STREEK EN TEKS

'n Oorsig oor Oos-Kaap literatuur

Deel II: VROEË OOS-KAAP TEKSTE

Thomas Pringle (1789-1834)
en die Boesmans

Helize van Vuuren
Port Elizabeth

Disclaimer In 1820 het Pringle as leier met 'n groep van sy familie as setlaars na die Oos-Kaap gekom. Die ekonomiese depressie in Groot-Brittanje en die gloeiende advertensie aldaar vir die landbou-potensiaal van die Oos-Kaap was die sterkste dryfvere vir die groep se koms. By hul aankoms in Algoabaai beskryf Pringle die toneel:

Around us in the west corner of the spacious bay, were anchored ten or twelve large vessels, which had recently arrived with emigrants (...) Directly in front, on a rising ground a few hundred yards from the beach, stood the little fortified barrack or blockhouse, called Fort Frederick (...) At the foot of those heights, nearer the beach, stood three thatched cottages, and one or two wooden houses (...)

Party after party were conveyed safely and rapidly through the breakers by the surf boats (...) and then borne ashore (...)The beach was all alive with bustle and confusion, and the boisterous hilarity of people who felt their feet on firm ground for the first time after a wearisome voyage (...) Bargemen and soldiers were shouting to each other across the surf. Tall Dutch-African boors, with broad-brimmed white hats, and huge tobacco pipes in their mouths, were bawling in Colonial-Dutch. Whips were smacking, bullocks bellowing, wagons creaking; and the half-naked Hottentots, who led the long teams of draught oxen, were running, and hallooing, and waving their long lank swarthy arms in front of their horned followers (...)

(Narrative of a Residence in South Africa, 1835: 8- 10)


Aankoms van 1820 Setlaars
Detail van "The landing of the British Settlers in Algoa Bay in the year 1820" deur Thomas Baines (1852).
(Met vriendelike vergunning van die King George VI Kunsgalery, Port Elizabeth)

Aan die Baviaansrivier in die Tarka, waar die Slagtersnek- rebellie kort te vore plaasgevind het, is die Skotse setlaars uiteindelik (na 'n twee weke lange reis per ossewaens oor olifantpaaie) gevestig op grond wat hul herdoop het as Glen Lynden. Die regering had as doel met hierdie vestiging aan die oosgrens die vorming van 'n buffersone tussen die Xhosa en die Kaapkolonie.

In Suid-Afrikaanse konteks is Pringle veral bekend as die vader van Suid-Afrikaanse Engelse poësie. Sy literêre roem is te danke aan African Sketches (1834), in 1989 gepubliseer as African Poems of Thomas Pringle. Ook die outobiografiese Narrative of a Residence in South Africa (1835), waarin hy sy wedervaringe tydens sewe jaar in die land (1820-1826) beskryf, bied vandag nog insig in die era van dié digter-boer en filantropiese joernalis. Na oprigting van die eerste drukpers in Kaapstad, het Thomas Pringle daar betrokke geraak in die redigering en uitgawe van die South African Journal en later saam met Greig die uitgawe van The South African Commercial Advertiser. Hy het hom beywer vir die vryheid van die pers, en die beëindiging van slawerny (wetlik bekragtig in 1834, net maande voor Pringle se vroeë dood aan tuberkulose in Londen, waarheen hy terug is in 1826).

Begeesterd met die idees van die Verligting, en reeds 'n gepubliseerde digter in Skotland, is Pringle se Suid-Afrikaanse gedigte veral boeiend om die geleidelike bemeestering in sy oeuvre van plaaslike naamgewing vir flora en fauna, sowel as kennis van inheemse mense, hul kulture en taalgebruik. In "Afar in the Desert" ry die spreker met 'n "silent Bush-boy alone by my side" deur die Karoo. Die figuur van
Thomas Pringle
Thomas Pringle as 'n jong man. 'n Gravure gepubliseer in 1839. (Met vriendelike vergunning van NELM (National English Literary Museum), Grahamstad)
die stemlose "Bush-boy" (boesman? jong seun? of raspejoratief?) word opgevolg in 'n reeks gedigte waarin boesmansprekers(1) wel deeglik stemhebbend is, en kommentaar lewer op hul steeds verswakkende lewensomstandighede onder kolonialisme. In "Song of the Wild Bushmen" verklaar 'n uitdagende spreker:

Thus I am lord of the Desert Land,
and I will not leave my bounds,
To crouch beneath the Christian's hand,
And kennel with his hound:
To be a hound, and watch the flocks,
For the cruel White Man's gain -
No! the brown Serpent of the Rocks
His den doth yet retain;
And none who there his sting provokes,
Shall find its poison vain!

(1989: 11-12)

Dié gedig suggereer reeds die verlies van die prekoloniale lewenstyl waar die boesman "lord of the Desert Land" was, maar behou tog 'n uitdagende toon, ten spyte van verwysings na verknegting "beneath the Christian's hand". Die sonnet, "The Bushman", beskryf die doodsoomblikke van 'n boesman wat met sy gesin beleër is deur 'n kommando:

...........................His secret lair,
Surrounded, echoes to the thundering gun,
And the wild shriek of anguish and despair!
He dies - yet, ere life's ebbing sands are run,
Leaves to his sons a curse, should they be friends
With the proud 'Christian-Men' - for they are fiends!

Hierdie empatie wat die nuut-gearriveerde Skotse digter-boer met die bedreigde boesman verwoord, is treffend veral in die tyd waarin dit geskryf is. Eers in 1896 sou M.H. Neser in Afrikaans "Di klaagliid fan di laaste Boesman" in "Ons Klyjntje" publiseer, wat begrip toon van Afrikaanse kant vir die lot van hierdie groep gekolonialiseerdes.

In "The emigrant's cabin" (1989: 25-33) voer die digterspreker 'n gesprek-in-rym met sy gefantaseerde gas, Fairbairn. Hy gee 'lokale kleur' aan sy vers deur die invoer van frases en woorde in Afrikaans, en tipiese Afrikaans-Hollandse name vir diere en gebruiksartikels. Die Khoi-meisie, "Vytjè Vaal" word in boeretaal geroep: "Meid, roep de Juffrouwen naar't middagmaal", en op tafel word 'n reuse-fees speels aangebied:

(...) roasted springbok, spiced and larded well;
A haunch of hartèbeest from Hyndhope Fell;
A paauw, which beats your Norfolk turkey hollew;
Korhaan, and Guinea-fowl, and pheasant follow;
Kid carbonadjes, à-la-Hottentot (...)

Die skaapwagter Flink bring 'n boodskap van 'n besoekende Xhosa- hoof: "Powána wagh'/Tot dat de Baas hem binnenshuis zal vraagh".
Teks - Brief aan suster
Gedeelte van brief aan suster waarin Pringle haar kwalik neem dat sy nie aan hom skryf nie. (Met vriendelike vergunning van NELM (National English Literary Museum), Grahamstad).
Die speelse elemente waaruit "The emigrant's cabin" opgebou is, suggereer 'n intense bewussyn by die digter van die multitalige en multikulturele grensgemeenskap waarin hy hom bevind, en gee vandag nog in die postkoloniale Suid-Afrika 'n beeld van die aard van grenslewe in die vroeg neëntiende-eeuse Oos-Kaap.

Soortgelyke insig in die maatskaplike toestande aan die Kaap van die vroeg-neëntiende eeu bied Pringle se brief oor slawerny ("Letters from South Africa 1", in Peirera en Chapman 1989: 140- 148), met uittreksels uit destydse hofsake van slawe teen base, en base teen slawe. (Hierdie brief bied nuttige agtergrondskennis vir 'n beter begrip van André P. Brink se roman Houd-den-bek, 1986, oor die slawe-opstand van 1826 in die Roggeveld.)

