om by die eintlike verhaal uit te kom" , het hy vervolg, "in die jaar 1478 het dié huis aan ene Sletsjno Konicová, ‘n prag van ‘n frisse meisiekind behoort; ‘n weeskind van so veertien, vyftien jaar; raafswart hare wat tot op haar bolle boudjies gehang het, styl soos perdestert, donkerogig, die mooiste stewigste klein volbloed wat jy jou kan bedink, en danksy haar eie vrygewigheid en die van edel ridders wat hulleself in oorlogstyd vrye toegang tot alle poorte in die stad veroorloof het, al lank nie meer ‘n panic nie. Stoksielalleen het sy en haar wyse ou hoedster in dié grote paleis van ‘n huis gewoon. Waarvan hulle geleef het? Wie weet, moontlik van haar aansienlike erfgeld, moontlik slegs van die kamers wat hulle aan bepaalde kavaliers en betroubare vriendinne vir oornagting verhuur het. Hoe dit ook al sy, aan voedsel, mooi klere, ja selfs aan lekkernye en juwele het dit die avontuurlike Konicová nooit ontbreek nie; alles waarskynlik steeds te danke aan veelgeroemde en vrygewige ridderlike sorg. Bygesê, die kind het ‘n pragtige sangstem gehad, daardie soort klokhelder koloratuur wat kenmerkend is van ‘n passievolle natuur. Heel bedrewe het sy gereeld in die plaaslike tavernes met een of twee skunnige liedjies bultende geld- en broekbuidels ontsluit.
Toe, soos die menslike natuur dit nou maar eenmaal bepaal, gaan staan sy en verlief raak. Soos ‘n hewige siekte het dit haar oorval en heeltemal onverwags soos reën uit ‘n helder hemel. Die objek van haar passie? ‘n Vreemde kavalier en sy manjefieke swart hings wat op die dag van die vredesluiting voor in die optog van Koning Corvin ‘n eerste verskyning in die stad gemaak het. Soos die sappige lote van die duisendknoop in ‘n onnutsige lentebries ril, so het Konicová se eie sappige ledemate begin ril by die blote aanskoue van die prinslike man te perd. Dit was liefdespassie met die eerste oogopslag, ‘n hewige koors wat sy ten alle koste in innige gemeensaamheid met die vreemdeling moes verkoel. Sy het haar donker oë swymelsoet en belofteryk op hom gerig gehou, maar aikona, nie eenkeer het hy in haar rigting gekyk nie.
Geensins van stryk gebring nie, het sy in die dae wat gevolg het, doelgerig begin optree om haar hartstog en bereidwilligheid tot hom te laat deurdring. Aand vir aand wis sy in watter taveerne sy hom sou vind. Uitgedos in haar mees uitdagende jurk het sy haar daarheen gehaas, haar geensins gesteur aan die luidrugtige begroeting van haar talryke bewonderaars nie, maar haar regstreeks tot die vreemdeling gerig met die gebruiklike liedjie waarmee die Morawiese meisiekinders deur die jare heen die aandag en lustige attensies van pronkerige kavaliers uitgelok het:

(Kyk na my
my vreugde
kyk na my
my lief:
doen waarin jy sin het,
saal dié perdjie op,
doen waarin jy sin het
A, my man!)
"Podívej se na me,
potesení moje,
podívej se na me,
moje mila.
Jak jsou udelali,
kone rosedlali
jak jsou udelali
ze mne pána!"
In haar oë het lus en verlange gesmeul, haar trillende keel en vroulike welwinge was verwondbaar sigbaar. Hoe inniger die klanke van haar lied, hoe dringender het tepeltoppies teen die sagte stof van die jurk gestoot, maar aan die einde van die lied het die kavalier haar slegs ‘n gemoedelike kloppie op die boud gegee en sy volle aandag verder by sy luidrugtige makkers bepaal.
