gedigte 8 ........

Disclaimer

Melt Myburgh
jy slaap nog, my skat
vir michelle
www.owlhouse.co.za
in die droom van don carlos ...

Des Fourie
wip jou wipselse wip
Om in te gaan
Afskeid van 'n mede-reisgenoot
As ek oor jou droom
Strandveldlente
Elriena Delport
Kinderlose moeder
Die gloeilamp
Interne verhuising revisited

Lucy Slinger
Die wind waai wyd
Wie is die moordenaar?


jy slaap nog, my skat
terwyl ek bloots op die rug van die highway ry.
onder my vingers vibreer
die kleinspiertjies van jou lae rug.
in die Baai trek die fregatte laer
fyn komeetstertjies waaier olierig agter hulle.
ons is beleër in ons liefde, beminde!
op die strandfront klap Nigeriërs kleurvol hulle lappe uit,
(jy roer onrustig in jou slaap) ek wonder
op watter markplein is jou droom te koop.
werkgedagtes seil stroef saam met die eerste boeing in oor die stad.
my hart hunker na die soet reuk van jou slaap.
die taxi's se getoet sit vas in die beton
en sinjale bly die spoor leepoog byster.
jou sluimering kerf lieflike patrone onder die laken.
ou mense trap met sweetbande en honde
'n verbete mars teen die dood wat in die oggendmis hang.
iewers los 'n hadida 'n smeekroep.
Melt Myburgh
OP


vir michelle

ek wonder of jy ooit
voor jy nog besoeker was
in jou eie huis
die balkondeur oopgelaat het
vir die wind se geruis?
het jy eers met tyd besef dat die steenkoolmotief op die pleistering
'n heuphoogte mantra was teen verlies?
die spieël dra steeds die ingewaterde motief van jul omhelsing
jou versugting steun in die mure
op jou gesig kan ek lees: 'n hartstog om verspeelde ure
miskien is die antwoord antiek gegrif
aan die voet van die obelisk

Melt Myburgh

www.owlhouse.co.za

(ongetwyfeld gereïnkarneer as brandsiek hond
gooi miss helen en ek skouer teen die stofstorm
onklaar karoo-engele roer die boomtakke om
hier op bethesda)
piramides baken onbesonne verblyfreg af
mak leeus broei sfinkserig aan rye spykerskrif
'n noklig lei lammers ligvoets oor poeierglas
na 'n spinnerakfees van gebreekte lig
persies lê matventers versteen onder 'n kruis wat geen uitkoms bied
Koos se skurwe palms het die skugter nimf
tietie-op tietie-af
halfpad uit die muur gelok
[versigtig verwyder ek 'n doring uit haar hondevlees
haar stert huiwer kwisterig voor dooiemensdeur]
binne tandem my gunsteling portrette rasperig teen die sitkamermuur:
gevlerkte minnaar omhels die dood 'n maagd lyfdelik
oplaas bevry van hunkeringe ondermaans
in hul opwaartse vlug is albei onbewus
van fluisteringe wat in bedekrale neffens hulle gespyker hang
omraam deur die kombuisvenster skrop poue
luisterend nes op die boog

hou skerfstert wag oor die ppc-orde waarmee
sandsteen pelgrims ietwat rigtingbedonnerd
sonwaarts trek
[vlooierig koester sy my gang soos 'n skaduwee
en kom tussen dissipels in die varende tuin tot rus]
'n dor meermin vlei haarself vinnerig oor die bad se rand
verlede somers sit nog nekomgedraai
in die kerse se verloopte was
vergeefs probeer profete in gestolde klip
tyd se gang met 'n sinodale draadtrek keer

seeglas oë pleit agter die serpentyn se mondvol vrag
om vrugtige begryp
maar die wind kou al fletterend aan sinkplate mee

Melt Myburgh

OP


in die droom van don carlos ...

met die vloed van '76
het ek hom op die oorkanste bank gewaar
tussen ons het opgeblaasde koeie, sleurende bome
en 'n lyk sonder oor stroomaf gedryf
in sy hand teen die boorsel van sy baadjie
het suikerbeetblare uitgesteek
agter my het die waterfiskaal op 'n beuel geblaas
een maal het ek hom afgeloer op 'n houtbrug oor die kanaal
hom verdink van 'n weifeling in sy wegstap
die laaste keer op 'n reënerige middag in
die agterruit van 'n motorkar
die dag daarna het ek verneem hulle het hom kom haal
vir 'n bloederige piekniek by die boonste spruit

Melt Myburgh
OP


* * *
wip jou wipselse wip
sand jou fisantvere
en glip
met jou spikkelkam
om die hoek
saam met die wind
want witperde skuim om die bek
moeg gehol oor die see
geswind
ontbind alle vrede en bestaan
in fynbos en kalksteenrand
breek reeds op in hokkies erwe
en vibacrete skerwe

ek enkel saam
deur riet bietou
moederkappies en painted ladies
voëltjies en blou kalkoentjies
lê langs jou sporige toontjies
trap 'n sandpad na my hart
waar bokboegoe en heide
sewe jaar pronk
voor my asem ophou stoot
as 'n 4x4 'n skilpad seën met dood
of plastiek my bekkigheid toeknoop

