Passiebomme


Sonja Verbeek

@1998


soos ingegee deur Joan Hambidge


- met dank aan al die klassieke modelle in
D.J. Opperman se Groot verseboek!

- en aan die Weduwee vir Viljee!


Hierdie bundel word nie opgedra aan Adriaan
van Zyl nie, maar aan Juanita Pereira.


En dit is ook vir Benjamyn Adamsappel.


INHOUDSOPGAWE

1 Program-gedig
2 Muskietejags
3 Die malkoei moet sweet 
4 Jy's 'n dwingende herinnering 
5 Deernis vir Beernis 
6 Haikoe'hie 
7 Ek wonder of jy soms 
8 Ballade van die rose 
9 Ode aan die wysvinger 
10 My nooientjie lief in die moerbeiboom 
11 Aarsel Proetica 
12 Jy was 'n kont 
13 Gedig nommer 13 
14 Lastige limericke:  15 O die puingedagte! 
16 Oom Gert vertel 
17 Winternag 
18 Die oue put 

19 Boggom en Voertsek 
20 Die konsertina in die nag 
21 Ek hou van vrou 
22 Joernaal van Oulik 
23 In Memoriam Patrys 
24 Raka 
25 Et Pretoria nihil 
26 Die kampsuster 
27 Dis al 
28 Martjie. 'n Fragment 
29 Wys my die plek 
30 Min Shaw. 'n Gebreekte sonnet 
31 Cora Marie. 'n Kwatryn 
32 Gert Potgieter 
33 Vir die Kavalier en Kupido 
34 Klam-ode 
35 O verre wydtes 
36 Eenmaal 
37 Om hoer te wees 
38 Woordafleiding 
39 Nuus uit die binneland 
40 Die fluitende predikantsvrou 
41 Haelwit gestapelde lakens 
42 Rotasie-kaart 

"'n Koue gil deurhuiwerrr my."

- Totius

(in 'n privaatgesprek)

"Love means never having to say you're sorry."

- Eric Segal


1

Klein akkedis
o Promotheus
o vuursteler
primordiale draer van die wysheid
jy, wat weet dat die digter naprater,
naskrywer in klam sand is.
Sonder hoed of handskoen,
maak ons die laaste sprong
in 'n nag van die iguana
'n middag van klam krokodille
kreunend krampend knypend
maar klein akkedis
die ware wysgeer,
die puer aeternus,
die laaste beeld onsterwend:
kougom onder 'n tafel;
bril-cream op 'n sloop;
kam in 'n kous;
leer in 'n swart sykous...

2

Muskietejags

Jou vabond, jou sal ek kry
van jou sal net 'n bloedkol bly!
Want dis die blond
dis die blou
dis die Weduwee Viljee se hond
en dis nie al.

Jou vabond, jou het ek verlei
sodat net 'n sweetkol bly!
Want dis die brunet
dis die trou
dis 'n heerlike jagtog
tot binne-in jou "Peaceful
Sleep"-val.

3

Die malkoei moet sweet

Sal jy my nog liefhê as ek malkoeisiekte kry?
Sal jy my nog liefhê as my spataaroperasie misluk?
Sal jy my nog liefhê as ek 'n welige snor opdoen?
Sal jy my nog liefhê as my hare pimpel en pers raak?
Sal jy my nog liefhê as ek my groen korset laat uitdy?
Sal jy my nog liefhê as my broek se rek in die kerk afskiet?
Sal jy my nog liefhê as ek omlope soos 'n bitterboelakroon dra?
Sal jy my nog liefhê as ek versreëls (soos my naam vergete) soek?
Sal jy my nog liefhê my persgedaaide hare in woeste bos uitval?
O sal jy my nog liefhê, sal jy my nog liefhê as ek sê Vasco Pajama?

4

Jy's 'n dwingende herinnering
soos die reuk van springmielies
in 'n matinee of stink sokkies
in 'n oorvol hysbak. Jy's 'n rym-
patroon: kruis-, paar-, veral dwangrym.
Jy is alliterasie, assonansie.

Jy is 'n okselbos, o jy's lekker los.
Jy's beheer; jy is vry.
Jy's 'n swembad sonder gala-strepe,
'n mallemeule met spulse perdjies.
'n Akwarium sonder lugverkoeling,
'n dooie see waarop ek veilig rus.