Maar dis veral Pringle se kortverhaal, "Pangola - An African Tale" wat boeiende leesstof bied wanneer kulturele wisselwerking tussen die vroeë setlaarboere van die Oos-Kaap en die boesmans in die fokus staan.

Pangola - An African Tale (1831)

Die vroegste Suid-Afrikaanse verhaal van 'n wit outeur waarin 'n swart hooffiguur optree, is nie soos Siegfried Huigen (1996: 140) onlangs beweer het Jacob Lub se "Het zwarte gevaar" uit 1913 nie,
Korreksie: 30 Junie 2001
'n Leser het my onlangs daarop gewys dat die aanhaling uit Siegfried Huigen se Op weg naar Monomotapa. Nederlandstalige representaties van geografische, historische en sociale werkelijkheden in Zuid-Afrika (1996) nie korrek is nie. Wat Huigen inderdaad opgemerk het oor Lub se kortverhaal is die volgende:
Lubs verhaal is echter na Leaven van Douglas Blackburn het vroegste Zuid-Afrikaanse verhaal van een blanke auteur waarin een zwarte hoofdfiguur optreedt (1996: 140; my klem).
Huigen verstaan kennelik onder "zwarte hoofdfiguur" die nouere betekenis wat vroeger "Bantoe genoemd werd". Of mens met "swart" bedoel slegs mense wat "vroeger Bantoe genoem" is, en of daaronder ook Khoisan en ander ingesluit word, bly Thomas Pringle een van die vroegste skrywers wat die inheemse mense eerste poëties uitgebeeld en/of oor hulle in sy verhale of outobiografie geskryf het. Daarna verloop 'n lang periode tot die einde van die 19de eeu/begin twintigste eeu voordat mense soos Von Wielligh, Marais, en andere uitgebreid karakters uit die inheemse volkere ten tonele voer.

Helize van Vuuren

maar Thomas Pringle se "Pangola - An African Tale" uit 1831. Die hoofkarakter, Pangola, is 'n boesman wat na mishandeling in diens van 'n boer die berge in vlug en saam met ander vlugtelinge 'n bandiete-groep vorm wat terreur saai onder die boere. In konfrontasie met sy gewese baas, Diederik Kruger, wat wil hê dat hy oorgee en 'huis toe' kom waar alles vergewe sal wees, verklaar Pangola homself onwrikbaar teen versoening en formuleer sy eie swaargevonde 'waarheid' as volg:

"Nay, myn baas!" replied the Bushman, "the past can never be forgotten. That day, when I lay prostrate under the agter-os-sjambok, - you and your kinsman Bronkhorst may forget it, but I, never. Never more shall I cringe under the white man's lash; never more eat the bread he offers, embittered by his contempt. Hunger, thirst, nakedness, I can bear as my fathers have borne. I can live like the wild hound of the desert; but not like the household dog of your kraals, to be fed, and scorned, and fetttered, and beaten at your pleasure. Your commandos have indeed dispersed my tribe and destroyed my kindred; but the wilderness and its wild freedom are still my heritage, and I will never yield them again but with my life"

(1989(1831): 161; my kursivering).

Veral teen die agtergrond van die doelstellings van die huidige Waarheids- en Versoeningskommissie (in 1995 in die lewe geroep) is die verhaal besonder insiggewend. Die Afrikaanse boer, Kruger, bied onvoorwaardelike vergifnis aan. Pangola weier dit, omdat hy die wrede fisiese marteling wat hy moes ondergaan nooit kan vergeet nie ("the past can never be forgotten"), en by implikasie ook nooit kan vergewe nie. Hy verkies die lewe as 'n gedoemde uitgeworpene in die wildernis ("the wild hound of the desert") eerder as dié van 'n minderwaardige skepsel in die boer se diens ("the household dog of your kraals").

