Poësie

Die snoek

Ons is in die roeiboot, jý
die roeier, sê hoe om te maak
met die handlyn: Gee kort rukkies
en as jy een voel, ruk vinnig, hard,
sodat hy vasbyt. Pluk
hom in die boot, gryp
vas - versigtig vir die tande! -
en druk hom onder jou arm in
vir die hoek uithaal en sy nek breek.
Maar hoe kon ek weet hy's so
vasgebyt aan die lewe, meer as aan die hoek?
hy so verbete sou veg met sy hele lyf,
sy stert sou swingel, sy kiewe gulp
na waterlug?
sy oë so snags aanhou staar?

Barend J. Toerien

Barend J. Toerien is al 'n ou bekende in Afrikaanse poësiekringe. Hy het in 1960 gedebuteer met Gedigte. Sy mees onlangse bundel was Parte speel wat in 1991 verskyn het by Tafelberg. Hy het ook onlangs vertalings gepubliseer van gedigte van die Duitse digter Christian Morgenstern onder die titel Houtjies van die galg. 'n Keur uit Galgenlieder van Christian Morgenstern (1997), ook by Tafelberg.
      man made language 
 	     	(Gen. 3:20) 

      op dag ses
      met alles perfek en glesloos goed
      word Adam manalleen
      aangestel tot woordmaker
      om dier en natuur
      van naam te voorsien 

      later sou Eva aansluit
      - na hom gebring -  soos tevore die diere
      om op uit- en aanspraak te wag 

      ter bevestiging word ook sy summier gedoop
      deur sy tong:  mannin -
      aldus komende van hom
      en klinkklaar
      kry sy alles daar reeds onder woord gebring: 

      boom en blaar was vir hom beskutting
      hout vir hitte, en kos
      maar hoe kon sy toe sê
      van die sagte perskewang
      die presiese kleur in die kelk van 'n blom? 

*
      saam met die eerste taal
      saam met die eerste maal
      het ook die eerste stilte gekom
      met onmag en onbegrip
      'n blywende babel
      tussen haar en hom 

      en nadat hy saam geëet het
      was dit maklik om met Tertulianus
      met Aquinas
      pront te verklaar:
      dit was sy;
      sy dra die skuld
      in ewigheid moet sy ly 

Susan Smith


      mother tongue  

      'My lang lang language
      is a foreign ang ang anguish
      not my mother mother tongue.'
                     Marlene Nourbese 

      Pas gebore
      hou die moeder haar vas;
      begin dan
      lek:  die tong strek
      sterker, vinniger;
      die kind word stiller.
        Sy sit haar vingers saggies
      in die kind se mond
      - saggies maak sy dit oop - en blaas
      blaas haar woorde
      háár ma se woorde
      en al die moeders vóór haar
      in haar dogter se mond in:   

      my tong korrel sekuur en koesterend
      om elke bolling klank
       ek tong my taal
      taal my
      tong my
      liefdestong my
      taal  

      maar my taal
      is nie my taal nie
      nie my tong nie
      dit is nie
      wat ek wou sê nie
      hoegenaamd nie wat ek bedoel nie 

      in a way
      we remain
       borrowers of the language 
Susan Smith


      weerspreek 

      in teenstelling met my aard
      bewaar ek die swye
      en bring
      soos dit hoort
      die regte klanke
      voort 

      die slotsom dus - na lang
      oorweging - blyk
      dalk skyn
      te wees  
Susan Smith


 	Material world 

      1.  Noem 

           "In order to live in the world, we must name it."
                                              Dale Spender 

      In orde van belang
      gerangskik in my huis: die opgeefsels
      van 'n dekade
       of wat.  Meublement
      bevestig stilswyend
      hul roeping.  Hulle is
      immers wat hulle bedoel was
      om te wees.  Lyk selfs 
      sprekend op hul naam. 