Jy is 'n gebreekte sonnet, 'n kwaai kwatryn
nimmer nimmer vir my 'n slet.
Jy's hier; jy's daar. Jy's die wit
in die poësie. 'n Laaste encore:
'n hoor, hoor. 'n Werda. 'n Hou Koers.
'n Volksfees vol waatlemoen en spanspek.

Jy's 'n hele boek vol geleerdheid;
jy's die rugkant van die bruid,
jy's die fiela se kind. O Kringe
in my bos: van jou maak ek 'n vers.
My Oupoot. Trofee teen die muur!

5

Deernis vir Beernis

(Oftewel: sy was krank van die liefde...)

Met haar borste soos 'n magtige dreuning
is Beernis na links, na regs, na voor, na agter
om't ewe: bonkig, hoekig, 'n vrou uit een stuk.
Haar hospitaal regeer sy soos 'n koninkryk:
elke saal 'n offergawe vir haar fierige septer.
Sy roep orde. Dwing gesag af. Skermutsel met siekte
en nood. Haar wit sluier immer haar troef.
Kortom, 'n koning van 'n vrou!
Maar Beernis word tans beproef...
Ja, deur liefdesleed, daardie wreedste inspuiting
in die boud. Haar jong geliefde, suster Snoek
het geval vir 'n trouelose man se broek.
Hoe wreed die afloop van die hartstog?
Hoe seer die herinnering van hul passiespel
- alles nou net 'n vergeefse hel -
hoe hard die werklikheid van hul liefdespel
- 'n vinger is nie alleen wat tel -
hoe wreed die wete van ander se vertel
- wie o wie is vyand? wie is pel? -
O Beernis, weet ek het deernis!
Neem die bedpan moedig op, vorstin
en hou ook na bowe jou dubbelkin!

6

Haikoe'hie

Haar rooi pantie op
die vywer stil getuie
van my lang ywer

7

Ek wonder of jy soms

Ek wonder of jy soms, wanneer
die wolke soos dartelende ballerinas baljaar
en die see soos 'n bronstige hings runnik
en die bome soos blaffende, onrustige kwêvoëls raas
ons heerlike, heerlike liefde onthou?
'n Liefde so sag soos 'n marshmallow in 'n koppie tee;
'n liefde so teer soos die slurpies van 'n lammertjie
(smaak na teer, ek lus nog meer);
'n liefde so duursaam soos 'n extra-large Rough Rider-kondoom;
O, 'n liefde so goed gevoeg soos die Voortrekker monument!
'n Liefde so subliem soos rymdwang!
'n Mallemeule, rondomtalie van gekruiste rym!
Ek wonder, o ek wonder of jy nog aan die dae
dink, o welgepoetste beminde?

8

Ballade van die rose

Nou's die koeël deur die kerk,
die teerling gewerp,
die skoot
geskiet:

O roos van my hof
jou allamagtige boesem
is tot die laaste droesem
in ons liefde opgetof!

Gee my jou hand
ek plaas aan jou vinger 'n ring
en laat geen ander jou dwing
en ons vertrek na 'n verre land

Soos Bombaai waar ons laat waai;
en in Bangkok slaan ek jou op hok

soos 'n oorryp piesang
wat onbeskof plof op 'n dak se nok!

9

Ode aan die wysvinger

Sy punt, sy wys, sy lok;
sy vryf, sy wikkel, sy hak -
is daar genoeg woorde
om hierdie anatomiese les,
hierdie vatvyf klipsalmander mes
genoegsaam, na waarde te bles?

10

My nooientjie lief in die moerbeiboom

Het haar gesien, my klein prinses
mense sê sy is 'n vermaledyde les:
O my nooientjie lief in die moerbeiboom
gelukkig behoef ons geen kondoom!

Het haar gevoel, my klein prinses
my onversadigbare dors geles!
O my nooientjie lief in die moerbeiboom
geluk spruit voort soos 'n groot wonderboom.

11

Aarsel proetica

Uit die gevormde literatuur
is daar altyd weer literatuur te haal!
Konfyt uit die konfytblik,
bors uit die buustelyfie,
heuning uit die seskoek-sel.

Op die temas van die jagses
en van die halfverdwaasde hygers
is dit moontlik om variasies,
antwoorde, loftuitinge
te versin (o Babette!), maar dis onmoontlik
om 'n vers te proe
so diep tussen jou wye, oopgestrekte bene.

Jou passiebomme bene,
jou bene wat oopgaan soos 'n passer
op die A-vier ruimte van my bed
- o jy is 'n slet -
jy bom uit
uit uit
na die heerlike heerlike heerlike
helder o-o-o-elaloeloe orgasme
van ons liefde in woorde.

