Waar lê my hoop?

Disclaimer Onse angeltjie bring hiermee 'n vertaling van een van die bekendste Oos-Kaapse tekste aan ons lesers.
Dit is 'n brief van J. Brownlee *1 wat in die Suid-Afrikaanse Biblioteek, Kaapstad, gehou word.

Op 24 Maart 1857 het J. Brownlee dit soos volg uit King WT aan Sir G. Grey gestel:

Ek stuur U die besonderhede oor die karakter van die twee Afrikane (Kaffirs).
Ek het Tikana*2 persoonlik geken asook dié wat met hom geassosieer het.
Ek het Umxeli*3 slegs in die tronk gesien in Grahamstad en wat deur een van ons Christen-Afrikane 'n jaar gelede gesê is in die teenwoordigheid van 'n aantal Hoofmanne (Chiefs) is belangrik en is soos volg -
Ons het Umxeli en Tikana in die verlede gehad toe hulle gestry het.
Ons het nog steeds Tikana wat deur sy kinders praat en Umxeli praat ook nog.
Kyk en sien die resultate.

J. Brownlee

2 prominente karakters wat genoem word in die skoolboek saamgestel deur Rev. J. Bennie:

Umxeli (of Lynk[x?]s) en Tikana

Umxeli, die eersgenoemde, het vir jare in die Kolonie geleef en het die Hollandse taal geleer, maar die godsdienstige kennis en idees wat hy het, en sleg aangewend het, het hy verkry van sy interaksie met 'n vroom en toegewyde Hollandse sendeling Mnr. Vanderlingen*4 wat vir 'n hele tydjie predikant was van die O[**?] W Kaapse Regiment.
Umxeli was gewoond daaraan om Grahamstad in die tyd voor 1816 te besoek en wanneer hy daar was, het hy die meeste van sy tyd deurgebring in die huis van Mnr. V. wat Umxeli baie positief gesind was omdat hy nooit geskenke gevra het of 'n wens uitgespreek het om geskenke te ontvang nie, maar baie aandagtig was om te hoor wat Mnr. V. so angstig wou kommunikeer.
Umxeli het geleidelik sy verkreë kennis begin voorstel as 'n goddellike Openbaring direk aan hom gegee met die nodige bygevoeg om die liggelowiges opgewonde te maak en om die heersende bygelowigheid van die Afrikane (Kaffirs) te beïnvloed.
Hy het geen morele plig voorgeskryf nie en het nie gepraat van die verantwoording van die mens voor 'n Opper Mag nie, maar het tog groot populariteit verkry en het baie beeste gekry. In 'n paar gevalle het hy 'n beskrywing gegee van die dier wat hy wou gehad het en beweer dat hy die koei of die os in 'n droom gesien het. In een geval is hy koudgesit deur 'n arm man wat ek geken het.
Umxeli het gesê dat hy 'n ingewing van God gekry het dat dié man se pakos aan hom gegee moes word. Die eienaar het geantwoord dat dit nie waar kan wees nie omdat God goed geweet het dat hy, die arm man, net een os gehad het.
Umxeli het sy invloed veral laat geld onder die Hambie [ ? ]-stam om ontevredenheid te stook en om hulle aan te por om hulle teen die gesag te verset en om oorlog te maak teen die Opperhoof van die Grens, Hoofman [ Chief ] Gaika.
Hy het in hierdie doel geslaag.
Die Afrikane [ Kaffirs ] het 'n hewige geveg gehad.
Die Gaika-stam is met 'n groot slagting verslaan. Dit het die Koloniale Regering beweeg om Kol. Braerton met 'n sterk militêre mag Kafferland in te stuur om hulle bondgenoot te ondersteun en om die ander hoofmanne te tugtig.
Kol. B het 'n groot getal vee gebuit en die Afrikane het spoedig hierna die Kolonie in groot getalle binnegegaan en hulle vernietigingswerk uitgebrei tot naby die dorpies van Uitenhage en langs die grens af in die rigting van Somerset. Begeesterd deur hul groot sukses en aangespoor deur Umxeli het hulle 'n groot samedromming gevorm om Gstad, die Hoofkwartier van die Engelse, te gaan vernietig.
- 'n Aantal van Hintsa se onderdane het aan dié onderneming deelgeneem.
- Hulle is nie slegs sukses belowe nie maar verseker dat die wapens van die Engelse hulle nie sou seermaak nie.
- So het hulle verseker van sukses skielik op GStad afgekom en op die barakke afgemarsjeer en reg op die lope af van die wapens, maar hulle is teruggeslaan met groot lewensverlies onder hulle en baie gewondes het tuis gekom om te vertel hoe hulle gevaar het op die reis en die aanval.
- Hierdie gebeurtenis het Umxeli se roem verminder en sy volgende streek was om die Afrikane te vertel dat hulle binnekort sterk sal wees aangesien die tyd nou gekom het vir die Opstanding van hul Vaders en as 'n voorlopige maatreël moes hulle 'n groot jagtog hou en daarna vergader in die Weste tussen die Buffelsrivier en die Keiskamma waar hy 'n sonderlinge daad sou verrig as 'n voorspel tot die groot gebeurtenis wat hulle sou meemaak.
- Dit sou wees om te spring van een rots na 'n ander en na hierdie uitvoering sou die Opstanding onmiddellik volg
- Die eerste rots waarop hy geklim het, was naby aan die oewer
- Die ander een was 'n hele ent in die see in
- Hy het vir 'n hele ruk op die rots gebly, maar het geen aanstaltes of beweging gemaak om die laaste sprong te onderneem nie
- Die son het ondergegaan
- Die skare het ongeduldig en raserig geword, en gesê Umxeli: die son is onder ons is moeg en koud gewag Spring Spring
- Maar geen pleidooi of provokasie het die man beweeg nie
- Die grootste gedeelte van die skare het vertrek en Umxeli op die hoë rots agtergelaat vasgestrengel in sy glorie - 'n klein groepie wat agtergebly het, het die veld aan die brand gesteek en 'n nag se fees gehad met die vleis van die diere wat in die jag doodgemaak is
- Umxeli het afgeklim van sy verhewe posisie en sy volgende streek begin wat hy probeer uitvoer het, met 'n groot mate van voorsorg
- Dit was om vrede te soek by die Engelse wat toe in Kafferland was en hy het by die afdeling gekom van die Koloniale Mag wat aangevoer is deur Kapt Stockenstrom
- Sir Andrew en Kol Willishire (nou Sir Thomas) wat gesag gevoer het op die Grens, het bevel gegee dat Umxeli gearresteer moes word
'n Gebrandskilderde venster in die St Andrews-kerk in King William's Town wat opgedra is aan Charles Pakalt Brownlee en sy vrou Frances, die ouers van John Brownlee
- Gevange is hy sonder versuim na GStad gestuur en op pad na Algoa Baai het hy probeer wegkom alhoewel geketting en na hy 'n gevangene doodgemaak het na 'n paar jaar op Robbeneiland, het hy verdrink tydens 'n poging om in 'n boot in die nag na die land te ontsnap
- Ek het gehoor sy liggaam is eers ses dae later gevind

