Skryfstorm in die Baai

Helize van Vuuren

Saam met die eerste winterkoue en reënstorms het Joan Hambidge, Ingrid Gouws (skrywersnaam: Lettie Viljoen) en Marlene van Niekerk in die derde week van April in die Baai gearriveer om die tweede Kreatiewe Skryfkursus by UPE aan te bied.

Vyftien deelnemers het ook van alle windrigtings gekom om in die kombuisgeheime van die deurwinterde skrywers te kom deel. Die intensiewe weeklange kursus het
Drie skrywers: Lettie Viljoen, Marlene
van 
Niekerk en Joan Hambidge
Lettie Viljoen, Marlene van Niekerk en Joan Hambidge wat
die skryfkursus by UPE gelei het.

Foto's per vergunning van Francois du Plessis, Mediasentrum, UPE
die vorm aangeneem van openbare lesings deur telkens een van die skrywer-dosente in die oggend. Hierdie lesings was oop vir die publiek en is besonder goed bygewoon, ten spyte van die aanvanklike gure weersomstandighede. Daarna was daar individuele spreekure met skrywers, en in die middae werkswinkels vir die ingeskrewe deelnemers.

Marlene van Niekerk (Universiteit van die Witwatersrand) se eerste lesing die Maandagmôre, "Die digterlike verlange: 'n ouderwetse besinning", was 'n retoriese oefening teen stormsterkte wind en reën wat by tye gedreig het om die vensters uit te waai. Teen die geluid van tierende wind wat deur die venstergleuwe huil,
Deelnemers aan skryfkursus
Die organiseerder van die skryfkursus, Helize van
Vuuren en 'n paar deelnemers (v.l.n.r): Vukani Mde (New
Brighton), Stella Otto (Strand), Eduard Bruwer
(Johannesburg) en Adriaan Bester (Bloemfontein)
het Van Niekerk 'n besinnende "sermoen" (soos sy dit genoem het) oor die kreatiewe mens gelewer. Met ironiese bespiegeling het sy gepraat oor die verveling van die hemelse hiernamaals waar ons "alles sal deurskou" en niks dus meer misterieus sal wees nie. Sy het dit opgevolg deur voorlesing uit 'n ongepubliseerde kortverhaal, "Vermeer in Dorpstraat", wat groot byval gevind het.

Dinsdag het die wind gaan lê, en kon Joan Hambidge (Universiteit van Kaapstad) sonder steurnis van die elemente praat oor "Die digterlike gesprek" en die noodsaak van skrywers om kennis te neem van wat reeds geskryf is, en hulself te posisioneer binne/of teen 'n bestaande tradisie. Die soeke na 'n eie stem ontwikkel deur intense gesprek met bewonderde voorgangers, soos dié van Johann de Lange in gesprek met Cussons en Van Wyk Louw, en Eybers met Emily Dickinson. Veral die voorlees van haar poëtiese huldeblyke aan die ontslape digters Eugène Marais, Johann Johl en Ernst van Heerden het waardering by die gehoor ontlok.

Haar standpunt oor die "digterlike gesprek" as vormingskool vir die ontluikende digter is as provoserend ervaar, en 'n lang en heftige debat het gevolg oor hoe sommige mense voel hulle wil "uit die hart uit" skryf met slegs die lewe self as "oerteks". Van Niekerk het toegegee dat relatief ongeskoolde 'naïewe vertellers' soms soos "blink visse uit die water spring". Soos A.H.M. Scholtz in Vatmaar, en Langsaan die vuur. Dit het by die gehoor die vraag laat ontstaan oor waarom dit dan nodig is om te leer skryf in skryfkursus- opset: "Waarom is ons hier? Wat is die doel van skryfkursusse?".

Hambidge het daarop gewys dat so 'n kursus terapeuties van aard kan wees, terwyl Van Niekerk die soeke na gemeenskap of "community" aangeraak het wat waarskynlik by Afrikaanse deelnemers (wat hulself miskien as gemarginaliseerd ervaar) deel van die behoefte is. In kontras hiermee is geïnstitusionaliseerde skryfkursusse in die VSA veel meer uitsluitlik gefokus op die skryfaksie.

Woensdag was Ingrid Gouws (Universiteit van Natal) vir oulaas as Lettie Viljoen aan die woord. Sy het besluit om voortaan die skrywersnaam agter te laat, en onder haar nooiensvan, Ingrid Winterbach, te publiseer. Sy het gepraat oor romans van Franz Kafka (Amerika, Metamorfose), Thomas Bernhard (Old Masters en The Lime Workers) en Georges Perec (Life: A User's Manual). Sy het intuïtief hierdie skrywers en hul tekste vir lank op 'n afstand gehou. In haar voordrag "Skrywers met en sonder mededoë", had sy dit onder meer oor die 'meedoënloosheid' teenoor die leser van skrywers soos Kafka of Bernhard wat haar persoonlik besonder aangespreek het. 'n Hoogtepunt vir die gehoor was haar voorlesing uit Bernhard se Old Masters, waar 'n karakter 'n eindelose tirade lewer teen Heidegger:

Stifter in fact always reminds me of Heidegger, of that ridiculous Nazi philistine in plus-fours. Just as Stifter has shamelessly and in the most shameless manner kitschified great literature, so Heidegger, the Black Forest philosopher Heidegger, has kitschified philosophy, Heidegger and Stifter, each one for himself and in his own way, has hopelessly kitschified philosophy and literature.
(...)
Heidegger was a kitschy brain, Reger said, just as Stifter, but actually a lot more ridiculous than Stifter who in fact was a tragic figure unlike Heidegger, who was always merely comical, just as petit-bourgeois as Stifter, just as disastrously megalomanic, a feeble thinker from the Alpine foothills, as I believe, and just about right for the German philosophical hot- pot.
Haar optrede is afgesluit met die voorlees van 'n passasie uit haar pas voltooide manuskrip van 'n nuwe roman, Voldoening.

Donderdag was Joan Hambidge weer aan die beurt met "Die intieme aard van die digkuns", en Vrydag is die kursus afgesluit met 'n Engelse lesing deur Marlene van Niekerk, "Take your body where it's never been before". Die Engelse vertaling van Van Niekerk se Triomf (1994)
Deelnemers en organiseerders van 
skryfkursus
Aanbieders en organiseerders van die skryfkursus:
Lettie Viljoen, Marlene van Niekerk, Joan Hambidge,
Mariana Kriel, Belinda du Plooy, Helize van Vuuren
en Marelize Erasmus
en ander boeke van die drie skrywers is gedurende die week deur Exclusive Books by die openbare lesings te koop aangebied.

Die kursus is Vrydagaand afgesluit met 'n dinee te Schoenmakerskop. Voor die kaggelvuur in die Sacramento-restaurant het Joan Hambidge almal vermaak met die voorlees van parodieë uit Passiebomme: veral haar wulpse herdigting van "Raka" ("Die verpleegsters het haar die eerste gewaar...") het vir humoristiese vermaak gesorg.

***

Nawoord:
Vanjaar is die Kreatiewe Skryfkursus (en die portefeulje met eie werk wat vooraf ingedien is by die skrywers) vir die eerste keer deel van UPE se Honneursprogram in Suid-Afrikaanse letterkunde. Vier van die deelnemers is ingeskrewe studente vir die program, wat in die toekoms onder hierdie akademiese vaandel bedryf en gedeeltelik gefinansier sal word.

* * *

Laat berig

Op 19 Junie kom Eben Venter, van Foxtrot van die vleiseters en Ek stamel ek sterwe-faam, sy derde roman (titel by die ter perse gaan hiervan nog onbekend) by UPE bekendstel. Venter, 'n boorling van Burgersdorp, kom vir 'n week uit Australië waar hy nou woon, om sy boek op verskillende sentra in die land bekend te stel. Sy besoek val saam met 'n Afrikaanse boekefees wat deur Die Burger en Tafelberg aangebied word.

Vir meer inligting kontak:

Helize van Vuuren by afahjv@upe.ac.za of 041-5042223
Roline Norval by rnorval@dieburger.com of 041-50361111

* * *

Onse angeltjie het 'n spesiale agent by die kursus gehad wat bydraes by die deelnemers afgerokkel het. Hier is jou kans om op hoogte te kom:

1. Die digterlike verlange. 'n Ouderwetse besinning - Marlene van Niekerk

2. Postmodernisme teen die einde van die millennium - Joan Hambidge

3. Voldoening - Ingrid Winterbach (Lettie Viljoen)

4.Kreatiwiteit en kritiek - Joan Hambidge

Ons was ook besonder gelukkig en geseënd om poësie van Joan te ontvang:

Diana Prinses van Wallis (1961 - 1997)
Ernst van Heerden (1916 - 1997)
Olga Kirsch (1924 - 1997)
Johann Johl (1951 - 1996)
Eugène N. Marais (1871 - 1936)

Ook het ons 'n kykie gekry in 'n projek waarmee Joan saam met 'n ou vriendin, Sonja Verbeek, besig is, naamlik die herskrywing van die Afrikaanse poësiekanon. Ons was baie bly hieroor omdat ons ook verneem het dat Jeanne Goosen met 'n soortgelyke projek besig is, naamlik die herskrywing van die Bybel.

Hier is die vrugte van Joan en Sonja se samesyn:

Passiebomme
.

Onse angeltjie werk nou ook daaraan om die regte te verkry vir Max du Preez se nuwe bundel wat almal so gaande het, met die voorlopige titel, Spesiale afjak.

Ons het ook die volgende gedigte uit die Oos-Kaap ontvang:

Aalmoes - Des Fourie

Toe was ek geskielik skok - Kobus du Toit
Goud - do.
Frankl se Rorschach - do.

'n Ryke oes, om die minste te sê.


Terug na die BO

Terug na die Inhoudsopgawe

Terug na die basisbladsy








Copyright:  © 1997;2000 Die outeurs
URL:  http://www.upe.ac.za/afned/kursus99.htm
This page maintained by:  Helize van Vuuren/Philip John
Last modified
: 6 Desember 2000
Review cycle:
  6 monthly

Comments and suggestions
: Redaksie

 [ search ]

 [ contact info ]

 [ site map ]

 [ site info ]