Ten einde raad het onse mooie meisiekind haar tot haar wyse ou hoedster gewend. Dié het op haar beurt die saak oorgedra aan ‘n nog ouer en wyser vriendin, wat op haar beurt die raad van ‘n derde bygeroep het. Saam-saam het die drie liewe ou heksies die saak oorweeg en uiteindelik huiwerig besluit om die volgende resep van ‘n onfeilbare magiese mengsel aan die ore van die jonge dogter toe te vertrou:
‘Skraap rojaal van die vog uit jou eie mees geheime sweetvoue, voeg daarby minstens drie mondjiesvol kavalierskloot - jy weet mos daardie witterige slym van die stewige stengels wat in sommige skuilhoekies langs die rivier gedy - nou, dié moet jy happie vir happie by volmaan versamel; dan sewe lekseltjies melk uit die tepels van een van ons jong en kuise kloostersusters, vyf verpoeierde skerfies van ‘n ongeskonde barnsteen wat jy drie dae lank teenaan jou vel gedra het en ten slotte ‘n snuifie watsenaam of ‘n blertsie dinges van ‘n bronstige Morawiese merrie. Meng alles goed, plaas ‘n klein bietjie opsy, om sodra dit nodig is, aan jou polse en oksels te smeer. Die res gooi jy by die gewone bestanddele vir ‘n bakkie suikerlekkers. Al wat jou dan verder te doen staan, is om die lekkers te berei en aan te bied aan die ridder op wie jy verlief is. Sorg egter dat jy een of twee daarvan uithou om self te eet, maar versigtig moenie eet voordat die ander hulle bestemming bereik het nie. En, belangrikste van alles, sorg dat julle so gou moontlik na inname saam in die bed kom. So nie sal die gevolge vir jou minnaar onvoorstelbaar wees.’
Die liewe kind het dadelik aan die werk gespring. Gelukkig was dit volmaan en was daar, danksy die Vrede, gewillige kavaliers te kus en te keur. Hulle het haar ywerig bygestaan in haar soektog na skuiltes waar die pesige stengels op hul geilste sou kon rank. Vir dié besondere bestanddeel was dus slegs enkele kundige knippies nodig. Met die dinges en die watsenaam was dit egter anders gesteld. Daarmee had sy nogal moeite . ‘Elke blerrie bronstige Morawiese merrie is blykbaar reeds gedek’ het sy by haar hoedster gekla. Die liewe ou heksie het roggelend begin kekkel, die lagtrane uit haar varkogies gevee, en haar gekromde wysvinger op die klaagster gerig: ‘En, wat dan van jou?’ Dis toe dat daar ‘n lig vir Sletsjno Konicová opgaan. Sonder enige verdere oponthoud het sy so’n vinnige sjirtsie van haar eie gebruik.
Toe het die magiese mengsel gruwelik begin gis en borrel, eers groen, toe geel, toe glansende goud; vandaar die pragtige goue kleur van die towertoffies toe die uiteindelik gereed was.
Die Hongaarse kavalierskorps het elke oggend aan ‘n strawwe oefensessie deelgeneem. Klokslag daarna het die prins van ‘n kavalier sy pragperd op Dolni Namnjesti gaan koudlei. Reeds goed bekend met die daaglikse roetine van haar onbereikbare held, het Konicová hom dus op die klein pleintjie gaan inwag. Daar was ‘n lieflike blos op haar wange en haar hart het onstuimig geklop. Hoe kon dit anders? Die gerugte dat die vreemdeling ‘n werklike egte prins uit ‘n verre Oosterse land was, het sy vir geen oomblik betwyfel nie en hier was sy nou gereed om die werklike egte prins van ‘n man in haar strikke te vang.
Om die oorkantste hoek van die plein het perd en ruiter skielik verskyn. Die daaglikse ritueel het begin. Kruis en dwars, kruis en dwars het die prins sy perd oor die keie gelei; kruis en dwars tot uiteindelik vlak voor die voete van Konicová. Met haar mooiste onskuldigste glimlaggie en ‘n gedienstige kniebuiging het sy hom die behekste suikertjies in ‘n klein gevlegte mandjie aangebied.
Effens onthuts deur haar volgehoue attensies en eintlik bang dat sy moontlik skielik sal lostrek met ‘n liefdeslied wat ongetwyfeld sy edele strydros op loop sal jaag, het die prins sonder meer haar offergawe aanvaar. Anders as wat sy gehoop het, het hy egter nie daar en dan van die soetgoed begin eet nie. Hy het wel erkentlik gebuig, dog onmiddellik skigtig begin rondkyk, asof hy ‘n wegkomkans soek. Nog eens verontskuldigend gebuig, toe op sy hiele omgedraai en vinnig begin aanstryk in die rigting vanwaar hy gekom het, sy perd skommelend agterna.
