Bondgenoot of medepligtige?
'n Skrywer besin oor sy dagboek

Hennie Aucamp..............

Die dagboek-genre hou 'n besondere fassinasie in vir die leespubliek. Dit het die regte formaat vir belydenisse, en dis omgewe met geheimsinnigheid, romantiek, sensasie en ja, selfs 'n beduidenis van misdadigheid.
Disclaimer Die woord "misdadigheid" klink 'n bietjie kras, maar dis tog 'n gepaste woord, as 'n mens aan die volgende reëls van Emily Dickinson dink:

Rehearsal to ourselves
of a withdrawn delight
affords a bliss like murder
omnipotent, acute.
Dis tog waarom dit in die dagboek gaan: 'n herhaling, bykans 'n inoefening, van die dinge wat jou in jou daaglikse lewe ontroer, verheug, ontstel. En dis juis om die subversiewe aard van die dagboek dat die dagboek-byhouer sy dagboeke agter slot en grendel hou. In die ou dae is daar selfs dagboeke verkoop met slot en sleutel kompleet, soos dié van die Ou Statebybel.
Om die inhoud van 'n dagboek nog verder te beveilig, maak dagboekskrywers, veral gevangenes, spioene en bendelede, van kodetaal gebruik. Wat 'n tergende gedagte: dat daar dagboeke bestaan wat nooit ontsyfer gaan raak nie. Ek betwyfel dit egter of sulke dagboeke stilistiese kleinode gaan oplewer.
Oor die "ondermynende" aard van dagboeke ten slotte twee oënskynlik ligsinnige uitsprake: die een van Oscar Wilde, die ander van Mae West. Wilde het gesê: "I never travel without my diary. One should always have something sensational to read in the train." Mae West, skitterende eksponent van eenreëlwyshede, het die volgende aangeraai: "Keep a diary and some day it'll keep you."
Daar is soveel soorte dagboeke as wat daar dagboekskrywers is. Een enkele definisie kan kwalik al die eiesinnighede en buitenissighede van die dagboek as soort opvang. En miskien is dit al klaar verdag om die dagboek 'n "genre" te noem. Dit lê buite die grense van formele literatuur, behalwe in die geval van gefiksionaliseerde dagboeke, soos die van Gogol, Toergenjef, Dostojevski, Rilke en talle ander. Dit is interessant hoeveel aandag postmoderniste aan die dagboek en ander egodokumente bestee, want dis juis die sogenaamde gemarginaliseerde "letterkunde" wat op die pad van postmodernisme lê.
Daar is dagboeke wat van meet af aan vir publikasie bestem is, soos die van André Gide, Anaïs Nin, Julian Green, Hans Warren, en andere. Van die dagboeke kan 'n mens aanneem dat hul besonderhede streng geselekteer, geredigeer, gestileer en selfs gesensureer is. Hul skrywers het 'n bepaalde mark in die gedagte gehad: 'n literêrgeskoolde publiek.
Die oorgrote meerderheid dagboeke is vir privaatgebruik bedoel en sal wemel van onbenullighede, of laat ek dit so stel, dinge wat vir 'n buitestaander onbenullig is, soos gesondheidsbulletins en weerberigte. (Vir 'n biograaf en 'n historikus mag die "onbenullighede", terugskouend, wel nuttig wees.)
Daar is dagboekskrywers wat kille veragting voel vir mense wat oorgaan tot die publiseer van hul dagboeke. Hulle deel selfs nie hul dagboeke met hul naaste en intiemste vriende nie. Die logiese ding sou wees om die dagboeke uiteindelik te vernietig, maar dit doen die skrywers wat soveel prys op hul privaatheid stel tog nie. Hierop wys Patricia de Martelaere in haar seminale essay, "Het dagboek en de dood". Dagboeke wil gevind word, sy dit na die dood van die skrywer daarvan. Die dagboekskrywer skryf ten slotte tog vir iemand anders as homself.
Die uwe hou van sy vyftiende jaar af 'n dagboek by. Dis eers in 1996 dat ek oorgegaan het tot die publikasie van 'n dagboek, getiteld Gekaapte tyd, en in 1997 volg 'n tweede dagboek, Allersiele. Ek twyfel of ek verdere dagboeke gaan publiseer, met die uitsondering van reisjoernale. Ek het bewus begin raak van die leser oor my skouer; van kritici wat op "onbenullighede" wys; en so het my dagboek iets van sy spontaneïteit verloor. Tans skryf ek weer met die handrem los.
Oor die eiesinnigheid van die dagboek nog die volgende: Tradisioneel word dagboeke in prosavorm geskryf, maar daar is geen aardse rede waarom 'n skrywer nie spontaan sou oorslaan na poësie nie. Met die verhewiging van emosie, soos by 'n groot verlies, begin prosa dikwels vanself "sing". Op 9 Julie 1999, die dag na my vriend, Stephan Bouwer se dood, skryf ek in my dagboek:
Ek sou so graag oor jou wou huil
soos jy ongetwyfeld oor my sou gehuil het:
roekeloos en opstandig -
maar huil val my moeilik, al voel ek hóé bedroef.
Nouja, laat ons hier liewers van bewoë prosa praat as poësie.
Soms is 'n dagboek juis in sy strakste oomblikke poëties. Hiervan het D.J. Opperman doeltreffend gebruik gemaak in sy gedig "Clat boek" wat op die dagboek van Louis Trichardt gebaseer is. Elke gestroopte strofe eggo 'n dagboek-inskrywing. Twee strofes ter voorbeeld:
Het laer getrek.
Verwag al 'n week
ons word soos Potgieter
doodgesteek.