Sikana was 'n man met 'n anderse karakter en was een van Gaika se raadgewers en toe die sendelinge Revr. Read en Williams Kafferland ingekom het vergesel deur Jan Tyatyve [ ? ] om voorbereidings te tref vir die stigting van 'n sendingstasie het Tikana hulle as vriend ontmoet
- Hy het 'n bietjie kennis van God gehad en het sy verantwoordelikheid teenoor Hom gevoel as skepper en beskermer maar hy het nie vooraf enige kontak met enige sendelinge gehad nie
- Na die stigting van die sendingstasie wat vir omtrent twee jaar volgehou is tot en met Mnr Williams se sterfte, was Tikana gewoond daaraan om die stasie te besoek en het hy elke oggend en aand die Aanbidding van God in sy kraal uitgevoer en die sewende dag as 'n dag van rus gevier en toe hy die verordeninge van God oor die huwelik geleer ken het, het hy sy jonger vrou prysgegee en gesê dat hy gewillig was om haar te onderhou [ .... ] sy het die vryheid gehad om te trou maar hy sou nie langer saam met haar leef nie, teen God se gebooie nie
- Die sang by die sendingstasie was beperk tot die paar wat iets geken het van die Hollandse taal
- Om dié probleem aan te spreek het die moeite gedoen om van die idees wat hy verkry het, in 'n gesang te rangskik
- Dié het hy self gesing op 'n eenvoudige wysie deur homself gekomponeer en dit gebruik in hul godsdienstige aanbidding en dit was spoediglik in vele afgeleë plekke in Kafferland en daarna is dit skynbaar gedruk in die sendingstasies
- Die onderwerp was skriftuurlik, geklee in Afrika-idioom [ Kaffir ]
- Tikana het die ambisieuse bose planne en verkeerde sieninge van Umxeli openlik teengestaan
- Hy het in hierdie jaar 1814 gesterf
- Hy het duidelik besef dat dit nie 'n maklike ding was om God te dien en het oorgekom soos 'n lewende mens wat op die punt was om die eise van Tyd agter te laat en die Ewigheid te betree. Hy het met dié om hom heen gepraat en het hulle gepaste raad gegee en gesê hy was op die punt om hulle te verlaat en huistoe te gaan
- Hulle moes nie treur oor hom nie en moes geen heidense gebruike met betrekking tot sy dood uitvoer nie
- 'n Paar van dié wat saam met hom was, is jare daarna as lidmate in die Kerk opgeneem
- Hulle is 3 mans en een vrou wat nog steeds sy vrou is [ ... ] omtrent 4 jaar gelede was sy al vir 'n hele paar jaar 'n Christen en konsekwent in haar optrede
- Haar seun wat klein was ten tyde van sy Vader se dood, was nou al vir 'n hele ruk 'n bekwame assistent by die sendingstasie op Peelton
Die getuienis van Gaika teenoor hulle wat beslag wou gaan lê op die eiendom volgens die Afrika-gebruik (Tikana was 'n goeie man gewees, raak niks van syne aan nie en laat dit alles bly vir sy familie)
- So is dit gedoen
- Een dogter, 'n Christen wat lang op die Perie sendingstasie gebly het, is nou besig om met hierdie sending verbind te word

