SKOP bly skop
Waagstukke met die limerick


deur Else Boekkooi

Die Skrywerskring van die Oostelike Provinsie (SKOP) skop op 4 Augustus vanjaar hulle vierde bestaansjaar af met `n poësie-slypskool wat deur bekende Disclaimer Kaapse digter Ronnie Belcher aangebied word.
Die slypskool is `n vervolg op `n poësie-werkswinkel in Mei vanjaar, toe Uitenhaagse digteres Anlen Marais van Muur van berge-faam 15 vooraf gekeurde aspirantdigters touwys gemaak het in die fyner - maar veral hoogs praktiese - kunsies van die Muse op die patroon van haar eie ervaring as nagraadse student onder D.J.Opperman. Die oorkoepelende tema was musiek, en `n aantal musiekkwatryne wat deur die kursusgangers geskryf is, sal later vanjaar tydens `n gekombineerde woord-, musiek- en oogkunsfees bekendgestel word.

`n Voorsmakie:

Paradyssimfonietta

Clivias blaas lustig op hul goudtrompet.
Primulas in skaduhoekies tinkel op `n soet spinet.
Daar's `n brakkol in die tuin
waar litjieskaktus koggel soos `n klarinet.

Vox domini

Sondag luister hy met toegespitste oor
om van die preekstoel af die Woord te hoor,
maar dis die klanke van `n Bach-koraal
waarin hy telkens weer sy siel verloor.

SKOP, wat in Augustus 1998 in die San Francisco-koffiehuis in Port Elizabeth in die lewe geroep is, het `n lewendige, by tye selfs uitgesproke jolige paar maande agter die rug. Hoogtepunte in 2000 was onder andere `n uiters insiggewende lesing deur Annelie Botes oor die navorsing vir haar toe nog ongepubliseerde roman Raaiselkind, en `n Bekgeveg à la KKNK tussen SKOP en studente van UPE en Rhodes in September 2000.
Die jongste plesierigheid was `n limerick-fabriek, waarvan die produkte deur Philip de Vos beoordeel en van kommentaar voorsien sal word. Hier is `n paar interessantes - sommer lukraak uit die bondel gegryp:

In die morele arena:

`n Oompie wat woon in Patensie
se vrou hou hom graag in detensie.
So, het sy gedink,
kan hy nie meer rinkink,
maar sy kop bly propvol dekadensie.
En:
Die darling van Darling, Piet Uys,
maak die Moeders se hare skoon grys
omdat hy vir tieners
bananas en wieners
en allerlei rubbergoed wys.
En oor onse Allan:
`n Kaaplandse eks-predikant
dink toe nie met sy volle verstand.
Hy weet mos hy moetie
En gaps issie goetie
En nou't hy sy vingers verbrand..
en:
`n Kaaplandse eks-predikant
Het mos mooi in die tjoekie beland.
Hy bel op sy sel na
sy vrouliefie El na
en pryk wéér in elke koerant.
of `n ander Kaapse kerkman:
`n Kaaplandse eks-predikant
skryf artikels in elke koerant.
Sy gemeente sê "Nee!
Jy maak ons verleë."
En verbreek toe pardoes die verband.
En dan onvermydelik:
`n Dame née Madikizela
strooi roet oor die naam van Mandela.
Word deur Thabo gestamp -
geen respek vir sy amp -
nou's hy nie meer `n jolly good fella.
en natuurlik:
`n Klein presidentjie Mbeki
wou nie saam in die Tony-tuig treki.
Pleks Mugabe pakgee
vlieg hy knaend oorsee,
Gee nie om wie van HIV vreki.

..


Enigiemand wat belang stel in die poësie-slypskool op 4 Augustus of in enige ander doen en
late van SKOP kan gerus in aanraking kom met:
die voorsitter,
Stef Delport by tel . 042-2301311,
of E-pos stef@eastcape.net
of met die uwe by
boekkooi@iafrica.com


..

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD






Copyright:  © 2001 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/skop201.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 1 Julie 2001
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]