Op ‘n veilige afstand het die liefdesgeteisterde meisiekind hom gevolg. Sy moes immers weet wat gebeur, want sodra hy geëet het, moes sy haar gaan insmeer. Hy het om die hoek verdwyn en blykbaar daar tot stilstand gekom. Dit kon sy aflei, want die stert en agterstewe van die hings wat natuurlik ook tot stilstand gekom het, was nog vir haar sigbaar. Toe, tot haar grote verligting en blydskap het die mandjie skielik leeg om die hoek gerol. Alles opgeëet! Blitsig het sy haar eie suikertjies gesluk, so ampertjies daaraan verstik; toe vinnig weggespring huis toe. Die keiharde plein was immers geen bed nie!
Met dat sy haar rokke gelig het en begin hardloop, kon sy hoor dat die prins en sy perd ook reeds in aantog was. As sy haar toe die tyd gegun het om om te kyk, sou die wyse van hulle aantog haar nietemin erg verbaas het. Die perd was voor en tevergeefs het sy baas aan die teuels gerem om hom terug te hou. Sy sou buitendien nie verstaan het wat die prins in sy eie taal en met stygende ongeduld die weerbarstige dier toegevoeg het nie:
‘Ho nou Satan! Terug! Die Sweetie het nie meer sweeties nie!’
Waaruit af te lei was dat nie die baas nie, maar sy strydros die towertoffies verorber het.
In alleryl het Konicová haar huis binnegestorm, die orige paar druppels van die magiese mengsel gegryp en dit soos parfuum aan al die strategiese plekkies van haar liggaam gesmeer. Buite het die prins daarin geslaag om agter ‘n haag, sowat vyftig tree van die huis af vir Satan met ‘n ysere hand tot stilstand te dwing, maar hoe hy ook al probeer het om die dier daar weg te rem, van daardie plek af wou die verduiwelde steekse hings hom nie ‘n tree versit nie.
Vol blye verwagting is Konicová intussen die trappe op na die een klein kamertjie waar sy vir geleenthede soos die haar hemelbed gereed gehou het. Daar op die bulsak het sy haar soos ‘n wie weet wafferse slapende skoonheid neergevly en in spanning gewag vir die prins om op te daag. Toe die minute te traag na haar sin verbysleep, het sy egter onrustig opgespring om deur die venster te loer. So van bo uit die derde verdieping kon sy mooi sien waar haar held, soos dit vir haar gelyk het, half verskuil agter sy perd en agter die haag op loer was na haar.
‘Grote Griet, wat is die man tog onmoontlik skaam!’ Al genade was om maar weer onder toe te gaan, die swaar brons deure van die huis wawyd oop te maak en haar daar, in al haar naakte glorie uitdagend te vertoon.
Maar sy was verkeerd. Dit was nie die man nie, maar die perd wat op loer was. Toe die deure oopswaai, het haar reuk so oorweldigend sterk by sy sensitiewe neusvleuels ingedring dat hy hom met die gerunnik van tien getormenteerde hingste van sy meester losgeruk het. In een geweldige sprong is hy oor die hoë heining, toe met nog ‘n sprong al runnikend oor die twintig bloeiende roosbome voor die huis van Konicová.
Haar gille terwyl sy boontoe vlug, was ewe bloedstollend as dié van die hings wat kletterend agter haar aan die trappe aan’t klouter was. Wie ook al in die ander kamers van die huis hulle bevind het, het vreesagtig al wat deur was gesluit. Angsbevange het Konicová haar wagtende kamertjie ingevlug, maar die hings was so kort agter haar dat sy die deur nie kon toe ruk of druk nie. Haar enigste ontsnaproete was die klein venstertjie.
Onder voor die huis het die prins nog weifelend staan en wonder of hy die beduiwelde Satan die huis in moes volg. Skielik het ‘n beweging by ‘n klein venstertjie op die derde verdieping sy aandag getrek. Eers toe hy nader staan, het hy gemerk hoe die frisgeboude meisiekind haar pens en pootjies na buite probeer wring.
In stomme verbasing oor die blatante selfmoordpoging, het hy nog so staan en gaap, toe val sy al; land wonder bo wonder ongedeerd bo-op hom. En hy? Asof met ‘n bliksem van Thor in plaas van die pyl van Kupido neergevel, het hy daar onder haar gelê, letterlik beenaf.