Seun gebore. Dood.
Uers gekalf.
Martha maak
van bessies salf.

Ek wil terugkeer na my vriend Stephan Bouwer van wie daar nadoods die bundel Sirene van bloeisels verskyn het. In die bundel is daar 'n lang gedig getiteld "Yslandindrukke", met onderskrif:
Reykjavik, 12.96 - 01.97
(Elf kletsverse: poskaarte aan vriende tuis)
Die elf verse volg mekaar letterlik in die tyd op en is 'n uitasem-verslag in gespanne prosa, kompleet soos 'n dagboek; ja, "Yslandindrukke" is waarskynlik die naaste wat ons in Afrikaans het aan 'n dagboek in poësievorm.
In alle eerlikheid moet ek beken dat ek nie van 'n dagboek op rym weet nie, wel van 'n reisjoernaal, soos die gewilde Een voetreis naar Rome van Bertus Aafjes. Maar 'n dagboek op rym, dit mag nog aan die lig kom. As 'n uitgewer 'n aantreklike tjek voor my oë verbyswaai, vat ek sommer 'n hele maand saam in rymende koeplette.
Die geïllustreerde dagboek is nog 'n dagboeksoort. Die klassieke voorbeeld is die Marokkaanse dagboeke van Eugene Delacroix, uit die jaar 1832. Party tekeninge is op die rug van 'n perd in beweging uitgevoer, die knop van die saal Delacroix se enigste stut. Hierdie dagboeke is van die verruklikste kunswerke wat my oë nog aanskou het. Delacroix se handskrif en tekeninge jaag soos perde of die woestynwind oor die bladsye. Kleure word in potlood aangedui, vir later wanneer Delacroix sy dagboeksketse tot groot olieverfskilderye sou uitbrei; maar niks haal vir my by sy potlood-en-akwarel-sketse nie, so pragtig met skrif geïntegreer op een en dieselfde bladsy van sy dagboek.
'n Laaste soort dagboek wat ek wil noem, het geen teks nie, want dit is selfverduidelikend. Van die soort kan daar nie baie voorbeelde wees nie. Die aangrypendste voorbeeld wat ek ken, heet Last drawings of Christopher Isherwood deur Don Bachardy. Op versoek van die skrywer Isherwood het sy lewensvriend, die kunstenaar Bachardy, 'n reeks tekeninge van Isherwood op sy sterfbed gemaak, enkeles selfs ná sy dood. Die tekeninge is blitsvinnig uitgevoer, want Isherwood was onrustig, soos pasiënte dikwels is. Sommige tekeninge is gedateer; na die einde toe, baie beduidend, het die datums weggeval.
En nou is my inleiding verby, en kan ek kom by my eintlike opdrag, naamlik om die rol van my dagboeke in my skryfloopbaan te probeer vasstel. Een ding is hopelik gevestig, en dis dat dagboeke vreemder vorms kan aanneem as wat standaardwoordeboeke 'n mens laat vermoed.

