Kalmer-roman stagneer in stereotipiese Afrikaanse sfeer

Buiteblad: Die man met die dertien kinders Die man met die dertien kinders - Harry Kalmer

In 'n era waar bemarking 'n kardinale rol speel kom Queillerie vorendag met 'n boek wat sekerlik een van die lelikste stofomslae ooit het.

Mens kan nie onaangeraak wees deur die Negentigs en sy sogenaamde preokkupasie met trivialiteite soos eerste indrukke nie. Nietemin ignoreer ek egter heel braaf die omslag van Harry Kalmer se derde boek, Die man met die dertien kinders en poog om die "toeganklike en heerlike verhaal van gehalte" soos die persverklaring lui, raak te lees. Die plot is heel simplisties en fokus op Jos Goosen wat sy vrou op 'n idilliese Griekse eiland ontmoet toe hy vir etlike jare daar gewoon en gewerk het. Sy, 'n Katoliek, raak swanger, hulle moet trou en gaan woon in Suid-Afrika waarna Mathilda die een kind na die ander baar omdat sy geen voorbehoedmiddels mag gebruik nie. Die kort roman karteer die ontwikkeling van die huwelik, die sosio-ekonomiese opgang van Jos en ook die wisselwerking met ouer mense en ander rassegroepe. En dis juis hiérmee, die meganistiese inspeel van die pre-Nuwe Suid-Afrika, wat ek 'n probleem het. Indien die roman teruggeskryf het in die verlede om 'n bepaalde insig met die hede as vertrekpunt te bereik, kon dit moontlik geslaag het. Maar die roman beweeg nie agtertoe of vorentoe nie. Dit bly stagnant in 'n sfeer waar stereotipiese Afrikaners hul honde name gee soos Winnie en F.W., dit haper terug, sonder enige ontwikkeling of gronde daarvoor, na 'n era van "base", maar poog om liberalisties te wees met Jos wat die kinders van 'n swart man (wat hy per ongeluk doodry) aanneem. Dit probeer hard om 'n 'statement' te maak, hetsy polities, sosiaal, of ekonomies, maar slaag myns insiens nie daarin nie. Afrikaanse letterkunde was in die Sewentigs, maar veral in die Tagtigs 'n letterkunde van 'statements'. Sulke werke is uit die aard van die saak polities. Die man met die dertien kinders misluk selfs as politieke 'statement' al laai die outeur dit met o.a. Joe Slovo se begrafnis, Afrikaner stereotipes en die ewige gekarring oor die nodelose bosoorlog in Angola. Die hele roman bly hang en die leser word onwillekeurig gelaat met die vraag: En wat daarvan?

Dis nie dat die roman swak geskryf is nie, inteendeel: Harry Kalmer is 'n veelsydige en bekroonde skrywer. Sy drama Antjie Somers and I is met 'n Dawie Malan Dalro-toekenning bekroon en They say heaven is like TV is met 'n Vita-Potpourri-toekenning bekroom. Ek het 'n waardering vir sy kort, flinke styl, die ironie hier en daar, die humor wat onder die oppervlak lê, maar net-net nie daarin slaag om tot sy reg te kom nie, hoofsaaklik omdat dit gewoonlik geanker is in 'n Suid-Afrika onder 'n wit regime en feitlik altyd ten koste van minderheidsgroepe is: swartes, kreupeles, gays, vroue, bejaardes. Hierdie pre-bevryde Suid-Afrikaanse gegewe is eenvoudig nie meer snaaks nie, dis uitgeskryf, passé.

Uiteindelik is dit egter die karige plot wat die leser met 'n redelik onvervulde gevoel laat. Jos ontwikkel as gevolg van verskeie faktore, o.a. sy vrou se affair en die eise van sy dertien kinders, 'n drankprobleem. Dit word nie na behore ontgin nie en verwater tot blote dronkpraatjies hier en daar en oral. En dis omtrent dieselfde wat ek vir die hele roman kan sê.

