.............
............. riskante .. ....
. ... REKLAME
riskante
Reklame II

In die vorige uitgawe het Disclaimer Onse angeltjie 'n bydrae probeer lewer tot die groot Etiket-debat in Afrikaans. Dit het gebeur na 'n besoek aan 'n Pick 'n Pay waar ons van die beste van ons kwaliteit-tyd deurbring, 'n plek waar ons tuis voel, om aan te sluit by die bydrae wat Bertie du Plessis tot die taaldebat gelewer het toe hy gesê het dat Afrikaans 'n "komtuistaal" moet word.
Nou ja, toe ons by die speserye-rak kom, het ons nie tuis gevoel nie. En dit was maklik om uit te werk waarom nie. Ons het skielik gesien dat die speserye-produsent, Robertsons - wat ons al vir jarre ondersteun, nie meer "borrie" verkoop nie en dat al die etikette op Robertsons se botteltjies nou in Engels is. Ons het grafies geprotesteer deur aan te toon dat Robertsons nie meer bekend kan staan as "the spice people" nie, en dat hulle nou vir ons "the spite people" is.
Intussen het Dan Roodt die maatskappy die stryd op 'n meer direkte manier aangesê en volgens Rapport beweeg om aan te kondig dat hulle die gebruik van "borrie" en 'n paar ander woorde op die etikette van hul spesery-botteltjies sal hervat. Hiervoor moet Robertsons geprys word, behalwe dat hul groothartige onderneming nog deur hul praktyk bevestig sal moet word. Onse angeltjie het egter ook gevoel dat Robertson's nie ver genoeg gaan met die beperkte gebruik van Afrikaans nie.
Om ons waardering vir hul stappie te toon, het ons dus besluit om twee dinge te doen: in die eerste plek om hul gradering op ons indeks te verhoog, en in die tweede plek om ons eerste "aanslag" effens te temper. Hiernaas verskaf ons dus 'n hersiene weergawe van ons reaksie. Die idee met hierdie bydrae is dat die OA-leser die grafika-lêer aflaai. Wat die leser dan het, is 'n alternatiewe etiket waarop hy of sy met 'n grafika-program die Afrikaanse naam van 'n spesery of van kruie kan intik en die resultaat uit kan druk om op die Engelse Robertsons-botteltjies te plak.
Om die lêer af te laai, klik met die regterkantste knoppie van jou muis nadat jy die wyser oor die prent geposisioneer het en spaar ("save") dan die lêer op jou rekenaar. Om etikette van die regte grootte te kry, sal jy maar moet eksperimenteer.
So word niemand werklik skade of iets berokken nie, en almal bly bewus dat ons met 'n ernstige saak te make het. Niemand hoef dus op te hou om Robertson's se produkte te koop nie, maar niemand word 'n kous oor die kop getrek nie. En ons belowe, kos wat met hierdie "aangepaste" kruie gemaak word, smaak werklik anders en beter.