Uit Pringle se Narrative of a Residence in South Africa (1835) blyk dat dié verhaal gebaseer is op die wedervaringe van 'n boesman genaamd Dragoener:

A band of native banditti had for some time past established themselves among the rocks and woods of the Neutral Ground [HvV: die buffersone], composed partly of wild Bushmen from the north-east, partly of tame Bushmen (as they are termed), who had absconded from the service of the boors (...) This band of desperadoes were reported to be under the command of a Bushman named Dragoener, who had formerly been in the service of our neighbour Diederik Muller, but who, on being flogged on some occassion by a kinsman of his master's, [HvV: Van Bronkhorst] with an agter-os-sjambok (a tremendous whip of rhinoceros hide), had fled to the desert, and sworn eternal enmity to the colonists. He had at length become the captain of this band of freebooters, and under his enterprising guidance their depredations became every day more extensive and formidable.

(1966 (1835): 222; my kursivering)

Die fiksionaliseringsproses wat uiteindelik resulteer in "Pangola - An African Tale" het onder andere dus met naamgewing te make: Dragoener word Pangola, Diederik Muller word Diederik Kruger. Hoewel die boer se gefiksionaliseerde naam dieselfde gevoelswaarde dra ('n algemene van wat sy Afrikaanse identiteit aandui), is die fiktiewe naam Pangola, 'n minder gelukkige keuse, omdat dit, anders as "Dragoener" (waarskynlik 'n vervorming van Draghoender, sien Peires 1984: 99-104) 'n Nguni-klank suggereer, en daarmee 'n swart identiteit. Hoe ookal, Pringle beskryf as grensboer verontwaardig hoe dié Dragoener-groep onder andere drie van sy broer se perde gesteel het, en dit toe opgeëet het ("devoured by these robbers").

Hierdie houding van die verontwaardigde grensboer wat self gesorg het dat daar 'n kommando agter die boesmangroep aan gestuur is om hul uit te delg (Wahl, 1970: XXI), is teenstrydig met Pringle se houding as filantropiese idealis:

As a philanthropic idealist he believed in a frontier policy based upon the civilising influence of education and Christianity, rather than upon garrisons and commandos

(Wahl, 1970: XXXI).

Dié onversoenbare teenstrydighede waarmee Pringle worstel (enersyds as bedreigde grensboer en andersyds as filantroop), vorm een van die boeiendste elemente in sy geskrewe tekste. In die passasie oor die geskiedenis van Dragoener (in die Narrative) onderbreek hy sy verhaal, weliswaar effens halfhartig, om die boesmans te verdedig:

These freebooters might have been able, perhaps to make out a good case against the colony, had they been heard in their own defence. The country which we now occupied had belonged very probably to their ancestors

(1966: 223, my kursivering).

Maar indertyd is daar nie sprake van 'n geleentheid waar gereg uitgeoefen kan word nie. Die wet van die grensgebiede is die wet van die oerwoud - geweld, opgevolg met bloedige wraak en weerwraak:

"Commandoes of boors were then sent out after the usual mode (...) Dragoener and most of his boldest comrades being slain, the rest were taken prisoners, and the band effectually broken up" (1966: 223).

Pringle se erkenning, as Skotse setlaar in die buffersone aan die oosgrens, dat die land wat hy en sy mense bewoon waarskynlik aan die boesmans se voorouers behoort het, en dus wederregtelik in beslag geneem is, is veral in die post-1994 periode besonder frappant. Een van die mees omstrede wetgewings vandag is die reg op restitusie van onteiende grond. Maar dit gaan slegs terug tot 1913, sodat die nasate van die boesmans as mees periferale groep in die samelewing steeds enige kans op reparasie verbeur.

Uit 'n vergelyking tussen "Pangola - An African Tale" en die relevante passasie in Narrative of a residence in South Africa (1966: 222-223) blyk dat die gefiksionaliseerde weergawe (in "Pangola") veral 'n besonder simpatieke uitbeelding van die boesmanfiguur bied, terwyl die feitelike passasie (in die Narrative) hoofsaaklik te make het met die troebelasies van die grensboere. Deur direkte of indirekte weergawe van Pangola se gedagtes en emosies in die verhaal word die leser se simpatie by wyse van groter begrip gewek. Ná veldkornet Van Bronkhorst op Pangola geskel en gevloek het, staan die boesmanwerker op vir sy regte as mens:

...he told the furious Van Bronkhorst to his beard that he was a man as well as he; that God had made them equal; and though the white man had seized the land, and enforced the labour of his countrymen, yet no law either of God or man had condemned them to submit to indignities which even the slaves of the Christians would not tamely endure

(1989: 160; my kursivering).

