Voldoening

- uittreksel uit nuwe roman deur Ingrid Winterbach

Disclaimer

tien

Die mans, Salmon Senekal, Jakes Jones, Stefan Mendelsohn en Daan Theron gaan Sondagmiddag in die veld buite die dorp piekniek hou. Daan bring 'n vriend van hom uit die dorp, Krisjan Steenkamp, saam. Hulle draai af in die rigting van die oorlogsgrafte maar hou stil net voor hulle bo op die plato kom, net voor mens by die grafte kom, want Jakes sê hy sien nie kans om tussen die grafte te drink en sy hare te laat hang nie. Hulle het bier saamgebring en sprei Salmon se reisdeken oop in 'n operige area tussen doringbome en groot rotsblokke. Daan begin dadelik met die saak wat hom nou al dae lank interesseer. Hy wil die ander oorreed om saam met hom te gaan; hy het 'n kontakadres. Sodra hy die adres van die man by dié mense gekry het, moet hulle almal saam met hom na die talking head gaan. Die ander bly halfpad geïnteresseerd, halfpad oorgewen. Bowendien het elkeen iets anders op die gemoed; elkeen het sy eie gedagtegang en agenda. Salmon is rusteloos soos 'n hond wat senuweeagtig agter 'n spoor aan is (snuf in die neus gekry het) en kort-kort fyn tjankgeluidjies maak (dink Jakes).
Hulle sit op die reisdeken, hulle leun teen die rotsblokke aan; hulle rook hulle sigarette en drink die bier. Daan se vriend, Krisjan, is rustig, effens aarselend in sy manier. Hy is óf 'n vlermuiskenner óf 'n geoloog - nie Salmon of Jakes is seker nie. Hy vertel tydsaam en afgemete dat hy die vorige nag geteister is deur slegte drome en dat hy die oggend 'n gedig geskryf het. Waaroor gaan die gedig? vra Jakes en Krisjan sê dit noem 'n paar dinge op wat hy die oggend waargeneem het: 'n hond wat blaf, 'n voël wat sing, 'n wolk in die lug. Daan vind die onbeskadigde, heeltemal intakte vervelling van 'n slang aan 'n tak van 'n doringboom. Selfs die geskubde vel oor die oog het behoue gebly. Hulle neem beurte om deur die oog te kyk. Nou is julle kans om die wêreld te sien soos 'n slang dit sien, sê Daan. Hulle kyk elkeen deur die dun, skubbige oog. Deur die oog van 'n slang, sê Jakes. Moeiliker deur die oog van 'n slang, sê Daan en steek vas. Hoe gaan dit verder? vra hy. Moeiliker vir 'n slang deur die oog van 'n naald, sê Salmon, as vir 'n ryk man om die koninkryk van die hemele te betree. Dis vir 'n arm man ook moeilik, sê Jakes. Hoe lyk die wêreld vir julle, vra Daan, deur die slang se oog? Dis half-blurred, né?!, sê Stefan. Dis sag, sê Krisjan, met effense afgeskuinste kante.
Behalwe die slangvel maak hulle nog 'n paar ander klein ontdekkings in die omgewing: 'n ongewone klip, 'n landskulp, 'n koeëldoppie. Hulle praat oor Jan de Dood (om wie se onthalwe hulle eintlik hier is - almal, behalwe Daan). Hulle wonder of hy vanaand sy opwagting sal maak. Salmon sê hy twyfel, hy het 'n gevoel die man wys nie weer sy gesig hier nie. Hulle praat oor die Oorlog - na aanleiding van die koeëldoppie, maar ook na aanleiding van die stand van die wolke (dromerige stapels) en die stemming van die veld. Krisjan vertel dat 'n klein groepie Boere onder aanvoering van 'n generaal Schutte die Engelse hier net buite die dorp in 'n hinderlaag gelei het. Krisjan vertel een en ander omtrent hierdie generaal Schutte. Dit is nie een van jou hoëprofiel generaals nie, sê hy, maar 'n interessante man. Hy het onlangs sy dagboek ter insae gehad, sê Krisjan. Dit lyk asof dit 'n man was met 'n ruim algemene kennis en 'n poëtiese geaardheid, al klink dit nie versoenbaar