En omdat geen vibrator voorhande is nie
moet ek terugkeer na die vinger
na jou binneste binneste weefsel
en jou bespie;
sodat en opdat ons in woorde, wat
net klank en gil is
(sjuut die bure hoor, my bruid)
die na-naai na-naai
die eina deina dana das
so netjies laat pas.

12

Jy was 'n kont

vir Tanja Verwaveren, oftwel: La belle dame sans merci

Jy was 'n kont en in jou oë
was daar 'n heerlike jagsheid
uitgespel soos 'n lilo op 'n swembad,
'n suurlemoen in 'n Gin & Tonic,
'n skeutjie sout neffens 'n tequila
Golden Syrup op grondboontjiebotter.

Want solank as die lepel in die pappot
staan, in die pappot staan,
in die pappot staan
sal die plastiekblomme hul aan jou gedenk
die skyfskiet-span 'n bul-oog ontwerp
in die vorm van 'n bloedrooi aalwyn.

En nou weet ek jy is 'n laaste hyg
wat wag vir die allerlaaste grootste gesuig.

13

Gedig nommer 13

Die hotnotsgot tik teen die ruit
tik-tok-tik
tok-tik-tok
soos die tampende geskuifel
van 'n hoer op 'n uitgewerkte dubbelbed;
Slet in rooi rokkie
witskrif se swartskrif
hygskrif
getuigskrif!
'n Vlooi is 'n ding
wat spring, wat spring!
Hierdie gedig buig in homself
in soos 'n passer
wat toebuig
langs 'n uitveër en potlood
(wis uit!)
in 'n blink penneblikkie.

14

Lastige limericke

Daar was 'n nooi du Plooy
sy wou nie sommer haar naam weggooi.
Toe sy sê: "Sak Sarel!
Ek wag op Karel
eer ek my naam ontplooi".

*

'n Mooi nooi Lewinsky
- my hart bloei vir haar met 'n Kadinsky -
ontvang 'n sigaar
het dit hot en haar
want die President is so Kinsky.

*

Daar was 'n Professor De Beer
hy had 'n allemintige meneer.
Toe los sy vrou hom vir koek
en allerheerlike gerookte snoek.
En nou sit hy met 'n gelaaide geweer!

*

'n Vlooi is 'n ding wat spring
nes 'n lekker ou ding
kan jy hom nie keer
want hy lus net meer
van die vreugde wat die Skaamte bring!

*

Daar was 'n lesbianiet
sy wou vir almal wys haar tiet
toe skreeu iemand: Hokaai!
Almal wil jou aai!
en nou sit sy met weergalose verdriet.

15
O die puingedagte!

O die puingedagte,
my poësie het 'n deelteken verloor.
Die mense die weet nie wat ek ly nie,
die kritiek die weet nie hoe ek stry nie!

O die puingedagte,
my poësie het 'n deelteken verloor
en met verbete, onverdrote ywer
gee ek dit terug sonder 'n stuiwer.

O die puingedagte,
my poësie het 'n deelteken verloor.
Die mense durf nie langer op piesangskille gly nie,
nog minder hul oor heerlike clichés verbly nie!

16
Oom Gert vertel

Ja, nig, wat kan ek, ou-hand, jou vertel?
Jy wil die storie van ons naaites hoor?
Nou goed!
Dis nooit te laat om alles te vertel:
van Tanja Verwaveren se laat nag-eskapades
hoe sy my gebruik het,
die jonge slet:
terwyl ek wis, Sonja, sy was my belet!
O Sonja Verbeek, weet net:
Haar aandeel was so veel
haar gekweel
vir my een te veel.
Ek kon haar nie laat verbygaan
sonder om in haar boesem
soos 'n skip te vergaan.
O magtige oseaan,
dit was sy!
My my 'n dobberende, sinkende skip...
Sonja Verbeek, ek skryf hierdie brief
om te vra: vergifnis, want ek het haar gedief
uit jou arms.
Ek was die verkeerde man,
jy die regte vrou!
En ek het berou, omdat ek nie wis
hoe 'n vrou 'n man se liefde kan betwis!
O die les wat ek moes leer
van die politiek van die wellus!
Ek het soveel geworstel, soveel gely...
moes jou vertel van ons aand by die drive inn
die dubbel milk shakes, die vele coke floats
by die Wimpy en Midnite Grill
(o, hoe durf ek nou gril!)
Dis 'n lang geskied'nis, dit is! - treurig ook,
want sy het gesnik en gevra na jou, ou nig!
Luister, luister Sonja, Hartlam!
Ek kan nie praat as jy nie hoor nie...
Jy moet my vergewe...
Jy weet hoe rys skinderstories soos deeg!
(Ai, hoe durf mense verwys na jou as 'n tert?)
Sy was 'n jong nooientjie astrant;
heerlik in die dubbelbed blatant -
hier's die album
'n foto van haar op die swaai
daar een waar sy laat waai...
hier eet sy roomys; daar eet sy sjoklits!
Bedaar, bedaar, my hart al breek jy ook...
al noem sy my Gert Spanspek...
weet net: sy noem jou Sonja Komkommer!
Daarom, my vriendin neem hierdie aflaat, hierdie boete
wys dit aan algar:
maak daarvan hoge kuns!
Ons weet mos jy's nie op die bek geval!
Niemand kan jou afbring van jou rym
nie eens die kritiese skuim -
Poësie kan hoog reik!