                     Minder so
      die vermoede dat iets
      steeds naamloos bly  
Susan Smith

Susan Smith het onlangs gedebuteer in die bundel Nuwe stemme I (1997) waarin elf nuwe digters se gedigte gepubliseer is. Die bundel is saamgestel deur George Weideman en Anastasia de Vries vir Tafelberg.

Prosa

Ongesiens

Verbeel hy hom of word sy oog al hoe warmer? Dit kan tog nie wees nie, dink Bles. Dan moes die brildraende gaste se brilrame ook tog warm word van die vuur. Hy kyk vinnig na 'n paar brildraers. Hy sien geen gloeiende brilrame nie. Hy staan nogtans 'n entjie verder van die halfuitgebrande braaivleisvuur af weg.

Die tuin is in maanlig en rook gebaai, dink hy poëties. Hy kyk na die partytjiegangers wat in groepies langs die swembad en onder die lapa rondstaan. Benewens die gasheer en Alec, 'n jarelange kollega, lyk dit nie of hy enigiemand anders hier ken nie. Pas my goed, mymer hy teenoor die naaste broodboom: ek het in elk geval onder protes gekom. Al wat ek vra, is om die aand ongesiens en ongemerk om te dobber.

By die buitekroeg staan 'n paar bierdrinkers in 'n kring om die gasheer, wat vir hom by die oomblik al meer soos 'n hormonale Portugees lyk. Sy sjarme ken vanaand geen perke nie. Hy is iewers in die middel van die een of ander grap wanneer hy Bles gewaar. Hy steek vas.
"No offence", lag hy verleë.
Bles trek sy skouers op en glimlag. Die manne lig hulle glase en lag uitbundig. Die gasheer vertel verder. Dis die oeroue grap van die bankbestuurder met die houtoog. Bles het dit al 'n honderd keer moes aanhoor. Hy wonder of hy hom sal vererg.

Hy skrik toe hy Alec se hand op sy skouer voel.
"Steur jou nie aan hom nie", sê Alec en beduie met sy bierhand in die rigting van die gasheer. "Hy's erg aangeklam."
"Hy vertel die grap verkeerd", sê Bles.
Alec lyk amper verward. Hy kyk na die glas wyn in Bles se hand.
"Laat ons gaan opskep", grinnik hy. "Kos is op die tafel."
Hulle stap in die rigting van die groot patiodeure.

Die geelhouttafel in die eetkamer kreun onder die glasbakke met vleis, rys, pap, knoffelbrood, slaaie, nog vleis en nagereg. 'n Borstige tante staan gereed om bredie op hulle rys te skep. Sy kyk na Bles.
"Jy laat my so aan my oorlede man dink" sê sy. "Hy't ook so 'n glasoog gehad. Net so een. Syne was nou net 'n ander kleur."
Bles sug. Hy wou so graag die aand omdobber.
"Kunsoë word nie meer van glas gemaak nie, tannie", antwoord hy oplaas. "Nou se dae word dit gemaak van plastiek".
Dit lyk nie of sy hom hoor nie.
"In die dae toe ons nog op die plaas was", vertel sy, "het my ou man vreeslik gesukkel om die plaasvolk aan die werk te hou. Toe raak hy slim. Elke keer as hy van die lande af wegloop om 'n ietsie te kom eet, dan haal hy sy oog uit en los dit op die naaste klip. Om die werkers dop te hou. Jongie, dan moes jy hulle sien werk!"
Hy oorweeg dit moontlikheid dat die ou vrou met hom die gek skeer.
"Was hy nie bang dat die oog sou wegraak nie?" vra hy maar.
"Hoe nou?", antwoord sy driftig. "Jy maak seker 'n grap, ou seun. Die volk het geweet wat goed is vir hulle. Hulle sou daardie oog met hulle lewens beskerm!"
Bles voel hoe sy wange begin gloei. Dis nooit 'n goeie teken nie. Hy staan nader aan die tante.
"Eintlik het ek twee kunsoë, tannie", sê hy en rek sy oë groot oop. "Kyk mooi. Tannie sien maar net die een raak omdat die ander een so mooi gemaak is".
Die tante se mond val oop. Die jong paartjie voor hom stamp hulle borde teen mekaar. Bles skep nog 'n paar klein koolkoppies op sy bord.

