'n Joint op Clinton

'n Onderhoud met Clinton V. Du Plessis





deur Melt Myburgh

Disclaimer


Van Port Elizabeth strek die R32 al teen die soom van die Winterberg se voetheuwels langs Cradock se kant toe. Die motoris kyk uit oor die vrugbare groen vallei waardeur die Visrivier langsaam tussen landerye, plaasopstalle en werkershuisies
Melt se trailer:

Melt Myburgh het in Desember 2000 Afrikaans-vraestelle vir die Oos-Kaapse Onderwysdepartement gaan merk in Cradock.
Hy het saam met Clinton V. du Plessis, plaaslike digter en skrywer, gaan eet (en hom 'n paar dinge verbeel).

Melt Myburgh is een van die 16 digters wie se gedigte opgeneem is in Nuwe stemme 2 wat onlangs verskyn het (2001).

kronkel. Reeds van meet af aan is ek bewus van die literêre tradisie wat in die 1800's in dié uithoek van die Groot Karoo wortel geskiet het: net oorkant die vallei troon die koppie waarop Olive Schreiner haarself met hond en doodgebore baba in 'n sarkofaag laat inmessel het, blougrys teen die oggendlug uit.
Ek registreer saam met honderde merkers vir 'n weeklange worsteling met derduisende matriekvraestelle by die Elize Coetzee-saal van Hoërskool Cradock. By die skool se ingangsportaal hang foto's van oudleerlinge wat deur die jare uitgeblink het, keurig geraam teen die muur. En wragtig, die modder wat die Visrivier in die vallei agterlaat wanneer sy elke dan en wan oor haar banke stroom, blyk literêre teelaarde van gehalte te wees. Saam met die portrette van Clarence Keyter en Meyer Khan sit Etienne van Heerden en Guy Butler bo onderskrifte wat lees "Akademikus/Skrywer" en "Academic/Author".
In Huis Virtue, die laerskool-koshuis, beland ek tussen 'n spul Afrikaans Eerste Taal-merkers, elk met 'n chip op die skouer. Hulle staan onverbloem meewarig teenoor Tweede Taal-merkers soos ek. My kamermaat, 'n onderwyser van Humansdorp, lyk by voorbaat uitgeput en waarsku my terloops dat hy om nege-uur saans die lig afskakel. Ek stel vas dat hy nog nooit van Clinton V. du Plessis, tans Cradock se seun van die Lettere, gehoor het nie. Ek kry myself nie sover om hom, soos sy mede-Eerste Talers en ons bure, "kammie" of "rooms" te noem nie.
Nietemin, toe my kamermaat presies om nege-uur die aand inkruip, sy sandale uitgeskop en sy bril op die bedkassie, sit ek af na die plaaslike Sports Bar op soek na Clinton V. du Plessis, skrywer van gedigte en verhale oor seks, drugs en rave. Ek reken die kanse behoort goed te wees om hom in die middedorp se enigste seedy bar raak te loop.
Die geluk is egter nie aan my kant nie. Gedagtig aan Cradock se reputasie as brandpunt van ons eie intifada in die sewentigs en tagtigs, is ek redelik lugtig toe ek die Sports Bar instap. Hoe onvanpas my vooropgestelde idees werklik is, besef ek terdeë toe ek sien hoe geïntegreerd die plaaslike drankvlieë gedagtes uitruil om die baksteentoonbank. Twee ANC-raadslede en die Midas-man is in diepe gesprek oor vergrype rondom die HOP-projek. Vir enigiemand wat Cradock van Port Elizabeth se kant af binnery, is dié dorp een van die min plekke in die Oos-Kaap waar dit lyk of dié behuisingsprojek met mening afgeskop het.
Later raak ek aan die gesels met 'n boer in wie se gelooide gesig die Karoo-son inderdaad gaan sit het. Soos die bier begin trek, fluister hy vertroulik dat hy 'n vrymesselaar is. Die vrymesselaars staan sterk op die dorp en hulle sorg onder meer dat daar voorsiening gemaak word vir kinders wat nie hul skoolgeld by die hoërskool kan bybring nie. Natuurlik spesifiseer hy nie watter hoërskool ter sprake is nie. Aanvanklik weet hy nie wie Clinton V. du Plessis is nie, maar later val dit hom by - dis mos die ou wat rekenmeester op die dorp is. "Ja, ek het baie respek vir hom; hy is verskriklik intelligent".
Oplaas beraadslaag ek die kroegman se telefoonboek om Clinton in die hande te kry. Ek pons die nommer in Eugenestraat in Michausdal in my selfoon in en skakel. "Dis hy wat praat", beaam Clinton my navraag. Ja, hy onthou my goed; ons het vroeër die jaar saam voorgelees by Kook! op die Grahamstadse Nasionale Kunstefees. Ons maak 'n afspraak vir die volgende aand by 'n eetplek wat sy goedkeuring wegdra. Baie later loop ek terug na Huis Virtue en vind my kamermaat nog wawyd wakker. Sy matras is hol en die Tweede Taal-merkers op die onderste vloer praat so hard dat hy nog nie 'n oog kon toemaak nie, en dit is al een-uur die oggend.
