Wit amazimba

Opgeteken in Pondoland. Amazimba is amabele, sorghum, van ons land se oudste graansoorte. Wit is 'n kleur wat in Afrika- beeldtaal dikwels verwys na die geestesland. En "mensvreters" is nie regtig 'n volledige vertaling vir die amazim(u) nie, die reuse of "ogres" van die Europese sprokies, monsters wat so 'n half-bonatuurlike konnotasie by het. Maar ewenwel:
Lank gelede in Pondoland het daar 'n man en sy vrou teen Disclaimer 'n eensame berghang gewoon. Aan alkante van hulle was daar diep bosklowe, en hulle het selde mense gesien.

Hulle het van sorghum gelewe, en 'n paar beeste gehad. Daar was twee kinders, 'n seun en 'n dogtertjie. Van kleins af wou die seun nooit die gewone rooi sorghum eet nie, hy het net wit geëet.

Eendag moes die man en sy vrou gaan skoffel in hulle land en hulle laat die kinders alleen agter. Die seun het naderhand moeg geword by die huis en na die fontein gegaan om klei te gaan haal. Hy het sy sustertjie voor die deur gelaat, besig om met 'n mooi klip te speel.

Maar toe hy terugkom, was sy nie meer daar nie. Die mensvreters het haar weggedra.

Toe wou hy haar gaan soek. En om haar beter te soek, het hy homself in 'n wit duif verander. Hy het in die lug opgevlieg en ver oor die land uitgekyk. Hy het oor bosse en klowe gevlieg, maar hy kon haar nie sien nie.

Naderhand het hy by 'n kraal neergestryk. Die mense het die mooi voël gesien, en hulle het vir hom sorghumsaad gestrooi. Maar hy sing:

Moenie my rooi amazimba gee nie,
Gee my wit amazimba,
Wit amazimba is my kos.
Hulle sê: "Tsjwi! Maak dat jy wegkom, jou uitsoekerige voël!" Toe het hy treurig weer weggevlieg.

By die volgende kraal het hy weer gaan sit, en hulle het vir hom kos gegooi. Maar hy sing:

Moenie my rooi amazimba gee nie,
Gee my wit amazimba, Wit amazimba is my kos.
So het hy van een kraal na die ander gevlieg, vir baie maande lank, en orals sy liedjie gesing. Maar hy kon nie 'n teken van sy suster kry nie.

Toe eendag, diep in die hartjie van 'n bos, kom hy weer by 'n kraal. Dit het gelyk asof daar niemand by die huis was nie, maar hy het neergefladder en gaan sit, en toe daar 'n vrou uit een van die hutte kom het sy gesê: "Kyk hoe 'n mooi voël!" en vir hom graankorrels gegooi.

Moenie my rooi amazimba gee nie, Gee my wit amazimba, Wit amazimba is my kos,
sing hy. Toe het sy suster wat agter in die hut sit dit gehoor, en geweet dis haar broer. Sy het uitgekom en vir hom wit amazimba gegooi.

Hy het weggevlieg en al die duiwe wat in daardie bos was bymekaargemaak en vir hulle gevra om hom te help. Hulle het gesê hulle sal hom help as hy hulle twee bokke en 'n skaap gee, en hy het beloof om dit te doen.

Hy het gewag tot die mensvreters almal weg was om te gaan jag en sy suster alleen by die huis agtergebly het. Toe het hy vir haar gesê sy moet haar baai losmaak en daarop gaan lê; en al die voëls het gekom en die kante daarvan in hulle bekke geneem, en hulle het met haar opgevlieg in die lug. Die wit duif het vooruit gevlieg om die pad te wys.

Hulle het oor berge en klowe gevlieg. Toe hulle naby die huis kom, het die kinders se ma haar lepel laat val waar sy staan en kook en vir haar man geskree: "Wat kom hier in die lug aan?" Hy het aangehardloop gekom, en gesien hoe die voëls die dogtertjie saggies op die grond neersit. Hulle het nie weggevlieg nie, maar in 'n klompie bymekaar bly sit.

Toe verander die wit duif wat voor was, in hulle seun, en hy sê: "Ek het vir die voëls twee bokke en 'n skaap belowe, oor hulle my suster teruggebring het van die mensvreters af".

Hulle het toe die twee bokke en 'n skaap gegee, en die voëls het weer weggevlieg.

Die gesin was baie bly om weer bymekaar te wees. Tussen die bosse en die klowe het hulle gewoon. Die dogtertjie het haar ma gehelp om sorghum te maal tussen die maalklippe. Die seun het bedags uitgegaan om sy pa se beeste op te pas. So het hulle gewoon

Dis die end van die sprokie.

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD





Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/sprokie.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]