Resensie deur:
Wilhelm du Plessis
Umtata

Die man met die dertien kinders deur Harry Kalmer (1998) word uitgegee deur:
Queillerie Uitgewers


Plesier vir papgooiers

Buiteblad: Oewerwysheid

Oewerwysheid. 'n Handleiding vir die varswaterhengelaar deur Daan Engelbrecht (1997)

Met die optel van dié boek was ek sommer lus en pak die stokke onmiddellik en kry rigting. Die herinnerings het ook vinnig gevolg: van die damme en riviere, die mense en die weersomstandighede, die modder en die reuke. Van die visse ook, ja. Ek dink aan die Disaneng buite Mmabatho, heeltemaal onbenut met honderde drie kilogram karpe wat in 'n flou wintersonnetjie in die vlak water lê en plas en paar, halflyf uit die water uit (ek vertel nie hoe ek van hulle in die hande gekry het nie). Aan lede van die kurperfamilie uit die Kyle-meer in Zimbabwe waaraan ek gesmul het. O daai moddersmakie.... Tiervisse uit die Kwando (weliswaar gekoop op die markie in die 'werklike' Chobe). Barbers uit die Botletle. Die ou staatmaker Hartbeestpoortdam, Loskop, Rietvlei, Rust-der-winter, Pienaarsrivier.....Baars in die Kouga wat soos forel smaak, gevang met 'n handlyn en 'n stukkie brood aan die hoek (in die wildernisgebied sonder permit). En aan vele meer damme en riviere, die name onbekend, vergeet, maar die reuke, die smake, alles kom terug - die geluide, die kleure.....

Ja, waar's die dae...

Maar laat ek nou nie begin filosofeer nie. Oewerwysheid. 'n Handleiding vir die varswaterhengelaar deur Daan Engelbrecht is 'n boek wat dit makliker wil maak vir mense om uit die ou bedompige huis en by die water in die vars lug te kom. Die boek is georganiseer om rubrieke wat gewoonlik in ander hengelboeke in een of twee hoofstukke onder noemers soos "hengelgerei" of "wenke" aangebied word. Alhoewel dié boeke gewoonlik belowe dat daar aandag gegee word aan aspekte van hengel soos 'aas,' 'gerei' en vissoorte, kom mens gou agter dat die klem gewoonlik verskuif na óf vissoorte en hul gewoontes, óf na visvangplekke en staaltjies oor dié plekke. Wat alles natuurlik sy waarde het.

Oewerwysheid plaas die klem egter duidelik op die fynere details, soos met 'n eerste oogopslag uit die hoofstukverdeling blyk: aas, katrolle, lyn, visstok, sinkers, hoeke, poliesman, ruspenne, en nog meer. Mens sou kon vra, maar gaan so 'n benadering nie 'n vervelige boek tot gevolg hê nie? Geensins nie, hoor. Die eerste hoofstuk oor aas, byvoorbeeld, is 'n riller wat selfs oningewydes se aandag enduit sal hou. Om
Barbervangs
Kyk net so 'n bielie!
Laat my hart mos met 'n punt na
die waters staan...
Nee, man, ek praat van die vis!
vyftig bladsye onderhoudend oor "aas" te skryf, vra om gedoen te wees. Die hoogtepunt van dié deel vir my is die bespreking van die gebruik van rotte en muise as aas; en veral hoe dié diere in die vrieskas gehou kan word.

Die volgehoue fokus op die klein detail is uiteindelik Oewerwysheid se rasionaal, sterkpunt en 'n illustrasie in skrif van die 'wysheid' waarop die titel sinspeel. Dit is die klein dingetjies wat uiteindelik tel, nie die grootste vis wat jy uittrek nie. Om net drie voorbeelde te noem: die skrywer raai voornemende hengelaars aan om nooit potte waarin pap vir aas gaargemaak is, ongewas vir vroulief te laat nie. Hy waarsku: "as jy dit doen, hou jy dalk op hengel nog voordat jy begin het" (11). So herinner hy jou ook aan iets wat baie maklik oorgesien word: inspekteer altyd die ogies van jou stokke voor jy viswaters toe gaan (100, 102). Moet ook nie knyploodjies met die tande toebyt nie, die lood is giftig (109).