Alec stel voor dat hulle in die televisiekamer gaan sit waar dit stiller is. Hulle loop hulle vas in twee jong meisies en 'n frisgeboude man wat in 'n gesprek oor die liefde gewikkel is. Dit sal te ooglopend wees om terug te draai, en hulle gaan dus stywerig op die punt van die leerbank plaasneem.
"Maar wat is liefde?" wil die rooikop weet. "Ek wil graag hoor hoe 'n man daaroor redeneer". Sy bly oor haar knieë vryf. Haar rokkie is besonder kort en Alec staar skaamteloos na haar bene.

Bles verkyk hom aan die man. Hy het die vreemdste manier om sy oë te beweeg. So suutjies soos wat 'n verkleurmannetjie dit sou doen.
"Ek dink", sê die man stadig, "'n mens het iemand lief wanneer jy daardie persoon se slegste eienskap liefhet".
Hy kyk na Bles. Die twee meisies verplaas ook hul blik na hom.
"Sy slegste eienskap", herhaal die rooikop ingedagte. "So het ek nog nie daaraan gedink nie".
"Dis nou vir jou 'n anderste oogpunt", is die ander meisie se bydrae.
"Ek is 'n anderste ou", antwoord die man en knipoog vir Bles.

Die gasheer neem stelling in voor die TV.
"Ek wou julle juis aan mekaar voorstel", sê hy en beduie na Bles en die anderste ou. "Maar ek sien julle het reeds ontmoet. In elk geval. Ben: dis Bles. Bles: dis Ben."
Hy kyk na Bles.
"Ben is 'n ou skoolvriend van my. En soos jy seker al agtergekom het; Ben het ook 'n kunsoog".
Bles se mond val oop. Hy kyk weer na Ben. En hy aanskou. Ben met die perfekte plastiek.
"Sommige oë kom beter uit as ander", glimlag Ben. "Ek was gelukkig".
Bles is sprakeloos. 'n Plastiekbroeder. En hy kon dit nie eens sien nie.
"Glad nie sleg nie", mompel Alec.

Ben deel 'n paar plastiekervaringe met 'n duidelik gewillige gehoor.
"Vertel hulle van jou bril", herinner die gasheer hom. Ben sit sy bord langs hom neer.
"Beleef dit:", sê hy, "Ek het net vanmiddag die bril gaan afhaal. Dis een van hierdie waarvan die lense vanself donkerder word in helder lig."
Hy haal 'n modieuse bril uit sy baadjiesak en hou dit reg voor die lamplig.
"Dis toe wat ek kry."
Bles staar in afgryse. Die een lens word donkergrys. Die ander een bruin.
"Dit vat my jare om die perfekte oog raak te loop", sê Ben. "Ek kon nie daaroor kom dat ek sowaar die dorp kon invaar sonder dat iemand my aangaap nie. En daar kry ek 'n bril wat in twee kleure donkerder word. Wie kan so-iets miskyk?" Ben skud sy kop en glip die bril terug in sy sak.

Bles voel lig. Hy weet so goed wat Ben bedoel. Ben draai na hom en sy stem kry 'n intieme klank.
"Die optometris wat die lense ingesit het, is nogal een van ons. Regteroog, as ek reg onthou. Maar wat 'n rampspoedige poging."
"Ja?", sê Bles.
"Ek het net weer besef. Daar's altyd iemand wat dit slegter het as jy."
"Ja?"
"Terloops", sê Ben, "Ek dink regtig jy kan beter doen as dit." Hy beduie byna minagtend na Bles se plastiek. "Ek sal jou my okularis se nommer gee."
"Dankie", antwoord Bles en begin opnuut aan sy steak te saag.

