Resensies

Buiteblad: Ysprinses Buiteblad: Op soek na Generaal
Mannetjies Mentz Buiteblad: Die Mannheim-sage
Storie-
palet
saamgestel deur
Jan B. Vermaak

Kliek op buiteblaaie hierbo of blaai
Disclaimer


Wreedheid en gruwels van geskiedenis verwikkeld belig

Buiteblad: Op soek na
Generaal Mannetjies Mentz

Op soek na Generaal Mannetjies Mentz
- Christoffel Coetzee (1998)

Hierdie roman van Christoffel Coetzee is 'n verwikkelde werk wat op vele vlakke afspeel. Op die oppervlak handel die verhaal oor gebeure in en direk na die Boereoorlog, maar dit kan ook gelees word as implisiet verwysend na die wandade tydens die aparteitstydperk en die gebeure daarna. Die verhaal beweeg ook op mitologiese, godsdienstige en metafisiese vlakke. 'n Gemiddelde leser moet baie fyn lees en herlees om nie heeltemal te verdwaal in hierdie verhaal oor tye, verskynsels en historiese gegewens nie.

Deel I begin met "historiese bewyse" oor die raaiselagtige, profetiese sentrale karakter, dié van Generaal Mannetjies Mentz. Die skrywer begin sy leser dadelik inlei (mislei?) in die twyfelagtige aard van die karakter: "In hierdie gevalle is dit histories onverantwoordelik om ons op twyfelagtige mondelinge getuienis te verlaat..." (p 11). Die slotsom waartoe gekom word, is egter dat niks as "bewys" kan dien dat Generaal Mannetjies Mentz werklik bestaan het nie.

Die moeder word gebruik as logiese anker vir die ontwykende karakter van Generaal Mannetjies Mentz. Deel II begin met die moeder en vroue van die verhaal. Fokalisering vind plaas deur die karakter van Ounooi Roos, een van die "kinders". Die moeder sorg baie goed vir die groep, maar emosioneel word hulle verwaarloos en moet hulle staatmaak op die troos van ander onvolwassenes, soos Soph. Soph dien as gewete wat die "Ma" aanpraat as dié haar gesag met geweld (die Colt) wil handhaaf. Maar Soph veg ook maar teen haar eie demone en haar eie vlees. Sy herken die Bose wat in die karakter van die hond manifesteer, maar is amper magteloos en nie toegerus om haarself te verdedig nie. Dom is sy egter nie! Sy laat sienderoë toe dat Ann en Charlie White se verhouding uitblom in daardie verskriklike winter van 1900, omdat sy besef dat dit al manier is om hulle almal se veiligheid te verseker. Soph is 'n ware heldin wat haarself met krygsvaardigheid weerbaar maak teen die magte binne en buite haarself.

Die tragiese figuur van Ann vra vir 'n bietjie meer ontwikkeling. As leser sou ek graag meer wou weet van Ann se gedagtes en gevoelens oor die verhouding met Charlie White. Die begrafnis van Charlie White het my aan die hart gegryp en die treurige klank van sang in die mistige rook is baie treffend.

Die leser ontmoet ook die manlike sleutelfigure, nl. Mannetjies Mentz, Niemand en Voss. Hierdie drie karakters verteenwoordig die verskynsel van die honde en jakkals (drekgode) wat aan mens en dier vreet in die poorte deur die berge. Die beeld van die honde word telkens gebruik. Die onopvallendheid van Mannetjies Mentz se klere en spraak maak hom "die man in die straat" (p 59), dus ook een van ons. Voss, (die jakkals?) daarenteen, is die een met die opvallende kleredrag, die "dandy" veldkornet. Niemand, met sy dierlike voorkoms en sy wreedheid, laat 'n mens ril. Die skrywer slaag baie goed daarin om die wreedheid en gruwels te laat "lewe" en na 'n ruk kan 'n mens amper daardie kadawers ruik!

Jan Witsie, die half-Basoeto, half-Griekwa, sorg nie net vir die Boere-vroue en kinders in die Skuilte nie, maar is ook die een wat aan Pa die verskriklike nuus van Ann se dood moet oordra. Maar Jan Witsie het ook maar sy eie agenda - die wapensmokkelary. Dit lyk asof niemand se hande werklik skoon is nie, veral nie Blink Frans Naudé nie.