Dié fokus op die kleine sal enige twyfelaar oortuig dat hengel nie so eenvoudig is as wat dit miskien mag lyk nie. Die bespreking van Archimedes (88-90) en Newton se wette (82, 92-95) soos dit hengel betref, sal ook help om van alle illusies en wanindrukke ontslae te raak. En vir die bekeerde is dié besprekings interessant en insiggewend.

Beide die nuweling en die gesoute hengelaar sal die boek geniet en daaruit leer, dink ek. Persoonlik dink ek dat iemand wat die gebruik van 'n naelknipper vir die sny van lyn aanbeveel, wéét van visvang (163). Die toon van onderbeklemtoning wat met die fokus op die kleine saamgaan, verhoog die genotwaarde van minder saaklike uitsprake, waarvan ek 'n paar aanhaal:

'n Hengeltas is soos 'n vrou se handsak. Dit is nooit groot genoeg nie. Party hengelaars s'n is ook net so deurmekaar (161).

Sommige hengelaars het die vermoë om die massa van 'n vis te bepaal deur net na sy byt te kyk. Moenie hulle glo nie. Hulle kan nie hengel nie. Hulle lieg net (83).

Daar kom nooit 'n stadium in jou lewe dat jy ophou katrolle koop nie (67).

Die manne sê die adrenalien vloei beter as die palrat skreeu (70).

Bostaande uitsprake, as komplement tot die volgehoue fokus op die kleine, wys my duidelik dat die skrywer van Oerwerwysheid direk tap in die basisrealiteit van hengel. Dié metafisiese laag kom net in die inleiding eksplisiet na vore, waar dit gaan oor die verskillende soorte hengelaars, die 'jiggers,' die 'bulldozers,' die 'damdrinkers,' die 'mooiweermanne,' die 'leunstoelhengelaars' en die 'vasbyters.' Vir dié wat belangstel, komplementeer Oewerwysheid op sy unieke manier van die opstelle in Marthinus Versfeld se Klip en klei).
Bufferplakker by Maitland Mond, PE:

Fishing is an illusion
supported by compulsive liars
dressed in old clothes

(laat ons nie te veel sê oor die grammatika
nie, maar daar's 'n punt daar)

Oewerwysheid laat my glo dat die (Suid-)Afrikaanse "A River Runs Through It" nog gemaak gaan word. Tot dan staan dit sy volwaardige plek vol langs my S. Schoeman, Flip Joubert, Tom Sutcliffe en Charles Norman.

Die enigste beswaar wat ek het, is oor die lys vissoorte agter in die boek. Dit sou nog aantrekliker en leersamer gewees het indien illustrasies van elke soort voorsien is (daar is wel foto's van die meer bekende soorte elders in die boek).

Oewerwysheid. 'n Handleiding vir die varswaterhengelaar deur Daan Engelbrecht (1997) word uitgegee deur J.P. van der Walt en Seun

ISBN: 07993 2357 8

R64.95 in die handel
R51.95 indien direk van die uitgewer bestel

Resensie deur
Philip John

Dié boek het my laat wonder: hoeveel gedigte in Afrikaans gaan oor visvang?
Ek kon dink aan gedigte deur Uys Krige en D.J. Opperman.
Barend J. Toerien het een van sy gedigte aan ons gestuur om ons op die pad te help:

Die snoek

Nog resensies:

Maasdorp Rugdraai en stilbly
Die man met die dertien kinders Bly te kenne, Braam
Afrikaans in Afrika


Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/oewer.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 9 Augustus 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]