Titel: Onse angeltjie Nommer 9

Jammer, maar ek móés dit eenvoudig net doen, want ek weet ek gaan een van die dae voorgekeer word en aangesê word om die geel nommerplate op my kar te verander na die nuwe voorgeskrewes (dis nou te sê as ek nog my kar het en die lumpen-sekretariaat dit nog nie vir gebruik in ons reënboog-rewolusie opgeëis het nie). Ek het reg van die begin af gesê ek verander die nommerplate op my kar net onder protes omdat ek die nuwes ervaar as 'n aantasting van my reg op grafiese en estetiese ordentlikheid - ek bedoel, die dag dat De Kat uiteindelik hier opdaag om 'n onderhoud met my te kom voer, hoe op dees aarde gaan ek vir hulle verduidelik hoe dié afskuwelike goed op my kar beland het?!
Zef? Zefgat? Wie kan nog dié woorde onthou? Miskien nog gop, gom, gomtor of ghwar... Sekerlik net dié van ons wat bevoorreg (of ongelukkig) genoeg was om lede van die Wie-Yt(V8)-stam in aksie te gesien het, of dit nou familie was, of bure. Dit is terme wat kom uit 'n tyd toe anders geoordeel is oor straatkultuur - tóé was straatkultuur baie duidelik sekondêr, van mindere waarde. Nou is die teenoorgestelde waar. Straatkultuur - in sy eksemplariese vorm, "thuglife" - voer nou die botoon vandat die vermaaklikheidsindustrie agtergekom het dat daar baie geld te maak is uit die eksploitering van die labiele begeertes en behoeftes van jongmense. Ernstige(r) kultuur daarenteen verg te veel moeite en die "turnover" is veel minder, sodat die "bottom line" negatief geraak word "aan die einde van die dag". (En die grap is eintlik dat "ernstige" kultuur nog altyd van straatkultuur gebruik gemaak het, maar dan in 'n verwerkte vorm - lees bietjie weer James Joyce se Ulysses). Die keuse is dus eintlik tussen straatkultuur geplaas in 'n intelligente raam aan die een kant en aan die ander kant onverdunde straatkultuur wat binne 'n kommersiële raam meeding om ons impulse en rande.
Onse angeltjie probeer iets van hierdie ommekeer vasvang in hierdie uitgawe, onder andere deur 'n onderhoud met een van die redakteurs van Ons Klyntji, "die beste tydskrif in onsuiwer Afrikaans". Ook in die ander bydraes is daar sprake van omkerings, of ten minste van strak teenoorgestelde perspektiewe, iets van ratte wat teen mekaar kras.

En onthou, jy is op jou eie verantwoordelikheid as jy iemand 'n zefgat noem, OK? (Wie ookal die nuwe nommerplaat ontwerp het, verdien egter die benaming).

'n Olifant en 'n aalwyn... puhuulleeassse!!!

Inhoud .......

1. 'n Joint op Clinton

'n Onderhoud met Clinton V. du Plessis
.............................................................deur Melt Myburgh

2. Engeltjie

'n Uittreksel uit 'n nuwe roman in voorbereiding, You Know Who I Am
.............................................................deur Yvonne Burgess

3. Ons Klyntji kom Oos-Kaap toe

'n Onderhoud met een van die redakteurs van Ons Klyntji
..................................................................................................deur Philip John

4. Makanna en Ntsikana

Hoop op uitkoms
.............................................................deur John Brownlee

5. Studentedigters, professors en die poësie van kampuslewe

Poëtiese perspektiewe op kennisverwerwing
.............................................................................deur UPE LA103 en LA204

6. riskante REKLAME II

Etikette vir sensitiewes
.............................................................deur t0

7. Kreatiewe skryfwoelinge in die Oos-Kaap


Redakteur: Philip John
Mede-redakteur: Helize van Vuuren

Onse angeltjie word uitgegee deur Philip John.

Posbus 34942
Newton Park
6055

Opinies wat in die blad uitgespreek word, reflekteer nie noodwendig die beleid van die universiteit nie.

Kopiereg: Kopiereg word streng voorbehou en berus by die outeurs.
Enige gebruik van die materiaal in die tydskrif vir kommersiële of omgewingsonvriendelike doeleindes sonder die toestemming van die outeur(s) of die redakteur, word nie toegelaat nie.

Die kakkerlakke wat gebruik is om die grafika hierbo te vervaardig, is menslik behandel en is nooit onder enige onnodige stres geplaas nie.
Na die afhandeling van die fotosessie is hulle weer ongeskaad vrygelaat sodat hulle ongestoord hul voorstedelike familielewe kon voortsit.

Tot volgende keer.

Terug na die HOOFBLADSY



Copyright:  © 2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/angel5-1.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 30 Junie 2001
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]