Deel III is Blink Frans Naudé se relaas oor die gebeure in die berge. Die vertelling word deels in die vorm van 'n briefwisseling tussen homself en Ounooi Roos, sy suster, gedoen. Hoewel hierdie gedeelte veronderstel is om die "ware gebeure" te onthul, word die sluier van twyfel weer eens daaroor getrek deur die uitgeskeurde bladsye van die boekie. Uit die korrespondensie kom Frans Naudé se lewe ná die oorlog en vredesverklaring aan die lig. Sy werk was om morfine vir die generaal in die hande te kry, wat ook die begin was van sy owerspelige lewe in Duits-Oos-Afrika.

Deel IV speel dan ook af aan die voetheuwels van Kilimandjaro in Kenia. Die roman eindig soos dit begin met historiese dokumente: 'n militêre verslag van genl. Coen Britz aan genl. J. C. Smuts. Die verslag gaan oor die soektog van genl. Coen Britz na Blink Frans Naudé. Genl. Britz besoek die groepie waar hulle in Kenia aan die voet van Kilimandjaro in 'n replika van die huis in Delagoa-baai woon. Generaal Mannetjies Mentz ontmoet hy wel, maar hy is eintlik op soek na Blink Frans Naudé. Dié is egter nie daar nie: "Hy's Unie toe om 'n ou belofte gestand te doen." (p 294). Die roman gaan oor 'n soektog, 'n soektog na die waarheid, wat ons die heeltyd ontwyk.

As leser het ek dit geniet om die skrywer van tyd tot tyd in die verhaal te ontmoet en sy skryfproses te volg. Hy laat ons in op geheimpies deur onder andere te vertel dat hy 'n versamelaar is en dat "Goeters stories maak" (p 26).

Daar is net een ding waarmee hiedie leser nie saamstem nie; die bewering dat Rooi Roux nie kan sing "...om sy lewe te red nie" (p 13). Die Rooi Roux wat ek in hierdie boek ontmoet het, sing uit volle bors! Hierdie mag nie sy swanesang wees nie.

Op soek na Generaal Mannetjies Mentz deur Christoffel Coetzee (1997) word uitgegee deur Queillerie Uitgewers

308 bladsye hardeband

ISBN: 1 874901 94 5

Resensie deur Monica Jacobs
Port Elizabeth


Kry 'n ysprinses vir ontspanning Buiteblad: Ysprinses

Ysprinses - Elize Davies (1998)

Ysprinses is 'n lekkerlees liefdesverhaal vir daardie reënerige dag of ontspanne aand. Elize Davies het 'n gemaklike en vloeiende skryfstyl. Die redelike groot druk van die letters vergemaklik die lees verder.

Ysprinses vra nie vreeslike konsentrasie en kophou om by die draad van die storie te hou nie en daarom is dit 'n gemaklike verhaal om mee te ontspan. Daar is geen verskuilde motiewe nie en die karakters is nie ingewikkeld met allerlei geheime nie. Slegs die hoofkarakter het 'n vol kwota geheime wat so stukkie vir stukkie ontrafel en uitgevind word.

Een van die beste eienskappe van die boek is sy omslag, wat 'n uitstekende uitbeelding van die titel en die verhaal is. Dit beeld 'n jong vrou in koue grys kleure uit, wat die wêreld vierkant en emosieloos in die oë staar met haar skouers uitdagend teruggetrek. 'n Tweede beeld van haar word binne in die grys gestalte gesien, die keer in volkleur. Hierdie keer is haar oë toe en haar gesig vol emosie. Dit skep die verwagting van 'n koue "Ysprinses" met baie versteekte emosies en passie.

Die verhaal self gaan oor 'n jong onderwyseres met 'n donker verlede, 'n skokkende geheim en 'n buite-egtelike kind. Ter wille van haar jong seun verlaat sy haar pos as vertaler om probleemkinders op 'n plattelandse dorp Engles te onderrig.

Met die intrapslag loop sy haar reeds in probleme vas en dan begin haar verlede haar stukkie vir stukkie inhaal. Met elke nuwe gebeurtenis word haar verlede stadig oopgevlek en kan die leser haar motiewe en lewe beter verstaan, terwyl sy leer om haar verlede te verwerk.

Intussen begin 'n onverwagse liefde skaam en onseker blom; 'n liefde wat skynbaar geen toekoms het nie.....

Hierdie heerlike, lekkerlees liefdesverhaal laat jou tone omkrul van lekkerkry en laat jou ten minste een keer bleek geskok, maar hoofsaaklik laat dit jou vol deernis vir die hoofkarakter.

Krities beoordeel, is daar 'n paar dingetjies wat nie altyd sin maak nie. Daar is die skoolhoof, Dokter Renier Vorster, wat skynbaar geen ander emosie as spot kan ervaar nie. As daar vir die soveelste keer na sy spottende oë verwys word, terwyl die leser eerder deernis of woede sal verwag, begin sy karakter self verspot en vlak voorkom.