17

Winternag

O hoe koud is die verpleegster
en skraal.
En blink in die teaterlig
en kaal,
so wyd as die matrone se genade,
lê die bedpan in onthou-lig en skade.
En hoog in haar rande,
versprei in die brande,
lê die dokter aan roere
met sy lonkende hande.

O treurig die wysie
op die bedpan se maat,
soos die lied van 'n matrone
in haar liefde verlaat.
In elk' depper se vou
blink 'n druppel van gif
om dokter De Wit
se eer te laat skif!

18

Die oue put

Ginds voor my, so ver en diep geleë,
weg van jou woel'ge hand en weë
lê armoedig skaars en onbeskut
sedert jou vertrek, my oue put!

Voel nog ontroering
en heerlik beroering
maar nou is jy weg, patat!
en ek sit met die warme skat.

19

Boggom en Voertsek

Sonja en Tanja het saam geswerwe
van omnibus na omnibus saam
En hul liefde nou ryklik aan skerwe
omdat Voertsek-Tanja haar daarvoor skaam.

Sonja en Tanja het saam geswerwe
van mond na woord na boek
en Boggom-Sonja is aan't skerwe
oor Tanja elders nou ont-koek.

Sonja en Tanja sal weer swerwe
van gedig na berig na berug
om te weet: Wie is aan't kerwe?
in hierdie lieflik-volronde Gedig!

20

Die konsertina in die nag

Haar kreungeluidjies in die nag
soos 'n huilende konsertina
maak alle ander geluidjies sag
hierdie wenende beminda!

Haar suiggeluidjies in die bed
soos 'n smartende konsertina
verdoesel alle ander stootjies net
met hierdie lieflike ou kinta!

21

Ek hou van vrou

O vra my nie my wellus,
ek het dit weggegee
aan 'n jong klein hoer
op 'n laaste bustoer.

Ek hou van pienk blomme
'k aanbid 'n woord amper soos woes,
min ook soms 'n woordjie soos wiel -
maar min meer die p-!

22

Joernaal van Oulik

Hoor soggens in die Hospitaal, genaamd Kreun
hoog in die takke, eintlik deur die blare
die matrone se spataarbene nader dreun -
vir 'n heerlike, uitspattige vat aan my hare.

Beloer die magtige dreuning van die vorstin
se borste (48 Dubbel-D), heupe en welige snor!
Loer onder die lakens smeulend na 'n dubbelkin -
"Hmmm, hoe gaan dit vandag met Oulik?", begin sy por.

"Ek is aan die hospitaalbed tydelik verbonde,
moet terugkeer na my my normale geaai,
na my geliefde, Tanja Verwaveren, ongeskonde:
mag mekaar nooit, nooit weer verraai!"

23

In memoriam Patrys

Patrys, jy was so grys
nou is jy dood
soos Siembamba in die sloot!
"Patrys, lig op jou poot,"
het ek gegil
toe die motorband oor jou tril!

Jy het heengegaan
en ek, ek het vergaan.

24

Raka

Die verpleegsters het haar die eerste gewaar
in die loom namiddag toe die skropwerk klaar
was - aan die intensiewe eenheid se wit landerye
van lakens - het hulle gedrie, geviere in dik rye
met deppers en wit uniforms netjies gepas
op heup en skouers deur die gange gewals
onrustig na die teekanne
en vol broodpanne,
gepraat, gewonder, geflonker, met klam broekies
en wellustige, welige, welluidende koekies
oor die nuwe Matrone Beernis,
met haar het die lewe nie meer deernis!
skugter en digter nadergestaan
want, sy 'n Raka, kan haar man staan...
menige vrou is deur haar sjarme betower,
enige verpleegster deur haar snor verower.