2

Dis glad nie so maklik om te sê wat die verhouding tussen my, my dagboek en my skryfwerk is nie, om die eenvoudige rede dat dit hier om 'n osmotiese proses gaan waarvan die nugter verstand nie altyd weet nie.
Dit kan sinvol wees om te begin by die basiese funksie van alle dagboeke, of dit nou die logboek van 'n skeepskaptein, die dagboek van 'n tiener of die dag- cum werkboek van 'n gevestigde skrywer is. Elkeen van die genoemdes wil inligting bewaar vir latere gebruik, elk op sy eie manier.
ln my eie geval gaan ek geriefshalwe rubiseer, al weet ek by voorbaat dat my rubrieke gaan oorvleuel. Geheuestutte vir my kom neer op (a) beskrywings (b) opsommings en aanhalings (c) die optekening van plots en idees vir verhale. Daar is 'n vierde rubriek, wat ek die rommelmandjie wil noem, en hierheen vind dinge soos die volgende hul pad: idiome en woorde, oud en nuut; grappe; anekdotes; straattaal; graffiti; dinamiese skeldtaal. Die skrywer is die spreekwoordelike kraai wat alles wat blink na sy nes toe aandra.

(a) Beskrywings
Onlangs stry ek en vriend Michael Blersch oor 'n gesamentlike besoek aan Sandy Bay. In die lente is die strook veld tussen die parkeerterrein en die strand self, 'n besonder ryk flora-gebied, 'n paradys vir Michael wat dikwels blomme fotografeer, veral die ewwa-trewwas. Michael sê ons was twee jaar gelede saam na Sandy Bay in die lente, ek sê nee, dit was verlede jaar, want ek het dié dag 'n verkoue opgedoen en was doodbang dat ek Europa toe moet vertrek met 'n verkoue.
My dagboek was, soos dikwels in die verlede, die arbiter in 'n strygesprek.
Onder 9 Oktober 1999 staan daar:

Ook gister was liederlik warm. Ek is saam met Michael Sandy Bay toe, die allereerste keer sedert 1997 - vóór my knievervanging, vanselfsprekend.
Ek het by elke bos, elke blom vertoef; lente, en daar is baie blomme. Pers suurvykwasse; "magenta", sê Michael. 'n Enkele pienk ewwa-trewwa. Vygies. Asblomme. Gousblomme. 'n Oranjebruin botterblom. 'n Rotsroos. (Dié sê Michael, word nou as tuinplant gekweek.)
Daar is baie te sê vir 'n dagboek wat ook 'n tuin- en boerdery-"almanak" is. Jare later wil 'n skrywer oor sy jeug skryf, en skielik moet hy weet wanneer dit lamtyd en skeertyd was; wanneer die waaibesems en bergvuurpyle blom; wanneer gesaai word, lusern, rog, koring, hawer, wat nie alles nie.
En dan is daar die klimaat wat ook boeiende skryfstof kan wees. Wie byvoorbeeld oor 'n sneeuval wil skryf, moes dit beleef het. Ek het 'n paar kwaai sneeuvalle op die Stormberge belewe, en het één sneeu-storie geskryf, "Ingesneeu", wat vanjaar, na baie dekades, in boekvorm opgeneem is, saam met ander verhale uit my "teerder jeug".
Die ironiese is dat ek 'n brief aan 'n vriend probeer skryf het na aanleiding van 'n groot sneeuval op die Stormberge, en jammerlik misluk het om my sneeu-ervaring in woorde om te sit. Die brief is nooit gepos nie, maar die aanloop daartoe is wel in my dagboek opgeneem.
Ek gaan daaruit aanhaal, my tot verleentheid, en voornemende skrywers tot lering. Ek het literatuur probeer maak van 'n sneeuval en het met die oë van ander, veral skilders, na die sneeu gekyk. Iets moes my gewaarsku het dat ek op 'n dwaalweg is, want op 15 Junie 1965 skryf ek half geïrriteerd:
Die sneeu hierso is gelyk aan vergetelheid. Ek is my tale kwyt.
Of miskien is dit meer korrek om te sê dat ek nog nie my woorde na gedagtes kan skik nie.
Die enkele gedagtes wat wel wil kom, is "verliteratuurd". Bv. "Die landskap het die aansien van 'n Hokusai of 'n Hirosjige, streng, geordende vlakke, ingeperk deur streng lyne".
Wanneer ek oor 'n rit te perd in die sneeu skryf, begin my waarneming iets van 'n werklike ervaring deursein:
Die onwerklike van die sneeu sien ek op die duidelikste in my skaduwee en dié van die perd; die blouerige skaduwee rafel uit na die kante toe, die hele skaduwee dra die watermerke van tafsy.
Dié beskrywing is nog altyd 'n bietjie geaffekteerd, maar ek het darem op my eie oë begin staatmaak.
'n Skrywer se grootste bondgenoot is sy oë. As hy eerlik neerskryf wat die oë sien, kan hy, sonder versiering en pretensie, by 'n betekenisvolle mededeling uitkom.
Hoekom leer 'n skrywer so moeilik aan bogenoemde les? Hy hou maar aan om sy basiese waarneming onder kruisverwysings, aanhalings en ander slimmighede te versmoor. Dit gebeur alte dikwels wanneer sy inhoud yl is; en hieruit is ook lering te haal.
'n Skrywer se enigste troos is dat selfs die heel groot skrywers dit moeilik vind om hul sogenaamde "purple patches" ("mooiskryf'-passasies) uit te roei. In Walt Whitman se betowerende prosawerk, Specimen days in America, is daar 'n reël wat my baie na aan die hart is. Whitman vertel hoe hy die manuskrip van Leaves of Grass vir laas geredigeer het, en dan volg die bekentenis: "I had great trouble in leaving out the stock 'poetical' touches, but succeeded at last."
'n Skrywer se belangstelling gaan in die eerste plek uit na mense en menslike verhoudings, en daarom kan verwag word dat sy dagboeke gaan wemel van "portrette", wat van bekendes sowel as onbekendes kan wees, en natuurlik ook van diere. Enkele voorbeelde:
Doodvermoeid na 'n rit tussen twee Karoodorpe, gaan sit ek in 'n kafee, maar wanneer 'n egpaar binnekom, begin ek oudergewoonte woordportrette skep. Hier volg my inskrywing gedateer 14 Oktober 1964:
'n Middeljarige paar van die platteland kom die kafee binne, hy met stewels en valstande, sy met strooihoed en korset. Hulle aarsel voor die kafeedrukte, maar laat hulle nie daardeur afskrik nie: hul plaas is onbelas en hulle gee gereeld hul tiendes. 'n Kelner lei hulle na 'n tafel; sy gaan sit met die stramheid wat haar tuig haar oplê; hy bly staan en kyk oor die mense of dit 'n kraal vol vee is. Sý vee.
Ek twyfel of ek ooit weer teruggekeer het na bostaande beskrywing. Na die volgende portret - 'n kik-en-mik-portret van Marlene Dietrich tydens haar Kaapse optrede in die ou Alhambra in 1966 - het ek twee maal teruggekeer; en eers die tweede keer, in die verhaal getiteld "Sy" (na Rider Haggard se legendariese roman, She), het ek my geïrriteerdheid met Dietrich, sowel as my bewondering vir haar, tot 'n versoening kon bring. Maar eers my inskrywing, gedateer 16 April 1966:
Miskien moet Marlene maar liewers nie haar "tragiese" liedjies sing nie, want dan raak haar gesig hol en versink dit tot sy werklike ouderdom.
Die liedjies oortuig nooit heeltemal nie. Dis wanneer sy effens vulgêr raak, of liedjies met 'n sterk ironiese inslag sing, dat sy onweerstaanbaar en uniek raak - "The boys in the backroom", byvoorbeeld, of "Black Market". Haar berekende verskyning en optrede hinder tog nie: sy besiel die formule. Haar gespantoude stappie, haar klam glimlag - sekssuksesformule uit die veertigerjare? - haar loer onder haar kuif deur, oorrompel tog; breek jou weerstand af.
Hoe krý sy dit reg?
Hier wil ek voornemende skrywers 'n wenk gee. Wanneer 'n dagboekbeskrywing 'n sekere opwinding by die beskrywer registreer, 'n energie wat voelbaar is in woordkeuse en ritme, moet die skrywer weet: hierdie beskrywing beur na 'n storie toe. En dan moet hy sy dagboek toemaak en skryfpapier nadertrek en onmiddellik met 'n storie of 'n essay begin. My dagboeke het, veral die afgelope tien jaar, alte veel stories, sketse en essays begin insluk. Want som jy te volledig op in jou dagboek, vergaan die lus om 'n inval, 'n beskrywing, wat ook al, uit te bou tot 'n storie.
M.E.R. moes haar ook bewus gewees het daarvan dat egodokumente 'n potensiële storie kan kaap. In 'n brief aan haar dogter Anna, skryf sy op 9 Julie 1928 van Campbell af:
. . . Maar daar is skoonhede in Campbell se veld en dorp, so met dooie gras en wit stof en peperbome en lelike huisies. Daar is die fraaiste klein rooi aleweetjies nou oop, by duisende, tussen die geel gras en die stomp doringboompies en swartgrys klipbanke: en naby die sinkkerkie het ek die fraaiste fontein gesien wat ek al ooit teengekom het. Hulle sê daar is verskeie in die omtrek. Meer daarvan wil ek in vrouesake skryf, so gaan ek nie al my welsprekendheid hier opmaak nie . . .
Vandag is ons M.E.R. dankbaar dat sy nie al haar "welsprekendheid" in 'n brief opgebruik het nie, maar ons almal laat deel het in een van haar allerfraaiste essays, "Die fontein by Campbell", opgeneem in Uit en tuis.