Tweedens is daar net te veel stukkies wat toevallig perfek en op presies die regte plek en op presies die regte tyd op hulle plekke inpas. Dit is glad nie geloofwaardig nie. Een of twee toevalle werk, maar nie so baie in so 'n kort verhaal nie.

Om op te som: As jy 'n kritiese leser is wat van 'n uitdagende storie hou, sal Ysprinses waarskynlik nie in jou behoeftes vervul nie. As jy aan die ander kant 'n heerlike omkrultone ontspannende liefdesverhaal geniet, moet jy beslis Ysprinses aanskaf.

Resensie deur:
Karen Maritz
Despatch

Ysprinses deur Elize Davies (1998) word uitgegee deur:
J.P. van der Walt en Seun

ISBN: 0 7993 2389 6

140 bladsye sagteband

R37.50 in handel

R29.60 direk van uitgewer


'n Bundel 'veilige' verhale

Storiepalet - saamgestel deur Jan B. Vermaak (1998)

Storiepalet is 'n kortverhaalbundel wat baie meer kon wees as wat dit tans is. Dis min of meer hoe ek my persoonlike gevoelens kan opsom na die lees van hierdie bundel. Soos dit nou lyk, sou Storiepalet 'n gawe verjaardag- of Kersgeskenk kon uitmaak. Of dit sou met groot vrymoedigheid as prys op 'n gemeentekermis uitgeloof kon word. Die voorblad is kleurvol genoeg, die prys billik, en die verhale modern dog 'veilig'. Die verhale waarin kontroversiële sake aan die bod kom, is maar die gewone soort verhale waarin die gewone middelklas-cliche's ondersteun word. Alles baie veilig en voorspelbaar.

Volgens die inleiding blyk dit dat die boek spesifiek saamgestel is met die oog op die hedendaagse tienerleser. Die samesteller stel dit duidelik dat daar in die keuse van verhale, doelbewus gepoog is om NIE soos in ander voorgeskrewe bundels, veilig te speel nie. Dit klink belowend. Daar word verder gesê dat die samesteller nie gepoog het om die twee-en-dertig beste Afrikaanse kortverhale byeen te bring nie. Waarmee ook nie fout te vind is nie. Dit sou in elk geval 'n haas onmoontlike en kontroversiële projek afgee, vir enige samesteller.

Die eerste tekens van onheil is egter die verwysings na skrywers wat gewillig was om "geringe aanpassings aan hulle werk te maak". Dit herinner hierdie leser onmiddellik aan die dae toe Van Wyk Louw se Raka aan jong lesers voorgeskryf was - met die sappige dele netjies uitgesny. Daarna kom die besef dat daar geen verhaal van Aucamp, De Vries of Prinsloo in hierdie (veronderstelde 'opvoedkundige') bundel opgeneem is nie! Drie meesters van die Afrikaanse kortverhaalkuns is dus eenvoudig uitgelaat, sonder 'n verduideliking of selfs 'n terloopse verwysing. Wat gewoon vir my beteken dit hierdie versameling - as opvoedkundige projek - misluk. Presies wanneer is 'n leser oud genoeg om 'n postmodernistiese De Vries of 'n homoerotiese Prinsloo/Aucamp te lees?

Verhale soos dié van Breytenbach, Rachelle Greef, Marlene van Niekerk, en Herman Wasserman laat 'n mens weer beter voel oor die hele poging. Elkeen van hierdie verhale is op sy eie manier anders en uniek; en sou 'n aanwins wees vir enige taal, enige plek in die wêreld. 'n Kaaps Afrikaanse effek, soos in die Weideman verhaal, is ook 'n bonus vir lesers wat so 'n verhaal andersins nooit onder oë sou kry nie. En die insluiting van 'n Welma Odendaal-verhaal lyk vir my na 'n ongewone en aanprysenswaardige daad.

Storiepalet is, ten slotte, nie die soort boek wat 'n mens laat voel dat jy self dit ten alle koste wil besit nie. Daarvoor bevat die bundel net te veel triviale verhale; verhale wat geen mens met meer as een floewp-en breinsel ooit weer in jou lewe sal wil lees nie. Maar dit sou 'n netjiese aankoop wees vir enigiemand wat min of geen ander Afrikaanse kortverhaalbundels op sy/haar rak het nie. As 'n soort voorlopige/verdere verkenning van die Afrikaanse prosakuns, dalk. Al sou dit nou ook 'n meesterlose verkenning wees.