met 'n Boeregeneraal nie. Waarom sou dit nie wees nie? vra Jakes. Omdat die bloudruk vir Boeregeneraals 'n kragdadige man soos generaal De Wet is, en dié man was nogal melancholies, sê Krisjan, iemand wat emosioneel swaargekry het in die oorlog en dit nie weggesteek het in sy dagboek nie. (Jakes dink, Krisjan het self 'n melancholiese sfeer om sy hoof.) Waar het Krisjan die dagboek ter insae gekry? Vra Salmon. Sy ma het dit onlangs vir hom gewys, sê Krisjan, generaal Schutte was 'n oom van haar - haar pa se jongste broer. Die bestaan van die dagboek is waarskynlik doodgeswyg al die jare - hy glo nie sy pa het dit ooit gelees nie - omdat dit nie 'n ondubbelsinnige verslag van oorwinningsdrif en krygstaktiek is nie. Wanneer het hy tyd gehad om te skryf? vra Daan. Die generaal kan jou nie nou sien nie, sê Jakes, hy skryf nog eers in sy dagboek. Las die aanval af, sê Stefan, die generaal skryf 'n gedig. En wat het met hom gebeur ná die oorlog? vra Salmon. Hy het dit nie oorleef nie, sê Krisjan. Hy is hier iewers in die omgewing begrawe.
Jakes se gedagtes dwaal af. Hy vind dat hy deesdae soms moeite het om te konsentreer. Hy dink die afgelope tyd weer dikwels aan sy trippe na die hel, sy hellevaart; sy waterskeidingservaring. Dit is nou al meer as sewe jaar gelede. In sommige opsigte by tye (onverwags) so helder as indertyd. 'n Volslae psigotiese episode. 'n Tydperk van volslae, uitgebreide, uitbundige, obsene, losbandige waansin. And he lived to tell the tale. Behalwe dat hy die verhaal nie dikwels vertel nie, want mense hoor dit nie graag nie. Hulle skrik as hulle dit hoor, hulle deins terug vir die detail. Mense wil nie hoor van die verlies van beheer nie. Veral nie in dié land nie. En miskien tereg ook. Wat wil die man op straat weet van hellevaarte, van jou kop wat een oggend onverwags en sonder sigbare aanleiding uithaak? Krisjan Steenkamp praat intussen stadig. Hy vertel van die soort vlermuise wat in die omgewing aangetref word. Hy beskryf die geologiese formasies. (Nou weet Jakes en Salmon nog steeds nie of Krisjan 'n vlermuiskenner of geoloog is nie.) Maar kort voor lank begin Daan weer met sy betoog soos 'n terriër wat 'n haas aan die nek skud - hy kan sy obsessie met die vooruitsiende man nie laat gaan nie.
Later praat hulle oor Bennie Potgieter en Braams du Buisson. Hulle is soos die Goncourt-broers, sê Stefan. Op watter manier? vra Jakes. Vergeet van die Goncourt-broers, sê Salmon (onderlangs) - Bennie Potgieter dink hy is Flaubert. Miskien is hy dit, sê Jakes, is hy nie veronderstel om 'n merkwaardige literêre talent te hê nie?! Salmon word rooi; hy sê niks. Talent, sê Stefan, talent is nog nie the real thing nie. Ons het almal talent, maar wat van ons talent gaan word, dit moet ons nog sien. Die wolke wat vroeër (dromerig) opgestapel het, begin geleidelik uitmekaar dryf en weswaarts beweeg. Hulle praat oor Sid. Daan sê hy het laas nog 'n spesiale sigaretjie by Sid gekoop. Stefan sê Sid was nie baie versigtig nie. Te laat nou, sê Salmon. Los wolkies hang ylerig op die horison, die hemel het leeggeraak en daar kom 'n koelte oor die veld. Daan kry hulle oplaas so ver om in te stem om die adres van die sienerman by die kontakadres te probeer kry voor hulle vanaand weer na die Steynhuis gaan.

Terug na BO

Terug na die Inhoudsopgawe

Terug na die basisbladsy








Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/voldoen.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]