Satan het intussen daarin geslaag om met ‘n laaste geweldige sprong sy voorstewe tot by sy breë borskas deur die raam na buite te stu. Verder kon hy nie. Sy angstige en pleitende gerunnik het algaande hees en flou geraak; dit vanweë die afgryslike effek van die magiese mengsel by gebrek aan konsumasie.
Uiteraard was die prins met albei bene op nie minder nie as drie plekke gebreek, vir maandelank uitgelewer aan die sorg van Konicová. Dis selfs moontlik dat daar in die are van die latere so talryke familie wat die van Konic voer, enkele druppels prinslike bloed vloei. By gebrek aan ooggetuies is die teorie egter nie bewysbaar nie. Oor die stomme Satan se lot daarenteen, bestaan geen twyfel nie. Binne enkele ure was die praghings totaal versteen, presies so soos hy vandag nog daar in Olomouc in die venster van die huis van die swart perd te sien is."

Ewe selfvoldaan het Daantjie in sy stoel teruggesit, ons vraend betrag, want anders as by vorige vertellings het die kommentaar uitgebly. Een en ander het asof in gedagte versonke diep in sy of haar glas sit en tuur. Eindelik kon Daantjie die stilte nie langer verduur nie. Hy het opgestaan, sy hande met hangvingers so voor hom gelig en geskud asof hy van die laaste druppels van die klewerige konkoksie in sy storie ontslae wou raak en met eerlike bekommernis ons aangespreek:

"Ag nee, kyk, ek skud my bananas, maar check die worry in my oog. Het julle van my storie gehou of nie?"

Dirk was eerste om die kritiese stilte te verbreek. "‘n Bulperd van ‘n storie Daan, maar ek dink daar is enkele regstellings te maak. Om maar een te noem, jou willekeurige vertaling van Konicová se liedjie. Erken minstens dat jy dit so effens verwring het om in die omstandighede te pas."
En toe Suster Sarah: "Nee gits, nou weet ek nie meer wat om te glo en wat nie. Soos ek dit gehoor het, is daar werklik so’n perd in een van die huise se vensters, maar dis ‘n merrie, nie ‘n hings nie en dis die jonge dogter self wat tydens ‘n inval van die plunderende vyand wou wegvlug van haar verkragters. Een of ander goeie fee het haar glo in ‘n vlugvoetige perdjie verander, dog net enkele oomblikke te laat. Daar in die venster het sy van blote angs versteen."
Jakkals het nie op hom laat wag nie, met daardie beterweterige trek op sy skelmagtige tronie tree hy toe vir Daantjie in die bres: "Alles ‘n kwessie van perspektief, ou sussie, alles ‘n kwessie van perspektief. Julle meisiekinders se koppe is buitendien nog steeds op hol oor die nuus dat 20,000 vroue en dogters in Kroasië deur die Serwiërs verkrag is. Kyk julle na die perd, is dit ‘n rampspoedige jong vul, ‘n merrie in haar fleur; kyk ons manne na die perd, sien ons ‘n praghings."
Dit was egter Baas Jannes wie se kommentaar die bedenkinge wat ek self oor die skunnige verhale van Onse eige Dikkemoron begin koester het, effens kon sus. Die grimmige ou brombeer het nog ‘n paar oomblikke nadenkend aan sy dooie pyp gesuig, dit uit die spleet tussen bolip en baardjie verwyder, tydsaam teen sy skoensool uitgeklop, toe betogend met die steelkant daarvan in die lug beduie terwyl hy praat:
"Eerstens, namens ons almal dank aan Daantjie vir ‘n uiters onderhoudende storie. Daarby ‘n bietjie raad vir watter kritiek daar ook al in ons gemoedere mag ontstaan. Onthou, nie een van ons is daarop uit om die goeie sedes van die mensdom te verkrag nie. Dis stories wat ons vertel, stories as terapie vir die kwale en kwinte wat ons hier in ons gedwonge gevangeskap teister."
Daarop nog ‘n laaste woord van Jakkals: "In die kol Jannes, in die einste Freudiaanse kol waarom alles sogenaamd draai, sy dit slapilitis, nimfositis of selfs een of ander psigiese -itis soos die pitpyn waaraan Katryntjie nou al jarelank ly."


Terug na die HOOFBLADSY || INDEKS: Nommer 7

Copyright:  © 2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/perd.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 18 Jul 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]