Resensie deur:
Frans Britz
Umtata

Storiepalet saamgestel deur Jan B. Vermaak (1998) word uitgegee deur:
J.L. van Schaik Uitgewers

214 bladsye sagteband

ISBN: 0 627 02347 9


Meesleurende beelding van 'n stad Buiteblad: Mannheim-sage

Die Mannheim-Sage: Fortuinsoekers
deur Lerina Erasmus (1998)

Meesleurend, dis hoe ek dié sewehonderd bladsye ervaar het. In die eerste plek nie oor die karakters nie, maar oor die beeld van 'n stad, Johannesburg, en haar historiese ontwikkeling wat 'n mens in dié boek vind.

Die Johannesburg van 1866 wat in Fortuinsoekers uitgebeeld word, is soos 'n wispelturige vrou wat haar geldskywe op die roulettewiel gooi, en die verhaal lees ook soos 'n mense-dobbelspel van intriges en 'n stryd om voortbestaan. Die stad is hard, ongenaakbaar en slinks soos John Digby en ander verloorders reeds vroeg in die verhaal uitvind. Sy tref snobisties onderskeid tussen klasse, rasse, rykes en armes en ontbloot haar teenstrydighede in die demografie van haar besetting. Sam Naudies dien sy seurtjie Karel; April sy noientjie Deborah. Mynwerkers word uit Afrika ingevoer. Welaf naywerige, invloedryke vroue hou teepartye en liefdadigheidsballe.

Sy word 'n bordeel wat elkeen wat 'n broek dra van oral oor toelaat om in gate te grawe, rond te soek en haar skatte vir hul eie gewin te ontbloot. Sy is nog etiketloos en oop vir enige een om sy kleim af te steek en sy stempel af te druk. Sy is die hoogste prys waarom dit vir Kruger en sy ZAR en vir Rhodes en sy Brittanje gaan.

Die leser sien hoe Johannesburg 'n node word vir kultuur en tradisie, 'n groeipunt vir liberale idees. Dit is dan ook uit hierdie groei dat Karel Mannheim, die jong blondekop, blouoog kind die geleentheid kry om opgang in die teaterwêreld te maak. Hy het Europa gesmaak en sy perspektiewe op Oxford verbreed. Perspektiewe wat geen aansluiting by sy pa, Kurt Mannheim die mynmagnaat, s'n vind nie. Karel is verlig, hedonisties en die teatrale godjie van sy eie verhoog, as karakter 'n baie geskikte menslike teenhanger vir die stad.

In die verhaal moet seurtjie Karel sy manlikheid telkens bewys wanneer jaloesie die rasionele uit die pad skuif. Johannesburg ontlok konflik tussen hom en Kit Malloy die aantreklike Ier. Kit is entrepreneur en weldoener, het hard gewerk en slim gewaag om sy pad oop te baan. 'n Titaniese stryd om die hand van Juffrou Deborah von Albein groei tussen Malloy en Mannheim. Sy is die blonde, swartoog Sorgenfrei meisiemens wat deur die noodlot in Johannesburg hard en vrou word. Sy het styl, klas, houding, afronding, maar word ingebreek deur die hoofsaaklik mannemilieu. Sy neem hardkoppig, eiewys en selfstandig die leisels in eie hande.

Fortuinsoekers is fiksie wat die geskiedenis romanties weergee. Karakters soos Barney Barnato, Cockney Liz, Kruger en Rhodes word gebruik om meer geloofwaardigheid aan die ander karakters te gee. Dit is asof die leser voet vir voet saam met Joubert en Rissik Randjieslaagte se uitleg aftree; Von Brandis in sy stryd om reg en geregtigheid te laat geskied vergesel; en menig fortuinsoeker in sy smagting na goud - wat sommer "so vlak onder die strate lê" - ondersteun. Tog dien die geskiedenis slegs as konteks en agtergrond en bly die gebeure om Deborah von Albein op die voorgrond.

Taalversorging is deurgaans goed met hier en daar 'n drukfout. Die taalgebruik is ryk, beeldend en verwerklik die prag en praal van die verlede sodat die leser maklik een word met die gebeure.

Lees moet lekker wees. Fortuinsoekers lees lekker, maar miskien is dit die toepaslikheid van die temas wat die leser boei. 1998 se Johannesburg is steeds aan't ontwikkel; die stryd om reg en geregtigheid duur voort; fortuinsoekers stroom daagliks nog na die mekka van goud.

Die Mannheim-sage: Fortuinsoekers deur Lerina Erasmus (1997) word uitgegee deur Perskor

ISBN: 0 6280 3636 1

R69.95

Resensie deur
Elna Groothof
Port Elizabeth

INHOUDSOPGAWE
TUISBLAD




Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/mentz.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]