(b) Opsommings en aanhalings
Opsommings vorm skering en inslag van my dagboeke: opsommings van boeke, films, kunsuitstallings en so meer. Maar veral van boeke. "Opsommings" van boeke is miskien nie die regte woord nie. Waarmee ek besig is, is 'n leesverslag, wat oor weke kan strek, telkens onderbreek deur ander inskrywings. Dit gaan dikwels om boeke wat my kwel en ontstel, om hulle komplekse inhoud, maar soms ook omdat ek 'n gles in die glas vermoed. Ek het byvoorbeeld lank na die gles in Disgrace van J.M. Coetzee gesoek en dit, volgens my, gekry.
Hoe meer,'n skrywer lees, aandagtig, meelewend lees, hoe meer leer hy omtrent sy vak.
Dikwels vertaal ek 'n paar sinne, 'n paragraaf of selfs 'n bladsy, omdat ek, in Jan Greshoff se woorde, "fabrieksgeheime" wil ontdek.
Die meeste skrywers steun oorwegend op hul visuele talent wanneer hulle beskryf, maar verwaarloos byvoorbeeld die tas- en die reuksin.
Om myself te straf, het ek 'n paar passasies uit Perfume van Patrick Süskind vertaal net om my reuksintuig 'n bietjie op te skerp. Die boek het, spoedig na sy verskyning in 1985, 'n wêreldtreffer en -klassiek geword. In Das Parfum - ek gebruik met opset die boek se oorspronklike titel - gaan dit om 'n man, ene Grenouille, wat 'n patologies fyn ontwikkelde reuksin het. En dis nie al aan hom wat misdadig is nie: hy is ook 'n moordenaar. Hy ruik letterlik sy slagoffer uit.
My eerste vertaalpoging gaan om reuke wat normaalweg as negatief, kortom, as stanke ervaar word:

. . . In die nou systrate uit die rue Saint-Denis en die rue Saint-Martin het mense so dig saamgepak gelewe, elke huis so styf aangedruk teen die volgende huis, vyf, ses verdiepings hoog, dat jy nie die lug kon sien nie, en die lug op die grondvlak het klam kanale gevorm waar reuke saamgekoek het. Daar was 'n mengeling van mens- en dierreuke, van water en klip en as en leer, van seep en varsgebakte brood en eiers in asyn gekook, van noedels en blink gepoleerde koper, van salie en bier en trane, van ghries en deurweekte strooi en droë strooi.
Teenoor die benoude inventaris van reuke, kom die volgende passasie as bevryding; maar die reuke word eweneens deur Grenouille waargeneem:
En van die weste, by wyse van die enkele deurtog deur die stad, naamlik die rivier, kom 'n wye windstroom wat met hom saambring die reuke van die platteland, van die weides rondom Neuilly, van die woude tussen Saint-Germain en Versailles, van ver-af stede soos Rouen of Caen en soms van die see self. Die see ruik soos 'n seil waarvan die bollinge water, sout en koue son opgevang het. Dit het 'n eenvoudige reuk gehad, die see, maar terselfdertyd het dit ontsaglik en uniek geruik, in so 'n mate dat Grenouille geaarsel het om die reuke te ontleed as visagtig, souterig, waterig, seewieragtig, varslugagtig, en so meer. Hy het verkies om die seereuk saamgevoeg te ervaar, en dit as 'n eenheid in sy geheue te bewaar en as 'n geheel te koester.
Watter skryfgeheime kan uit die twee vertaalde passasies afgelei word, reukaangaande?
Reuke kan natuurlik net benoem word, nooit werklik ervaar word terwyl gelees word nie. Byvoorbeeld: die reuk van "deurweekte strooi" of van "eiers in asyn gekook", slaan nie werklik van die blad af op nie. Wel dring woorde met hul individuele asosiasies tot jou emosies en sensibiliteite deur; en die assosiasies kan deur werkwoorde en byvoeglike naamwoorde versterk word. Die skrywer bepaal, baie geslepe, watter reaksie hy aan die leser wil ontlok, gunstig of ongunstig.
Vergelyking is maar een van die maniere waarop 'n leserreaksie verkry kan word. Elisabeth Eybers skryf byvoorbeeld in haar gedig "Herinnering":
.....................ek weet
nog net dat die gekneusde gras se geur
soos naeltjies was . . ..
Let wel, "geur" en nie "reuk" nie.

