Pak maar liewers weg in die oudedoos

Buiteblad: Maasdorp Maasdorp Omnibus 3 deur Stella Blakemore

Wie sal ooit die rabbedoe Kobie Malan en al haar koshuisavonture kan vergeet? Min Afrikaanse meisies, sommiges vandag al in hul vyftigs en vroeë sestigs, het hul kinderjare deurgegaan sonder om vasgevang te raak in die koshuislewe van die Maasdorp Meisieskool in die Maasdorp-reeks uit die pen van Stella Blakemore.

En dieselfde kan gesê word van die manne, want dit was ook einste Stella Blakemore , onder die skuilnaam Theunis Krogh, wat gesorg het vir die Keurboslaan-reeks en die charismatiese karakter van die jong doktor Roelof Serfontein, die prinsipaal wat 'n klein, sukkelende privaatskooltjie uitgebou het tot die gesogte, eksklusiewe Keurboslaan Seunskool. Dit is dan ook die gebeure wat hulle tussen hierdie skoolmure afgespeel het wat jong lesers vir dekades lank betower het.

Stella Blakemore se lewensverhaal klink omtrent self soos 'n roman. Haar oupa aan moederskant was Theunis Johannes Krogh (vandaar die skuilnaam vir die Keurboslaan-reeks), ondersekretaris in die republikeinse administrasie van President Paul Kruger. Haar ma, Emma, was musiekonderwyseres en stoere Boeremeisie. Tog was haar pa, kaptein Percy Blakemore, 'n offisier in die Britse leer, 'n man wat vrou en kind vroeg verlaat het om in Engeland beroepskaartspeler te word. Maar Stella het self oor haar pa gesê: "...mense sê hy was 'n lekker ou..." Vanuit hierdie twee uiterste pole is Stella Blakemore, skryfster van 66 jeugverhale, gebore in 'n hensoppertentjie in 1906 by 'n nedersetting van voormalige lede van die National Scouts waar 'n klompie Engelse en Boereverraaiers op 'n stuk grond, verniel deur die Tweede Vryheidsoorlog, probeer het om 'n nuwe lewe te maak naby Lindley in die Vrystaat.

Soos haar karakters was Stella vanaf 'n vroeë ouderdom op kosskool en het self gesê dat dit maar ver van idillies was. Na haar skoolopleiding het sy 'n klavier- en sanglisensiaat aan die London Royal Academy of Music verwerf, opera studeer in Duitsland en jare lank onderrig gegee in Pretoria en Johannesburg. Sy het in die twintigerjare in Duitsland begin skryf en haar eerste werk was 'n toneelstukkie, Die goue sleutel, en daarna het die Maasdorp-reeks ontstaan.

In 1933 is Blakemore in Londen met David Owen, 'n siviele ingenieur getroud en saam het hulle die wêreld deurgereis en in die Ivoorkus, Italië, Engeland, Swaziland, Nigerië, Duitsland en Ierland gewoon, maar in murg en been was sy steeds 'n Boeremeisie en sy het nooit opgehou om in Afrikaans te skryf nie.

Sy was 'n vrou van sterk opinies en streng beginsels. In 1974 was sy hoogs ontstoke toe die Oggendblad haar "die Ierse vrou wat Afrikaans skryf" genoem het en oor een ding was sy veral baie uitgesproke in die vroeë sewentigerjare. "En haal my maar aan," het sy gesê. "Dit spyt my dat die beeldradio na Suid-Afrika toe kom." Sy het gemeen Suid-Afrika sou 'n baie vreedsamer plek wees sonder die opstokery deur die televisie, soos die geval was tussen die Katolieke en Protestante in Ierland waar sy woonagtig was.

Op 85-jarige ouderdom is Stella Blakemore in 1991 in Ierland oorlede, oorleef deur haar seun en dogter en ses kleinkinders. Dit was ook die dood van Theunis Krogh, Analize Biermann, Stella Owen en Diem Grimbeeck, die verskillende skuilname waaronder Stella Blakemore in haar leeftyd talle boeke die lig laat sien het.

