gedigte 7

Disclaimer

Elriena Delport
Die grassnyer
Siener
Orde, Crocodilia!
I. Voel krokodille?
II. Oermoeder
III. Nuwe broeisel
IV. Blik
V. Hypnosis
Erns Grundling
Ek wil my stem in 'n olielamp plaas


Die grassnyer

Saterdags weerklink sy stem gereeld:
('n dowwe snor van staal
- geslyp tot vlym -
wat temerig dieselfde noot herhaal)

die ondermaanse borg
dat elke dag hieronder
sál
vervaal...

Elriena Delport

Siener

Op stil, eteries-en-gedwonge reis
vertrek sy tyd-loos en dimensionaal
verby verwarde stukke tyd, astraal
met net 'n ken-teken as kil bewys
vir ver-gesigte, helder, tog ook grys-
onwerklik, vaag; en soms speel sy ambraal
al rondom vreemde spyt in die verhaal -
'n droombeeld chronologies on-geëis

Verstrengel in dimensies van die tyd
sien sy anachronisties-visoenêr
bisarre rollespel; is sy herout
noodwendig van verborge haat en nyd
- 'n tipe engel, aarts, die môrester -
en atmosferies-eerlik is sy skout....

Elriena Delport

Orde, Crocodilia!

I. Voel krokodille?

Reeds sedert vroegste Palesoïkum-Devoon*
fungeer, op uiters primitiewe styl, amfibia
om, tydens die Karboon en Perm,
deur middel van nagelate sperm,
gestort oor eeuryke millennia,
te genereer aan Oerreptilia en Zoon:
die Mesosoïkum se Thecodontia...
verwoede Archosauriërs baklei in die Karoo
'n onderhoudendende geveg te Middel-Beaufort en die Bo;
en langerige eeue heers Tyrannosaurus Rex
besliste voorganger van die Middeleeuse heks;
en vroeë vlugte oervoëls, nié-Pterosauria
strek aviaal en rustig bo-oor landskappe Jura;
'n vreemd-veerlose vlermuisvoël, die Pterodactylus
verower met sy slanke nek die ruimte grasieus-beslis;
en dan...
die orde Crocodilia
oorwinnaars van 'n bose stryd,
afsydig-kil, koudbloedig,
probeer vergeefs, manmoedig
die eeue oer-gevoelloosheid,
die noodgedwonge, dodelike byt
evolusionêr-noodwendig transendeer
na Utopiese volmaaktheid van die leer:
die warm bloed van die mammalia!

Helaas, net Sebek* kon, Egipties en antiek
- verskuil in Midde-Oosterse mistiek -
deur afgepleite vrugbaarheid te skenk
homself gemaak-beveinsd deurdrenk
in papkuile betraande spyt -
sy skubberige ondeurdringbaarheid 'n feit.

* Palesoïkum: 570 tot 220 miljoen jaar gelede, waaronder die Devoon, Karboon en Perm.
* Mesosoïkum: 220 - 70 miljoen jaar gelede, waaronder o.a. die Jura.
*Sebek: die heilige Krokodil-god in antieke Egipte, wat vrugbaarheid geskenk het en waarvan oorblyfsels in die Berlynse Museum bewaar word.

II.

Oermoeder

kwwê-kwwê-kwwê-
noodroep van die kleine crèche
dwing
dwingend-vlug
dié skril
kontras:
Haar Skubberige Wreedheid Self
opeens
volmaakte broei-toevlug -
geprogrammeerde oermoeder,
haar bek:
beskermende baarmoeder

III.

Nuwe broeisel

sonder enige verweer
onafwendbaar keer op keer:
sag-krakerige maal
vir Serengeti-kannibaal...

IV.

Blik

deur
vreemde

se skrefiespleet
dié
vertikale
weet:
roer-loos lateraal
word
jou
verskraalde
kans
gemeet...

V.

Hypnosis

ekstaties-staties
swymel
hy
in staatsie
- alles-uit-die-oog-verloren -
sy
skyn-dood
vir
'n wilde temmer:
triomfantelik...
die wenner!

Elriena Delport



Ek wil my stem in 'n olielamp plaas
Dit aanstuur met die volgende koerier-dienste
Reguit na jou
Sodat ek weet: jy sal alles hoor ... skeef en hees
Verstaan, probeer verstaan
Na wat my stem probeer uiter
Hetsy deur sagkens fluister of skrou kabaal
Ek sal hier bly sit
In stilte vergaan (dalk verstaan)
Miskien die bome drukkies gee
Tussen Summerstrand se larny electric fences
Nooit weer praat nie
Net knik vir die klanke van verbygangers
Nou en dan dink aan die olielamp
Wat jou vensterbank sal versier
Aasvoëls skadu oor my melankolie
Stemloos sterwend stil
Denkend krenkend
Deeltyds dronk
Kouend knersend
Aan die laaste stronk
Toegedig in 'n lappieskombers
Die heeltydse holte
Van die dood se skoot

Erns Grundling / Cosmic Cowboy


Terug na die HOOFBLADSY || INDEKS: Nommer 7

Copyright:  © 2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/gedig7.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 18 Jul 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]