Net 'n laaste woordjie, voor ons by ernstiger sake uitkom: die beginsel wat agter die alternatiewe etikette lê, is dieselfde wat geld wanneer jy jou omgewing inrig
Die onderskrifte van die ikone op die skermblad kan verander word as Windows 98 opgestel is om die programme wat aan die ikone gekoppel is met twee klikke van die muis te aktiveer. Jy plaas die wyser oor 'n ikoon en druk een keer daarop sodat die kleur verander, wag 'n oomblik en klik dan weer een keer. Die onderskrif sal dan geselekteer verskyn, en kan verander word na wat jy verlang. Rekenaargebruikers met 'n hoër tegnologiese IK wat Linux gebruik, het ander maniere om hierdie dinge reg te kry.
sodat jy tuiser daarin voel, soos byvoorbeeld wanneer jy rugby kyk en M-Net se afskeep-Afrikaanse kommentaar uitsny en vervang met RSG se Afrikaanse kommentaar. Nog iets soortgelyks is wanneer jy as gebruiker van Windows 98 (2000?) die stelseltaal na Afrikaans verander, wat die datum in Afrikaanse vorm weergee. Jy rekenaar lyk ook anders as jy die onderskrifte van die ikone op die skermblad ("desktop") na Afrikaans verander, d.w.s. "My computer" verander na "My rekenaar", "Windows explorer" na "Soekie", of wat ookal, "My documents" na "My dokumente", ensovoorts. Probeer dit, en jy sal sien jy opereer in 'n ander heelal (hoeveel programme het jy op jou rekenaar wie se GUI's in 'n ander taal werk, soos Duits of Nederlands?).
Nou dat ek dit so kyk, sien ek hier is iets vir dié van ons wie se verbruikerservaring nie presies is wat ons graag wou wou hê dit moet wees nie - en dit geld miskien dié met meer rekenaarkompetensie as die bietjie wat dilettante soos ek bymekaar geskraap het. Onse angeltjie nooi almal uit - daag almal uit - om meer aandag aan hul verbruikerservaring te skenk en om dan leemtes in dié ervaring te identifiseer. Maak nog alternatiewe etikette vir ander produkte, miskien selfs ontwerpe wat op T-hemde afgedruk kan word, en vertel ons daarvan.Onse angeltjie sal plek soek om dit te plaas, of skakels daarheen maak. 'n Bladsy of netwerk wat die siellose korporatiewe globaliseringsmagte help om te sien dat hulle gewone (sensitiewe) mense ook in ag moet neem... Daar is tog baie oomblikke in ons dae wat ons aan sulke aktiwiteite kan afstaan: die advertensiebreke tydens Oprah, die herhalings van ou programme op TV2, die saaier gedeeltes tydens gholf-toernooie, die halftye van rugbywedstryde...
Onse angeltjie wil op hierdie manier probeer om sy verpligting teenoor die gemeenskap na te kom, onder meer deur mense te help om waarde toe te voeg aan hul wêrelde, miskien kan mens selfs sê dis deel van die Afrika-revival (jammer, reneisens). Wat ons in die oog het, is gesinne waar daar nie op die kinders geskel word nie, waar niemand kwalik geneem word as hulle nie "Maak 'n las" wil kyk nie, of die Lotto wil speel nie. Kry daai Photoshops, Corel Photo Houses aan die gang en 'n etiket of twee in die oog....

Antie Anti se Tutoriaal 1: Globalisering, die sensitiewe middelklasmens en die mak verbruiker

Ag ja, ongelukkig is dit nodig... Mens trap oor en oor in die slaggat en neem aan dat ander mense soos jy dink. Dis so ook met dié Afrikaanse etiket-kwessie. Iewers lyk dit het die gedagte posgevat dat dit by optrede rondom etikette op produkte in ons supermarkte oor Afrikaans gaan, terwyl veel meer op die spel is.
Dié wat teen aktivistiese optrede soos dié van Dan Roodt vasskop en allerhande ander "meer aanvaarbare" of "ordentliker" benaderings voorstel, se denke openbaar egter belangrike tekortkoming en probleme - dis nou ons politiek-korrekte verbruikerskonsultante en -intellektuele: Bertie du Plessis, Arrie Rossouw, Antjie Samuel, Jakes Gerwel, Christa van Louw, en so aan. Min of meer deur die bank openbaar hierdie mense 'n blindheid ten opsigte van kwessies wat gepaard gaan met globalisering (en Afrikanisering) en die effekte wat hierdie proses op ons leefwêrelde het. Die "gepaste" optrede wat hierdie mense voorstel, is amper sonder uitsondering gerig daarop om so 'n versoenende houding as moontlik in te neem teenoor tendense wat ons leef- en kultuurwêrelde probeer transformeer - Bertie du Plessis sê ons moet gemaklike verbruikers word wat terugsit en net geniet, Arrie Rossouw wil hê ons moet - soos met sy Jip, die jeugbylae van Die Burger - ons oorgee aan 'n najaag van modes, die "mooi" lewe, ensovoorts. Die boodskap is duidelik: verbruik, verbruik, en moenie dink of protesteer nie, want dan gaan ons jou speelgoed wegvat. Of: moenie uit jou Biggy Best konsep-borstrok probeer breek nie, want dan gaan ons die populiste op jou sit...
Om aan te dring op Afrikaans op etikette in supermarkte gaan nie in die eerste plek oor Afrikaans nie, maar is deel van 'n wêreldwye stryd teen vergrype gepleeg deur die korporasies wat ons leefwêrelde so deeglik as moontlik gekommersialiseer wil hê. Dit gaan oor veel meer as taal: dit gaan oor die kweek van 'n bewussyn dat daar magte is wat ons wil stroop van dit wat ons "anders" maak. Hul mikpunt is die ideale verbruiker: iemand wat op die optimale koers en tempo van die groot korporasies se produkte gebruik maak, sonder om twee keer te dink oor wat hulle doen: vandag Nike-skoene en Big Mac-burgers, môre iets anders, en die dag daarop die volgende mode. Wat hulle veral nie wil hê nie, is mense wat onafhanklik dink - en bereid is om daadwerklik op te tree.
Miskien moet die onderwerp vir die volgende tutoriaal dalk "imperialisme" wees, want dit is eintlik 'n sinoniem vir wat nou "globalisering" genoem word. Albei terme verwys na die uitbreiding van die kapitalistiese produksiewyse oor so groot 'n gedeelte van ons planeet as moontlik. "Imperialisme" het egter ook 'n ander betekenis wanneer dit in Afrika gebruik word, want daar is ook 'n Afrika-imperialisme met 'n lang geskiedenis. Hierdie geskiedenis het te make met die beweging van Bantu-sprekende mense suidwaarts in Afrika. Dit is nie soos Europese of kapitalistiese imperialisme 'n beweging wat deur tegnologie gedryf word nie, maar deur iets anders - dit is veel eerder 'n "imperialisme van die voet en die maag". Die interessante van die hedendaagse Suid-Afrika is dat hierdie twee imperialismes saamval. En nog interessanter is dat (opregte) Afrikaanse kultuur wars staan van beide en dat dit daarom die self-ingenomendheid kenmerkend van beide prosesse aan die lig (kan) bring (dit is hierdie ontmaskering waarteen ons nuwe blink Afrikaanse intellektuele so skerm). Om dit anders te stel: die raam waarbinne protes teen die uitsluitlike gebruik van Engels op etikette in Suid-Afrika geplaas moet word, is nie die "taaldebat" nie, maar die stryd teen imperialisme.
En as dit nou regtig nodig is, moet dit maar gesê word: wanneer mense in invloedryke posisies - sê maar die redakteur van Die Burger - ons in soveel woorde aanraai om te "berus" en nie aanstoot te gee nie ("dit kan die saak skade berokken" - "saak"?? wátter saak?), dan moet ons versigtig - en suspisieus - raak. Ons is vandag waar ons is omdat baie van ons leiers gevolg het wat ook sekere dinge aangeraai het - onder meer om nie te protesteer of te kritiseer nie - en kyk waar het dit ons gebring. Die Verwoerds, Vorsters, Bothas van gister wat ons met hul Afrikanernasionalistiese ideologie aan die politiek verkneg het en 'n morele moeras ingelei het, het eintlik net 'n gedaanteverwisseling ondergaan en verskyn nou in persone wat ons in die ideale verbruiker wil verander en aan die ekonomie, die belange van korporasies en die behoeftes van 'n gulsige Afrikanistiese elite wil verkneg. Basta!

