SKOP boer vooruit

deur Stef Delport

Na die Skryfskool van die Oostelike Provinsie (SKOP) se geslaagde Bekgeveg verlede jaar waarin Disclaimer SKOP se "veterane" die nagraadse studente-span van UPE en Rhodes (met bekende jong digters soos Toast Coetzee en Erns Grundling daarin ) die loef afgesteek het, is daar ‘n behoefte geïdentifiseer om ‘n Slypskool rondom poësie aan te bied.
SKOP se hoofdoel sedert sy stigting 3 jaar gelede was om skrywerstalent in die Ooskaap te help ontwikkel. Dit was dan ook in daardie gees dat die SKOP- Skryfskool op 4 en 5 Mei 2001 in die Brookes Hill Suites Hotel te Port Elizabeth aangebied is. Die 14 voorafgekeurde kursusgangers se kostes was R350-00 per persoon, wat ‘n eksemplaar van die nuwe Groot Verseboek 2000 ingesluit het, asook twee volle maaltye en verversings. Die aanbieder was die bekende digteres van Despatch, Anlen Marais, wie se jongste digbundel Muur van berge in 1999 verskyn het. SKOP beoog om vorentoe nog soortgelyke werkswinkels op verskeie sentrale plekke in die Ooskaap aan te bied, want baie keer kort ‘n potensiële digter of skrywer so ‘n skop van agter om werklik aan die skryf te kom.
Poësie is as betreklik kort en konkrete medium die toeganklikste skryfwyse om voornemende skrywers in te lig oor die onderliggende ooreenstemmende beginsels wat ook ter sprake is in kortverhale, romans, hoorspele en drama’s. Hierdie werks- winkels is geskoei op die bekende Stellenbosche Letterkundige Laboratorium van Prof. Dirk Opperman.
Die deelnemers aan die slypskool het gewissel in ouderdom vanaf Jean-Pierre Theron in matriek tot afgetrede skoolhoof Andries Blignault; van medikus Joubert Moolman tot tennis-afrigster Doreen Kitching, van onderwyseres Chantel Mafiet tot Marilyn Pettit van Despatch wat haar baba saamgebring het sodat die kleinding letterlik poësie saam met sy moedersmelk kon inkry. Uit verskillende agtergronde en leeftye kon soms verrassende bydraes kom en in die proses het SKOP ‘n hele paar nuwe lede bygekry. Die werkswinkel is afgesluit met die skryf van musikale kwatryne waaronder die volgende twee juweeltjies van Else Boekkooi was:

Vox Domini

Sondag luister hy met toegewyde oor
om van die preekstoel af die woord te hoor,
maar dis die klanke van ‘n Bach-koraal
waarin hy telkens weer sy siel verloor.

Wanhoopswals

Nog voor die laaste wals gespeel is
en die laaste dans gedeel is,
Smaak sy reeds die bitter wete
dat vir hulle niks meer heel is.

Anlen Marais het o.a. die volgende aspekte van poësie aangespreek: die verskil tussen poësie en prosa, die metafoor, die wese van poësie, die vrye vers, werklikheid en klank in poësie, en nog vele meer. Die verskillende onderwerpe is elke keer aan die hand van deelnemers se vooraf-ingehandigde gedigte wat reeds gebundel was, bespreek. Die tweede deel van die Skryfskool sal plaasvind op 4 Augustus 2001 wanneer die bekende digter, Dr. Ronnie Belcher van die Kollege vir Literêre Kunste te Stellenbosch, die skryf en aard van Sonette gaan behandel.
Omdat daar reeds ‘n versoek tot SKOP gerig is om’n soortgelyke werkswinkel op Somerset-Oos aan te bied, word ‘n slypskool aldaar beplan gedurende die vierde kwartaal. So ‘n groep sal ongelukkig beperk wees tot 14 kursusgangers wie se werk vooraf gekeur word vir deelname. Belangstellendes kan die voorsitter van SKOP, Stef Delport, by 042-2301311 of Tertius van Rensburg van die A.T.K.V. te Somerset-Oos skakel by 042-2471175 .
Om saam te val met die jaarlikse SANLAM/RSG hoorspel-kompetisie beplan SKOP ‘n hoorspel-werkswinkel vir vroeg volgende jaar te Uitenhage. Dié werkswinkel sal ook aangebied word deur Anlen Marais. Haar hoorspel, Dear Miester Mandela is in 1995 deur die BBC World Wide Service bekroon uit 1400 inskrywings as die beste hoorspel uit Afrika.
Om hiervoor uitgenooi te word, moet kandidate voor einde Oktober 2001 ‘n kort opsomming van hul verhaal van ongeveer 400 woorde, asook 3 bladsye dialoog, stuur aan:
SKOP-Skryfskool
Posbus 59
Despatch
6220

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD






Copyright:  © 2001 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/skop201a.htm
This page maintained by:   Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 1 Julie 2001
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]