Presies om ses-uur die volgende aand, soos afgespreek, lui my selfoon. Clinton beduie my by die merksentrum uit na sy bakkie. Toe ek hom sien, verdwyn die laaste reste van Freddy Mercury-visoene wat my die hele dag al ry. Visioene van hedonistiese partytjies waar dwergies met kokaïne soos soutmynhope op silwerskinkborde die gaste bedien. Ek het in dieselfde slaggat getrap waaroor Etienne van Heerden sy lot voorheen bekla het. As hy oor seks skryf, seg Etienne, wil almal by hom weet hoe die girl was, maar as hy 'n moord beskryf, oorweeg sy lesers dit nie eens dat hy bloed aan sy hande mag hê nie.
Toe ons met 'n mineraalwater en Coke in die ongelisensieerde restaurant by die motorhawe tot ruste kom, ruim Clinton alle twyfel finaal uit die weg. Self drink of rook hy nie. Dit sal ongeskik wees om te vra of hy steek, besluit ek. Die stocky evangelis van die nihilisme, soos die Belg Luc Renders hom in in artikel op die Net beskryf, herinner my sterk aan my ouer broer. "Nee wat," sê Clinton, "ek het ook nie trouplanne nie; daarmee het ek al vrede gemaak."
En dit is mos die aard van fiksie, herinner hy my. 'n Skrywer moet oor enigiets kan skryf. "Ek was nog nooit by 'n rave nie en ek het nog nooit dwelms gebruik nie, maar dit beteken nie ek kan nie daaroor skryf nie." Seks, dwelms en die rave-kultuur interesseer hom slegs sover dit die wêreld van karakters op papier aangaan. Clinton is tans besig om 'n kortverhaalbundel saam met Peter Snyders saam te stel getiteld brunch met twee, djollie hotnots incorporated. Hulle beplan 'n stalletjie voor die boeketent by die KKNK waar hulle hul werk van die hand gaan sit.
Van boeke op eie stoom uitgee, hoofsaaklik deur sy gatsak-publikasies, kan jy Clinton niks vertel nie. "Ek het R10 000 verloor met my literêre tydskrif, Akuut." Sy eerste gedig het destyds in Patrys verskyn toe hy sewentien was. In Kookhuis, waar Clinton groot geword het, is sy belangstelling vir skryf geprikkel deur 'n radiovoorlesing van P.H. Nortjé se Die groen ghoen. Sy eerste digbundel, geloofsbelydenis van 'n kluisenaar, is in 1984 deur Perskor uitgegee - "Hulle het op 'n stadium vreeslik baie digbundels gepubliseer," som hy 'n skynbaar verbygegane era op. Behalwe vir opnames in bloemlesings en versamelbundels soos Poskaarte, Gerrit Komrij se Die Afrikaanse poësie in 'n duisend en enkele gedigte, en baie onlangs Nuwe verset, was Clinton tot dusver aangewese op homself vir publikasie. En dit is nie omdat sy werk nie goed genoeg is nie, laat hy my gou verstaan. Hy skuif 'n dokument met 'n curriculum vitae, artikels en keurdersverslae oor die tafel. Etienne Bloemhof, fiksie-redakteur van Human & Rousseau, wys daarop dat sy kort-kort verhaal manuskrip, steak, eggs, strips & coke, eenvoudig te kort is vir publikasie. Kwêla voer dieselfde rede aan.
Ten spyte van die huiwerigheid onder hoofstroom-uitgewers om Clinton se werk te publiseer, het die skrywer self 'n indrukwekkende publikasielys tot stand gebring: vier solo-digbundels en een kortverhaalbundel. Sy werk is in nie minder nie as 24 tydskrifte en webtydskrifte opgeneem. Van sy poësie is in Spaans en Nederlands vertaal. Die Hollanders blyk veral beïndruk met sy werk te wees. In 1999 is hy genooi om in Nijmegen by hul twee tot twaalf poësie-fees op te tree. Hier het hy Wilma Stockenström ontmoet, vir wie hy baie respek het. 'n Hoogtepunt was sy optrede by Poetry Africa in Durban in 1999. Die blootstelling en kruisbestuiwing met mede-Afrika skrywers wat daar plaasgevind het, is iets wat Clinton nie gou sal vergeet nie. Hy onthou hoe sy mede-poëte optrede by 'n Afrikaanse Durbanse skool geboikot het toe die skoolhoof hom toegang geweier het oor die seks en dwelm-temas in sy werk. By die MTN/Insig Afrikaanse Woordfees op Stellenbosch in Maart 2000 het wenkbroue ook gelig oor die inhoud van sy skryfkuns.
Clinton voel hoegenaamd nie dat hy deur hoofstroom-uitgewers geïgnoreer word nie. Hy het immers lidmaatskap ontvang van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy is filosofies oor die gebrekkige leeskultuur onder Afrikaanssprekendes: "As 'n mens moet kies tussen 'n loaf brood en 'n koerant, moet mens maar 'n brood koop."
Oor die proses van skryf beroep Clinton hom op Charles Bukowski, vir wie hy duidelik 'n groot bewondering het. Bukowski se "termites of the page" som sy siening van die verskynsel skrywer/digter op:

the problem that I've found with
most poets that I have known is that
they've never had an 8 hour job
and there is nothing
that will put a person
more in touch
with the realities
than
an 8 hour job
Hy skryf dus wanneer hy tyd het. As agt-tot-vyf werker is tyd 'n luukse, en hy sal nie aan pen en papier raak voor 'n storie hom nie eers in die geheel in sy kop afgespeel het nie. En daardie teorie dat jy elke dag van jou lewe moet skryf, is nonsens, sê Clinton.
Ons val elkeen weg aan 'n onchristelike groot steak. Tussendeur probeer ek uitvis oor dié skaam Cradocker se ervaring van sy omgewing. Die Karoo-landskap speel nie 'n rol in sy werk nie, want hy het "geen behoefte" om daaroor te skryf nie. Die V staan vir Vivian - "op 'n stadium was dit mos vreeslik mode vir mense om hul kinders Engelse name te gee." Clinton woon in 'n huis waar sy ouers al die jare gewoon het. Sy pa is 'n paar jaar gelede oorlede. Hy het geen behoefte daaraan om uit Michausdal, die "Kleurling-woongebied", te trek nie. "Vir wat moet ek 'n huis in die middel van die dorp loop koop net omdat ek nou mag? Ek is gelukkig tussen my mense." Hy het 'n broertjie dood aan mense wat die opsigtelike verskille tussen kultuurgroepe wil ontken bloot om polities korrek te wees.
Cradock is stil, maar 'n aangename dorp om in te woon. In die nuwe bedeling probeer almal baie hard om met mekaar oor die weg te kom. Die naaste wat hy aan 'n rassistiese voorval gekom het, was jare gelede, kort na sy eerste boek verskyn het, toe 'n ywerige bankklerk aangebied het om 'n vorm namens hom in te vul. Vandag is die grootste vyand waarvoor almal gesamentlik te staan kom, die korrupsie in die Oos-Kaapse regering, reken hy.
Clinton erken hy is te veel van 'n sinikus om homself as topverkoper-skrywer binne die Afrikaanse hoofstroom te sien staan. Daarvoor kom hy al 'n té lang pad. Ek vermoed tog 'n sweempie van frustrasie met die literêre set-up in Afrikaans, al probeer hy dit wegsteek. Hy het na alles opname in André P. Brink se Groot Verseboek 2000 geweier. In 'n artikel oor Poetry Africa in Durban beskryf die Mail & Guardian van 21 tot 27 Mei 1999 Clinton as "the real find of the festival." Met 'n besadigde, selfs vriendelike voordrag het Clinton feesgangers onverhoeds oorrompel met die brute krag van werk wat gestroop is van literêre pretensie en valse optimisme. In aansluiting by Bukowski verken hy die "impersonal side of sex" en die "savagery inflicted by individuals upon each other in the name of politics." Nadat ons die kelnerin se aanbod om nagereg ten spyte van knopmae aanvaar, herinner Clinton hom geamuseerd aan die keer toe Helize van Vuuren grappenderwys gehoop het hy staan nie binne die huwelik nie, anders sou hy diep in die moeilikheid gewees het by sy wederhelf oor die inhoud van sy skryfwerk.