In Maasdorp Omnibus 3 is al die ou Maasdorpers weer terug. Die omnibus bestaan uit drie geredigeerde boeke, onderskeidelik die sewende, agtste en negende boeke in die reeks. In Maasdorp se nuwe onderwyseres ontmoet jy die eerste keer vir Juffrou Dreyer, die skaam, maar intelligente nuwe biologie onderwyseres met die mooi stem en kalm geaardheid wat die vrouverskrikte Meneer Renton skoon verspot het en saam help hulle die sestienjarige Kobie om die wonderkind, Carla Willemse, oftewel Olga Willowich, die wêreldberoemde kinderviolis, uit die hande van 'n geldgierige en magsbehepte tante te red. Jy word ook weer voorgestel aan die Drie Musketiers en hul kinderlike kaskenades en die groot Malan-gesin by hul huis in Oranjezicht aan die voet van Tafelberg.

Hoofmeisie Kobie begin met 'n katastrofiese partytjie vir Kobie en haar sussie Heloïse se skoolvriendinne net voor die begin van die nuwe skooljaar. Kobie is in ekstase wanneer sy 'n brief ontvang wat haar inlig dat sy as die nuwe hoofmeisie van Maasdorp verkies is, maar die ontnugtering is groot wanneer hulle op Maasdorp aankom en hoor dat hul geliefde skoolhoof, Juffrou van der Westhuizen, verplaas is na Suydamsbos Meisieskool en dié se vorige prinsipaal, die gehate Juffrou Brand, leisels by Maasdorp gaan oorneem. Die Drie Musketiers kom egter gou tot die redding met 'n slinkse plan wat selfs die gevreesde Matrone om die bos lei.

In Kobie gaan verder ontmoet die leser die eerste keer vir Della Reitz, die selfbewuste dertienjarige niggie van Juffrou Reitz, die sportonderwyseres. Della kom aan op Maasdorp in die middel van Kobie se matriekjaar, op dieselfde tyd wat Kobie hoor dat sy vir Carla Willemse (Olga Willowich) op haar konserttoer as begeleidster na Engeland moet vergesel. Ten spyte van al haar verantwoordelikhede op skool, die eindeksamen wat voorlê en die ure se klavier oefen, raak Kobie ook nog betrokke in familie-intriges wanneer sy dit op haar neem om haar suster Diana, wie se verlowing verbreek is en deur 'n moeilike tyd gaan een aand uit 'n nagklub te gaan haal. Dit kos vir Kobie amper haar oorsese reis wanneer haar ma meen sy is te onverantwoordelik, maar Juffrou Dreyer red die dag wanneer sy in willig om saam te gaan Engeland toe. Saam met Kobie ervaar die leser ook haar laaste skooldag en haar oorsese debuut.

Die tipiese kosskoolstories is iets baie eie aan Engeland met prototipes wat reeds so vroeg soos 1749 hul verskyning gemaak het, soos Little Female Academy deur Sarah Fielding. Die bekendstes is seker Carolyn Keene se Nancy Drew en Enid Blyton se kosskoolstories wat 'n defnitiewe subgenre in kinderlektuur geskep het. Maar ons eie Stella Blakemore het nie nodig gehad om een tree terug te staan vir hierdie Engelse grand dames met haar Maasdorp- en Keurboslaan-stories nie.

Stella Blakemore was 'n wêreldbelese en wêreldberese individu en dit het ook uitgekom in haar Maasdorp-verhale met interessante karakters soos Juffrou Dreyer wat aan groot oorsese universiteite studeer het, die wêreldberoemde kinderviolis, Olga Willowich, oftewel Carla Willemse, Dokter Jaap Malan wat pionierswerk gedoen het in breinchirurgie, Thelma, die swak sinnige buurkind en Juffrou Hartmann met haar hooggeagte sielkundige kennis ('n wetenskap wat in daardie tyd nog baie onbekend was). In die boeke vind 'n mens promovering van individualisme, met rebellies teen monargiese gesagsfigure, prominente verwysings na die onderbewussyn en die invloed daarvan op menslike gedrag en 'n amper Frans-aristokratiese sosiale ingesteldheid. 'n Mens kan dus sê dat Blakemore met hierdie subtemas haar tyd ver vooruit was, maar sy het daarin geslaag om die Afrikaanse kind van die relatief afgesonderde Suid-Afrika van die middeldekades van die 20ste eeu nie net te vermaak nie, maar ook op te voed en in te lig. Sy het die hele wêreld gebring na iets so eenvoudig soos 'n Afrikaanse meisieskool.