O wie, o wie sal nou die teater sluit teen Raka?

25

Et Pretoria nihil

Met skemering by die Uniegebou
verbeel ek my soms nog jou liefdestrou!
Neffens die Voortrekkermonument
het jy jou liefde vir my in-sement!
Onder die jakarandabome
was daar soveel heerlike drome!

Maar nou lees ek Sy kom met die sekelmaan
wyl jy jou vir ons liefde skaam.

Et Pretoria naahil!

26

Die kampsuster

Met haar slap polse
gedaaide hare
Arwa-kouse en rooi lipstiek
is Gertjie Goosen
(O wanneer kom jóú troudag, Gertjie?)
'n suster. 'n Kampsuster.

Sy stoot die trollie
en dra haar vrou-wees waardig
al vind ander haar aardig.
Op haar hoë hak
die trots van die hospitaal:
geensins 'n vrou wat faal!

27

Dis al

Dis die pruik,
dis die maskara:
dis die bra,
dis die broek;
en 'n jagse matrone wat soek na koek.
dis al.

Dis 'n stafverpleegster
gekom oor die saal,
dis 'n rek wat skiet,
dis 'n gil in die hospitaal -
dis al.

28

Martjie

'n Fragment

Dis warm...
en stil.
Dis stil in die intensiewe eenheid.
Dis nag. Hier en daar
'n gefluit in 'n bedpan, 'n ligte snak-
geluidjie. Die wit mure
spierwit soos Martjie se wit sluier.
Tik-tok luier die hart-longmasjien.
Martjie wens sy kan hier lê:
haar hart is gebreek...
'n Nagklokkie buidel onbeskof.
Dis weer daardie ou man in Saal 10
met sy ongepoetste hand. Daardie ou disselboom
van Potchefstroom.
Maar niks, niks
kan die onthou - die groot-groot onthou -
ongedaan maak so aaklig uitspreiend
soos 'n pakkie jellie babies
sonder 'n swart enetjie;
'n lucky packet met 'n gebreekte speelding;
'n kar sonder domkrag of spaarwiel.

Dis stil.
Die domkrag van die liefde bly
Martjie steeds by. Haar Beernis
stilgrommend van innig genot
na 'n sessie in haar kantoor.
Sal sy ooit daardie welige snor se gekriewel
durf vergeet? Die dierb're hand
soos 'n pienk ham wat naderbeuk,
haar twee varkogies diep versonke
soos 'n poel wat 'n klip ontvang.
Die twee heupe streng gedissiplineer
deur 'n 'extra large-step in' van Gossamer
en die bultende bunions soos berge van weleer.
Kortom: 'n prent in hartstogtelike begeer-
likheid. Beernis, Beernis, Beernis...
'n Matrone wat sy nooit sal vergeet.
O hartlongmasjien, te veel is die simfonie
van smart, die duet van dye,
die rapsodie van ratsheid.
Sy wil weer in haar groot arms ploems
en die musiek op haar mondjie voel pardoems.

29

Wys my die plek

vir Tanja Verwaveren

Wys my die plek waar jy my eens gelek het
eens toe jy myne was -
Vroeër, voor jy my verraai het,
en in fotoboekies opgetree het.
Kyk, alles bly dieselfde. Ek, Mark Condor,
die Ruiter in Swart en al die ander ou donders.
Ons liefde bly soos 'n huppelende perd
al is jy nou by Groep Twee se Gert.

Wys my die plek waar ons saam gespeel het,
Eens toe jy myne was -
die draairestaurant, die vele spoggerige tulbande,
Vroeër toe jy myne was.

Kyk, dis dieselfde. Ons liefde gaan nooit verby
omdat ons deur vele woorde ons saam verbly;
Ons skitter steeds in vele ontberinge saam
vir ons liefde waarvoor ek my nie skaam.

30

Min Shaw

'n Gebreekte sonnet

As jy sing van 'n Boereseun
wat min sakgeld kry (hy's moeder se held)
weet ek: jy behoef 'n ode
'n lofsang, 'n himne
want jy is die laaste outentieke,
oorspronklike boerenooi.
So eg soos waterblommetjie-bredie,
koedoe biltong, eendjies teen die muur.
Hoe het die wiel van geluk
nie teen jou gedraai?
Hoe het die kuns
nie die lewe vooruit geblaai?
As jy snik, Min
weet ek, kuns begin!

