Ons is nie almal so oortuig nie Buiteblad: Bly te kenne, Braam

Bly te kenne, Braam - Clive Smith (1997)

Volgens die buitebladteks is Bly te kenne, Braam 'n verhaal "van ons eie permissiewe tyd", en dit word duidelik gestel dat hierdie novelle "nie 'n boek vir kinders (is) nie". Vir my klink dit na die soort uitlating wat 'n predikantsvrou in die sewentigerjare van 'n nuwe André P. Brink-roman sou kon kwytraak. Maar so 'n stelling op die buiteblad van 'n bleek novelle in die cybernegentigs? Ag nee wat. Na so 'n dramatiese aankondiging verwag 'n mens meer as die beskrywing van straight/gay seks, egskeidingsdramas en die odd restaurantroof. (En o ja, Braam se ma se leather outfit).

Bly te kenne, Braam is heeltemal leesbaar, en word beter soos jy verder lees. Jy kry egter die gevoel dat jy die werk lees van iemand wat tegnies gesproke nog 'n lang pad het om te loop. Veral die onhandige hantering van motiewe, soos die opvallende viking-motief, pla. (Lees die slotsin en ween.) Verder word karakters bekendgestel wat eenvoudig later verlore raak, soos Braam se pa. Talle moontlikhede, in terme van karakterontwikkeling en onderlinge karakterverhoudings, bly onontgin.

Maar maak geen fout nie. Die wyse waarop die seksuele ontwaking van Braam, die jong hoofkarakter, geteken word, is skerp genoeg. Die geslagsrol-verwarring en onsekerhede rondom seksuele oriëntasie, wat die hoofkarakter se verhoudings met sy vriende kompliseer, word vernuftig deur Smith hanteer. Te midde van 'n bietjie melodrama hier en daar, wag daar meer as een verrassende wending in die verhaal. Soos wanneer dit duidelik uit Lisa en Braam se gesprekke begin blyk dat albei van hulle seksueel tot hul eie geslag aangetrokke voel. So hou Lisa meer daarvan om Braam te soen as hy vroueklere aanhet, omdat sy meer daarvan hou om meisies te soen!

Ek vind dit daarom vreemd dat die boek volgens die flapteks as ongewens vir kinders beskou word. Dit kan myns insiens juis van waarde wees vir jonger lesers, wat self nog worstel met vrae rondom hul eie seksualiteit.

Braam sou in alle eerlikheid nie as boeiende literatuur beskryf kon word nie. Smith sou dit dalk kon oorweeg om met ander vertelperspektiewe in komende novelles te eksperimenteer. Dit wil voorkom asof die man heeltemal in staat is om 'n goeie storie te vertel. Op hierdie stadium voel 'n mens egter om te sê: ons is nie almal so (oortuig) nie.

Bly te kenne, Braam deur Clive Smith word uitgegee deur
Kwela Boeke

Resensie deur:
Frans Britz
Umtata


Boek oor Afrikaans vul 'n leemte
Buiteblad: Afrikaans in Afrika

Afrikaans in Afrika - Christo van Rensburg (red.)

Hierdie net onder die honderd bladsye publikasie vertel volgens die toeligting op die agterblad "die verhaal van 'n taal met wortels binne én buite die Afrika-kontinent". Die res van die sestienreël agterbladtoeligting is 'n bondige aanduiding van wat in die publikasie te lese is. In agt hoofstukke, wat in twee dele verdeel is (Deel I: Die vestiging van Afrikaans in Afrika; Deel II: Wat het van Afrikaans geword?), kry die leser 'n beeld van Afrikaans sedert die eerste vyftig jaar na die koms van die Nederlanders na die Kaap, tot by die veranderings wat Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika toegeval het.

Die titel bied drie moontlike lesings:
a) Dit kan enersyds konstateer dat Afrikaans in Afrika voorkom. As sodanig sê die titel niks nuuts nie, en doen as doelbewuste poging om die verband tussen Afrikaans en Afrika te beklemtoon ietwat kunsmatig aan.
b) Die titel kan ook probeer om aan te voer dat Afrikaans 'n Afrikataal is. Hoe polities voordelig dit ookal vir Afrikaans sou wees om so 'n stelling te maak en afdoende te staaf, spreek die feite ongelukkig nog oorweldigend teen so 'n aanname.
c) Is dit vergesog (of moedswillig) om die titel te interpreteer as 'n poging om te suggereer dat Afrikaans in 'n groot deel van Afrika as kontinent voorkom? Afrikaans, so weet ons, kom maar slegs in Suider-Afrika voor - en dan nog as 'n klein minderheidstaal.

Waarmee net gesê wil word: die titel is te ambisieus en kan selfs as pretensieus gesien word, selfs onregverdig. Gedagtig aan Donnovan (1989) se siening dat 'n titel die inhoud te behoort onderspeel, sou 'n meer beskeie titel soos "Afrikaans in Suider-Afrika" of "Afrikaans in Suidelike Afrika" of "Afrikaans aan die suidpunt van Afrika" 'n getrouer en geloofwaardiger weergawe van Afrikaans se stand in Afrika gewees het. Die inhoud reflekteer feitlik deurgaans 'n beeld van Afrikaans net in Suid-Afrika.