Die Maasdorpstories is stories van heldeverering en idealisering met begaafde, perfekte karakters soos Kobie met haar "heuningblonde krulle en ferweelbruinoë, blosend en pragtig en die ene glimlaggies en kuiltjies", en met stereotipes, tipiese kosskoolstoutigheid en voorspelbare intriges en baie kritici sal miskien meen Blakemore se stories is seksisties en patrioties. Dit is miskien dan ook juis hierdie eienskappe van Blakemore se verhale wat haar destydse teikengehoor vasgenael gehou het, wat nou faal om trefkrag te hê in die jare negentig en faal om op die moderne tiener van toepassing te wees. Die taal en storielyne is verouderd en ook die kleredrag- en milieubeskrywings laat die leser gou besef dat dit in die outyd afspeel en sal vandag se jongmens heel moontlik reeds na die eerste paar blaaie verveel. Dit is egter nie die fout van die leser of skrywer nie, maar wel die gevolg van die onstuitbare veranderinge wat deur die dekades ingetree het en daarom moet 'n mens versigtig wees om Blakemore se verhale volgens moderne maatstawwe te beoordeel en af te maak as minderwaardig sonder die inagneming daarvan dat die eerste Maasdorpboek reeds in 1933 gepubliseer is. Dit is dus vir 'n teikengehoor totaal verskillend van vandag s'n geskryf, want soos die tye verander het, het die jongmense se voorkeure en belangstellings ook verander en meer kompleks geword. Iets wat skynbaar egter nie veel verander het nie, en wat Blakemore haarfyn vaspen, is die rebelsheid en nukke wat maar tog te kenmerkend is van die adolessente ontwikkelingsfase, maar dit is tog 'n feit dat vandag se kinders vroeër volwasse en minder onskuldig is as destyds se Kobies. Dit is dus die einde van 'n leesera en dit het ongelukkig tyd geword dat die Maasdorpboeke saam met hul tydgenote soos Trompie, Saartjie, Soekie en ander geliefdes, (bekendes in die volksmond, maar stofopgaarders op die rak), weggepak word in die literatuur se oudedoos.

In 'n artikel in Beeld in 1991, kort na Blakemore se dood lees 'n opskrif: "Sy het die Afrikaanse kind laat lees," en dit het sy definitief gedoen, maar dit was die Afrikaanse kind van 'n vroeër tyd - 'n tyd sonder televisie, rekenaarsspeletjies en die Internet en die vraag kom dus dadelik by 'n mens op: Lees vandag se Afrikaanse kind nog (Afrikaans)? Uit 'n vinnige paar oproepe het ek die volgende wys geword.

In 1997 is 'n totaal van 93 Afrikaanse kinder-en jeugboeke gepubliseer waarvan 32 oorspronklike Afrikaanse boeke was, 13 daarvan tienerfiksie en 48 vertaalde weergawes. Tafelberg Uitgewers het verlede jaar nege boeke in hierdie genre gepubliseer met 'n oplaag van 2500 elk. Die boeke is dus daar, maar word hulle gelees? In 'n oproep aan CNA se hoofkantoor is ek verseker dat daar altyd gepoog word om 'n goeie verteenwoordigende keur van boeke aan te koop uit dit wat beskikbaar is, maar dat daar in die afgelope tyd baie besnoei is op die hoeveelheid Afrikaanse kinder-en jeuglektuur wat aangekoop word, omdat dit nie goed verkoop nie.