In hierdie uitdrukking van die idees van die Verligting ("vryheid, gelykheid en broederskap") in die mond van die boesman, is Pringle die filantroop duidelik aanwesig. Alhoewel die karakterisering in dié opsig altemit nie heeltemal oortuigend is nie, toon Pringle in die detail-inkleding van die verhaal 'n besondere kennis van die oosgrens-maatskappy, asook boesmankultuur en gewoontes, wat hierdie vroeë Afrika-verhaal vandag nog boeiend maak. So word Pangola se herkoms beskryf: "He had been made captive in early boyhood, with other children of a Bushman Kraal, in one of the frequent incursions or commandos (...) undertaken by die Christian Colonists against the native tribes" (1989: 159). In die Narrative word meer eksplisiet vertel van die "legalised butcheries of the Bushman race" (1966: 229). Wat in die verhaal verswyg word, is dat mans gewoonlik voor die voet afgeslag is, soos dikwels ook vrouens (1966: 226), en dat hierdie kinders wat as bediendes weggevoer is, dus die getraumatiseerde oorlewendes was van wreedaardige slagtings op hul ouers, en die totale vernietiging van hul tradisionele lewenswyse. Ook die manier waarop Pangola se vrou hom na gewelddadige afstraffing met die sambok ("his back and limbs were miserably mangled and streaming with blood") daagliks dokter met gekneusde blare van die boegoe-plant, tot die wonde genees (1989: 160), getuig van Pringle se kennisname van inheemse kure.

Wat taalgebruik betref, is 'n stilistiese analise van "Pangola - An African Tale" boeiend. Die boesmanfiguur word "the African" genoem, wat uit streng-etnografiese oogpunt nie korrek nie, maar by implikasie suggereer dit Pringle se siening van homself as Skot of buitelander teenoor inheemse inwoners van Suid-Afrika as Afrikane ("Africans"). Aansluitend hierby is dit opvallend hoe dikwels in die verhaal boesmanfigure met diere vergelyk word. Na hy geslaan is, lê Pangola soos 'n slang in die stof: "the African was left like a skotched snake writhing in the dust" (1989: 160). In sy latere gesprek met Diederik Kruger, wat hom wil oorreed om terug te keer na die beskawing, sê Pangola dat hy liewer soos 'n wilde hond in die woestyn wil lewe, as om soos 'n huishond oorgelewer te wees aan sy baas (1989: 161). Die hondbeelde word voortgesit op die volgende bladsy wanneer die kommando-leiers geskok is "to see white men submit tamely to 'Bushmen dogs'" (1989: 162). Aan die slot van die verhaal is daar 'n bloedige konfrontasie tussen die kommando en die omsingelde boesmans in 'n grot. 'n 'Mak' boesman- spioen word gestuur om die opstandiges in die grot te beveel om oor te gee. As hy terugkom by die boere, gillend soos "a wild beast" steek daar twee pyle deur sy wange in sy tong in:

Two arrows of polished reed, thrust through the flesh of the wretch's cheeks, projected like the tusks of the African wild hog, while their barbed points, embued in deadly poison, were infixed in the tongue that had betrayed his kinsmen to their pursuers

(1989: 163; my kursivering)

Uiteindelik sterf Pangola in die skermutseling soos 'n gekwetste luiperd: "mortally wounded, (he) flung himself like a hunted leopard upon his ancient foe the veld-cornet" (1989: 164; my kursivering).