Om nou vir Afrikaans op te staan, is om aan dieselfde kant van die barrikade te staan as die mense wat in Seattle, Geneva en Kopenhagen teen 'n mens-onvriendelike vorm van globalisering protesteer. En dan 'n laaste poepie: dit gaan nie net om protes nie, om kritiek en negatief wees nie, maar ook oor die daadwerklike skep van iets, van die wêreld waarin ons wil wees, die wêreld waarin ons gemaklik(er) voel.


Onse angeltjie se Vriende van Afrikaans-indeks (Julie 2001)
+
.
- (minus, negativo, sies)
NAAM kommentaar Indeks . NAAM kommentaar Indeks
GFI
General Food Industries
Tradisionele Growwe
Braaipap
Ons staan agter julle
+8 . Robertsons siniese linguistiese suiwering
(maar druk werk)
-6+4=-2
KOO Tamatiepasta
Aarbeikonfyt
Fyn appelkooskonfyt
Koejawelhalwes
Hier lê goud
+8 . Kalahari.net Wat beteken:
"Seil in Afrikaans"?
Onbeholpenheid, of siniese blufspel?
-1
All Gold Tamatiepasta
Waatlemoenstukke
XX Apricot Jam XXX
XX Whole peeled tomatoes XX
Iets is beter as niks
+2 . Snowflake XX White Bread Flour
XX Self Raising Flour
Duidelike agteruitgang
-6
Hugo's Gemengde Vrugtekonfyt
ou staatmaker
+8 . . . .
Nola Ouma Volgraan Beskuit
Nog 'n staatmaker
+8 . . . .
. . . . . . .
. . . . . . .
. . . . . . .
. . . . . . .
. . . . . . .






































Vir nog 'n voorbeeld van 'n poging om bewus te word van die manier waarop met ons koppe en sintuie gesmokkel word, kyk na die Jong Rapportryers se lys:

http://www.xpoint.co.za/mb/jrb/afrikaans.htm

Philip John
Port Elizabeth

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD







Copyright:  © 2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/reklame2.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 30 Junie 2001
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]