Des Fourie
OP


Om in te gaan

liewe heer dit raak nou winter
die son se draai raak ons agterlangs
'n vinknes hang stukkend aan die dun kaal riet
die somer maak aldag
Walkerbaai se kooiens vroeër op
skemer al dieper in die herd
waar ons ouer hande warm maak
dit word haas tyd om in te gaan
na waar skaduwees en peins
welkom wag
op die toemaak van nog 'n deur

Des Fourie

Afskeid van 'n mede-reisgenoot

jou woorde
is landskappe waar diere paar
mense ken ook die pyn
verstaan
die kosmos van jou brein
hou nooit op blom

dus leen ek my siel vir jou
'n reismantel vir die koue
wat ons hierlangs ontdek
passaat is verniet
doldrums is van voorlede jaar

vandag is
23 jaar gelede se aanvang
wat toekomstighede verken
bliksems bang
as my hart se laaste skop
jou koel kus op my voorkop
of jou handdruk
warm ferm lieflik
soos 'n reismantel herken

Des Fourie

As ek oor jou droom

my droom is aanvanklik vaag
in monochroom en sag
wanneer ek insteier in my troebel slaap
jou ledemate
lyf
seekat my deur sewe seelandbodems

trek my dieper
neer deur warm en loom deinings
tot oneindig ver in 'n onderwaterse grot
en wanneer die elmvuur sigbaar is
word jy seeperd noorkapper pylstert
na die oppervlak

sodat ek slaperig om my voel
eers verward
dan wakker loer
na die meerman wat in my bed roer

Des Fourie

OP


Strandveldlente
(vir Mari)

na drie dae storm
huilende en nat noordwes
swaai die dag sedoos
kom lek Walkerbaai
mooi glad soos geskenkpapier
met wit perdjies en rooi bietoustrikke
teen koppe agter die norfolkdenne

maar die skadu van jou oë oor die see
raam die kerkhof met botterblomme
treur oor vis wat minder loop
in die sterwende oog van oktober

Des Fourie

* * *

	Kinderlose moeder

My huis loop oor van leë kamers: bewoon deur ’n onsigbare nageslag vol onvervulde wense droë drome leë baarmoeders pols oorverdowend desibels onhoorbare kindervoete kaal kinderlywe - gestroopte vervulling - vul nét my drome my leë huis klop vol verwagting Elriena Delport

OP


	Die gloeilamp

Het jy geweet die huis waarin ek woon is stukkend, vervalle? : waterpype gedaan verroeste gate drade verstrengelde kortsluitings rioolpype vrot stukkende stelsels die dak lek tip-tip-malligheid - Maar iewers agter dowwe ruite in ’n stowwerige binnekamer gloei flouerig, verrassend, ’n aangepakte Edison... Het jy geweet die vervalle lyf waarin ek woon is myne? Elriena Delport

OP


	Interne verhuising revisited

Veranker aan die hier en nou verhuis my liggaam na ’n ontliggaamde stasie; bepaal, ironies genoeg, die skril oertrilling van dié kontinent my blywende, bléék permanensie; bewoon ek die skyn van ’n reënboognasie, bevrug deur ’n droom: híér hér-lééf ons, ontkiemend, dié Afrika-tuiste... Maar: in ’n moeisame, stadige Trek ontwortel my liggaam bekende dimensies, ontvlug ek vermoeid en ontnugter, besoek ek, ontheemde, vervreemde, gebakende ruimtes om uiteindelik vlugtig te woon in ’n verafgeleuml;ë, onsigbare plek. Elriena Delport

* * *

Die wind waai wyd

Die wind waai wyd
Die wind waai ver
Die wind verwoes
Die wind bou op

Wie het ooit kon dink
Dat wat ek was
Met drome en ambisies
Hier ingewaai sal word
Ek is verwoes
En tot nederigheid gedwing
Maar soos die gebreekte tak
Vervang word deur 'n sterker,
Groener en stewiger tak
So is my hoogmoed
En my dwaasheid afgestroop
Om vervang te word
Deur 'n persoonlikheid
Van mensliewendheid en meegevoel
Vir my medemens!

Lucy Slinger

OP


Wie is die moordenaar?

Stukkie vir stukkie
'n Stadige dood
Aan die hand van my folteraar
Die gehate rooi, blou en dan pers
Ribbes krakend van pyn
En net as dit begin gesond word
Word die rowe wreed afgeskaaf
Die liggaam is lankal dood
Net 'n dowwe pyp het oorgebly...

Maar die geestelike pyn
Dié is onuithoudbaar
Afwaking van my selfbeeld
Tot ek nie weet wie ek meer is
Waar het ek gefaal?
Waarom het die Heer my verlaat?
En as ek na die kleintjies kyk
Weet ek dat daar geen uitweg is

En dan - eendag - word dit te veel
Die vloer, die mure rooi bevlek
Verdwaas, verstom - wat het ek gedoen?

En later in my dodesel
Geen hoop, geen begeerte
Die veglus lankal geblus
Die enigste spyt wat nog oorbly
Is vir die kleine slagoffertjies
Wat deur die lewe moet gaan - wetend -
Dat hul ma 'n moordenares is!

Lucy Slinger

OP



INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD






Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/gedig8.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]