Die boesmanfigure in hierdie verhaal word dus beurtelings vergelyk met 'n slang, 'n wildehond, 'n mak hond, 'n wildevark, 'n gekwetse luiperd. Dié vergelykings suggereer kennis van die gedrag van hierdie diere by die skrywer wat op die manier sy verhaal 'lokale kleur' gee. Maar verder impliseer dit ook iets van die opvatting in die neëntiende eeu dat die boesmans nader aan die instinktiewe natuur en wildedier staan as aan die mens (vergelyk Von Wielligh, 1921: en die NG Kerksinode-debat in 1903: "Is die Boesman 'n dier of 'n mens?")

Die verhaalstruktuur is siklies: dit begin met die verknegte Pangola, wat hom by die boer bevind as gevolg van geweld teen sy mense: "made captive in early boyhood, with other children of a Bushman Kraal, in one of the frequent incursions or commandos" (1989: 157). Dit eindig met Pangola wat sterf in 'n soortgelyke ongelyke geveg tussen berede boere en omsingelde boesmans - gewere teen pyl-en-boë: "I die in arms against the Christians - the murderous Christians who destroyed my race."

As kontak, kommunikasie en konflik as verskillende moontlikhede van kulturele wisselwerking gesien word, bestryk Pringle se verhaal al hierdie stadia. Ná konflik teen sy kraal, word die 'wilde' Pangola 'mak' gemaak, en leer by implikasie die taal van sy meester (Afrikaans of gebroke Nederlands) soos wat hy sy eie taal verleer. Na veldkornet Van Bronkhorst se geweldorgie teen Pangola (d.i. konflik) ontketen dit opnuut 'n ketting van geweld. Diederik Kruger probeer as kommando-lid wat die boesmans jag, om te kommunikeer met Pangola (waarskynlik word hierdie gesprek in Afrikaans gevoer, soos wat die woorde "myn jong" op bladsy 161 suggereer). Dit is egter te laat vir kommunikasie. Na die vlugtige moment van kontak en toenadering, intensiveer die konflik. Die spioen wat gestuur word om die groep mondelings te oortuig om oor te gee (deur kommunikasie in hul eie taal), se verraderlike tong (medium van kommunikasie) word met gifpyle deurboor - 'n simboliese gebaar van die finale beëindiging deur Pangola se mense van enige verdere kommunikasie. Na die fatale slotgeveg kommunikeer Pangola nog eenmaal met die kommandolede, nadat hy noodhulp geweier het:

You cannot save my life, if you would (...) and, if you could, I should receive it back only to be doomed, by laws which I disclaim, to a more ignominious death. I die in arms against the Christians - the murderous Christians who destroyed my race.

(1989: 164; my kursivering)

Sy sterwenswoorde wys op strak kulturele verskille. Die boere het 'n ander regstelsel met wette wat hy ontken, en hulle is 'moorddadige Christene' - het 'n geloof wat vir die boesmans net doodslag inhou. (Dit is 'n algemene verskynsel uit die tekste in die agtiende en neëntiende eeu dat die wit boere as 'Christene' gesien word deur die eerste inheemse inwoners van die land, waaronder merendeels negatiewe assosiasies verstaan word. Hoe dit die sendingaksies beïnvloed het, is 'n interessante vraag. Die verskillende sendingstasies onder die boesmans, o.a. by Torenberg onder Erasmus Smit in 1815, was in ieder geval geeneen besonder suksesvol nie, en geeneen van lange duur nie. Hiervoor is die redes waarskynlik onder andere te vind in die kultureel-onsensitiewe aanpak: geen noemenswaardige pogings om die boesmantale of -kultuur te leer nie, die enorme kultuur- en klasse-verskille tussen die sendelinge en hul gemeentes, asook die reeds ver gevorde verbrokkeling van die boesmans se kommunale gemeenskapstrukture.)

Pringle se verhaal kan dus gelees word as 'n verhaal van kontak, kommunikasie en konflik, met 'n sekere mate van kulturele wisselwerking wat plaasvind - genoeg om die ander groep se taal aan te leer, en sy lewenswyse te leer ken, maar nie genoeg om fatale konflik te vermy nie.