31

Cora Marie

'n kwatryn

'n Cowboy-hoed
'n laaste groet!
Gelukkig jou stem
op 'n seven single gelem.

32

Gert Potgieter

Daardie bulderstem
daardie bulderstem
verdoesel eintlik 'n teer siel
al het hy gelyk soos 'n biel.

Gert, Gert
vir jou wil ek sê:
as ek kon, sou ek my hand
aan jou wou verpand!

33

Vir die Kavalier en Kupido

Julle is kuns
kyk na die feit
dat jul name reeds met 'n k begin.
Kavalier, Kupido
julle name in graniet gekerf,
ons het die kuns geërf!

34

Klam-ode
Aan Perfidia Pansegrouw

Die verpleegster beuk langsaam na die saal.
Die bedpanne kletter. Die nagklokkies lui.
Daar is roering in die hospitaal.
Dis agtuur. Besoektyd.

Die voordeur buig stadig oop.
Daar staan sy. 'n Vrou in graniet,
ook 'n vrou in verdriet.
Sy stap deur die gang
smakkend verby die deur waarop staan: Matrone Beernis.
Haar oë speel oor die naamplaatjie. Haar eens verlore beminde!
Nou's sy hier
om haar nuwe vriendin te besoek.
'n Ernstige spataaroperasie.

O vroue, o versugtinge!

Verby, verby Beernis se deur.
Die deur swaai oop
sy staan daar. Soos die Voortrekkermonument,
onherhaalbaar, weergaloos, eenmalig.
"Ja?"

O verlore liefde, o berou.

Sou die Matrone, die Matriarg haar nie herken?
sou sy nie sien hoe het liefdesleed geskep 'n dubbelken?
Kan sy sien hoe klop haar hart
soos 'n bang diertjie? Haar polsslag
gejaag soos 'n go-kart?
Haar leed so groot soos lugballon!

O verdrietige liefde, o onthou!

Maar Matrone Beernis stap nader
'n groot gestalte bonkig en skoon.
'n Groot skip is sy in volle swang
'n gedig wat eindig op rymdwang.
"Ja?", herhaal sy.
"Waar vertoef Tosca van Staden?"
Matrone Beernis, stoets en swenkend
herken haar eens verlore geliefde.
Sy onthou die kletspraat wat almal inadem:
die skinderstories wat van saal tot saal
trek soos ongepoetste windjie wat maal
in 'n biduur.

O vergifnis, o berou!

Maar groter as die verlede, is die hede.
Welluidender die liggaam se gekreun
die klam-ode van die lyf!

O name, o versugtinge!

Gedenk Tosca van Staden!
Gedenk Turandot Tjaikofski!
Gedenk Butterfly van Breda!
En al die ander stafverpleegsters...
"Hier is haar saal;
mag ons mekaar nie langer faal!"

35

O verre wydtes

O verre wydtes van jou oop-sper dy
wat heerlik het ek my nie aan jou verbly?
In klam koeltes my hand laat speel
in warm woestyne my tong verbeel!

36

Eenmaal

Ook eenmaal in die kringloop van ons tye
sal sterk brand die onthou se wete:
dat ek deel was van jou lyf se getye
en meegedoen het sonder enige gewete!

37

Om hoer te wees

O om hoer te wees wat werk
'n edel taak
die hele dag word geslaap
om snags van halte na halte
te beweeg
mans op te tel
te woeker totdat die ligdag
hom oor jou wreek...

O om hoer te wees en werk
te doen
uit te help waar jy kan
te vat aan elke man
(en vrou) se Toring van Babel,
se stoetse Uniegebou
se lieflike Voortrekkermonument
om liefde in te sement...

38

Woordafleiding

Hoer: die beeld spring dadelik in die bed,
betekenisvol. - 'n Maskara-gesiggie,
buig af, laat haar broekie val
en wei onderlangs totdat ek beveel:
Genoeg, genoeg, genoeg.
Die rooi lippies se smeersel,
die maskara en ander toebehore
soos sykouse, pantie
op die vloer uitgestal.
Wat maak van haar 'n hoertjie:
sy is gewillig,
sy is mooi,
sy smaak na teer
(en lus vir meer),
sy vra nie geld nie,
net genade
ge-na-de!
en 'n meevallertjie
of wat.
Kat se blad
lek hom plat
dan weet jy wat!