In 'n brief aan Die Burger meet hy kragte met Joan Hambidge oor die Groot Verseboek en verklaar homself ten gunste van die Komrij-bloemlesing: "Die Groot Verseboek as 'literêre Bybel' dra ook swaar aan die bagasie van die verlede en ek sal geen trane stort as Komrij se bloemlesing bydra tot die afsterwe van hierdie bastion van Afrikaanse literêre uitnemendheid nie."
Clinton het reeds die genre-oorgang van poësie na die kortverhaal suksesvol gedoen. 'n Volgende logiese stap sal uiteraard wees tot 'n roman, en hiervoor werk sy kop reeds in hoogste rat.
Toe Clinton my met sy Isuzu aflaai by die hekke na Huis Virtue, merk hy op: "Dis nou al twintig jaar dat ek skryf, en hierdie was die eerste interview wat iemand met my gevoer het."
Dis nog nie eens nege-uur nie en my kamermaat lyk asof 'n senu-ineenstorting onafwendbaar is. Op die onderste vloer pols die musiek van ons mede-merkers. Die mure vibreer behoorlik van die gejil.
In die badkamer oorkant ons kamer gaan sit ek op die vloer met my rug teen die deur. Versigtig rol ek 'n netjiese joint. Terwyl ek die pitjies in die toiletbak afspoel, bespiegel ek oor die moontlikheid dat Guy Butler of Etienne van Heerden dalk met die onskuld van 'n laerskool-seun hul aan hul eerste skaamhaartjies agter hierdie deur kon verwonder het.
Ek laat my "kammie" in rus en vrede agter en wend my skrede na die Sports Bar. By die tennisbane langs die koshuis kom 'n rustigheid oor my sintuie toe ek die styfgerolde joint aansteek en 'n diep trek vat. Teen die tyd dat ek die middedorp betree, skiet ek die stompie in 'n droë afvoersloot. Die geluid van 'n man wat sy vrou agter 'n dof-verligte venster aanrand, tref my met 'n slag saam met haar dronk verwyt:
"Zeelie, why the fuck you hit me?"
Teen die pilare van die OFF-SALES koester 'n Xhosa-paartjie mekaar met soepel tongklikke. 'n Paar treë verder moet ek uitswaai vir 'n dronkaard wat my met die windval van 'n slinger mis. Wanneer die dagga druis deur my kop, maak die Bukowski-aanhaling wat Clinton vroeër in die restaurant aan my voorgelees het, skielik sin: "You get so alone at times that it just makes sense". My hand beweeg na my kop asof ek 'n hoed wil lig in erkentlike saluut. En ek dink: hierdie joint is op jou, Clinton V. du Plessis, seun van Cradock, onderskatte voetsoldaat van die Afrikaanse Lettere.

Resensies van Clinton V. du Plessis se werk:

Kort van draad
Tussentydse verslag
Kortverhale in Onse angeltjie:
Haar Nigeriër
Takeaway
Up where we belong
Gedigte in Onse angeltjie:
new-speak


























Copyright:   2001 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/melclint.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 1 Julie 2001
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]