Die uitbeelding van Pangola as karakter is nie dwarsdeur volkome oortuigend nie. In 'n woordewisseling met Van Bronkhorst, voor laasgenoemde hom afransel, uiter die boesmanwerker die frase "God had made them equal" met verwysing na Afrikanerboer en boesman. Hierdie frase eggo die Verligtingsretorika ("gelykheid, vryheid en broederskap") in die mond van 'n karakter wat veronderstel is om kort gelede nog 'n "wilde" boesman te gewees het, sonder westerse opvoeding of kennis van die westerse beskawing. Dit lyk my duidelik dat Pringle die filantroop hier deur Pangola aan't buikspreek is.

Wat hierdie momentele "slippage" of lapsus in die register egter besonder veelseggend maak, is dat Pringle in die intertekstuele passasie in die Narrative (1966: 222-223) die feitelike gebeure rondom Dragoener hoofsaaklik vanuit die bedreigde en beroofde setlaarboere se perspektief vertel. Hy noem slegs in 'n terloopse onderbreking van twee sinne die 'moontlikheid' ("perhaps...a case against the colony") en 'waarskynlikheid'("the country...belonged very probably to their ancestors") dat sy verhaal van onreg wat die boere aangedoen is, altemit op verkeerde aannames gebaseer kan wees. Sy hoofbetoog is egter een van uitbuiting van die boere. Die Narrative was in 1826 gereed vir publikasie (sien voorwoord, Struik-publikasie 1966). "Pangola", waarin die hoofperspektief op die gefiksionaliseerde verhaal van Dragoener uit-en-uit dié van die uitgebuite en berooide boesmans is, verskyn in 1831 in druk. Dit kan aangeneem word dat die verhaal veel later geskryf is, tien teen een toe Pringle al terug was in Engeland. Die nooddurf van praktiese omstandighede van die setlaarboer wat bedreig word deur die boesmans is lankal agtergelaat. Pringle skryf nou vanuit 'n teoretiese kyk op die koloniale verhoudinge en vanuit die intensiverende stryd vir die afskaffing van slawe. Hy kan homself nou die luukse van die teoretiese idees van die Verligting gun in sy uitbeelding van koloniale verhoudinge. Dit is waarskynlik hierdie teoretiese standpuntinname van Pringle, ver verwyder van die nypende daaglikse lewe én die diskoers van geweld in die grensgebied, wat in Pongola se dialoog neerslag vind wanneer hy beweer "God had made them (us) equal".

Hoewel die karakterisering van Pongola dus nie konsekwent oortuigend is nie, is "Pangola - An African Tale" nietemin 'n memorabele verhaal as gevolg van die streng volgehoue spanningslyn, geskakeerde dialoog en 'lokale kleur' in die uitbeelding van kulturele wisselwerking tussen grensboere en boesmans. Gelees saam met die nie-fiktiewe interteks in Narrative of a Residence in South Africa bied dit besondere insig in die vroegneëntiende eeuse groepsverhoudinge soos weergegee in die konflikterende diskoers van grensboer-filantroop Pringle.

* * *

Notas

1. Ek gebruik deurlopend die benaming 'boesman' met 'n klein lettertjie in navolging van resente praktyk, sien Gordon, 1997)

Bibliografie

Gordon, Robert J. 1997. Picturing Bushmen. The Denver African Expedition of 1925. Cape Town: David Philip.

Huigen, Siegfried. 1996. De weg naar Monomotapa. Amsterdam: Amsterdam University Press.

Peires, J.B. 1984. Piet Draghoender's Lament. South African Outlook. Julie:99-104.

Pereira, Ernest & Chapman, Michael. (eds.). 1989. African Poems of Thomas Pringle. Pietermaritzburg: University of Natal.

Pringle, Thomas. 1966 (1835). Narrative of a Residence in South Africa. Cape Town: Struik.

Wahl, John Robert (ed.). 1970. Poems Illustrative of South Africa. African Sketches: Part One. Cape Town: Struik.


Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/streek2.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]