.............
............. riskante .. ....
. ... REKLAME


# 1

riskante REKLAME betoon hiermee hul innige spyt aan Robertsons, 'n ou bekende in Afrikaanse huise, op ons tafels en in ons kombuise. Iets het met Robertsons se produkte gebeur wat veroorsaak het dat dit eenvoudig net nie meer so smaak soos voorheen nie. Iets het iewers verkeerd geloop. Ons hoop van harte dat Robertsons iets hieraan sal kan doen, maar dan natuurlik nie iets wat die situasie net verder sal vererger nie.

Ons, en Robertsons, weet dat Afrikaanse mense die maatskappy al vir jare der jare getrou ondersteun. Dit lyk egter asof Robertsons om die een of ander onverklaarbare rede hiervan vergeet het. Die maatskappy het naamlik 'n jaar of wat gelede besluit om nie meer Afrikaans op hul produkte te gebruik nie. Die resultaat van dié besluit is dat baie van ons nie meer glo wat op Robertsons se produkte staan nie, te wete: "The spice people". Ons lees iets anders, próé iets anders.
Die implikasies van Robertsons se besluit om 'n beleid van semantiese en linguistiese suiwering tot voordeel van Engels te volg, strek verder as wat mens miskien met die eerste oogopslag mag dink. Dit is 'n besluit wat daartoe lei dat die ruimte wat Afrikaans in die openbare (en private) sfeer in Suid-Afrika vul, nog verder verklein word. Om dit konkreet te stel: die besluit beteken dat sekere welbekende en eg Suid-Afrikaanse woorde verder buite ons sig gedwing word. Die skrynendste voorbeeld hiervan is sekerlik die woord "borrie". Weet u wat dit in Engels is? (Stel u werklik belang?; Wat "beteken" die Engelse woord vir borrie vir u?) So ook met "koljander", "kaneel", "vinkel", "tiemie".....
Aan al die moderne kultuurfilosowe - Hanlie Retief, Bertie du Plessis, Jans Rautenbach, ens. - wat dink dat die gebruik van Afrikaans op Coke-blikkies nie saak maak nie, bring ons dus die ongelukkige nuus dat dit wél saak maak - en dat hierdie produkte anders voel en proe wanneer 'n mens eers wakker word. Dít is natuurlik ook waaroor dit gaan: om te ontwaak uit die kommoditeitsfetisjistiese sluimer waarin sekere oriëntasies in ons kultuur ons gevange en in bedwang probeer hou.
Onse angeltjie vind hierdie soort klap in die gesig van Afrikaanse verbruikers geheel en al onaanvaarbaar en het in samewerking met t0, 'n sogenaamde spook-"NGO", besluit om te begin werk aan 'n projek om iets hieraan te doen (Een manier waarop mens t0 kan uitspreek, is as "teenul". Een betekenis van die naam is, soos op Latyn, "terra nihil").
Onse angeltjie en t0 besef dat die wet moontlik oortree word in die proses waar 'n maatskappy soos Robertsons se vergryp aan die kaak gestel word. Ons voel egter dat sodanige oortreding geheel en al geregverdig is. As Robertsons sou besluit om hardhandig op te tree, nou ja, sal hul optrede help om duidelik te maak met wie ons te make het. Indien hulle positief reageer, sal ons dit luidkeels verwelkom.
Ons voel ook dat 'n verdere sy van hierdie saak genoem moet word. En dit is naamlik dat Robertsons se botteltjies kruie en speserye bykans elke week op 'n baie populêre Afrikaanse program te sien is, naamlik op "Maak 'n las". Die vervaardigers van hierdie program het onses insiens 'n morele verantwoordelikheid teenoor hulle kykers om standpunt in te neem oor Robertsons se optrede, byvoorbeeld deur te oorweeg om 'n ander maatskappy se produkte te begin gebruik.

Vir ons lesers wil ons vra:

Skryf aan:

Robertsons Foods
Walnutweg 5
DURBAN
4001

U kan ook die volgende telefoonnommer probeer, maar ons weet nie of u net tyd gaan mors nie: 0800333310

Die benadering wat Onse angeltjie en t0 hier volg, kom voort uit gewaarwordings dat daar tans vreemde tendense in die Afrikaanse kultuurlewe aan die gang is waar mense meewerk aan die afbreek en ondergrawing van Afrikaanse mense se regverdige aansprake op 'n leefbare kultuur- en geesteswêreld, onder meer deur die taal en die kultuur meer "plooibaar" te maak sodat dit makliker ondergeskik gestel kan word aan korporatiewe belange (sien byvoorbeeld Dan Roodt se kritiek op Bertie du Plessis in sy briewe, "Bertie du Plessis aan die kaak gestel" (18/11/2000) en "Bertie du Plessis se teologie van Engels" (24/11/2000) op Sênet, LitNet se brieweblad).
Onse angeltjie en t0 se aksies kom in die algemeen voort uit die gedagte dat ons, as sogenaamde "moderne" mense, aan impulse en tendense blootgestel en uitgelewer is wat baie keer traumaties is en dat dit nodig is om pro-aktief en in sekere gevalle offensief op te tree om hierdie traumatiese werking teë te werk. Die soort van reklame wat deur 'n maatskappy soos Robertsons bedryf word, val in hierdie kategorie. Dit gaan dus vir oor die ontwikkeling van strategieë om geestelike gesondheid in die midde en ten spyte van die abnormaliteit van die moderne wêreld te bevorder. Wat riskante REKLAME en t0 hier probeer, is maar net een moontlike manier om te reageer op die aanslag wat op ons sintuie, kultuurwêreld en ons siele geloods word. Dit gaan onder meer daaroor om bewus te raak van dinge wat jou irriteer en dan op 'n kreatiewe - en offensiewe - manier op hierdie irritasie te reageer. riskante REKLAME wil veral reageer op die aanslag wat vanuit die wêreld van die "mark" op die Afrikaanse taal en kultuur geloods word, deur dit aan die kaak te stel.
Maar dan wil ons ook nie net op die negatiewe gekonsentreer bly nie - ons sal ook baie graag erkenning wil gee waar dit verdien word. So vir elke negatiewe gebaar wat ons maak, moet ons probeer om iets te vind wat positief is. So 'n benadering is gegrond op die ou bekende beginsel van "verdeel en heers".....

As afsluiting, die eerste toevoeging tot ons "verbruikersindeks":

+
-
NAAM kommentaar Indeks NAAM kommentaar Indeks
. . . Robertsons siniese suiwering
-6
. . . . . .
. . . . . .
















Vir nog 'n voorbeeld van 'n poging om bewus te word van die manier waarop met ons koppe en sintuie gesmokkel word, kyk na die Jong Rapportryers se lys:

http://www.xpoint.co.za/mb/jrb/afrikaans.htm

Ontwaak, O my siel, ontwaak!

Philip John
Port Elizabeth

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD






Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/reklame.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]