39

Nuus uit die binneland

Soms in die nanag as die beddens sag kreun
in koshuise, tronke, hospitale en barakke
as die jagse jongelinge opstaan, klein -akke -
om die oggend te aanskou en voortdreun
met vele stories van oorwinnings en vergunnings
en die hygskrywers voetjie-vir-voetjie
elke gebaar van die liefde en wellus uittap
en die manne (met die kanne) uitstap
in 'n wêreld sonder grense
met hul groot bierpense
en op beddens spring soos werfbobbejane
of soos jakkalsjagters begin jag
- ja altyd is daar 'n vrou wat wag -
met die wêreld se windrigtings wat brom
heerlike liefdes en wellus wat kom!

- dan, dan
weet ons op watter vasteland ons hoer.

40

Die fluitende predikantsvrou

Hoe word die danser
van die dans geskei
die fluiter
van die fluit gekry?

Jy dra jou kuns
in jou keel:
'n stem onherroeplik
van lieflike fluweel!

41

Haelwit gestapelde lakens

Haelwit gestapelde lakens,
wellus deur die sale gebou!
Hoe sou ek hul jagsheid inadem
en steeds my matronebors ophou?
Witter ja witter bly dit skitter
af teen die woeste koekhare swart
soos jou blou oë glinster
my smart.

Sal ek fluister? Sal ek swyg?
Sal jy praat?
Of sal ons net weer saamhyg?
Jy het my verlaat!

42

Rotasie-kaart

(met apologie aan Antjie Krog)

Dag 1

Tanja Verwaveren 'n bietjie lastig.

Dag 2

Beernis (Matrone) ook Raka in die omgangstaal bel laataand. Sy verlang om meer te wees as 'n vriendin.
"Kom ons wees net vriende," paai ek.
"Sal jy ooit 'n gedig oor my skryf?"

Dag 3

Die Weduwee Viljee onthuts. Mense dink sy is 'n parodie. Nee, sy is ook van vlees en bloed. En kan sy gil. Ten hemele!

Dag 4

Stilte - skryf poësie.

Speel met die muses se lokke... Ek noem die muse van die woord, "Gouelokkies".

Dag 5

Bel D.J. Opperman astraal om te vra of hy van die titel Passiebomme hou.

Dag 6

Totius verleen toestemming vir die titel Passiebomme.

Dag 7

Saam met Tanja Verwaveren na die mallemeule. Eet roomys.

Om gedigte te skryf, is om op 'n mallemeule, rondomtalie te staan.

Dag 8

Stuur e-pos aan die Weduwee Viljee.

Is tog verlief op haar...

npvnwl@hemelsepoorte.com

Dag 9

Beernis verklaar haar liefde aan my.

Daar is niks soos ware liefde, niks so mooi so teer...
Sy is diep ontroer dat daar vele gedigte oor haar bestaan in Passiebomme.

Dag 10

My pen roer met 'n gedig. 'n Gedugte gedig. Tanja Verwaveren bel vir 'n afspraak.
Ons ontmoet vir 'n laken-polka.

Dag 11

Die Weduwee Viljee maak kontak.

Dag 12

Ontdek 'n stukkie onderklere van Tanja Verwaveren onder my bed. Geplant? Met opset? Vermoed sy daar is ook ander vroue?

Dag 13

'n Aaklige dag. D.J. Opperman hou nie van die titel nie. Hy voel dit mag Totius aanstoot gee. Maar wat weet hy van die huldeblyk? Van die fyn, fyn net van die wederwoord?

Dag 14

Passiebomme. Passiedromme. Passiekomme.

Nee. Passiebomme. Ek sit my voet neer; ek is nie meer in sy letterkundige laboratorium nie. Ek moet hierdie student-mentor- verhouding nou verbreek. Ek is 'n digter in eie reg. Ek moet nou my Kommas uit 'n poespas skryf!

Dag 15

Kuns is boos. Ja, kuns is doos.

Dag 16

Tanja Verwaveren, my boksmaat, my stoeimaat, my dubbelbedmaat. Idee vir 'n gedig; hmmm.
Die liefde as 'n modderbad.

Dag 17

Die muses staan tou om hul hare gevleg te kry.

Dag 18

Die hospitaal moet 'n lei-motief wees in hierdie bundel. Afgelope hartstog.

Dag 19

Tanja Verwaveren het gisteraand geklop aan die deur en uitgeroep:"Ek voel so anders vanaand, my mens-mens."