Die voor- en titelblad dui vier medewerkers (te wete: Achmat Davids, Jeanette Ferreira, Tony Links en Karel Prinsloo) aan, sonder 'n aanduiding in die inhoudsopgawe watter medewerker vir watter hoofstuk verantwoordelik is. Die boek gee ook blyke van 'n verbasende eenheid en hegtheid van taal en styl, in Standaardafrikaans! Hiermee gee Van Rensburg 'n totaal nuwe betekenis aan die term redakteur, waarmee gesê wil word dat iemand soos Achmat Davids se taalgebruik en styl nêrens in die publikasie figureer nie. Selfs waar oor variëteite soos Kaapse Afrikaans geskryf word, word dit in Standaardafrikaans gedoen! Dit bly implisiet 'n handhawing van Standaardafrikaans ten koste van die relevante variëteite.

Ek vermoed dus dat die vier medewerkers nie medeverantwoordelike "skrywers" aan die publikasie is soos wat die VOORWOORD probeer voorgee nie - hulle kon hoogstens data voorsien het, of inligting versamel het, maar daar is geen twyfel in my gemoed nie dat die manuskrip meer as net saamgestel, hersien, geredigeer en verbeter is deur die redakteur. Ek sal nie verbaas wees as Christo van Rensburg die enigste skrywer van die publikasie was nie. (Enigiemand wat sy styl ken, behoort te weet waarna ek verwys.)

Die vraag is nou: hoekom vermeld die redakteur "skrywers"? Deel van die antwoord is dat die redakteur 'n fyn strateeg is en verantwoordelik genoeg om nie taalpolitieke en sosiolinguistiese sensitiwiteite te ignoreer nie. Ongelukkig reageer hy daarop deur die publikasie met "skrywers" te verbind wat nie onder die twintig beste kundiges in die land oor hierdie onderwerp tel nie. Achmat Davids sal 'n geloofwaardige medewerker aan so 'n publikasie wees, mits daar nie te veel getorring word aan sy eie, uniek taal en styl nie. Wanneer dit oor statistiese feitelikhede en dergelike perspektiewe gaan, word Prinsloo se bydrae vir 'n publikasie van hierdie aard feitlik onontbeerlik.

Die inhoud word merendeels op 'n populêre vlak vir die deursnee, oningeligte Afrikaanssprekende aangebied. Dit is prysenswaardig, omdat daar al lankal 'n behoefte aan 'n boek van hierdie aard vir die gewone Afrikaanssprekende is. Ek vind die deel oor Afrikaans en Afrikatale egter heeltemal te onvolledig en oppervlakkig. Daar is so 'n rykdom aan interessante inligting oor die kontak tussen Afrikaans en Afrikatale waaruit die deursnee leser groot vreugde kan put, dat die weglating daarvan feitlik onverskoonbaar is.

Vermeldenswaardig is die redakteur se gebruik van blokke en raampies om belangrike en interessante wetenswaardighede uit te lig. Dit lyk egter of ons mense nog nie weet hoe om die name van Afrikatale in Afrikaans te hanteer nie - soms word klasvoorvoegsels gebruik en soms nie. (Wenk: klasvoorvoegsels is nie natuurlikerwys deel van Afrikaans nie, los dit vir die Afrikatale; dus: gebruik die Afrikataalname in Afrikaans gerus maar sonder die klasvoorvoegsels.)

Natuurlik benut die boek in hoofstuk 6 die geleentheid om 'n bietjie onbeskaamde reklame vir Afrikaans te doen, en hoekom nie? 'n Mens moet egter waak teen 'n onbevange optimisme wat jong Afrikaanssprekers valse hoop op toekomsmoontlikhede in Afrikaans gee. 'n Meer gebalanseerde perspektief op die multitalige werklikhede en eise van ons land, en 'n kophou- houding wat van Afrikaanssprekendes vorentoe verwag gaan word. sou vir die jonger leser dalk van groter waarde gewees het as 'n blote promovering van Afrikaans in isolasie.

Ten slotte: oor die algemeen hou ek van die boek (lees: die redakteur) se aanslag en styl, en die wyse waarop die verlede, hede en toekoms behandel word (enkele besware daargelaat). Meer nog hou ek van die opmerking wat een van my seun se vriendinne in sy kopie van die boek geskryf het: "And if I touch the heart of another, the walk on this earth is more precious than gold."

Resensie deur:
Attie Coetser
Umtata

Afrikaans in Afrika geredigeer deur Christo van Rensburg, word uitgegee deur
J.L. van Schaik

Nog resensies:

Maasdorp Rugdraai en stilbly
Die man met die dertien kinders Oewerwysheid. 'n Handleiding vir
die varswaterhengelaar


Copyright:   1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/braam.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]