Wat betref die Engelse eweknieë is die mark baie groter en in vergelyking daarmee verkoop die Afrikaanse boeke baie sleg. Exclusive Books se tak in Port Elizabeth se statistieke is ietwat skrikwekkend. In die tydperk Maart 1996 tot Februarie 1997 het hierdie tak alleenlik 62 Afrikaanse boeke in hul afdeling African Youth and Africana verkoop en in die opvolgende jaar net 179. In vergelyking hiermee was die verkope van Engelse kinder-en jeugboeke afsonderlik 1135 en 3115 vir dieselfde twee tydperke. In 'n oproep aan die stadsbibliotekaresse van Port Elizabeth het ek die volgende inligting bekom: die gemiddelde maandelikse getal uitreikings van Afrikaanse kinder- en jeugboeke per tak in die laaste vyf jaar is 665. Die Engelse ekwivalent is 2291. Dit is dus duidelik dat die Afrikaanse kind, volgens statistieke, nie Afrikaans lees nie.

Myns insiens, is daar 'n defnitiewe leemte in die Afrikaanse literatuur vir tieners, veral as 'n mens sien dat daar verlede jaar slegs 13 tienerfiksieboeke gepubliseer is. Toe ek self 'n paar jaar terug in matriek was het ons baie senuweeagtige, maar dapper Afrikaanse juffroutjie al blosend, maar ongesensor Dalena se vertellinge van haar stortervaring in Marieta van der Vyver se Die dinge van 'n kind aan ons klas voorgelees en binne 'n kwartaal was die boek suf gelees en het dit deur dertig pare hande gegaan. Vir sommiges was dit die eerste keer dat hulle ooit 'n hele Afrikaanse boek deurgelees het, voorgeskrewe boeke inkluis, en dit was bloot omdat dit hulle belangstellings en verbeeldings geprikkel het en bloot omdat hulle nou van die boek geweet het. Dit is miskien ook een van die grootste oorsake daarvan dat die Afrikaanse kinders nie meer Afrikaans lees nie: hulle weet nie wat beskikbaar is nie - 'n onvergeeflike fout van ouers, onderwysers, uitgewers, boekwinkels en die media in hierdie eeu van kommunikasie. Dit sit dan ook 'n bose kringloop aan die gang, want as die kinders nie weet wat beskikbaar is nie, gaan hulle nie die boeke koop nie en sal die boekwinkels nie die boeke aanhou nie, wat meer skrywers kan ontmoedig om vir die jeug te skryf.

Nog 'n probleem is miskien dat daar vandag baie grootmensboeke in Afrikaans is oor kindwees, terugblikke oor die sogenaamde "coming of age", maar dit is tog volwasse leesstof en bied min vir die jongmens om mee te identifiseer. Op 13 kry 'n kind reeds 'n biblioteekkaart vir die grootmensafdeling, maar alhoewel die tieners van vandag te volwasse is vir Maasdorp is hulle ook tog nog nie gereed vir die oordrewe realiteite van die "Triomfe" en "Griete" nie. Dit is miskien hoekom die Afrikaanse jeug hulle ook eerder wend tot die slapband-sakpas Amerikaanse weergawes van tienerlief en tienerleed. Wanneer 'n mens egter deur 'n paar van hierdie titels blaai, wat die boekwinkels se rakke laat kreun onder hulle gewig, kom 'n mens gou agter dat dit vir die massa geproduseer word vir kommersiële doeleindes en dikwels neerkom op die uitbuiting van die jong leser, want alhoewel name en milieus verskil, wyk dit selde af van die basiese patroon van eentonige, holruggeryde storielyne en passiewe karakters. Dit laat 'n mens die waarde daarvan betwyfel, want boeke, veral die vir die ontvanklike jeug, die opkomende geslag, het tog 'n groter verantwoordelikheid as om net oppervlakkige vermaak en ontvlugting te bied - dit het tog ook 'n opvoedingstaak . 'n Mens is dankbaar vir die Afrikaanse skrywers wat dit waag om hierdie moeilike genre aan te durf en hulle goed van hulle taak kwyt, maar 'n mens wonder tog: waar is die Stella Blakemore van die negentigerjare wat die Afrikaanse kind (en veral die Afrikaanse tiener) weer aan die lees kan kry? Ek herinner my aan 'n slim iemand wat eendag gesê het: " You have to write for children in the same way you do for adults - only better."