'n Gedeelte van 'n venster in die St. Andrews-kerk in King William's Town wat opgedra is aan John Brownlee.
(Onse angeltjie wil 'n spesiale woord van dank rig aan Rev. Cliff Leeuw van die Uniting Presbyterian Church wat die kerk goedgunstiglik vir ons oopgesluit het.)

uit Engels vertaal deur
Philip John


Notas

1. John Brownlee (1/5/1791 - 24/12/1871) is die stigter van King William's Town. Hy het in April 1817 uit Skotland in Suid-Afrika aangekom. In Junie 1820 het hy hom gevestig op die Tyume-sendingstasie, naby die teenswoordige dorp Alice waar William Ritchie Thomson, John Bennie en John Ross by hom aangesluit het, almal lede van die Glasgowse Sendinggemeenskap. 'n Publikasie wat hulle hier uitgebring het, Incwadi Yokuqala ekuteteni gokwamaxosa (1824), bevat lesse or spelling, gebede en tafelgebede (Suid-Afrikaanse Biografiese woordeboek I.).

2. Die "Tikana" waarna Brownlee verwys, staan vandag bekend as Ntsikana (c.1760 - 8120). Hy word beskou as die eerste Xhosa-Christen en het volgens oorlewering sy bekering reeds voor die koms van die sendelinge ondergaan, soos volg: "Daar word gesê dat hy op 'n dag gesien het hoe 'n lig sy gunsteling-os tref. Op dieselfde dag gaan hy om 'n stamdans by te woon, maar word drie maal verhinder deur 'n warrelwind wat skielik opkom. Nadat hy 'n ruk by die dansparty vertoef het, onttrek hy hom skielik en gelas sy gesin om ook so te maak sonder om enige verklaring daarvoor te gee. Hy loop na 'n spruit om die geelklei van sy gesig af te was en sê: "Mense moet bid (liewer as dans)"." Hy was die eerste onder die Xhosa wat vir hom 'n doodskis laat maak het. Ntsikana is beroemd vir die gesange wat hy gekomponeer het, alhoewel hy nie kon lees of skryf nie. Sy "Ulo Thixo omkhulu ngosezulwini" (Hy, die Groot Hemelse God") word beskryf as 'n "wilde en vreemde gesang" wat egter teologies onberispelik is (Suid-Afrikaanse Biografiese woordeboek I.).

3. "Lynx" se oorspronklike naam is waarskynlik "Makana" of "Makandha". "Lynx" is 'n vervorming deur Engelse Setlaars van die Afrikaanse of Hollandse "Links" wat op sy linkshandigheid dui. Die Xhosa-benaming "Nxele" (Brownlee se "Umxeli") dui ook op hierdie aspek. Hy is waarskynlik voor 1790 gebore en het op 9/8/1820 in Tafelbaai verdrink toe hy probeer ontsnap het van Robbeneiland.

4. Aart Antonij van der Lingen (c.1774 - 14/7/1821) arriveer in 1800 aan die Kaap om sendingwerk vir die Rotterdamse genootskap van die Londense Sendinggenootskap te kom doen. Hy is die vader van G.W.A. van der Lingen wat beskou word as die "vader" van die Pinksterbidure in die N.G. Kerk wat in 1861 in die Paarl ontstaan het. Elsa Joubert se roman, Missionaris (1988) is gebaseer op die lewe (eintlik die karige lewensbesonderhede) van Aart van der Lingen.































INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD






Copyright:  © 2001 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/argief01.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 1 Julie 2001
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]