In die vroeë oggendure staan hy na 'n klein groepie gaste en kyk wat hul lywe gul op die maat van oorverdowende Suid- Amerikaanse klanke rondskud. Ben kom styf langs hom staan.
"Jy't nooit gesê wat jy van my slegte eienskapteorie dink nie", bulder hy in Bles se oor.
"Nee", skree Bles in syne.
"Kan ons buite gesels?"
"Nee", antwoord Bles en kyk nie weer na hom nie. Wanneer hy wel later omkyk, is Ben skoonveld. Tyd om te groet, besluit hy.

Hy stap deur die huis na die voorportaal en die aanskoulike eikehoutvoordeur met sy middelskarnier. Dis 'n hele ent af met die tuinpaadjie langs tot waar sy motor in die oprit geparkeer staan. Dis toe hy die motordeur aan sy handvatsel beetkry, dat hy dit sien. Die rits rondebolligte langs die oprit word oor die lengte van sy motor se kantruite weerkaats. Nes 'n blink ry perfek gevormde slegte eienskappe.

Frans Britz

Frans het onlangs nog 'n "plastiek-storie" gepubliseer in Literator Volume 19 nommer 1 (April 1998).

Up where we belong

Gaan ons iets rook? vra sy

Ek lê skuins op die rusbank, my voete gemaklik op die dreskassie, met die afgesaagde pote, wat dien as 'n tafel. Op 'n kassie in die hoek van die kamer staan 'n wit vaas uit China. Daar is ook 'n Chinese briewekassie en skerwepotte wat dateer uit die kulturele revolusie, skadupoppe en indiese kershouers. Die sitkamer is in twee verdeel, elkeen met sy eie sitplek, kaggel en skilderye. Aan die een kant is werke van Geers, Kentridge en Bailey, aan die ander kant hang Warhol, Lennon en Ono. Op die vloer is daar ook beelde uit Bali en Thailand, 'n masker uit Zaire voor die kaggel. 'n Griekse beeld en aardbol staan op 'n ou Marshall-skeepskis wat met lood en rubber gevoer is .

Hoeveel het jy daar? wil ek weet.
Bykans 'n kilo, antwoord sy ongeërg.
Wat! Ek spring uit my gemaklike posisie op en stamp haar byna voor die yskas om.
Relax, sê sy koel.
Sy is reg, daar is ongeveer 'n kilo kokaien in haar yskas.
Sy bêre dit daar om vars te bly.
Waar de moer kry jy soveel? vra ek geskok.
Direk uit Colombia, via my Nigeriese handelaar, antwoord sy traak-my-nie-agtig.
Ek het dit goedkoop opgetel, net R150 000, vervolg sy.
Here! roep ek verontwaardig uit. Jy kon tien Hop-hokkies met die geld gebou het.
Is jy seker dit is suiwer?
One hundred percent pure shit, het die handelaar gesê, verseker sy my.
Jy moenie sommer die bliksemse Nigeriërs glo nie. Kom, laat ek proe, dring ek aan.
Sy haal 'n pakkie uit die groter pak, skeur die hoek oop en plaas 'n knipsel op my tong.
Die tongtippie-toets, lag sy.
Nee, jy is nie ingeloop nie, hierdie is one hundred percent pure shit, deel ek haar mee.
Kom ons gaan snuif 'n paar lyne, nooi sy.

Sy neem nog 'n pakkie en stap vooruit in die rigting van die slaapkamer.
Ek loop agter haar aan en bewonder haar lyf.
Daar is min vroue wat op 48 nog s• goed lyk.
Die slaapkamer is op die boonste verdieping van die huis wat by uitstek vir onthaal en kuier ontwerp is. Die vensters met glasskuiframe het geen gordyne, maar die huis is tog privaat. Reg rondom die eiendom is 'n hoë muur gebou met blokke wat uit Lesotho aangery is van 'n ou kerk wat gesloop moes word om plek te maak vir die Hoogland-waterskema. Teen die muur, bokant die bed, hang 'n reuse erotiese skildery deur Greg Reichlin. Sy stoot die glasdeure van die slaapkamer oop en lei my uit op die balkon.