Dag 20

Die bundel moet ook 'n huldeblyk word aan ons groot digters. Jan F. se Martjie bly my steeds roer. Ek onthou hoe hy sy hand, innig brommend van genot, op my been gesit het.

Dag 21

Beernis vra my inryteater toe om Lelik is my offer te sien. O, hoe lelik is my offer!

Dag 22

Sien weer Sonneblom in Parys. Verruklike spel wanneer Babs Laker vir Will Roberts sê:"Met jou, met jou is ek lankal klaar."

Dag 23

Skryf die eerste reëls van 'n gedig:

#

Soms in die nanag as die beddens sag kreun

#

Lieflike oomblik van personifikasie.

Dag 24

Wat rym met koek?

Broek, doek, hoek, snoek, vloek.

O professor Louis (Rymwoordeboek) Eksteen: húlde, húlde aan jou!

Dag 25

Brief van professor Odendal (met een a) oor die ELHAT.

Soos hy draai, soos hy swaai hierdie lekker ou CD-grom.

Dag 26

Pikkedel? Waarskynlik die mooiste digtersnaam in Afrikaans!

Dag 27

"Die oerbos". Mooi titel, ongelukkig reeds gebruik. Ai.

Dag 29

Brief van Elisabeth Eybers:

"Terwyl ek in hierdie liniaalland sit, weet ek dat jy die suiwerste poësie tans in Afrikaans skryf. Dis gedigte wat roer, ontroer, steur en veral, tref."

Dag 30

Antjie Krog. Lady Anne. Ek is Lady Sonja, sê Antjie Krog. Sy meen ek moet 'n bundel skryf Die hallelujahoepels oor al die vroue in my lewe. Maar die grootste tempeltjie bly maar Tanja Verwaveren.

Dag 31

Lina Spies het gevra of sy "Deernis vir Beernis" mag opneem in 'n bloemlesing van vrouedigters. Voel ek wil nie tussen minder talentvolle digteresse staan nie, soos Joan Hambidge.

Weet sy sal verstaan!

Hoop Charles Fraaier skryf 'n positiewe keurverslag!



KEURDERS SE KOMMENTAAR



"Koningskos! Dit het vir my gevoel asof elke gedig net vir my, vir my alleen geskryf is." Hettie Smit

"In ons poësiedroogte is Passiebomme 'n ryk bydrae. Sonja Verbeek se debuut as digter getuig van cliché, vormdwang en swak smaak. Trouens, selde het daar nog 'n bundel verskyn wat elke reël van die poësie so voortreflik oortree. Kortom: Ms. Verbeek haal die deelteken van poësie af. Hygpoësie! En ek praat nou as regter en digter!" Toon van den Heever

"'n Letterkunde lewer maar eenmaal 'n Van Wyk Louw en 'n Sonja Verbeek op. Dit is dan ook goed dat in die Van Wyk Louw- herdenkingsjaar, 'n ander grote besing word. En dan weet ek my uitspraak was reg: humor is(kursief) die lag met die traan." Fransie Malherbe

"Hierdie debuut bevestig dat Ms Verbeek nie alleen 'n reisiger deur al ons genres is nie, maar dat sy ook die grootste van die genres bemeester het: die digkuns. In die hartroerende "Deernis vir Beernis" word die verdrietige liefdesafloop tussen twee vroue vasgevang. Met soveel styl. Met soveel waardigheid. Nooit word dit smaakloos gedoen nie. Ook nie in die treurige "Winternag" nie. Die bedpan bly immer bedek in hierdie matrone se treurende saalbesoeke." C.M. van den Heever

"Mag Sonja Verbeek nooit haar lier aan die wilg hang nie. En haar lies aan die meul nie." D.F. (die meulenaar) Malherbe

"Haai Sonja, wat vertel jy my nou! was my eerste woorde by die lees van Passiebomme. 'n Verrassing! 'n Meesterstuk! 'n Polfyntjie vir die proe! Nêrens is daar sprake van sarkasme of gekskeerdery nie. Of daardie lelike ou Franse woord, pastiche nie!" Kleinjan van Bruggen

"Passiebomme moenie in die wagkamer van ons uitgewershuise bly nie. Dit moet onmiddellik gelanseer word. Ms Verbeek mag nie in haar kreatiewe vaart gestuit word nie." Mikro

Voeg jou kommentaar by oor Sonja en Joan se digbundel:

Vul jou naam in:

Jou e-pos adres:

Jou opinie:


Terug na BO

Terug na die Inhoudsopgawe

Terug na die basisbladsy








Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/passie.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]