'n Laaste voorbeeld van hoe boeke hul weg na my dagboek vind, raak aanhalings.
Die aanhalings in my dagboeke kom selde uit aanhalingwoordeboeke, al het ek talle van die soort boeke op my rakke. My aanhalings kom meesal uit wat ek lees, kortverhale, romans, biografieë, dramas. Skielik stol ek by 'n bepaalde passasie: 'n reël het 'n oop senuwee geraak. 'n Reël wat my aan myself verduidelik. Hierdie reëls word vir my energiebronne, en al haal ek hulle nie noodwendig aan nie, voed hul tog 'n verhaal, 'n liedteks, en dikwels 'n hele bundel.
Ek het 'n teorie dat die energie van 'n teks na een enkele passasie, selfs een enkele sin in daardie teks herlei kan word, en die praktyk bevestig dikwels my teorie. In 'n artikel of in 'n resensie staan keer op keer juis daardie gedeelte wat ek as lewegewend, energieskeppend, aangeteken het.
Die eerste keer dat ek van so 'n passasie geswymel het, was in my hoërskooljare toe "Eerste liefde" van Toergenjef as vervolgverhaal in Die Naweek verskyn het. Ek het die volgende passasie in my dagboek aangeteken:

O jeug, jeug! Alles laat jou koud, asof jy al die skatte van die wêreld besit. Selfs treurigheid vermaak jou, selfs kommer pas jou; jy is selfbewus en astrant: jy sê: Ek leef alleen, kyk! maar jou dae gaan ook verby en verdwyn spoorloos en ongetel, en alles verdwyn in jou soos dou voor die son, soos sneeu. En miskien lê die geheim van jou bekoring nie in die vermoë om alles te kan doen nie, maar in die vermoë om te dink dat jy alles kan doen.
Hoekom het die passasie my so intens geraak? Met terugskouende wysheid wil ek 'n verklaring waag. My vader het dikwels met die huisgodsdiens uit Prediker gelees; so dikwels en so ernstig dat ek lang gedeeltes van die Bybelboek uit my kop geken het. Miskien het Toergenjef se passasie vir my geklink teen 'n reël soos "Die jeug en die daeraad is nietigheid"?
Die Toergenjef-passasie was die motto tot my eerste bundeltjie, Een somermiddag.
Jare nadat ek Toergenjef gelees het, gaan kyk ek na Maximilian Schell se verfilming van Eerste liefde. Net voordat die prent begin, verskyn daar op die doek, wit op swart, my motto-passasie; een en dieselfde passasie. En weer het ek geswymel, maar dié keer om 'n ander rede.
Aanhalings vind soms hul weg na titels; ook bundeltitels.
Byvoorbeeld: Wat bly oor van soene? (Brecht); Dalk gaan niks verlore nie (Van Wyk Louw); Gewis is alles net 'n grap (Eugène Marais).
Nee, ek verskil hartelik van N.P. van Wyk Louw wat gesê het uit die bestaande letterkunde is nie weer letterkunde te haal nie. Dié uitspraak klop nie met die verskynsel inter- en intratekstualiteit nie. Op die ou end gaan dit tog hierom: dat dit wat "geleen" is, gebrei en gevorm word tot iets nuut en uiteindelik 'n tweede, onafhanklike lewe gaan lei.

(c) Die optekening van plots en idees vir verhale
My gepubliseerde dagboeke, Gekaapte tyd en Allersiele, lewer oorvloedig getuienis van die optekening van idees vir verhale, maar ook van die vordering - of soms gebrek aan vordering - van verhale waarmee ek op die oomblik besig is. (Die Engelse het 'n mooi uitdrukking hiervoor: "work in progress".)
Ek gaan met een voorbeeld volstaan, omdat dit alles op een bladsy inpas: die ontstaan, die voorbereiding, die wegstuur, die aanvaarding van 'n betrokke verhaal. Die verhaal heet "Miss Hannah lui die klokkie", en het uiteindelik tereg gekom in die bundel 'n Bruidsbed vir tant Nonnie (1970).
Op 9 September skryf ek in my dagboek:

Idee vir 'n verhaal (ingegee deur 'n staaltjie vertel deur Pieter Kooij):
Hoogbejaarde broer en suster woon noodgedwonge saam, maar hulle skaaf deurentyd onderlangs. Gevestigde reëls van suster moet eerbiedig word, want dis haar huis. Van vieruur tot vyfuur op 'n Saterdagmiddag bad broer. Om ses-uur eet hulle. Hy durf nie gaan sit voor die klokkie gelui het nie, al is hulle albei in die vertrek. Op 'n Saterdagmiddag kom hy nie uit die badkamer nie. As Hannah aan die deur klop, mompel hy net. Uiteindelik moet hy beken dat hy nie orent kan kom nie. Suster weet dadelik: hy het weer begin drink.
Allerhande makabere afwykings op dié tema moontlik. Jeugbotsings ("sibil rivalry ") kan bygehaal word. Grondtoon moet ironies wees. Beide - broer en suster - moet aan die kaak gestel word.
Verhaal kan so eindig (dis nou ná die longontstekingdood van die broer):
"En met die dowwe getingel van die klokkie wat 'n paar maal op die damas omrol voordat hy op sy sy gaan lê, val Hannah half oor haar bord kos op die tafel - hoe stylloos sou broer Hans afkeurend laat hoor het - en sy huil opstandig, ag, nie juis oor broer Hans nie, maar oor die lewe wat verbygaan voordat dit geleef is ... "
Milieu:
Blomstaanders met varings - ornate bakke met pseudoklassieke motiewe - spieël met vergulde raam bokant kaggel-pluisferweelgordyne met tossels - geskulpte val - chaize longue.
My herskepping van 'n Victoriaanse voorhuis is nie uit die lug gegryp nie. Ek het na 'n vroeër dagboek teruggegaan waarin ek die voorhuis op die historiese ou plaashuis op Roodebloem, distrik Herbertsdale, aangeteken het, met sketse daarby. Ek het dikwels op die ou plaas gekuier in my studentejare, as gas van my klasmaat Andrew Muller. Die voorhuis was 'n wonderlike sprokiesvertrek, veral as die lig reg geval het, en die kleur van die rooshoutstoele met hul krom pote tot hul reg kon kom. Daar was ook 'n ottoman, onthou ek, en pampasgras in 'n kruik.
Vir my is dit onmoontlik om 'n storie te begin skryf voordat ek nie die omgewing van my karakters kan oproep nie. Visse gaan dood in 'n tenk sonder water, en karakters het eweneens 'n lewegewende element nodig waarbinne hulle kan beweeg en asemhaal.
"Miss Hannah" is binne twee dae geskryf en na Sarie Marais gestuur. Op 17 September hoor ek dat die verhaal gunstig ontvang is.
Dis natuurlik glad nie 'n prestasie om 'n verhaal binne 'n dag te skryf nie. Wat wel geduld en tyd verg, is om daardie verhaal voor te berei; as 't ware visueel te ervaar, voordat jy hom begin skryf.

Wat kan ek ten slotte sê?
Miskien iets in biegtrant, soos dit 'n dagboekskrywer betaam. Hollywood word 'n "droomfabriek" genoem, en dis wat my dagboek oor jare vir my geword het: 'n "droomfabriek". Ek vertel van stories en essays en toneelstukke en liedtekste wat ek aan't skryf is en nog wil skryf, en in die proses splyt ek myself in twee. Ek skryf, maar lewer terselfdertyd kommentaar op wat en hoe ek skryf.
Of dit 'n goeie ding is, weet ek nie. Vir my is dit in elk geval te laat om nuwe filosofieë en beleide te ontwikkel. Ek sal doodgewoon voortgaan op my ingeslane weg, solank die lus en die vermoë bly duur om verslag te doen oor die lewe soos ek dit ervaar.

Kaapstad
4 April 2000

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD
Die dagboek en die flâneur
'n Eerste meditasie oor die skryf van dagboeke












Copyright:   1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/aucamp2.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]