Resensie deur:
Tilana du Plooy
Port Elizabeth

Maasdorp Omnibus 3 deur Stella Blakemore word uitgegee deur:
J.L. van Schaik.

Prys: R56.95
ISBN: 0 627 02293 6


Trou is nie perdekoop nie

Buiteblad: Rugdraai en stilbly

Rugdraai en stilbly - E.K.M. Dido (1997)

In Rugdraai en stilbly skryf Dido oor dit wat in die huwelik voorkom m.a.w. die werklikheid van saambly as man en vrou. Hier leer die hoofkarakter, Bernie dat alles wat glinster nie goud is nie. Sy is aan die begin in haar noppies oor die feit dat sy ten einde met die man van haar drome gaan trou. Sy kan nie wag dat sy vir ewig hom gaan eien nie. Watter meisie in haar volle verstand sal nie deur die sjarmante, aantreklike en ryk Randall in verrukking gebring word nie? Bernie kan haar verbeel dat sy die onderwerp van jaloesie is onder die meisies van haar ouderdom in Aloevale. Alhoewel sy Randall implisiet vertrou, bly haar derde sintuig haar knaag om 'n kontrak vir 'n huwelik buite gemeenskap van goedere te hê. Nietemin gehoorsaam sy haar ma en vergeet daarvan.

Later vind sy uit dat trou nie perde koop is nie. Haar man is nie die engel wat haar vroëer geliefkoos het nie. Die toestand waarin hy groot geword het, haal hom gou in. Sy het nooit kon dink dat haar Randall sy hand teen haar sou lig nie, veral nie voor 'n derde party nie! Sy skaam haar so vir haar man se optrede dat sy besluit om daaroor te swyg solank dit vrede in haar huis bring. Sy bly hoop dat hul probleme hulself sal uitsorteer. Selfs hul eersteling is in die mishandeling ingesleep en daardeur geaffekteer. Hy begin hakkel en sy bed natmaak, iets wat hy lankal ophou doen het.

Uiteindelik skraap sy moed bymekaar en besef dat haar laaste uitweg is om hewig teenoor haar man op te tree. Sy wil nie meer geslaan word nie en wil ook haar selfvertroue herwin. Nie ter wille van haarself nie, maar ter wille van haar seuntjie.

Dido ontbloot in Rugdraai en stilbly 'n lewenspatroon waarmee baie getroude mense en ongetroude saamlewendes kan identifiseer - mans wat hul eggenote molesteer nie omdat hul hulle haat nie, maar omdat hulleself as kinders toegesien het hoe hul ouers in die verlede so geleef het. Sowel Randall as Bernie is slagoffers van hoe hulle grootgeword het. Randall dink dat sy ma dit aanvaar het toe sy pa haar pimpel en pers geslaan het, want sy het nooit van hom geskei nie. Volgens sielkundiges leer kinders uit hul ervaring - dit wat die ouers voor hul kinders doen, word op 'n latere stadium nageboots. Gewoonlik is dit baie pynlik en gaan dit gepaard met onaangename gevolge. Die pad na herstel is baiekeer onvoorspelbaar en verg baie geduld op die egpaar wat nie maklik verkrygbaar is nie.

Resensie deur
Noncedo Gabada
Umtata

Rugdraai en stilbly deur E.K.M. Dido (1997) word uitgegee deur
Kwela Uitgewers

Prys: R39.95
ISBN: 0 7957 0068 7

Nog resensies:

Maasdorp Die man met die dertien kinders
Oewerwysheid. 'n Handleiding vir
die varswaterhengelaar
Bly te kenne, Braam Afrikaans in Afrika


Copyright:   1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/maas.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]