Ons gaan sit by 'n vierkantige glasbladtafel met gemaklike leerstoele met ysterrame.
Sy byt die hoek van die ander sakkie stukkend en gooi twee wit miershopies op die tafel uit.
Jou kaart, vra sy saaklik.
Sal American Express doen? vra ek.
Kyk hoeveel lyne jy kan sny, sê sy.
Sy knoop haar bloese oop, trek dit uit, buig vooroor en snuif die lyne een vir een op.
Sy gooi haar kop agteroor en haar borste staan silikoonstyf.
Ek trek al my klere, behalwe my sokkies en skoene, uit en snuif behaaglik stadig die lyne een vir een op.
My hart begin onmiddelik vinniger klop en dit voel asof ek wil versmoor.
Ek staan uit die stoel op en loop tot by die reling van die balkon.
Ek strek my arms oor my kop uit en trek my longe vol.
Ek het lanklaas so goed gevoel.
Sy kom langs my staan en plaas haar hand tussen my bene.
Ek wil jou hê, sê sy. Vat my nou!
Ek druk haar teen die reling vas en stroop haar jeans en onderklere van haar lyf af.
Sy por my aan.
Ek pen haar teen die harde koue leiklipvloer vas.
Sy rol onder my uit.
Ek sien deur 'n beswymende waas haar lang hare, die plooie om haar mond, haar vergrote pupille, haar mond wyd oop asof sy skreeu, maar ek hoor geen geluid nie.
Sy hurk met haar voete weerskante van my heupe en dwing my in haar in.
Dit is tyd vir die tweede rush, besluit ek en stamp haar van my af.

Ons loop deur die oop glasdeur terug na die kombuis.
Ek maak die yskas oop en haal nog twee pakkies uit.
Wanneer is jou man terug? vra ek.
Ek het geen idee nie, antwoord sy. Sy handelsmissie is iewers in Indië, China of Japan.
Wat gaan jy nou maak? wil sy weet.
Freebasing, antwoord ek.
Ons het 'n kragtiger kick nodig. Gee vir my koeksoda aan.
Ek meng die twee pakkies met koeksoda, voeg 'n bietjie water by en kook die mengsel in die ketel totdat dit hard soos klip word. Ons loop terug na die balkon. Sy voor, ek agter.

Sy swaai haar heupe met die koketterige selfvoldaanheid van 'n vrou wat weet dat dit wat sy het enige man sal bekoor.
Ek breek by die tafel die klip in klein stukkies en ons rook dit klaar.
Wanneer stal jy weer uit? vra ek.
Ek weet nie, antwoord sy. Ek wag vir nuwe inspirasie.
Ek self het maande laas naby 'n doek en kwas gekom, antwoord ek.
Die verdediging van die miljoener-sakeman in sy bedrogsaak neem al my tyd in beslag.
Ek staan op en loop weer tot by die reling.
Dit voel asof die hele stad aan my behoort, asof ek heers oor die honderde duisende liggies wat glinsterend oopplof in 'n miljoen skitterende sterre.
Sy is weer voor my, sy kniel tussen my bene, ek voel haar hare in my hande en beweeg my heupe instinktief.
Ek stoot haar van my weg en sy bly op die koue leiklipvloer lê.
'n Plas urine is besig om onder haar te vorm en kring al wyer uit.
Ek struikel weg en leun bewend teen die rand van die glasdeur.
Ek druk my kop tussen my hande vas en dit voel asof ek my longe uitkots.

Ek strompel weer tot by die reling, kyk reg op en sien die hemel is stikdonkerswart.

Ek was reg vir die volgende rush.

Clinton V. du Plessis

Dié verhaal kom uit 'n bundel wat op pad is, met die titel, Steak, eggs, strips & coke.

Ander skryfwerk van Clinton kan bestel word van Gatsak-gedigte


Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/verhaal1.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]